Die loutering van Manon Viljoen
Chris Marnewick
Naledi
SKU: 978-1-991256-18-8
Chris Marnewick beantwoord Naomi Meyer se vrae oor Chris se jongste boek, Die loutering van Manon Viljoen.
Chris, jy woon oorsee, maar jy skryf boeke in Afrikaans en binne die Afrikaanse leefwêreld. Waarom doen jy dit – die skryftaal Afrikaans en die omgewingsverbintenis?
Ek woon sedert my aftrede uit die regsberoep in 2011 in Auckland, Nieu-Seeland. Ek is en bly ’n Suid Afrikaner, in wese, kultuur en taal. Ek skryf in Afrikaans en Engels, maar my nuutste twee boeke met Manon Viljoen as hoofkarakter is in Afrikaans. Afrikaans is my moedertaal en is ook my huistaal, selfs daar ver in die vreemde, en ek is gemaklik daarin. Ek voel ook dat Afrikaans net sal oorleef as ons wat Afrikaans is, die taal gebruik en bevorder.
Daar is tans ’n waarneembare en ontstellende aanslag teen Afrikaans, veral ten opsigte van die gebruik van Afrikaans in skole en universiteite, wat, soos dit vir my lyk, van owerheidsweë gedryf word. Ons moet daarteen veg, en een van die pyle in ons kokers is om in Afrikaans te skryf en te sing.
............
Daar is tans ’n waarneembare en ontstellende aanslag teen Afrikaans, veral ten opsigte van die gebruik van Afrikaans in skole en universiteite, wat, soos dit vir my lyk, van owerheidsweë gedryf word. Ons moet daarteen veg, en een van die pyle in ons kokers is om in Afrikaans te skryf en te sing.
.............
Waaroor handel Die loutering van Manon Viljoen?
My genre is kreatiewe niefiksie, ’n onding van ’n term. Ek gebruik die roman as voertuig om aspekte van ons hedendaagse geskiedenis uit te lig en te verduidelik. In hierdie Manon-storie, wat in sy wese ’n liefdesverhaal is, is die geskiedkundige aspekte gesetel in Oscar Pistorius se verhoor en in die breinbeserings wat rugbyspelers na herhaalde episodes van harsingskudding opdoen. Laasgenoemde is ’n aktuele onderwerp en alhoewel die gebeure in 2019 afspeel en die Wêreldrugbybekertoernooi van daardie jaar insluit, is dit by hierdie jaar se toernooi nog meer op die voorgrond. Rooi kaarte word orals uitgedeel, en rooi kaarte figureer al in die eerste hoofstuk van die boek.
Dit is egter ’n liefdesverhaal, vertel vanuit die oogpunt van die hoofkarakter, Manon Viljoen, ’n 28-jarige advokaat wat in Durban praktiseer. Manon hou daarvan om in beheer te wees – in haar liefdeslewe, in haar praktyk, op haar motorfiets, en ook wat haar persoonlike veiligheid betref. In die eerste deel van die boek – “Vertigo” – word haar balans letterlik en figuurlik versteur, soveel dat sy moet vlug en ’n pelgrimsreis onderneem – die Camino de Santiago Compostela. In die derde deel – “Renaissance” – het sy haar ewewig herwin en is sy weer volkome in beheer, maar sy is nie meer die Manon wat sy in hoofstuk 1 was nie. Dit is ’n bildungsroman en gaan oor Manon se soeke na haar eie weg en haar eie ek.
Jou boek is ’n liefdesverhaal, ’n speurverhaal en ’n hofdrama – so staan daar op die uitgewers se blad. Hoe sou jy dit beskryf?
Ja, dit is in wese ’n liefdesverhaal. Liefde het die potensiaal om mens te teister met onvoorspelbare afwisselings van ekstase en verdriet, en so gaan dit ook met Manon. Liefde, so voel ek verder, is ’n emosie wat ons saamdra by ons werkplek en orals waar ons gaan. Dit is ’n passasier, nie ’n onwelkome een nie, maar tog een wat nogal moeilike eise aan ons kan stel. Manon se stryd om liefde te vind, vind plaas in die konteks dat sy nog steeds daagliks haar praktyk moet behartig, en dit is juis daar waar sy ’n moord moet oplos en ’n moeilike hofsaak oor breinbeserings moet hanteer.
Dit is miskien nie ’n konvensionele liefdesverhaal nie, want Manon se liefdeslewe word beskryf teen die agtergrond van haar beroep, haar werk, en ander probleme wat sy het wat niks met liefde as sulks te doen het nie.
Hoe doen jy jou navorsing? Watter regstelsel gebruik jy en hoeveel ooreenkomste is daar tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland of Australië?
