“Die Mol” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Die Mol
Doopname is dikwels pretensieus, gebore uit ouerlike ambisies of plig teenoor voorsate. Byname daarenteen, is eerlik, oorwegend portuurgedrewe en word verwerf. Dit sê wie of wat jy is, sonder simpatie of sentiment.
Die Mol het sy naam op hoërskool gekry en selfs later in sy lewe het min mense geweet dat die astigmatiese professor VEN Helberg MA DLitt se volle name eintlik Victor Eusebius Napoleon was. Saam met dikkerwordende brilglase en ’n toename in volronde postuur, het die bynaam al hoe kleweriger geword, want die neus-in-die-boek-man het hom laat lei deur ’n voorkeur vir halfdonker kelderverdiepings van biblioteke en argiewe.
Voordat hy by die onder-veertiens se eerste rugbyoefening opgedaag het, was die Mol reeds op hoogte van al doktor Craven se boeke en handleidings. Die afrigter was goed bekend met die seun se bysiendheid, maar ’n voorryman wat sy werk doen, kry mos maar min van die bal te siene.
Die proefneming was ’n volslae mislukking. Met die flair van ’n jong renoster het die Mol telkens aan die verkeerde kant van die losskrum ingedons, en toe iemand die bal in sy hande prop en hy die kantlyn met die doellyn verwar, was die tuisskare se geduld op. “Sit die Mol op vleuel!” het ’n toeskouer onder groot gelag geskree.
Maar op akademiese gebied was die Mol ’n presteerder sonder weerga. Aan die einde van sy matriekjaar het hy die verhoog met die gespierde eerstespankaptein en lenige hoofmeisie gedeel. Met ’n byna skaapagtige glimlag het die Mol daar gestaan, sy gesig min of meer in die rigting van die kameraflitse. Die eerstespankaptein (sportman van die jaar) en die hoofmeisie (victrix ludorm) het elk een trofee vasgehou, maar die Mol se onbeholpe arms en hande was behoorlik gelaai met bekers en boekpryse: Afrikaans, Engels, Duits, Latyn, Aardrykskunde, Biologie, Geskiedenis, Natuur- en Skeikunde en Wiskunde. Vir sy volgehoue, tonnelende volharding is hy ook aangewys as toppresterende matrikulant en ontvanger van die gesogte Dux-medalje.
Met die bekendmaking van die matriekuitslae het die koerante sonder afspraak by die Mol se beskeie ouerhuis opgedaag. Hulle het hom in die agterplaas aangetref: in ontspanne luim, onder ’n tuinsambreel, die gesette lyf ietwat ongemaklik in ’n standaardgrootte strandstoel, kaal voete in ’n opblaasswembadjie, boek op die skoot.
Koerantlesers het die volgende dag met belangstelling verneem dat “die skrander Eusebius Helberg” na sy voltal onderskeidings graag met ’n boek ontspan, hy weldra op Voortrekkerhoogte vir diensplig gaan aanmeld en voornemens het om daarna in die tale te studeer.
Teen die tyd dat skutter Helberg in ’n oorpak geprop en van webbing, army boots, PT-klere, ’n trommel en slaapplek voorsien is, was hy reeds ’n ywerige student van Chiang Kai-shek, Von Clauswitz en Erwin Rommel. Groot was die teleurstelling toe sy militêre avontuur uit ’n geskel, gehardloop en gedril bestaan.
En dit was met die gedril waar die moeilikheid begin het. Die Mol was gou die swartskaap van sy peloton. Sy onvermoë om vinnig tussen links en regs te onderskei en sy vermoë om elke keer na die bevel van halt in die man voor hom vas te marsjeer, het telkens die korporaal soos ’n granaatbom laat ontplof.
En toe daardie eerste dag op die skietbaan. Binne ’n oogwink het die Mol byna daarin geslaag om die res van sy peloton én die skietinstrukteur uit te wis. Te midde van knetterende geweervuur en angsgille, moes laasgenoemde blitsvinnig besluit: duik vir dekking of ontwapen die fokken troep. Behalwe vir die Mol se enkele klein kneusinkies, was daar gelukkig geen ongevalle nie. Skade wel, want in die harwar is ’n dik bril per abuis deur ’n soldatestewel vergruis. Moeite ook, want ’n paar overalls moes gewas word en die instrukteur is verplig om ’n langerige vorm in te vul – met die hand en sonder byvoeglike naamwoorde.
