Die Landbank se sekwestrasie- en likwidasieverrigtinge teen boere en hul sake-entiteite ingevolge sessie-ooreenkomste: die bewering en bewys van locus standi in iudicio

  • 0

Die Landbank se sekwestrasie- en likwidasieverrigtinge teen boere en hul sake-entiteite ingevolge sessie-ooreenkomste: die bewering en bewys van locus standi in iudicio

C.F. (Neels) Swanepoel, Departement Publiekreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 23(3)
ISSN 1995-5928
https://doi.org/10.56273/1995-5928/2026/j23n3e1

Die artikel sal binnekort as PDF beskikbaar wees.

 

Opsomming

In hierdie artikel word daar betoog dat dit in sekwestrasie- en likwidasiedeinge van kardinale belang is dat ’n krediteur wat steun op ’n afgeleide reg, soos een ingevolge ’n sessie van ’n vorderingsreg, primêre getuienis van die bestaan van sodanige reg aan die hof moet voorlê. Dit is gevestigde reg dat ’n party wat regshulp verlang die bewyslas dra om hul locus standi in iudicio1 te beweer en te bewys. Die belang hiervan hang ook ten nouste saam met die bewering en bewys van ’n regsgeldige skuldoorsaak in die hofstukke. In die verband van sowel locus standi as ’n regsgeldige skuldoorsaak as voorskriftelike vereistes vir geldige besonderhede van vordering of ’n funderende eedsverklaring, word daar tussen die facta probanda (die primêre feite wat beweer en bewys moet word) en die facta probantia (die sekondêre feite wat die bestaan van die primêre feite staaf) onderskei.2 Hoewel die facta probantia ’n belangrike stawende funksie vervul, veral in mosieverrigtinge waar die saak op grond van die hofstukke beslis word, kan dit nie die facta probanda vervang nie.3

Teen hierdie agtergrond word ’n aantal betreklik onlangse sake bespreek waarin die Landbank sekwestrasie- en likwidasieverrigtinge teen boere en hul sake-entiteite ingestel het op grond van beweerde sessies van skuldvorderings aan die bank deur sekere, meestal landboukundige, finansieringsmaatskappye waarna daar as sogenaamde “free agents” verwys word. Ek betoog dat die hof in bepaald een van hierdie sake onvoldoende aandag geskenk het aan die vereiste van primêre bewys van die beweerde feite waarop die Landbank gesteun het.

’n Verdere kwessie wat aangespreek word, is die geskiktheid van mosieverrigtinge in gevalle waar daar ’n wesentlike feitegeskil tussen die partye bestaan, veral waar dit reeds voor die aanvang van die litigasie geopenbaar is. Ek voer aan dat sodanige geskille in beginsel liefs by wyse van aksieverrigtinge in plaas van mosieverrigtinge besleg behoort te word. Hoewel die beginsel dat bona fide en wesentlike feitegeskille normaalweg nie op grond van die stukke alleen beslis behoort te word nie lank reeds gevestigde reg is, toon sommige van die sake wat hier bespreek word dat mosieverrigtinge desnieteenstaande aangewend is om finale insolvensieregshulp te verkry.

Die onbehoorlike gebruik van mosieverrigtinge verhoog die risiko van prosedurele ongeregtigheid, veral waar ’n individuele litigant of insolvente boedel gekonfronteer word met ’n institusioneel beter toegeruste skuldeiser. Die risiko van prosedurele ongeregtigheid word verder verhoog waar dringendheid aangevoer word en bevele toegestaan word op grond van beëdigde verklarings wat nie deur kruisondervraging of mondelinge getuienis vir waarheid, betroubaarheid en geloofwaardigheid getoets is nie. In dergelike omstandighede kan die opponerende party se reg op gelyke toegang tot die howe en ’n billike regsproses – ’n reg wat deur die Suid-Afrikaanse Grondwet gewaarborg word – nadelig geraak word.4

Die artikel vertoon ’n analitiese benadering en steun uitsluitlik op Suid-Afrikaanse regspraak. Die bespreking word onder die volgende hoofde aangebied: inleiding; kontekstuele agtergrond; sessie van ’n vorderingsreg en locus standi; die Mardi Boerdery-, Trakman-, Waldeck- en Taljaard-uitspraak: die aanhegtings- en blootleggingsplig ter bewys van sessie-ooreenkomste en locus standi; korporatiewe beëdigde verklarings en artikel 3 van die Wysigingswet op die Bewysreg; die aksessore aard van ’n dekkingsverband; die ongeskiktheid van mosieverrigtinge waar locus standi in geskil is; gevolgtrekking.

