
In sy kamoefleerdrag by die perskonferensie op Sondag 6 Julie 2025 het hy gelyk soos ’n Suid-Amerikaanse dwelmbaas wat nuwe smokkelroetes aankondig, want langs die gekamoefleerde generaal het ’n aantal gewapende lede in volle gevegsdrag en met gesigsmaskers gestaan. Voor hulle het senior polisie-offisiere gesit, amper asof hulle onderdanig was aan die welsprekende generaal. Dit was nie Zapata in die kokaïenwêreld nie; inteendeel, presies die teenoorgestelde. Die spreker was luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale kommissaris van KwaZulu-Natal wat in ’n opspraakwekkende persverklaring ’n historiese keerpunt in die tweede termyn van president Ramaphosa geskep het. Hy beweer onder andere dat die aanklaers, lede van regsprekende gesag, polisie, metropolisie, gevangenisdiens en politici kop in een mus is met misdaadkartelle.
Zapiro cartoon published on @dailymaverick (9 July 2025) on Dustup @GeneralMkhwanaz @SAPoliceService @vusimusi - https://t.co/QIusAtVXZF pic.twitter.com/FFIUCRnue1
— Zapiro (@zapiro) July 12, 2025
Dit is opspraakwekkend wanneer ’n senior polisie-offisier nie alleen sy seniors in die polisie betrek en beskuldig nie, maar ook sy politieke hoof by korrupsie en georganiseerde misdaad betrek. Onder normale omstandighede en met geldende protokol sou Mkhwanazi binne 24 uur na sulke gebeure geskors wees hangende ’n ondersoek, maar met die President in Brasilië by ’n Brics-beraad en die omvang van die bewerings, het daar niks gebeur totdat die President op Sondag 13 Julie aangekondig het dat ’n regterlike kommissie van ondersoek aangestel word. Dit sal onder leiding van uittredende waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga (63) wees wat binnekort aftree en met uitgebreide ervaring van kommissies (oa Farlam en ondersoek na Bheki Cele). Hy sal bygestaan word deur twee senior advokate (Sesi Baloyi SC en Sandile Khumalo SC) en het ’n uitgebreide mandaat ontvang. Naas die ondersoek na die bewerings van Mkhwanazi mag die kommissie alle instansies ondersoek wat vermeld word en kan hulle aanbevelings maak rakende rolspelers wat tans in diens van die staatsagentskappe is. Die kommissie moet binne drie maande ’n vorderingsverslag voorlê en na ses maande ’n finale verslag aan die parlement en die hoofregter bied.
Alhoewel die aanstelling van ’n kommissie van ondersoek feitlik altyd ’n soort politieke kantlynskoppie is, is die kern van die kommissie se mandaat om die rol van vorige en huidige senior amptenare in diens van die veiligheidsgemeenskap te ondersoek in terme van hulle samewerking met of hulpverlening aan georganiseerde misdaad en veral die impak daarvan op die veiligheid van die staat. Dit sluit ook in om vas te stel of rolspelers finansieel of polities bevoordeel is en of betroubare inligting doelbewus ondermyn is. Die instansies wat binne die Madlanga-kommissie se mandaat val, is die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Staatsveiligheidsagentkap, die Regterlike gesag asook landdrosgesag en die metropolisie van Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane. Hierdie kommissie mag ook die uitvoerende gesag ondersoek, en in dié verband is minister Senzo Mchunu op verpligte verlof geplaas en Firoz Cachalia aangestel as waarnemende minister van polisie vanaf 1 Augustus 2025.
Die essensie van die bewerings wat Mkhwanazi gemaak het, is dat die minister van polisie, Senzo Mchunu direk of indirek bevoordeel is in ’n reuse tender van R360 miljoen wat in 2024 aan Vusimusi “Cat” Matlala toegeken is. Alhoewel die tender in 2025 getermineer is, het Matlala toe reeds R50 miljoen ontvang. Saam hiermee versoek minister Mchunu dat die taakspan wat politieke moorde ondersoek, op 31 Desember 2025 ontbind moet word. Dieselfde taakspan het toe reeds Cat Matlala oor ’n moordaanklag in Gauteng ondersoek. Om die netwerk van chaos verder te kompliseer het die nasionale kommissaris van polisie, generaal Fannie Masemola, die opdrag van die Minister nie uitgevoer nie, maar sy ondergeskikte adjunk- nasionale kommissaris, Shadrack Sibiya, het dit wel onregmatig gemagtig en polisiedossiere wat die taakmag opgestel het, verwyder. Deel van hierdie beweerde bose netwerk was ook Brown Mogotsi, wat as vriend van die Minister op vreemde maniere by besluite oor die SAPD betrokke geraak het. Indirek gekoppel aan die saak is die hofverskyning van die senior leierskap van die SAPD se misdaadintelligensie, met luitenant-generaal Dumisani Khumalo aan die hoof.
