Die Nasionale Vrouemonument Gedenkboek: Verlede – Hede – Toekoms deur Marthinus van Bart: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Die Nasionale Vrouemonument Gedenkboek: Verlede – Hede – Toekoms
Redakteur en samesteller: Marthinus van Bart
Uitgewer: FAK
ISBN: 9780620582797

Die Nasionale Vrouemonument (NVM) is die eerste gedenkteken in die wêreld wat ter ere van vroue opgerig is. Met die eeufeesviering van die NVM in 2013 het die boek Die Nasionale Vrouemonument: Honderdjarige Herdenking: Verlede – Hede – Toekoms onder redaksie van die geskiedenis- en kultuurjoernalis Marthinus van Bart verskyn. Dit was die eerste omvattende boek oor die NVM. Nou het Van Bart – heel gepas in die 100ste herdenkjaar van die dood van die vroueaktivis Emily Hobhouse, wie se as by die NVM se voetstuk ingemessel is – ’n bygewerkte, verbeterde uitgawe met ’n effens gewysigde titel die lig laat sien: Die Nasionale Vrouemonument Gedenkboek: Verlede – Hede – Toekoms.

Dié luukse hardebandboek van A4-formaat is op glanspapier gedruk en bied ’n grondige ontleding van die talle fasette van die NVM. Dit bevat heelwat foto’s, volkleur en monochroom, grafika en illustrasies. In die inleiding word besin oor onder meer die waarde en die simboliek van die monument. Ook is 11 besonderse, toepaslike gedigte, elk op ’n afsonderlike bladsy, deur die boek versprei. Dan is daar addendums met die onthullingstoesprake van Hobhouse en oudpresident MT Steyn, die vader van die NVM; Hobhouse se voorlegging oor die berugte konsentrasiekampe aan die Britse parlement; en Hobhouse se onderhoude met van die Boerevroue in die kampe.

Die 12 hoofstukke van die Gedenkboek is deur 10 Afrikaanse vakkundiges op hulle onderskeie gebiede geskryf:

Hoofstuk 1: Die Driemanskap en die oprigting en onthulling van die Nasionale Vrouemonument – Jaap Steyn
Hoofstuk 2: Anton van Wouw en Frans Soff: Skeppers van die Nasionale Vrouemonument – Marthinus van Bart
Hoofstuk 3: Ontwerp, argitektuur en oprigting van die Nasionale Vrouemonument – Christo Viljoen
Hoofstuk 4: Inskripsies op die Nasionale Vrouemonument – Piet J Strauss
Hoofstuk 5: Die vrou wat vergifnis gevra het – Leopold Scholtz
Hoofstuk 6: Die Afrikanervrou en die Nasionale Vrouemonument – Hermann Giliomee
Hoofstuk 7: Die Nasionale Vrouemonument en die Britse konsentrasiekampe – Celesté Reynolds
Hoofstuk 8: Die politieke situasie einde 1913 – Leopold Scholtz
Hoofstuk 9: DF Malan, die Nasionale Vrouemonument en die Afrikanernasionalisme – Leopold Scholtz
Hoofstuk 10: “By die Monument” – Totius se visie van die Afrikanervolk in sy gedigte – Victor E d’Assonville
Hoofstuk 11: Die Nasionale Vrouemonument en die Afrikaanse literatuur – Wium van Zyl
Hoofstuk 12: Die Nasionale Vrouemonument: Kultuurhistoriese agtergrond van die ikonografiese opset – ES van Bart.

Hoofstuk 4, deur Piet Strauss, is ’n heeltemal nuwe toevoeging tot die gedenkboek. As Vrystaatse teoloog en voormalige voorsitter van die Vrouemonumentkomitee kyk indringend na die inskripsies op die NVM. Hy fokus op veral die Christelike herkoms en die simboliek van die inskripsies.

Naskrif: Is Suid-Afrika die enigste land in die wêreld wat meer as een monument vir vroue het? In “’n Woord vooraf” in die gedenkboek word gemeld dat die gemeenskap van Swartruggens in die Marico-Bosveld op 16 Augustus verlede jaar ’n “beskeie monumentjie” van graniet onthul het ter ere van die vlugtende Boerevroue en -kinders van daardie geweste gedurende die Anglo-Boereoorlog. ’n Kleurfoto met die inskripsie “Vlugtende Vroue” duidelik sigbaar op die gedenkteken, verskyn ook in die boek.
 
Die Nasionale Vrouemonument: Honderdjarige Herdenking: Verlede – Hede – Toekoms kan by die redakteur-uitgewer by kultuurkroniek@gmail.com bestel word. Dit kos R480 plus R120 vir verpakking en versending. ’n Komplimentêre eksemplaar van die klassieke Songs of the Veld and Other Poems (met besprekings daaroor in Engels en Afrikaans ingelei deur Marthinus van Bart) word as bonus saamgestuur!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top