
Foto: Canva
Die Nasionale Dialoog is die breinkind van verskillende Nobel Vredesprys-stigtings en voormalige presidente Thabo Mbeki en FW de Klerk.
Sedert verlede jaar het die verskillende stigtings, by name die Mbeki-, Mandela-, Luthuli-, Biko-, Tambo-, Tutu-, FW de Klerk- en verskeie ander stigtings byeengekom om gesprek te voer oor die loodsing van ’n nasionaledialoogproses.
Eerste fase
Tydens die tweedaagse sessie het die stigtings ooreengekom dat ’n voorbereidende taakspan gekies moes word om die bal aan die rol te sit. Konsensus is ook bereik oor die grondliggende beginsels wat die Nasionale Dialoog moes onderlê.
Van die beginsels behels die volgende:
– Die Nasionale Dialoog word deur die burgerlike gemeenskap gedryf.
– Politieke partye sou nie betrek word by die proses nie, om te verhoed dat die Nasionale Dialoog gekaap word vir sektariese politieke doelwitte. Dat hulle kon deelneem aan gesprekke op alle vlakke is hulle demokratiese reg, maar onder geen omstandighede mag hulle dit misbruik vir partypolitieke gewin nie.
– ’n Voorbereidende taakspan is verkies met subkomitees wat fokus op finansiering, publieke mobilisering, skep van inhoud, logistieke reëlings, ens. Die taakspan, ook die hartklop van die Nasionale Dialoog-projek, se kerntaak is om inhoud aan die strategiese en operasionele strategie te gee.
- ’n Groep van Invloedryke Persone word in samewerking met die presidensie saamgestel. Hulle rol is van ’n konflikbeslegtende, oorsigtelike en simboliese aard.
- Nedlac is genader om die finansiële administrasie van die Nasionale Dialoog te behartig in terme van die Publieke Finansiëlebestuurswet.
Tweede fase
Die voorbereidende taakspan se eerste taak was om met die presidensie te vergader en konsensus te bereik oor die kernbeginsels wat die Nasionale Dialoog-proses onderlê.
Ook om die presidensie te versoek om befondsing beskikbaar te stel om die volgende uitgawes te dek:
– Finansiering van ’n voltydse sentrale kantoor met kundige projekbestuurspersoneel.
– Bou van ’n tegnologiese stelsel om data te verwerk om verslae en ’n aksieplan met ’n tydlyn saam te stel.
– Kommunikasie van verslae met spesifieke rolspelers om bepaalde implementeringsdoelwitte gegrond op ’n realistiese tydlyn saam te stel.
– Ontwikkeling van ‘n webwerf.
– Opleiding van fasiliteerders.
– ’n Kommunikasiestrategie.
– Alle ander logistieke uitgawes.
– Die eerste Nasionale Konvensie en ander nasionale byeenkomste.
Derde fase
Van die voorstelle wat geopper is om die Nasionale Dialoog as ’n gemeenskaps- of burgerlike inisiatief te posisioneer behels die volgende:
– ’n Databasis van gemeenskapsorganisasies saam te stel en hulle na die eerste Nasionale Konvensie uit te nooi.
– ’n Tweede voorstel was om gemeenskappe in ’n bepaalde dorp of munisipale distrik deur ’n mediaveldtog in te lig om binne ’n bepaalde tydperk byeen te kom om oor die plaaslike dialoog gedagtes te wissel en spesifiek te fokus op plaaslike kwessies wat vooruitgang aan bande lê.
– Drie tot vier plaaslike mense te verkies om plaaslike gemeenskappe by die eerste Nasionale Konvensie te verteenwoordig.
– Die eerste Nasionale Konvensie het ten doel om die grondslag vir die Nasionale Dialoog te lê en besprekings oor verskillende temas te fasiliteer.
– Die alternatief was om gemeenskapsverteenwoordigers van die nodige inligting te voorsien en ook opleiding te bied oor hoe om die plaaslikedialoogproses te bestuur in terme van bepaalde riglyne; inligting te bied oor hoe hulle te werk moet gaan om die plaaslike kwessies in ’n verslag saam te vat en ook om oplossings aan die hand te doen. En hoe hulle te werke moet gaan met die indiening van die verslag by die sentrale projekkantoor. Hulle moet ook kennis dra van hoe die inligting of data verwerk sou word om ’n aksieplan en tydlyn saam te stel.
Vierde fase
Die plaaslike verteenwoordigers se groot taak is om na afloop van die eerste Nasionale Konvensie die bal aan die rol te sit en ’n reeks gesprekke of plaaslike dialoë te fasiliteer en verslae na die sentrale projekkantoor deur te gee sodat die inligting verwerk kan word en met staatsdepartemente en munisipaliteite en ander rolspelers gedeel word; byvoorbeeld:
– Diensleweringskwessies word met die munisipaliteit, Cogta en tesourie opgeneem.
– Onderwyskwessies word na die provinsiale en nasionale departemente geneem. Dit geld ook vir ander openbare dienste soos gesondheid en behuising soos vervat in die Handves van Mensregte, ens.
