Die Liefde: Ek dink ek haat my man

  • 4

Wat is ’n normale huwelik? Neem my, byvoorbeeld: Ek is ’n goed versorgde vrou. Ek doen al die moontlike vir my man, sê nooit ooit nee nie – en wat doen hy? Hy is aangetas, omdat hy my al 20 jaar lank daarvan beskuldig dat ek verhoudings het, en dis nie ’n grap nie. Hy glo homself só dat hy selfs vir my sê dat hy boekhou van my verhoudings. Hoe de hel kan jy iets bewys wat nie daar is nie? Dít wil ek baie graag weet. Hy het my al beskuldig van ’n verhouding met van die tuinjong tot sy broer en soos ek al vir hom gesê het: Die Here weet tog wat is waar. 

Ek het geen privaatheid nie. Hy krap in my laaie, gaan die selfoonnommers deur en grou in alles wat ek in die kaste bêre. Dis vir my ’n vreeslike probleem. Ek mag geen vriendinne hê nie en is stoksielalleen op hierdie liewe aarde. Ek het ’n groot dogter en ons mag nie eens met mekaar praat sonder dat hy alles wil hoor nie.

Ons is albei al geskei en ek het een seun by hom. Sy vorige vrou is ook van verhoudings beskuldig en ek beny haar, want sy het die pad gevat. My probleem is dat ek 20 jaar gelede gedwing is om op te hou werk. Ek het in daardie tyd na die plaas omgesien. Ek kan nêrens heen gaan nie, want ek het geen geld, pensioen, medies of blyplek nie, en ek is 48 jaar oud. Waar begin ek?

Ek is regtig bang vir hom omdat hy psigopaties is. Almal sien hom as hierdie wonderlike, saggeaarde Christen en agteraf is hy ’n vrouemishandelaar. Hy was ook aan pornografie verslaaf. Die ding is: Wat doen ek? As ek hier uitstap, het ek niks nie (as gevolg van ons huwelikskontrak), en ek het nog ’n seun wat volgende jaar klaarmaak met skool. Ek het al met hom gepraat, maar ek kom altyd tweede. Hy het die manier om goed te sê wat my my woorde laat insluk. Dan staan ek en stamel en lyk ek skuldig. Ek is regtig raadop. Ek het nie meer ouers nie en sit al 20 jaar lank sonder ’n lewe op hierdie plaas. Wat doen ek? Die ding is: Ek dink ek haat my man op hierdie stadium, maar nog steeds maak ek kos en versorg ek hom en die huis, die plaas, sy ma. Ai! Mans is terrible goed – ek haat hulle regtig!

As ek nog skuldig was, maar nog nooit ooit het ek my man verneuk nie. Dis wat so seermaak, so verskriklik baie seermaak.

Onskuldig

 

Reageer | Respond: ondersteuning@litnet.co.za 

  • 4

Kommentaar

  • Het jy al 'n prokureur gaan sien? Dalk is dit glad nie waar dat jy "met niks" uit die huwelik sal stap nie. Vind uit.

  • RegsGeleerde... Met baie kennis.

    Geagte Marie,

    Ek is so jammer om van jou dillema te hoor.

    Dit is tragies.

    Dit is hartseer!

    Dit is onaanvaarbaar...

    Dit is nie GOED NIE!

    Mag die Here jou seën en nog baie meer!

  • Die woorde is so bitter bekend ... amper asof ek dit self geskryf het. Net dat daar nog ander beskuldigings ook is ... ek moet die helfte van alle uitgawes betaal, want hy bly nie alleen in die huis ens nie. Ons jongste kind is nou uit die huis, hy kan so aangenaam wees en dan haak dit net uit ... word met niks gehelp nie, werk voltyds. Amper seker dit gaan weer oor 'n ander bakkie wat hy wil koop, maar nie kan bekostig nie ... elke paar jaar moet hy ander voertuig koop. Hoe kan dit net so aanhou?

  • Ek het ook self probleme met my man. Al is ons buite gemeenskap van goedere. Ek is huisvrou sonder kinders. Ek wil hom verlaat maar het nie ’n sent by my of pensioen nie. Hy maak my meer seer as hy ongeduldig is, kry my hart pyn en depressie ook. Ek hoor by Brits of Rustenburg is prokureur wat half verniet raad gee, maar ek het nie sy van of nr nie. Ek erken ek is moeg vir my lewe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top