Die lewe in ’n korona-hotspot

  • 7

Hoe is die lewe in ’n hotspot?

Dis eindelose aankondigings oor luidsprekers, gemaak deur mense wat in munisipale voertuie rondry. “Grabouw is a hotspot. Wear your mask. Social distance. Wash hands regular.”

Soms word dit afgewissel met aankondigings dat die sakekern gesluit is omdat daar te veel mense in die dorp is. Dan maak die polisie padblokkades by elke straat wat na die dorp lei, en keer die mense voor wat wil inkopies doen.

Die algemene reaksie? Mense loop houtgerus sonder maskers, sonder enige afstand tussen hulle. Die aankondigings het nou al deel van die agtergrondmusiek geword. Niemand luister juis nie. Dis net as hulle by ’n winkel wil ingaan dat hulle vinnig ’n masker uitpluk; net om toegang te verkry, nie om hulself of enigeen rondom hulle te beskerm nie.

En dié wat wel ’n masker byderhand het? Óf die ding is knussies onder hulle neus, óf dit word soos ’n skynbaardjie onder die ken gedra. Party dra dit om hul nek of in die hand. Allesbehalwe om neus en mond te bedek.

Hierdie afgelope naweek het ’n persoon naby my partytjie gehou. Ek het nege vreemde karre getel. Ek het teen die oggendure aan die slaap geraak met die musiek wat nog steeds kliphard speel. Van die karre was steeds daar toe ek Sondagoggend doodmoeg weer opstaan. Dit baat nie om die polisie te bel nie; die skuldige party se suster is ’n senior lid van die polisie. En sy was waarskynlik ook by die partytjie.

In my tuisdorp gaan mense met hul lewens voort asof daar nie ’n pandemie is nie. Toegegee, mens kan nêrens Dettol of Savlon kry nie, maar verder gaan die lewe maar normaalweg aan.

Behalwe dat dit nie normaalweg aangaan nie.

Hoe is die lewe in ’n hotspot?

Aan die begin van die pandemie het ek niemand geken wat positief getoets het vir COVID-19 nie. Nou is daar hele gesinne wat positief toets. Sommige is mediese personeel, ander is onderwyspersoneel, of mense wat in fabrieke werk. En dan kom hulle huis toe en steek hulle hele gesin aan.

Maar daar is ook die ander sy van die pandemie.

In die laaste twee weke is dertien mense wat ek ken oorlede. Dertien.

My oom. My buurman. My broer se skoonsuster. Twee vriende se ma’s. ’n Ander vriendin se broer. Die vrou wat twee rye agter my in die kerk gesit het toe daar nog kerk was. ’n Man vir wie ek elke middag gewaai het wanneer hy sy kind by die skool naby my huis kom oplaai het.

Dis almal mense wat ek persoonlik ken, mense wie se families ek ken, wie se name en geskiedenisse ek ken. Natuurlik was ek nie ewe na aan almal nie. Sommige verliese is seerder as ander. Maar wanneer ’n mens drie doodstydings in die verloop van een oggend kry, kom daar ’n punt wanneer jy net afgestomp raak.

Nie almal was koronagevalle nie.

Ons word vertel om maskers te dra, ons word vertel om ons hande te was en sosiale afstand te handhaaf. Dan is daar ander wat debatteer of sosiale afstand die korrekte benaming is, en of dit nie te vervreemdend is nie. Nog ander wonder of die statistieke korrek is, of daar nie een of ander regeringskomplot is om die syfers erger te laat lyk as wat dit regtig is nie.

Ons word vertel dat ouer mense en mense met onderliggende gesondheidsprobleme in groter gevaar is.

Wat ons nie vertel word nie, is dat hospitale nie die druk kan hanteer van al die ekstra gevalle wat nou inkom nie.

Ons word nie vertel, of ons besef nie, dat die lewe gewoonweg aangaan nie. Motorongelukke en werksbeserings vind steeds plaas. Mense kry nog steeds hartaanvalle en beroertes en asma-aanvalle. Kanker gaan nie met verlof omdat daar ’n pandemie is nie.

Al hierdie siektes gaan nog steeds voort. Maar die mediese kapasiteit om te help en lewens te red, is daarmee heen. Van die dertien mense wat gesterf het, het twee hartkwale gehad. Hulle moes operasies kry, maar daar was nie beddens en teaters beskikbaar nie. Nog twee het nierversaking gehad.

