Die moeras van armoede

  • 3

Jason Lloyd

Tereg word daar hedendaags onder bruin sosiale kritici groot gewag gemaak dat bruin mense self verantwoordelikheid moet neem om hulle uit die moeras van armoede te lig.

Die onlangse sosiale debat – veertig jaar ná die bekendmaking van die Erika Theron-verslag – oor bruin armoede het weereens die aandag op dié ellende van bruines geplaas.

Die boonste derde van bruines se posisie het wel die afgelope 40 jaar “besonder goed verbeter” en ook die middelklas het gevorder, het prof Sampie Terreblanche, ekonoom en destyds lid van die Theron-kommissie, bevind.

Dié kommissie is in 1975 aangestel om armoede onder bruines te ondersoek. Die verslag van dié kommissie het indertyd strukturele armoede onder bruines bestempel as “chroniese gemeenskapsarmoede”.

Vandag is die prentjie ietwat nog dieselfde, want die onderste 40% van bruines swem nog in armoede.

Die vraag is egter hoe gaan bruines hulleself ekonomies ophef? Hoe gaan hulle verantwoordelikheid vir hulle politieke en ekonomiese toekoms neem?

Dit gaan beslis nie maklik wees nie, want bruines is nie homogeen nie. Daar is eintlik verskillende soorte bruines/kleurlinge.

Ek het ʼn paar jaar gelede ʼn artikel in Rapport geskryf waarin ek vra hoe lyk ʼn kleurling/bruin mens? Niemand kon egter ʼn bevredigende antwoord verskaf nie.

Die dikkedensie is dat daar geen korrekte antwoord is oor wat ʼn kleurling/bruin mens is nie of hoe ʼn kleurling/bruin mens lyk nie.

Miskien lê die antwoord opgesluit in die woorde van wyle eerwaarde Allan Hendrickse toe hy in 1992 gesê het “bruin mense het nie ʼn eie taal of kultuur nie – die vereistes vir etnisiteit. Daarom is daar nie ʼn bruin etnisiteit nie en is dit rassisties om van bruin mense te praat”.

Dit is reeds om dié rede en die strewe na nierassigheid dat daar veral onder bruin intellektuele nog altyd ʼn baie sterk ontkenning van groepsidentiteit was.

Aan die hand van die onlangse dood van die digter en dramaturg prof Adam Small en die bespreking oor die effek en legaat van sy literêre oeuvre, het ek nogal gewonder of Small hom in latere jare van sy lewe as swart of bruin beskou het.

Omdat Small destydse gesê het “the coloureds were part of the greater black community”. Ook omdat prof Jakes Gerwel geskryf het “Small se kommer en bemoeidheid in sy poësie en dramas is met die armes; nêrens kan ek onthou dat hy etniese bruinheid tot kategorie maak nie”.

Ek bespeur nogal ʼn teenstrydigheid onder etnies-konserwatiewe bruines omdat hulle voortdurend Small as ʼn bruin skrywer verklaar. ʼn Poging wat inkonsekwent staan teenoor die historiese nierassige en niedogmatiese perspektief wat swart Afrikaanse skrywers op etniese mobilisering huldig.

Dr Charles Flaendorp skryf onlangs dat bruines se identiteit eintlik ʼn klassifikasieprobleem is. “Die bevolkingsregistrasiewet het die term kleurling geskep sonder om te onderskei tussen die verskillende ‘kleurlinge’”.

Hoe ook al sy, daar is mense wat vandag direkte sosiale verskynsels/konstrukte van ons koloniale en apartheidsgeskiedenis is wat hulleself as bruin/kleurling beskou.

Dit is net dat die politieke posisionering van bruines ten gunste van wittes nog altyd problematies was en dit het bygedra dat hulle veral op politieke en ekonomiese vlak gemarginaliseerd is.

Bruines het nog altyd ʼn lisensie vir dwase politieke besluite vir hulself toegeëien en daarom staan hulle altyd aan die verkeerde kant van die politieke geskiedenis.

Ook die historiese kondisionering onder bruines dat hulle beter is as die deursnee swart persoon het hulle tot dusver ʼn rigtinggewende staanplek in die nuwe politiek ná 1994 gekos.

Bruines moet hulle eers polities self bevry deur op hulle eie bene te staan. Eers dan sal hulle kan opstaan uit die ashoop van chroniese armoede en ekonomiese gemarginaliseerdheid.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Lloyd gee wittes die skuld vir bruines se gemarginaliseerdheid. Maar waarom nie ook skuld aan swartes toeskryf vir wat die afgelope meer as twee dekades met bruines gebeur nie?

  • Ek gaan verskil met die laaste gedeelte van hierdie artikel. Eerstens moet ons Geestelik bevry word en dan sal ons Polities vry kan wees. Kyk bv na die Isrealite, ons gaan byna dieselfde patroon deur waardeur hulle gegaan het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top