Sedert die verklaring van generaal Mkhwanazi en die terugkeer van Ramaphosa uit Brasilië was laasgenoemde se agenda baie vol. Trump het in dié tyd sy finale tariewe op Suid-Afrika bekendgemaak en die voormalige adjunkpresident, David Mabuza, is skielik oorlede. Onder die dekking van veral Mabuza se dood is daar baie min amptelik gesê oor Mkhwanazi se bewerings, maar dit was duidelik dat die kwessie te belangrik was om dood te swyg, een van Ramaphosa se bekende politieke strategieë! Uiteindelik het Ramaphosa die land op Sondag 13 Julie toegespreek en die Madlanga-kommissie aangewys om hierdie vervlegte chaos in die polisie se topstruktuur te ontrafel en met aanbevelings te kom. Dit is duidelik dat die ANC-topstruktuur hierdie aankondiging baie deeglik beplan het die afgelope week, en die beplanning sou, in tipiese ANC-styl, in oorleg met Senzo Mchunu plaasgevind het. Benoemings wat gemaak is, soos dié van Cachalia, was ook baie strategies gedoen. Alle aanduidings is dat beide generaals Sibiya en Mkhwanazi nie vrywillig op verlof wou gaan nie en dat dit waarskynlik die eerste aanbeveling van die nuwe kommissie sal wees.
Wat is die implikasies van die Mkhwanazi-optrede met betrekking tot korrupsie in die polisie? Mkhwanazi word tans sagkens hanteer, want hy tree op soos ’n fluitjieblaser, maar op die hoogste vlak. Die staat sal hom nie kan skors nie, maar ’n onafhanklike regterlike kommissie sou dit wel kon doen. Die implikasies strek wyd en ver, en dit kan vergelyk word met die Zondo-kommissie in die kleine binne die kriminele, intelligensie-en veiligheidsektore. Kommissies kan maklik pogings wees om tyd te koop, soos die ondersoek na Phala Phala en die Lady R uiteindelik stof of rakke vergaar het, maar die omvang van die Mkwanazi-bewerings is net te omvangryk en geloofwaardig om te ignoreer. Dit is beslis die einde van die politieke ambisies van Senzo Mchunu, en die kollig het weer geval op die korrupte netwerke van georganiseerde misdaad en hoe vervleg die polisie en politici daarin betrokke geraak het. Dit is beslis ’n gevoelige politieke slag vir Ramaphosa, want Mchunu was een van sy politieke steunpilare uit KZN, maar dit hou ook groot risiko’s in vir Paul Mashatile se politieke ambisies as die bewerings oor sy nabyheid aan misdaadkartelle enigsins waar is. Soos Thuli Madonsela in haar verslae as openbare beskermer gewoon haar werk gedoen het en staatskaping ontbloot het, dink ek sal die geskiedenis positief oor Nhlanhla Lucky Mkhwanazi oordeel vir sy waagmoed en onkreukbaarheid as ’n polisieman in diens van Suid-Afrika.
Lees ook:
Seen elsewhere: I have asked ChatGPT to predict Ramaphosa’s address
Skroewe draai stywer om polisieminister te midde van klagtes


Kommentaar
Daardie kamoefleerdrag lyk soos MK s’n.
Die 'honde' het die 'vet katte' wat die hoenders vang in die boom gejaag.
Ons weet wie hulle is.... hou dop... en maak die kettieklippe bymekaar.
Daar is perdebyneste in die boom ook. Zondo, Zuma, Phala Phala-neste en ander.
Die pret het pas begin.
Dit is verskriklik aangenaam om hier ter plaatse te lees van korrupsie so onder ons neuse! Lyk nie of Trump in die kollig is nie en is die fokus 'n welkome verandering. Dankie, Theo.
Theo, ons moet dié dalk “coin” as politieke misdaad?
Is dit nie ook so dat op Ramaphosa se plaas na bewering versteekte, onverklaarde US dollars was nie? En dat hy vir Mchunu aangestel het as minister nie? Hoe harder wolf skaapwagter skree, hoe meer vang hy skelm skaap.
Die kamoefleerdrag en kenteken van die polisie se Taakmag word met trots gedra, want dit word nie net toegeken nie. Jy moet dit verdien; jy moet bewys dat jy intellektueel, geestelik, liggaamlik, sielkundig, bevoeg is. Om ‘n persoon wat dit deurgemaak het te vergelyk met ‘n Suid-Amerikaanse dwelmbaas is ‘n growwe belediging.
Generaal Mkhwanazi het ook nie sommer op ‘n dag wakker geword en besluit om die aanklag te maak nie. Daar was die gelydelike bewuswording van korrupsie, die opbouende wrewel, die besluit om iets te doen. Dan: “moet ek?”, hoe , waar, wanneer? Wat gaan die gevolge wees? Watter gevolge vir my span en kollegas en ondersteuners? Is ek bereid om die gevolge te dra?
Dit verg baie moed van genl Mkhwanazi, want hy is verseker onder druk – om sy saak terug te trek, om verskoning te vra. Or else...
Marthinus Willemse, goeie kommentaar!