’n Raad van ondersoek het aanbeveel dat die Mol weens ongeskiktheid ontslaan word. Aanwending as kok was nie ’n opsie nie, want ’n enkele brousel kon gevaarliker wees as skerppuntammunisie en tot grootskaalse maagaandoenings, mediabelangstelling en parlementêre vrae lei.
Gelukkig was die Mol nog betyds om vir ’n graadkursus in tale in te skryf. En so het hy ’n labirint binnegegaan waaruit hy nooit weer te voorskyn gekom het nie.
Aan die begin van die klasdrawwery het die Mol deur naby sy klasmaats te bly, telkens op die regte tyd en by die regte lesinglokaal opgedaag. Voor die einde van die eerste semester was die rolle omgeruil, want die mede-studente het besef: Bly by hierdie vreemde ou met die swart stompneusskoene as jy weet wat goed is vir jou akademie.
Die kampus se biblioteekpersoneel was aanvanklik hoflik-geamuseer, maar het later oopmond toegekyk hoe die Mol metodies van rak tot rak beweeg, hom op kort afstand van haas elke toepaslike titel vergewis en stapel op stapel boeke tafel toe dra.
Een van hierdie personeellede was Laetitia, ’n vaal, bebrilde koestertjie met ’n behoefte aan manlike geselskap anders as dié wat sy weekliks en in groepsverband by die kerkjeug ervaar het. Geleidelik het daar ’n sielsgenootskap met romantiese ondertone tussen die twee ontwikkel.
Die Mol se dosente het gou besef dat hy ’n groot aanwins vir die akademie sou wees. Na die verwerwing van sy BA (cum laude) het hy dadelik met sy honneursstudies begin en die pos van lektor wat hom aangebied is, aanvaar.
In sy honneursjaar is die Mol en Laetitia getroud. Die jong egpaar het eers in ’n woonstel nesgeskop, maar later huis gekoop.
Die dag toe die Mol voor die kansel sy bruid goedkeurend deur dik brilglase betrag, het hy reeds omtrent elke boek oor huweliksvoorligting gelees. Ten spyte van beperkte nagsig, het die Mol uit die staanspoor in die donkerte van die gemeenskaplike slaapkamer sy weg gevind, maar eers nadat hy met kenmerkende deeglikheid by dokter Van Elfen pad gevra het. ’n Tweeling (twee dogtertjies) is vir die egpaar gebore.
Laetitia het haar met die rol van voltydse ma en huisvrou versoen. Die Mol het na sy honneurs sy studies voortgesit en die grade MA en DLitt (cum laude) behaal. Trappie vir trappie het hy met swart stompneusskoene die leer geklim: lektor, senior lektor, mede-professor, professor, departementshoof. Studente en dosente het vir die Mol slegs die grootste agting (selfs bewondering) gehad. Niemand het gelag vir die ronde figuur wat elke dag die lesingsaal binnestrompel nie, of hulle verkneukel in sy volgehoue voorkeur vir ’n grys flanelbroek, grys trui en vormlose grys baadjie nie. Studente het wel partykeer by wyse van afwisseling na die Mol verwys as “Fifty shades of grey” of “prof M”, maar dit was goedige spot, en in kodetaal.
“Prof weet so baie,” het ’n junior dosent een oggend in die departement se teekamer gesê, “Prof moet eintlik self ’n boek word!”
Maar tuis was dit anders gesteld. Laetitia het met groeiende kommer ervaar dat sy besig was om haar sielsgenoot van vroeër te verloor. Die ruim gees wat by die universiteit kon debatteer, filosofeer, formuleer en publiseer, het hom by die huis al hoe meer in sy studeerkamer teruggetrek, met net sy boeke as geselskap. Selfs aan die etenstafel het die Mol gewoonlik ’n boek voor hom gehad, met die een hand geëet en met die ander een geblaai. En wanneer hy by hierdie geleenthede ’n diep, seekoei-agtige “huh-huh-huh” laat hoor, was Laetitia nooit seker wat die oorsprong van die geestigheid was nie: die tweeling se oulikhede of iets wat hy gelees het?
