Die Nasionale Dialoog: Die kort langpad of die lang kortpad? (13 Junie 2025)

  • 1

Met die aankondiging op 11 Junie 2025 dat die eerste byeenkoms van die langverwagte Nasionale Dialoog op 15 Augustus gaan plaasvind, was daar dadelik optimisme te bespeur, totdat die aankondiging ingesink het. Toe het al die vrae begin opduik. Wat was die rol van die Stigtings wat sedert 2024 baie hard agter die skerms gewerk het? Is hierdie ’n RNE-plan of kom dit uit die adjunkpresident se kantoor. Wie is in beheer of wie is bang om beheer te verloor?

Daar is nog meer vrae, maar dit bring my by die prosesvrae oor sulke omvangryke samesprekings uit. Jy kan die kort langpad loop en dinge vinnig aanmekaar timmer, maar dan die risiko loop dat die proses oor en oor herskep gaan moet word. Of jy kan die lang kortpad loop, wat beteken jy doen omvangryke en deurtastende ondersoek, fasiliteer gesprekke en kom dan by ’n inklusiewe proses uit  wat deel van vertrouebou is. Dit neem beslis langer, maar jy doen dit net een maal.

Die idee van ’n nasionale dialoog kom reeds ’n lang pad in Suid-Afrika en kan teruggevoer word na 1993–1994, maar die mees onlangse voorstel word aan oudpresident Thabo Mbeki in 2024 toegeskryf. Die verkiesing van Mei 2024 was in baie opsigte ’n waterskeiding, en in dié verband het Mbeki ’n nasionale dialoog voorgestel om die vertrouensbreuk tussen die burgery en die regering te oorkom. President Ramaphosa het die idee omarm en die Regering van Nasionale Eenheid daartoe verbind. Na die verkiesing in 2024 het verskeie stigtings, waaronder die Mandela-, Mbeki-, De Klerk- en Kathrada-stigtings, aan ’n konsepplan en voorstelle gewerk. Dit is gedoen in oorleg met die Kantoor van die President. Die basiese idee was om gesprekforums op plaaslike vlak, provinsiale vlak en nasionale vlak te inisieer en probleemareas opwaarts te stu tot ’n nasionale dialoog met integriteit en legitimiteit. Die beginsels van gemeenskapsbetrokkenheid en inklusiwiteit het hierdie proses ten grondslag gelê om die huidige legitimiteitskrisis van die regering na 30 jaar te oorkom.

Die aankondiging in Junie 2025 weerspieël egter baie min van die idees en sluit ’n lys van vooraanstaande mense in soos meningsvormers en diegene wat leierskapsrolle op vele terreine in Suid-Afrika beklee. Baie min besonderhede is verder bekendgemaak, benewens die datum van eerste ontmoeting op 15 Augustus 2025 en ’n opvolg daarop vroeg in 2026, en ook dat Nedlac die organisering sal doen en sekretariaat sal vorm.

Daar is na my mening oorspanne verwagtinge van die idee agter ’n nasionale dialoog. Die idee dat so ’n dialoog die gebrek aan vertroue in die regering kan help oorkom, is polities edel en demokraties romanties, maar dit verswyg die harde werklikheid van politieke mag en mandate wat by die stembus verwerf is. So ’n dialoog kan nie uit die Uniegebou bestuur word nie, want dit gaan verpolitiseer word en die vraag gaan onmiddellik ontstaan oor wie nou eintlik bevoordeel gaan word. Met die aankondiging was dit byvoorbeeld nie duidelik of die stigtings, of die DA, deel gehad het in die opstel van die persverklaring of die name op die lys van wyse manne en vroue nie. Op die oog af het die lys, op ’n paar uitsonderings na, baie eensydig ANC-erig gelyk. Die idee dat verskeie stigtings en institute regoor die politieke, ekonomiese en maatskaplike sektor so ’n inisiatief moet bestuur, is waarskynlik die suiwerste. Daar is natuurlik ’n begroting nodig, maar so ’n proses moet op vrywillige bydraes staatmaak en kan nie ’n nuwe struktuur met nuwe uitgawes en enorme koste behels nie.

Geen politieke party sal aan ’n nasionale dialoog deelneem indien so ’n platform die mandaat wat ’n politieke party tydens ’n verkiesing gekry het, sal ondermyn nie. Dit is waarskynlik waarom die voorgestelde nasionale dialoog baie versigtig, en sonder om beheer oor prosesse te verloor, georganiseer sal word. Die omseiling van die bekende stigtings en institute, reeds genoem, is ’n aanduiding daarvan dat fyn en subtiele beheer aan die ontwikkel is oor wat bespreek gaan word, maar veral oor wat met die uitkomste gedoen sal word. In hierdie verband word die Nasionale Ontwikkelings- en Beplanningskommissie reeds as insetpunt vir die uitkomste van die nasionale dialoog voorgestel.

Indien ’n inklusiewe nasionale dialoog oor werklike vraagstukke op die haarwortelvlak van die samelewing beoog word om tot uitvoering gebring te word op die hoogste besluitnemingsvlakke, dan is die lang kortpadproses ’n voorwaarde en nie die kort langpadproses wat die presidensie tans beoog nie. Soos dinge tans lyk, is ek nie oortuig van die inklusiwiteit van die nasionale dialoog nie en ook nie oor die legitimiteit van die proses nie. Het ons dalk hier te doen met ’n proses wat president Ramaphosa oor die 2027-hekkie moet help en om hom deur die politieke dryfsand tot by 2029 te kry?

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Die politici en celebs moet hulleself maar besighou met iets. Laat hulle asseblief tog net nie tussen "gewone mense" moet sit as hulle moet vlieg na die events toe nie. Koop maar vir hulle besigheidsklasvliegkaartjies en so. Ons wil nie skaam kry en soos 'n arm land lyk nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top