Twee maande, 20 raaisels en slegs een wenner. LAPA Uitgewers in samewerking met Leon van Nierop, skrywer van Wolwedans in die skemer, Ballade vir ’n enkeling en meer as 28 romans, waarvan Insomnia in Junie verskyn het, bied vir jou ’n interaktiewe boekervaring – anders as enige iets wat jy al ooit beleef het. Ons noem dit: die LAPA-Hoofkarakter-Soektog.
Vanaf 15 Junie 2012 tot 30 Julie 2012 word daar 20 leidrade in die LAPA-Hoofkarakter-Soektog op facebook en LAPA se splinternuwe webwerf (www.lapa.co.za) beskikbaar gestel. Deelnemers los elkeen van hierdie leidrade op, ontrafel die geheim van ’n misterieuse plastiese sjirurg, en wen die plek as die nuwe hoofkarakter in Leon se nuwe boek!
“Ek is tans besig om my nuutste roman, Snydokter, te skryf. Ek het reeds die storielyn uitgedink, die kinkels uitgewerk en die bykarakters geskep, maar ek kort nog een belangrike element: die hoofkarakter – en dis waar deelnemers aan die LAPA-Hoofkarakter-Soektog inkom.
“Ek gaan die wenner vat, die karakter soos wat hy/sy is, ’n paar fiktiewe elemente byvoeg, soos die feit dat die wenner dalk in sy/haar af tyd ’n ondersoekende joernalis is, en die deelnemer in my boek inskryf. Die wenner van die kompetisie moet oor sekere kwaliteite beskik. Ek soek iemand wat die vermoë het om raaisels op te los, leidrade op te volg en in ’n gegewe saak deeglike ondersoek in te stel.”
Om aan die opwindende LAPA-Hoofkarakter-Soektog deel te neem, gaan op LAPA se webwerf, kliek op die LAPA- Hoofkarakter-banier en volg die instruksies. Oor die volgende twee maande sal jy 20 leidrade ontvang. Jy gaan deur ’n paar fiktiewe karakters se facebook-profiele moet sif, na geheime klankopnames moet luister, versteekte inligting op LAPA se nuwe webwerf moet uitsnuffel en ’n hele reeks ander opwindende leidrade moet oplos.
LAPA Uitgewers beoog om die spanningsroman, Snydokter, teen die einde van 2012 te publiseer. Die inligting wat deur die leidrade en kompetisie weergegee word, sal die voorstorie tot die werklike boek vorm.