Ten einde die konstante toename in boekery te akkommodeer, het die studeerkamer se rakke meer en hoër geword. Donker, dreigende kranse in ’n landskap wat nie meer vir natuurlike lig of enige ander lid van die huishouding toeganklik was nie.
“Die plek lyk na Hillbrow,” het Laetitia teenoor boekklubvriendinne gekla, “en hoe donkerder, hoe tuiser is hy!”
Die studeerkamer is by die voordeur geleë. Een oggend het die Mol van sy leeswerk opgekyk toe hy ’n roering in die voorportaal gewaar: Laetitia en die tweeling was op pad skool toe vir hulle eerste dag in graad een. By ’n ander geleentheid het ’n lesende Mol toevallig gesien dat die tweeling en hulle ma gereed maak vir hoërskool. Een aand het hy bewus geword van ’n vlietende beweging in die rigting van die voordeur: die tweeling in aandrokke, hulle ma kamera in die hand. Seker matriekafskeid, het die Mol gedink, sy skouers opgehaal en verder gelees.
Laetitia het besef dat haar man ’n munisipale bus geword het: dieselfde roete en rooster, dag in en dag uit, en sy en die tweeling ry nie saam nie. Sy het op ’n 180 grade koersverandering besluit. ’n Laseroperasie het die biblioteekagtige bril oorbodig gemaak en ’n nuwe haarstyl, asook ’n modevoorkeur vir aardse kleure het ’n einde gemaak aan die vaalte van vroeër.
Aha! het haar boekklubvriendinne gedink. Is hier dalk ’n derde party betrokke, ’n ander man? Helaas nie. Laetitia se ommekeer was van ’n veel meer drastiese aard. Sy het ’n leeftyd van boeke en buiteblaaie die rug gekeer, by die botaniese vereniging aangesluit en besluit om voortaan groen en papierloos te leef.
Die tweeling was reeds geruime tyd in Kanada voordat Laetitia daartoe oorgegaan het om professionele advies in te win. Haar keuse het op ’n ou kennis in die Sielkunde-departement geval. Soos alle advies waarvoor nie betaal word nie, was ook hierdie opinie betreklik oppervlakkig. Tog het dit Laetitia se vermoedens bevestig: Haar man ly aan ’n toestand wat in die literatuur beskryf word as patologiese bibliofilie. Aangesien hy in werksverband ver bogemiddeld presteer, kon verkwisting en sogenaamde “hoarding” soos in Plyushkin se sindroom as verbandhoudende of selfs sekondêre patologie buite rekening gelaat word.
“Wat staan my te doen?” het Laetitia gevra.
“In hierdie stadium niks,” was die besadigde, pyp-tussen-die-tande antwoord. “Solank sy bibliofilie hom of sy gesin nie fisies of finansieel benadeel nie, is dit beter om hom te laat begaan.”
Intussen het die Mol, salig onbewus van die afstandelike psigoanalise waaraan hy onderwerp is, doodluiters voortgegaan om nog meer toringblokke en boeke in sy heiligdom staan te maak. Eendag, terwyl Laetitia verby die studeerkamer stap, het sy byna ’n hartstilstand beleef. In die studeerkamer was ’n leer en bo-op die leer was die Mol. Met een stompneusskoen op die leer se boonste sport en die ander in die lug, was hy besig om soos ’n oorgewig ballerina hom uit te strek om ’n boek in een van Hillbrow se boonste verdiepings by te kom. Doodstil het sy gestaan, want selfs ’n klein, gedempte gilletjie kon die ewewig versteur en rampspoed tot gevolg hê.
Met die eersvolgende teebreek het Laetitia haar man gewaarsku: Hoe lank nog voordat hier iets verskrikliks gebeur? Die Mol het instemmend geknik, weliswaar sonder om na sy vrou te kyk; handtertjie in die een hand, lywige boek in die ander, die voorkant van sy grys trui vol krummels.