Ek lees wyd. Ek maak staat op persoonlike kennis en persoonlike ondervinding. Ek het byvoorbeeld in 2019 op die Camino gestap. My seun, wat vir die All Blacks werk, het my reeds in 2017 ingelig oor die komende krisis wat rugbyspelers met breinbeserings betref. Ek het toe op die internet die nodige navorsing gedoen. Wat regstelsels betref, is ek toegelaat om in Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland te praktiseer, maar ek skryf in Afrikaans en gebruik plaaslike tonele, en gevolglik ook die plaaslike regstelsel. Behalwe die gebruik van die juriestelsel in Nieu-Seeland is daar nie juis groot verskille tussen die genoemde regstelsels nie, behalwe dat Suid-Afrika alleen ’n moderne geskrewe Grondwet het.
Wat was die rede vir hierdie boek; wat het dit geïnspireer?
Die boek het sy oorsprong in ‘n gesprek wat ek by Time of the Writer met Deon Meyer en Mike Nicol gehad het so in 2006. Ek het hulle gevra of ’n skrywer ’n misdaadroman kan skryf waar die misdaad nie opgelos word nie. Hulle het beide gesê dit kan nie so werk nie. Ek het toe 10 jaar later besluit ek gaan dit probeer, en die produk was Redelike twyfel (Protea Boekhuis, 2019), waar die moord nie opgelos word nie. Die rede is in die titel – ’n moord is nie opgelos wanneer die beskuldigde gearresteer word nie, maar eers wanneer die hof daardie persoon skuldig bevind en vonnis. En in die howe word 50–60% van daardie beskuldigdes onskuldig bevind.
In hierdie tweede Manon-boek los Manon die onopgeloste moord van Redelike twyfel op, en selfs ’n tweede, op die Deon Meyer- en Mike Nicol-resep. In Redelike twyfel was haar liefdesverhaal ook onvoltooid, op sy eie manier met onsekerheid oor waarheen haar verhouding met haar minnaar, Nantes Castel, op pad was. Daardie twyfel word, soos die moorde, nou in hierdie boek opgelos.
..............
In hierdie tweede Manon-boek los Manon die onopgeloste moord van Redelike twyfel op, en selfs ’n tweede, op die Deon Meyer- en Mike Nicol-resep. In Redelike twyfel was haar liefdesverhaal ook onvoltooid, op sy eie manier met onsekerheid oor waarheen haar verhouding met haar minnaar, Nantes Castel, op pad was. Daardie twyfel word, soos die moorde, nou in hierdie boek opgelos.
...............
Twyfel is deel van ons daaglikse bestaan, en Manon se vertwyfeling oor haar liefde vir Nantes, en syne vir haar, begin sommer dadelik in hoofstuk 1 en stap saam met haar dwarsdeur die gebeure in die boek.
Hoe ondervind jy dit om in die skoene van ’n vroulike karakter te staan? Hoe maklik of moeilik of anders is dit vir jou om jou in die ander se wêreld in te dink?
Ek het in ’n huis en omgewing met sterk vroue grootgeword, en sulke vroue van dag een in my beroep ontmoet en saam met hulle gewerk. Aanklaers, prokureurs, advokate, landdroste en regters, en talle ander. Ek het dit nie moeilik gevind om een soos Manon Viljoen te verbeel en die storie vanuit haar oogpunt en met haar belewenisse op te stel nie. Wat haar naam betref: Ek het ’n vrou by ’n filmfees in Vlissingen (Nederland) ontmoet wat vir my beide die naam en die voorkoms verskaf het. Van daar af was dit maklik om Manon as persoon in my geestesoog te sien en selfs haar gedagtes te verbeel.
Wat was vir jou die mees uitdagende aspekte van die skryf van hierdie storie? En die lekkerste, of die mees vervullende?
Die mees uitdagende was om oor seks te skryf, en om dit vanuit ’n vrou se oogpunt te doen, en verder om dit in die huidige bestek wat betref moraliteit te skryf. Soos die karakter met wie ek identifiseer, Johann Weber, dit stel, in sy tyd kon ’n man nie eers ’n hand onder ’n meisie se klere inkry nie, maar vandag is seks nie meer beperk tot ’n huweliksverhouding of selfs enige verhouding waar wedersydse trou verwag word nie.
Terselfdertyd was dit vir my bevrydend om oor seks te skryf met ’n eksplisiete beskrywing van ’n sleutelgebeurtenis in Manon se bevryding van haar inhibisies en vrese.
Wat is jou grootste uitdagings om oorsee te woon? Wat sien jy van die land noudat jy daar is, en hoe beïnvloed dit jou skryfstyl?