Daardie sterftes word nie as koronagevalle aangeteken nie. Maar kan hulle indirek enigiets anders wees as slagoffers van die koronavirus?

Die ongelowiges wat glo die syfers is verkeerd, is reg. Dis veel hoër wanneer die indirekte sterftes in berekening gebring moet word.

My oom se vrou kon nie by hom wees terwyl hy sterwend was nie. Daar was nie laaste woorde of ’n hand wat vasgehou word nie. Ons sal seker nooit weet nie, maar ek is seker die hospitaalpersoneel is te besig met die lewendes om sterwendes in hul laaste oomblikke te vertroos.

Hoe is die lewe in ’n hotspot?

Dis ’n nimmereindigende reeks begrafnisse, en meesal weet jy nie eens meer wie dood is nie.

Dis ’n toenemende aantal mense wat duidelik besig is om onder die stres te knak. Mense wat kliphard in die strate met hulself praat, mense wat buite hulle normale aard optree. Meer en meer is dit mense wat lyk asof hulle aan bomskok lei. Hulle funksioneer, maar in stadige aksie.

Hoe is die lewe in ’n hotspot?

Dis nie lewe nie, dis net oorlewing.

  • 7

Kommentaar

  • My oud-kollegas van Grabouw huldig dieselfde mening as jy. Dis so jammer dat dit nog nie deurgedring het tot mense dat hul hulself maar ook die van die gemeenskap in gevaar stel as hul so onverantwoordelik optree.

    Dink die onderwysdepartement moet weer soos met die HIV spesiale agente aanstel en programme by skole implimenteer om bewusmaking oor die siekte by kinders en onderwysers in te skerp.

    Weet baie is teen die opmaak van skole, maar in party gemeenskappe is dit die enigste plek waar kinders opvoeding kry asook ‘n maaltyd.

    Die jarelange gepredik van menseregte sonder verantwoordelikhede het ons in hierdie situasie.

  • Avatar
    Petro Viljoen

    Jy beskryf die werklikheid so mooi. Noudat Gauteng die hotspot is, ken ek ook name van mense wat positief toets en sterf. Dit is nie nou meer daar onder in die Kaap nie. Ons kan net bid vir hulle wat geliefdes verloor en dat die Here ons en ons geliefdes sal bewaar.

  • Avatar
    Janie Oosthuysen

    Elke jaar word daar in Suid-Afrika 40 000 mense gehospitaliseer weens die gewone griep. Elke jaar sterf daar in Suid-Afrika tussen 7 000 en 11 000 mense aan die gewone griep. Griep is maar een van die talle siektes en toestande wat bydra tot ons jaarlikse sterftesyfer van 490 000 uit 'n totaal van 59.3 miljoen Suid-Afrikaners. TB eis jaarliks 20 500 mense. Vigs eis 142 000 Suid-Afrikaanse lewens, kanker 50 000 en 16 500 Suid-Afrikaners word jaarliks vermoor. Covid-19, met sy totale sterftesyfer tot dusver van 3 310 word totaal deur hierdie en ander siektes en toestande oorskadu. Covid-19, as nuwe siekte, net nog een van baie, is nie die probleem nie, die ondeurdagte en onverantwoordelike respons daarop is wel 'n probleem. Miljoene mense ly sielkundig sowel as finansieel a.g.v. hierdie respons, en gaan sterf weens die ekonomiese inkrimping en die gepaardgaande honger en ontbering wat alreeds hul tol eis.

  • Die land tot dusver met die hoogste persentasie sterftes in verhouding tot die totale bevolking van die land is nie die VSA, China, Italië, Frankryk of Brasilië nie. Dis Brittanje. Daar is hulle daaglikse infeksies nou minder as 20% van wat dit in die middel van April was. In Brittanje het sover 1 uit elke 1,534 mense gesterf, oftewel 0.065% van die bevolking. Dis die feite volgens worldometers.info en die WGO.

  • Avatar
    Corlia Fourie

    Ek is, soos almal wat ek ken, ingehok in my huis, gaan net winkel toe vir kosvoorrade en medisyne. Noudat Gauteng die nuwe “hot spot” is, sal ons seker ook hoor van kennisse wat siek word, sterf.

  • Avatar
    Corlia Fourie

    Ek is, soos almal wat ek ken, ingehok in my huis, gaan net winkel toe vir kosvoorrade en medisyne. Noudat Gauteng die nuwe “hot spot” is, sal ons seker ook hoor van kennisse wat siek word, sterf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top