Een stormnag, terwyl die Mol oudergewoonte tussen sy boeke besig was, is ’n reuse- ou boom op die erf krakend ontwortel en het dit met ’n dowwe slag die studeerkamer net-net misgeval. Ten spyte van die lawaai het die Mol voortgegaan waarmee hy besig was en eers die volgende oggend voor sy vertrek na die kampus hom van die situasie vergewis.
Terwyl Laetitia by die gevalle voorstedelike reus staan en huil het, was die Mol die ene gierige belangstelling: “Dink net hoeveel papier is in hierdie stuk hout. Geskrifte en geskrifte!”
En toe, die onvoorspelbare voorspelbare, of is dit andersom? Dit was asof die noodlot net mooi genoeg gehad het van potsierlike balanseertoertjies, hellende toringblokke en patologiese bibliofilie van professorale omvang. Laetitia was in die kombuis doenig en die Mol in sy studeerkamer. Skielik die donderende slag, harder as die een wat deur die tuinboom se val voortgebring is. En toe is dit stil, onheilspellend stil.
Laetitia het na haar man geroep, maar soos gewoonlik geen antwoord gekry nie. Sy het haar hande aan haar voorskoot afgevee en studeerkamer toe gestap, waar sy deur ’n toneel van verwoesting begroet is. Al die boekrakke was leeg en het soos monnike stram vooroor gebuig gestaan. In die middel was ’n chaotiese boekeberg en by die kruin daarvan het ’n bekende been uitgesteek, herkenbaar aan ’n gapende grys broekspyp, dik wit kuit en stompneusskoen.
Laetitia was nie gebore in staat om haar man onder die puin uit te grawe nie, maar die nooddienste was binne enkele minute daar. Professor Victor Eusebius Napoleon Helberg is op die toneel dood verklaar. Terwyl ’n geskokte Laetitia toegekyk het hoe haar oorlede eggenoot by die voordeur uitgedra word, het dit haar tog opgeval dat die studeerkamer vir die eerste keer in baie jare in natuurlike lig gehul is.
Dit sou ’n geruime tyd duur voordat die tweeling van Kanada na Suid-Afrika kon reis en die beoogde gedenkgeleentheid moes tot dan wag. Geestesgesondheidsonthalwe het Laetitia besluit op ’n strategie van eerste dinge eerste. Sy het haar man laat veras en later die as by die ondernemer gaan haal. Daarna kon sy aan die chaotiese boekeberg aandag gee.
Intussen het die waarnemende departementshoof geskakel en op sy gebruiklike formele manier simpatie betuig. Hy het ook diskreet navraag gedoen oor die toekoms van Eusebius se boekery. Dit was vir Laetitia duidelik dat die man van wie sy nog nooit gehou het nie, goed op hoogte was van die boeke se waarde vir navorsers en versamelaars. En dit was veral in laasgenoemde verband dat sy eiebelang vermoed het. Sy sou laat weet sodra sy ’n besluit geneem het.
Na deeglike navorsing het Laetitia ’n betroubare eienaar/bestuurder van ’n plaaslike herwinningsaanleg opgespoor en hom versoek om haar by die huis te kom spreek. “Hel!” het die man by aanskoue van die hoop boeke gesê, waarop Laetitia besluit het om benewens haar status as weduwee, nie die presiese plek en oorsaak van haar man se dood te openbaar nie.
“Hierdie is nie ’n ‘you phone, we collect’-geval nie,” het Laetitia gesê, “ek sal jou vir goeie, persoonlike diens betaal.”
Die volgende dag was die eienaar/bestuurder weer daar; hierdie keer vergesel van ’n blou lorrie, drie werkers en twee kruiwaens. Toe hulle klaar is, het Laetitia ’n verseëlde kartonhouer van middelmatige grootte aan die man oorhandig.