– Misdaadkwessies word met die provinsiale en nasionale departemente van gemeenskapsveiligheid opgeneem.
– Dieselfde benadering word gevolg met ander aangeleenthede wat ander staatsdepartemente moet hanteer.
Wat ekonomiese kwessies aanbetref, is dit belangrik om tussen plaaslike, provinsiale en nasionale kwessies te onderskei.
........
Op plaaslike vlak is dit van kritieke belang dat die besigheidsektor betrek word en dat idees gegenereer word om beleggings te lok, werk te skep en die faktore aan te spreek wat die omgewing negatiewe beïnvloed waarin veral klein besighede en toerisme behoort te floreer.
........
Op plaaslike vlak is dit van kritieke belang dat die besigheidsektor betrek word en dat idees gegenereer word om beleggings te lok, werk te skep en die faktore aan te spreek wat die omgewing negatiewe beïnvloed waarin veral klein besighede en toerisme behoort te floreer.
Op provinsiale en nasionale vlak lê daar bepaalde verantwoordelikhede, veral wat beleid aanbetref. Nasionale beleid of wetgewing het ’n wesenlike invloed op plaaslike ekonomieë. Daarom moet daar gefokus word op plaaslike gevallestudies om die verwantskap tussen hulle uit te wys en dan haalbare idees en alternatiewe beleide of aanpassings voor te stel.
Hierdie inligting moet met die Departement van Handel en Nywerheid en verwante instellings gedeel word om ’n nasionale ekonomiese aksieplan saam te stel en om dit in samewerking met relevante rolspelers uit te rol. Die bestaande Nasionale Ontwikkelingsplan kan verder aangepas word om nuwe ekonomiese besonderhede, voorstelle en tydlyne in te sluit.
Vyfde fase
Met die gemeenskapsverslag en aksieplan in die hand is dit belangrik dat die gemeenskapsverteenwoordigers ’n plaaslike projekspan bestaande uit kundiges moet byeenbring om saam met die plaaslike munisipaliteit en sektore soos die onderwys, gesondheid, polisie, besigheid en andere te vergader om die aksieplan en tydlyn te bespreek en ooreen te kom oor die implementering daarvan.
Wat die implementering van aksies aanbetref, is dit belangrik om onderskeid te tref tussen kort-, medium- en langtermynaksies.
........
Kundigheid is die lewensbloed van implementering. Kundigheid kom egter teen ’n prys. In dié verband is dit belangrik dat die gemeenskap daarop moet aandring dat kundiges op munisipale vlak en in die verskillende publieke sektore aangestel word.
........
Kundigheid is die lewensbloed van implementering. Kundigheid kom egter teen ’n prys. In dié verband is dit belangrik dat die gemeenskap daarop moet aandring dat kundiges op munisipale vlak en in die verskillende publieke sektore aangestel word. Gemeenskappe en hul verteenwoordigers kan ook hul eie kundiges inspan om ’n monitering- en evalueringsrol te vervul om seker te maak dat kritieke grondwetlike waardes soos deursigtigheid, responsiwiteit en verantwoordbaarheid in alle aksies neerslag vind.
Sesde fase
Die ooreengekome aksieplan en die tydlyn waaraan dit gekoppel word, is die gedeelde verantwoordelikheid van die Groep van Invloedryke Persone, voorbereidende taakspan, projekbestuurspan, gemeenskapsverteenwoordigers en gemeenskappe.
Natuurlik is dit belangrik dat die presidensie medeverantwoordelikheid moet neem en die kabinet en alle staatsdepartemente verantwoordbaar moet hou, veral wat die integrasie van die Nasionale Dialoog se aksieplanne en die uitvoering daarvan aanbetref.
Sewende fase
Die doelwit van die Nasionale Dialoog is om gemeenskappe te bemagtig en hulle in staat te stel om ons Nasionale Grondwet en Handves van Menseregte te hefboom ten einde ons grondwetlike demokrasie ’n werklikheid vir elke burger en elke gemeenskap in ons mooie land te maak.
Bemagtigde en selfonderhoudende gemeenskappe kan die ekonomiese en maatskaplike uitdagings in Suid-Afrika help oorkom deur konstruktiewe gesprekke oor rassegrense te voer, hulself te organiseer en kundigheid beskikbaar te stel.
Gemeenskappe se mees kritieke rol is egter om mede-eienaarskap van ons demokratiese bestel te neem en diegene wat hulle tydens plaaslike en nasionale verkiesings verkies, verantwoordbaar te hou. Die uitoefening van stemreg en die deurlopende monitering en evaluering van dienslewering deur gemeenskappe is die sleutel tot vryheid, vrede, vooruitgang en voorspoed vir alle Suid-Afrikaners.
’n Goed beplande, deelnemende en gemeenskapsgeleide Nasionale Dialoog kan die grondslag daarvoor lê.
- Christo van der Rheede
Uitvoerende direkteur, FW de Klerk Stigting
Lees ook:
Die Nasionale Dialoog: Die kort langpad of die lang kortpad? (13 Junie 2025)