Daar is nie werklik uitdagings nie, want die lewenstyl en kultuur is Europees, en meer spesifiek Brits, soos ook maar hier in Suid-Afrika. Nieu-Seeland is ’n arm land in vergelyking met Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse ekonomie is ten minste 13 of 14 keer groter, en dit is sigbaar in die verskil in kwaliteit van die infrastruktuur, huise en besighede en so aan. Verder, terwyl ek nie juis enige noemenswaardige ontwikkeling in Nieu-Seeland waarneem nie, is daar ’n duidelik waarneembare trajek van groei in Suid-Afrika; groei nie alleen in die fisiese sin soos met infrastruktuur nie, maar ook in die opheffing van die bevolking. Dit is vir my verblydend om sulke groot getalle swart persone orals in die professies, besighede, banke en dienslewering te sien waar daar voorheen net wit gesigte was.
Wat Suid-Afrika betref, het ek van buite ’n duideliker beeld van die land, maar die land en sy politiek en gees figureer nie in my skrywe nie. (Sien, ek sukkel ’n bietjie om die regte Afrikaans te vind vir ’n woord soos “figureer”. Niemand om gou te vra nie, en Zirk van den Berg wat daar naby my woon, kan ek nie om 06:00 al bel nie.)
Wat lees jy van daardie omgewing of van Suid-Afrika, en watter ander dinge doen jy ook? Is jy nie ‘n praktiserende regsgeleerde nie - so waar kry jy tyd vir die skryf van fiksie?
Nee, die praktyk het ek agtergelaat, en nou figureer dit net in my drome, en meestal as nagmerries.
Ek lees elke oggend die plaaslike (Aucklandse) koerant en die nuus uit Suid-Afrika op ’n Suid-Afrikaanse nuuswebwerf – IOL. Ek lees ook die nuutste hofbeslissings – elke weeksdag, so vinnig as wat dit gerapporteer word. Ek probeer bybly met ontwikkelings in die reg en regspleging, want ek het ’n handleiding wat in die opleiding van aanklaers, prokureurs en advokate gebruik word wat ek elke vier of vyf jaar moet bywerk, soos nou weer – Litigation skills for South African lawyers (LexisNexis), tans die vierde of vyfde uitgawe.
Verder hou ek my besig met die onderhoud van die veteraanmotor wat ek en my vrou Ansie van die grond af oorgebou en gerestoureer het, en ons pas gereeld drie woelige kleinkinders op – ’n groot plesier vir ouer mense in ’n land waar daar nie huishulpe, kinderoppassers of selfs tuiniers is nie. Ek speel tennis so drie dae elke week – as die weer dit toelaat! Ek stap graag, lang ente soos skrywers doen, en soms met Ansie se brak. En ek skryf soos die gier my beetpak, waar en wanneer ek wil, en sonder enige program of druk om iets te produseer of publiseer.
Jy gaan binnekort in die Kaap wees vir ’n bekendstelling van die boek. Wat is die besonderhede hiervan, as mense wil kom luister en bywoon?
Daar word deesdae van skrywers verwag om by te dra tot die reklame en bemarking van hul boeke. Die loutering van Manon Viljoen (Naledi) het pas verskyn en alhoewel dit by die Boektent by die Woordfees beskikbaar is, is nóg ek nóg die boek op die program aldaar. Ek het ’n boekgesprek met François Bloemhof (wat die manuskrip geredigeer en onmeetbaar verbeter het) by Riëtte Hugo se huis Saterdag 7 Oktober om 11:00. Riëtte kan by 083 272 7239 gekontak word om te hoor of daar nog plek is. Daar sal ’n vingerete en vonkelwyn wees.
Dan is daar ’n volgende geleentheid op 10 Oktober by Aunty Sophie se Kombuis, Noordwal Wes 1, Die Laan, Stellenbosch, waar ek en ’n paar ander Naledi-skrywers elk op die uur van 10:00 tot 13:00 ons boeke aanbied en bespreek. My gesprek vind om 12:00 plaas met Jonathan Amid as aanbieder, en ek self tree op as aanbieder vir Lelanie Roode se gesprek om 13:00, waartydens ons haar boek, Olifant op ’n sweefstok, bespreek. Hierdie geleentheid is gratis en almal wat dit bywoon kan terselfdertyd tee, koffie en ligte eetgoed op eie koste bestel en geniet.
Die program op 10 Oktober is as volg: Oop deure: Trisa Hugo en Analize Viljoen; 21 Voices: Marthie Momberg; Die loutering van Manon Viljoen: Chris Marnewick; Olifant op ‘n sweefstok: Lelanie Roode. Van 09:00 tot 14:00.