“Dis sommer ’n manuskrip wat my man vroeër vanjaar vir iemand nagesien het, getitel ‘Van Koolhaas tot Kousbroek: Grepe uit die werk van enkele moderne Nederlandse skrywers’. My man was nie beïndruk nie en het ’n paar onvriendelike kantaantekeninge daarop aangebring. Voordat hy dit kon terugstuur, het die skrywer toe sommer self besluit om van ’n brug af te spring. Die dokument moet dus saam met die boeke verpulp word, maar uit respek teenoor die arme man se familie wil mens seker maak daar waai nie ’n spul los papiere oral rond nie. Kan ek dit persoonlik aan jou toevertrou? Vir verpulping?”
“Ja mevrou,” het die eienaar/bestuurder geantwoord, oë soos pierings.
“Of wil jy dit dalk eers lees? Groot dele is in Nederlands.”
“Nee mevrou,” het die man vinnig gesê en die pakkie respekvol maar ferm tussen die boekevrag ingedruk.
Wat die man nie geweet het en Laetitia nie gesê het nie, is dat hierdie pakkie wat sy die vorige aand noord-suid, suid-noord, wes-oos en oos-wes met ’n breë kleefband verseël het, die volgende bevat:
1 houer met die as van wyle professor VEN Helberg
4 graadsertifikate (sonder rame)
1 dikraambril
1 grys baadjie
1 grys trui
1 grys flanellangbroek
1 paar grys sokkies
1 paar swart stompneusskoene
Met die wegry het die eienaar/bestuurder in die truspieël iets gesien wat hy nog nooit vantevore gesien het nie: ’n kliënt wat die vertrekkende vrag salueer.
Dieselfde dag het Laetitia die waarnemende departementshoof geskakel en hom saaklik meegedeel dat ’n geiser gebars het en Eusebius se studeerkamer oorstroom is – boeke, papiere, die hele lot. Sy had geen keuse as om ’n herwinningsmaatskappy te ontbied nie. Aangesien sy nog besig is om die trauma van Eusebius se skielike dood te verwerk, verkies sy om nie verder oor hierdie tweede terugslag te praat nie. Schluss.
Pas na die tweeling se aankoms uit Kanada is die Mol luisterryk op kampus vereer met ’n gedenkgeleentheid wat deur die departement gereël is. Die volgepakte ouditorium was verdere bewys van die hoë agting vir ’n ontslape leermeester en kollega.
Op die voorblad van die gedenkprogram was ’n mooi foto van die Mol in akademiese drag, gesig in die algemene rigting van die kamera. Bladsye 2 en 3 is deur die Mol se CV in beslag geneem. Geen teksverse nie, wel heelwat foto’s vir ’n intieme kykie in die tonnels van die ontslapene se woelige bedryf: die Mol wat keer op keer graadvang (telkens met ’n ekstra skouerband en kilogram of vyf), die Mol in die deurlugtige geselskap van kanseliers, rektore en dekane, die Mol by die ontvangs van gesogte erepennings en ander toekennings, die Mol aan die woord by simposia en gedenklesings. Geen trou- of gesinsfoto’s.
In sy breedvoerige huldigingsrede het die waarnemende departementshoof gesê dat ’n groot boom in die akademiese wêreld geval het. ’n Seder. Laetitia het onwillekeurig aan die tuinboom gedink en onvanpas geglimlag. Sy is gevra om ’n paar woorde te sê en in ’n kort toespraak het sy haar man se kollegas bedank vir ’n werksomgewing waarin hy kon gedy. Weens sy pligsbesef het hulle tuis min van hom gesien, maar sy nalatenskap leef voort. “Verpulp is hy, maar nie vergete.”
Vir weke daarna was die weduwee Helberg se slotwoorde ’n onderwerp van bespreking in die departement se teekamer. Is dit moontlik, is dit denkbaar dat hulle geliefde kollega en prof inderwaarheid verpulp is?
Uiteindelik het die waarnemende departementshoof hom geroepe gevoel om tot die debat toe te tree, dit dalk af te sluit: “Ek dink sy het dit bloot metafories bedoel, dat die verpulping van sy boekery eintlik neerkom op ’n verpulping van die man self. Mens leef nie vir meer as dertig jaar saam met ’n groot literêre gees sonder dat iets aan jou afsmeer nie, al was jy maar net ’n bibliotekaressetjie.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie