Die “mal professor van Stellenbosch” se groot nalatenskap

  • 0

Solomon Johannes Terreblanche 17/4/1933–17/2/2018, omstrede én geliefde prof Sampie, Afrikaner, ekonoom, skrywer, onderhandelaar, kritiese stem teen ongeregtigheid is verlede Saterdag aan breinkanker op Stellenbosch oorlede. ’n Legende.

So kon hy sy skouers optrek, sy kop laat sak, jou priemend aankyk – en passievol pleit om tog te verstaan dat dit nie só kan aangaan nie.

Hy was die stem vir die underdog, die armes, en hy het gewaarsku teen die gevaarlike vaart van toenemende rykdom. “Jy kan mos sien dis ’n ramp, ’n groeiende ongelykheid,” sou prof Sampie dringend uiteensit, koppie tee in een hand, piering in die ander.

Hy het die establishment uitgedaag, toe maklik en gerieflik ’n kommunis genoem in die heersende onverdraagsaamheid. Tog was hy ’n trekpleister vir idees, sommige wat hom selfspottend sou laat verwys dat hy as die mal professor van Stellenbosch bekend staan.

Hy was ’n wegbereider, ’n onverwagte stem in die stroewe, verbete apartheidsideologie. Hy, oud-Broederbonder, ’n lid van die 1970 Erika Theron-kommissie na die armoede onder bruinmense, word ’n “manteldraaier” in die onstuimige tagtigerjare toe hy sy rug gekeer het op die Broederbond en ’n inklusiewe politieke bestel bepleit het. En toe, onstuitbaar begin waarsku het teen die verskriklike verdeeldheid tussen arm (lees hoofsaaklik swart en bruin) teenoor die wit en ryker gemeenskap ... Aan wie se kant was hy nou eintlik?

Die waarheid is dat prof Sampie aan niemand se kant was nie, dat hy die nuwe demokratiese bestel ook gedaag het oor toenemende argeloosheid teenoor die onhoudbare ongelykheid.

Beyers Naudé, Breyten Breytenbach en Sampie Terreblanche (bron)

Uiteindelik sou hy ’n boek skryf wat as ’n ekonomiese bybel van die afstand tussen ryk en arm in Suid-Afrika beskou kan word. A History of Inequality in South Africa 1652–2002 is ’n seminale ontleding van die Suid-Afrikaanse mistasting oor argumente dat groeiende rykdom verligting sou bring vir die armes.

Toe herhaal prof Sampie wat hy die beste doen; sy geloof in ’n gewaagde maar diepdeurdenkte voorstel: ’n rykmanstaks. Na die 1997 Waarheids- en Versoeningskommissie was daar praatjies oor restitusie, maar volgens prof Sampie was daar geensins duidelik aanbeweeg na die vernouing van die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse gemeenskap nie. ’n Weeldebelasting sou uitkoms help bied vir die armes. Die “mal professor van Stellenbosch” is deeglik die kop gewas oor hierdie “sosialistiese” voorstel.

Min gepla het prof Sampie wel ’n baie groot rol in die middel 80’s begin speel, juis met sy sosiale demokratiese denke.

Na die wegbreek van die Konserwatiewe Party van die Nasionale Party in 1982 en na die Driekamer-parlementsbesluit het Sampie groot aanhang onder jonger Afrikaners gekry. Nadat hy en 27 Stellenbossers die Broederbond verlaat het, het Sampie ’n direkte rol begin speel in die ontwikkelende teenstand teen die Nasionale Party se geledere. Bewegings soos die Onafhanklike Beweging en die Nasionale Demokratiese Beweging (wat later met die Progressiewe Party die Demokratiese Party sou word) het Sampie se sosiale demokratiese insigte baie sterk teenoor die liberale demokratiese idees oorweeg. So was hy ook instrumenteel in die stigting van die destydse DP.

In die tagtigerjare is prof Sampie ook aangestel as voorsitter van die SAUK se advieskomitee. Opvallend daar was sy sterk stem dat die SAUK nie “His Master’s Voice” moes wees nie, maar ’n platform vir oop idees.

Nelson Mandela en Sampie Terreblanche (bron)

Prof Sampie is dikwels gevra waarom dit amper 20 jaar sou duur voor hy die Broederbond sou verlaat, en amper 17 jaar nadat hy so terdeë bewus geword het van die armoede van die bruin bevolking. Hy het eenvoudig geantwoord: “Ek het algaande beter begin verstaan.”

Die waarheid, dink ek, is dat Sampie die “mensch” wat in daardie jare van gedugte nasionalisme in die binnekringe beweeg het, wel sy eie wroeging gehad het. Hy was ’n verbete leser, en vir ’n “mal” professor ’n wye navorser en diep denker. Hy was ook ’n besonder toeganklike skrywer. Hoe kon hy die toenemende ongelykheid gade slaan en stilbly? So het hy gaandeweg die irriterende, vraende stem geword in gesprekke met John Vorster en PW Botha. Hy het geweet dat daar ’n breuk sou moes kom. Dit het miskien te lank gevat om openlik te opponeer, het hy op ’n keer gesê.

Kleurryk, opstandig, stout, borrelend van nuwe idees, nuwe insae, en ’n aangrypende empatie – hierdie woelgees laat ’n nalatenskap van begrippe en oordele wat beslis in die Suid-Afrikaanse ekonomie en politiek sal resoneer.

En die verkeer in Stellenbosch sal veiliger wees, want prof Sampie het soms vergeet hy gesels in die middel van die straat met karre wat uit sy pad swenk! Die gebore Vrystater het Stellenbosch se poster boy geword vir ’n goeie, opbouende argument.

Prof Sampie se vrou Ina is in 2016 oorlede. Sy dogters is Christelle, Marié, Louise, Carine en sy seun Sampie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top