Die neus agter die mikrofoon: Deborah Steinmair by die US Woordfees

  • 0

Titel: Die Neus
Skrywer:
Deborah Steinmair
Uitgewer:
Human & Rousseau
ISBN:
9780798152969

 

Klik hier om Die Neus te koop by Kalahari.com.

Tydens die Woordfees vertel Deborah Steinmair vir Marion Holm van haar raaiselroman, Die neus, wat ook as swart komedie beskou kan word. Naomi Meyer het heel voor gesit om die (sterk) potensiaal van onsuksesvolle foto's hok te kon slaan - en toe sommer die gesprek heel eerste gehoor.

Sy dra nie 'n aantekeningboek saam met haar nie, sê Deborah Steinmair. 'n Storie broei uit in haar kop en sy gee die ding kans om ...

"In die spin cycle te draai?" raai Marion Holm, wat die onderhoud voer. As dit die regte beskrywing van die geleentheid is. Dis Woordfees 2013, dis geskiedkundig, want dit reën vir die eerste keer ooit en die boekgesprek handel oor Die neus, Steinmair se derde boek.

"In die spin cycle te draai," bevestig Deborah.

Marion Holm ken vir Deborah, voel mens, as jy na die vrae luister wat sy vra.

"Waar kry jy jou idees vandaan? En die name van die karakters ... Hoe spreek mens Agathe uit?"

"Kom ek vertel eerder 'n grappie," antwoord Deborah. "Knock, knock?"

"Who's there?" vra Marion.

"Agathe."

"Agathe who?"

Stilte.

Marion lag. "Aha!"

So verloop die gesprek tussen die twee. Marion Holm is aktrise en dit wys. Daar is baie gebare as sy gesels. En sy is skreeusnaaks.

Maar haar vrae sny na aan die been, soos Deborah se skryfstyl. Sy vra vir Deborah hoe sy dit regkry om vir die Groot Skrywers amper 'n middelvinger te wys deur met hulle hogere letterkunde en onderlinge briefwisselinge te spot.

Deborah trek haar skouers op: "As die skoen pas ..."

Dis 'n gesprek oor skryf.

Dis 'n gesprek oor die leefwêreld van 'n skrywer.

"Hoekom is die storie so amper onrealisties en tog so geloofwaardig?"

Deborah skud haar kop. "Dis net 'n storie binne my werklikheid."

"Maar die dwerg en die mense sonder arms ... Terloops, is dit nie bevrydend dat mens lekker kan lê teen iemand wat net een arm het nie? Of as mens sukkel met oogkontak maak, is dit nie fantasties as die ander persoon blind is nie? Jou boek het my laat voel ek wil vir my bure gaan vertel hoe wonderlik is dit om te leef!"

"Die neus is 'n raaiselroman. Kerneels Breytenbach het gesê die eienaars van die boekwinkels wil weet waar om die boek in die rak te kan pak," vertel Deborah.

Marion lag eers daaroor. En dink toe daaroor na.

Dis wat dit oplaas is: 'n gesprek. Twee mense gesels met mekaar, oor een baie interessante boek.

Marion laat Deborah skaterlag.

Sy laat Deborah soms oor antwoorde peins.

Agterna wens die gehoor die mikrofoon was nog in hulle hande, want die gesprek kon net so sterk aanbeveel word soos Die neus.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top