Die onafwendbaarheid van ouderdom

  • 0

Miskien sou dit erg neerslagtig wees om aan die begin van 2012 oor die onafwendbaarheid van die dood te skryf. Die dood bepaal egter nie wanneer dit gepas sou wees om hom te bespreek of wanneer hy te voorskyn mag kom nie. Dit kom net – soos ’n dief in die nag.

“Dit is een gebeurtenis wat alle mense raak. Dit is die laaste item op die agenda van elkeen se lewe hier op aarde,” skryf Isak Burger in sy opspraakwekkende boek Die laaste vyf minute voor die Dood.

Gedurende die gewoonlik vervelige tydperk tussen Kersdag en Nuwejaarsdag is die wêreld weer herinner aan die sterflikheid, met groot respek gesê, van oudpresident Nelson Mandela (93).

Die radiopersoonlikheid Bob Mabena het vir ’n opskudding soos min op Twitter gesorg toe hy twee dae voor Nuwejaarsdag getwiet het dat Madiba in die hospitaal opgeneem is. Min was hy bewus dat die TV-nuusbulletin waarna hy gekyk het, 2011-hoogtepunte bevat het. Onthou, dit was gedurende dieselfde tydperk in 2011 toe die nasie en die internasionale gemeenskap skokkend en met afwagting tot stilstand gedwing is omdat Madiba in die Milpark-hospitaal in Johannesburg vir asemhalingsprobleme opgeneem is.

Hoe meer ons herinner word aan die sterflikheid van die “vader van die nasie” hoe ongemakliker word dié onvermydelike feit. Madiba is immers in die klas van wêreldfigure soos moeder Teresa en prinses Diana – of selfs groter (?) – wat ook as onsterflik beskou was.

Boonop is dit volgens die Afrika-kultuur erg ongemanierd om oor die dood te praat – veral oor die dood van iemand wat nog leef. In Madiba se geval behoort dit nie ’n uitsondering te wees nie – of so dink baie mense.

Madiba is egter geen gewone Suid-Afrikaner nie. Hy is die verpersoonliking van die nuwe Suid-Afrika, op wie se etiese en morele beginsels ons ontluikende demokrasie nog lank na sy dood hopelik gebou gaan word.

Daarom behoort hy nie net aan die Mandela-familie en Suid-Afrikaners nie, maar ook aan die wêreldgemeenskap wat bereid is om Madiba se mensliewendheid na te streef. Reeds daarom word die belangstelling in sy begrafnis net groter. Niemand kan die versoeking weerstaan nie. Twee internasionale nuusdienste se versteekte kameras is einde 2011 naby sy huis in Qunu deur die polisie verwyder.

Daar is ook reeds groot media- en publieke belangstelling in die logistieke gereedheid van die begrafnis en die huidige padinfrastruktuurverbeterings in en om Qunu. So ook in Brittanje nadat Buckingham-paleis bekend gemaak het dat die voormalige Britse premier barones Margaret Thatcher (86) ’n volle staatsbegrafnis gaan kry wanneer haar tyd aanbreek. Begrafnisreëlings is dus in volle gang en koningin Elizabeth II, Britse politieke partye en die publiek neem aan die debat deel.

Madiba is volksbesit en die nasie moet ingelig word en praat oor sy welstand, dood en begrafnisreëlings.

Die dood is immers ’n geboorte "in reverse".

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top