“die meisie mettie boek”

  • 4

Wat is die doel van boek lies? En hoekô is daa soe min kinnes wat lies op die Cape Flêts? Of hoekô lykkit soe?

Op die latest trend van die Basic Education Departement se storie om seks deel te maak van kinnes se education, het iemand op Facebook gesê dat kinnes in graad vie, kan skaars lies, maa die Education Department is gewarried om kinnes opvoeding te gie oo seks. En reg genoeg! Hoekô warrie ôs oo goed soes seks, wanne die basics nie ees reg gekry wôttie?

Maa lê daa nie nog iets dieper nie? Is daa nie miskien ʼn diepere riede hoekô baie kinnes in daai age groep noggie kan liesie?

Maa dan is daa oek die feit dat daa soe baie information besikbaar is vi ôs in vedag se wêreld dat kinnes tien-tien-een al meedere goed oo seks wiet dan ôs, en om te try om oo seks te praat in ʼn “controlled environment”– hoeveel veskil gannit maak towards tiener-swangerskap, dwelm en alkohol misbruik, of kinner- en mensedryf?

Ôs het kinnes, en tieners, en Suid Afrikaners nodig wat gan wiet hoe om met information te wêk. Om vi hulle self die goed wat hulle lies, en kyk elke dag te regulate. En dit begin by hoe hulle kan engage met die goed wat hulle lies. En reg genoeg, ôs sal moet reg in Engels kan engage, om goed te kan vestaan, maa imagine vi jou om die liewe deu te loep sonne ʼn taal wat djy vestaan?

En mense, ja ek wiet dat Afrikaans is mos nou die taal wat ek moet praat, of wat die gawement sien ek praat, en moet vestaan, en all that, but unfortunately, is wat Afrikaans sprekendes praat en wat ek praat twie different goet. En dissie net ek wat soe voelie. My punt is: djy kan nog nooit in die liewe mense wil opvoed en sê hulle moet hulle opvoeding in ʼn anne taal kry nie.

“Maa hoekô kan ôssie ôs eie taal gebruik wanne ôs skryf innie skoolie?” Vra ʼn paa jongmense my.

En hulle is reg om sulke vrae te vra. Wan hoekô mag hulle nie in hulle eie taal skryfie. Hoekô mag hulle nie in hulle eie taal met die liewe engagie? En daa is mos nou Afrikaans, maa is Afrikaans rêrig ôs se taal? Ek ken somme ʼn klomp Afrikaanssprekendes wat somme gou sal opspring om “nee” te sê, om ôs te lat onthou dat ôs ʼn taal praat met woore wat sonne ‘Rs’ eindig. Maa daai is sieke okay as ôssie Afrikaans praatie, en Nama soes dit nou is mag miskien ôs se voo’ouers se taal was, maa het ôs harte dannie vegiet hoe om ôs tonge te lat click nie?

Dis mense soes Earl-Ray Basson wat hie op LitNet geinterview was oo Kaaps in die klaskamer wat my groot hoep gie vi ʼn bietere toekoms, waa literatuur in mens se eie taal sal kan asem haal.

En die skryf in moedertaal, en die engangement in ʼn formele setting in jou moedertaal is belangrik om mense, jonk of oud, te nurture om goeie lesers te raak, en dan wee goeie skrywers te raak, of storievetellers te raak, en ôs het ʼn klomp van hulle nodig.

My hede is ek gehuis by ʼn plek waa ʼn hele klomp mense tik, en niee, hulle issie kallitie, hulle is wit. Maa wat my vebasend is, is dat al tik hulle, sien ek hulle time-en-again sit met ʼn boek en lies. Ek wiet dis ʼn bad example, maa vi my wys dit net wee dat as djy stories het om te lies in jou eie taal, en djy wôt genurture om ʼn lieser te raak, dan sal dit jou nooit lossie.

Dit bring my na die foto onner wat op Facebook veskyn het waa’oo Shaun Warner ʼn gedig geskryf het. Shaun is ʼn local poet van die Cape Flêts.

Droem saamit my, en imagine, elke gun op die Cape Flêts, of selfs in SA wôt geruil vir ʼn boek, imagine daai wêreld. Ek is ʼn droemer, ek was nog altyd, en ek gloe dat if as girl child, in the face of danger, kan gat sit en ʼn boek oepmaak, dan is daa hoep vi die res van ôs.                                                        

Baie dankie vi die onnersteuning.

Kaaps in die klaskamer – ’n onderhoud met Earl Ray Basson

  • 4

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die regering wil mos tablets in die skole inkry. Uit met die biblioteek, in met die tablet. Dit terwyl baie skole nog nie eens toilette het nie...

  • Olivia dankie vi' jou thought provoking en rê'rag necessary piece en ja,lees is van paramount belang assie ee'ste lyn teen conforming to die Flets se malaise. Dankie dat djy my gedig feature. Jou wêk gie lewe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top