Die lewe is ’n elegie: vir Marthinus Beukes

  • 4


Marthinus Petrus Beukes is op 26 Mei 1962 gebore. Hy het sy kinderjare in Orkney deurgebring, waar sy pa ’n mynwerker was. Nadat hy as hoofseun aan die Hoërskool Orkney matrikuleer het, was dit vir hom nie ’n keuse nie: hy wou uitstyg bo die alledaagse bestaan van waar hy vandaan kom. Hy studeer aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO (nou NWU) in filosofie, onderwys en letterkunde, en doktoreer onder Tom Gouws in die Afrikaanse literatuur.

Hy was ’n onderwyser by die Hoërskole Jeugland en Wonderboom en die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Hy was in sy mees produktiewe jare verbonde aan die Universiteit van Bophuthatswana en die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, waar hy eers senior lektor en later medeprofessor was. Hy was ook ’n professor en navorsingsgenoot aan die Mafikeng-kampus van die Universiteit van Noordwes.

Marthinus was ’n geliefde leermeester vir sy talle studente en leerlinge en het Afrikaanse poësie op voor- en nagraadse vlak doseer. Die wyse waarop hy poësie aan die nieliterêre lesers as ’n opwindende avontuur ontsluit het, was alom bekend. Hy het tot kort voor sy afsterwe ’n skryfskool aan skoliere aangebied en in die onlangs-gepubliseerde Poort 2014 het vyf lede van hierdie skryfskool hulle gedigte gepubliseer. Sy navorsingsbelangstelling het TT Cloete, Antjie Krog, Johann de Lange, Tom Gouws, Breyten Breytenbach en Cas Vos ingesluit. Hy het verskeie diepte-artikels oor bogenoemde digters die lig laat sien, en het ook vir Perspektief en profiel profiele oor André P Brink en Lucas Malan gelewer. Hy was ’n populêre en nimlike lid van die poësielandskap wat as beide resensent en keurder baie respek afgedwing het. Sy intieme kennis en aanvoeling vir die binnelewe van Afrikaanse poësie het ook daartoe gelei dat hy gereeld self gedigte geskryf het, maar tragies genoeg nooit self ’n digbundel die lig laat sien het nie. Sy skrywes het wel as bydraes in verskeie versamelpublikasies en op die sosiale media gedien.

Marthinus was ’n buitengewone kenner van elegiese poësie. Ironies het hierdie belangstelling ’n groot rol gespeel in die verse wat hy voor sy afsterwe nagelaat het. Op 29 September 2013 het hy die oorlede digters Rika Cilliers en Johann Johl se grafte besoek, en na aanleiding van hulle mooi epitawe verklaar: “Die diskoers van die dood is die snykant van die lewe.” Dit was ’n siening wat ’n sentrale tema in sy denkwyse was, naamlik dat die dood die oog van die fontein van nuwe lewe is. Die sagsinnige en buitengewoon sensitiewe aard van sy menswees het sterk aanklank by die diskoers van sterfgang gevind. Sy besoeke aan begraafplase en sy belangstelling in epitawe het met sy melankoliese temperament geresoneer. Hy was ’n innemende maar diepdenkende mens en die kompleksiteit van hierdie denke was intiem met sy lewensuitkyk verweef. Miskien het sy einde gestalte gevind in die beliggaming van die dood – of dit ’n epitaaf, ’n elegie of ’n Corpus Christi is.

Ons was bevoorreg om hom vroeg in September oor ’n periode van ’n week aan huis in die Kaap te kon ontvang. Hoewel hy dikwels nabetrag het oor verskeie eksistensiële kwelvrae, was hy ook baie gelowig en herinner ons onsself aan sy lag, wat dikwels tydens sy besoek weerklink het. Hy het gereeld aangehaal uit die Eugène Marais-bekroonde roman Valsrivier deur Dominique Botha.

Marthinus het eendag vroeg by ons voordeur opgedaag en vir Nini saamgenooi na ’n besoek aan die St Mary’s Cathedral Parish in Kaapstad. Daar het hy hom verwonder aan die skilderye van Maude Sumner en lank stilgestaan by ’n reeks skilderye met die titel Stations of the Cross. Hy was bewoë oor ’n skildery waarin die Christus-figuur se rug oopgekloof is, maar geen bloed aan sy lendekleed verskyn nie, miskien omdat die kunstenaar die reinheid en Goddelikheid van Christus wou verbeeld.

’n Paar dae voor sy afsterwe het die volgende gedig op sy facebook-blad verskyn:

kruisstasie van opstanding

aan die einde van blinde herinnering
is die verbeel van jou verinneweerde lyf
die blinde sien
en die draende geur van verval
’n hand vat
aan die weggestroopte linne
wat eiewillig
’n sameswering van grot en graf
en die wonder van dood
aan my die hoop van lewe gee.

Hy het ’n kers in die katedraal aangesteek en besin waarom hy dit slegs by die derde poging kon regkry.

Marthinus Beukes het op 15 September 2014 sy eie lewe geneem.

  • 4

Kommentaar

  • Alice Hendriks-Boshoff

    Baie dankie vir so 'n sobere, dog gevoelige gedenkskrif aan 'n man wat self 'n meester van woorde was.

  • Wonderlike ervaring vir julle  om hom aan huis te kon geniet. Glo julle het  groot rol in sy lewe gespeel.

     

     

  • Matty Strydom

    Marthinus, net soos jy het my Jessica ook haar lewe geneem. Soos ’n mens jou koffertjie optel en verreis. Anders as jy was sy net 19. Antjie Krog se woorde troos - " hier waar ek nou is, sal jy nooit, nooit kan wees nie ... " Ek was ’n Honneurs-student van Marthinus aan die UJ.

  • Marthinus was my na aan die hart gewees.

    Hy was vir so lank 'n deel van my lewenspad. Eers as onderwyser, later as kollega, en toe as vriend. Ons het talle gesprekke gedeel en het dit my altyd ryker gelaat. Die leemte wat sy afwesige gravitas agterlaat is rede tot trane.

    Ek het hom leer ken as een wat naby aan sy God geleef het, maar nooit die gegewe weergawe van die waarheid sou aanvaar het nie.

    Ek het ook sy donkerte leer ken. Sy stryd om te verstaan en pas. Daardie pyn en wrangheid wat hy so na aan hom gehou het. Dalk uit trots, dalk uit 'n gevoel van onmag, dalk 'n samesmelting van beide.

    Ons was vervreem die laaste paar maande van sy lewe. Maar hy sal altyd in my herhinneringe gestalte hou as Meneer, Doktor, kollega en vriend.

    Mag jy sag rus, die stryd is nou verby. Die drogbeeld van die werklikheid van 'n wêreld wat nie die volheid van jou siel kon sien nie, is nou wasem en kaf.

    Eendag sal ons mekaar weer sien aan die anderkant van die bestaansgordyn, om weer saam koffie te drink, te skerts en te lag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top