Die uitsprake in die Landbanksake verteenwoordig nie ’n nuwe ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse reg nie. Inteendeel, dit bevestig gevestigde beginsels wat reeds lank die reg rakende afgeleide titel, dokumentêre bewys en prosedurele billikheid beheer. Die betekenis van hierdie sake lê daarin dat dit opnuut beklemtoon dat institusionele kompleksiteit, kommersiële waarskynlikheid en administratiewe rekordhouding nie as plaasvervangers kan dien vir bewys van die juridiese bron van ’n litigant se regte nie.

In ’n tydperk wat gekenmerk word deur die grootskaalse sessies van skulde, sekuritisering van skuldverpligtinge en toenemend gesofistikeerde finansiële strukture waarin ondernemings, en bepaald boerderyondernemings, bedryf word, bly die bewyslas onveranderd: ’n party wat die hof om regshulp nader op grond van ’n gesedeerde reg, moet die oordrag daarvan bewys deur die operatiewe of brondokument voor te lê waaruit daardie reg voortspruit. Indien die sessie-ooreenkoms uit ’n hoeveelheid dokumente en ander bewysmateriaal bestaan, het die litigant wat hom daarop beroep die plig om die relevante gedeeltes (wat byvoorbeeld die sessie daarstel) te openbaar.

Die sake wat vervolgens bespreek word, verteenwoordig derhalwe ’n hedendaagse herbevestiging van ’n tradisionele beginsel: waar regte uit dokumente ontstaan, moet die dokumente uiteindelik self spreek as primêre bewys van locus standi in iudicio.

Trefwoorde: aanhegting en openbaring van dokumentêre bewys; artikel 3 van die Wysigingswet op die Bewysreg; bewys van locus standi in iudicio; dokumentêre bewys; facta probanda; facta probantia; feitegeskille in mosies; geskikte prosedure; hoorsêgetuienis; korporatiewe beëdigde verklarings in mosies; Land- en Landboubank van Suid-Afrika; primêre feite; reël 6(12) van die Landdroshofreëls; reëls 18(4),18(6) en 35 van die Eenvormige Hofreëls; sekondêre feite; sekwestrasie- en likwidasiegedinge; sessie-ooreenkomste; sessie van ’n vorderingsreg

 

Abstract

The Land Bank’s sequestration and liquidation proceedings against farmers and their business entities: the allegation and proof of locus standi in iudicio in terms of cession agreements

Recent litigation involving the Land and Agricultural Development Bank of South Africa (“the Land Bank”) against farmers and their business entities has exposed a recurring evidentiary and procedural problem in South African insolvency and liquidation litigation: what constitutes sufficient proof of locus standi in iudicio where a litigant claims as cessionary of a debt? The question is of particular significance in sequestration and liquidation proceedings, where the consequences of a successful application are far-reaching and courts are called upon to exercise coercive powers that may fundamentally affect the proprietary and commercial interests of debtors, third parties, and, potentially, the public interest.

In this article, I examine a series of recent decisions in which the Land Bank sought to enforce claims allegedly acquired through cession from private agricultural finance institutions. These cases include Land and Agricultural Development Bank of South Africa v Mardi Boerdery (Pty) Ltd, Waldeck v Land and Agricultural Development Bank of South Africa, Trakman v The Master of the High Court and Taljaard v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (for case references, see endnotes 5 to 8). Although arising in different procedural contexts, these matters collectively raise a common question, namely whether a litigant may establish locus standi by way of affidavits, recordals, mortgage bond endorsements, institutional explanations and secondary documentation, without placing before the court the operative cession agreement and, where necessary, identifying the specific debt allegedly transferred.

I maintain that these cases collectively reaffirm a principle that may be described as “documentary orthodoxy”, signifying the duty to allege and disclose the document upon which the causa rests and which establishes the standing of the party bringing the suit. Where standing depends upon a written cession, the operative instrument giving rise to the transfer of rights constitutes part of the facta probanda and must therefore be pleaded and proved. Secondary evidence may support or explain the existence of the right but cannot be a substitute for primary proof of the transfer itself. The distinction between facta probanda and facta probantia remains fundamental to South African procedural law and the law of evidence. While secondary facts may provide corroboration, they cannot establish a cause of action where the primary juridical source of the right has not properly been placed before the court.

The discussion situates this principle within the broader doctrinal framework governing cession, pleading requirements and evidentiary burdens. Particular attention is paid to Magistrates’ Court Rule 6 and Uniform Rules 18(6) and 35, which respectively regulate the attachment of written agreements relied upon in pleadings and the disclosure of documents referred to in litigation. It is contended that these rules are not merely procedural formalities but rather serve as structural safeguards designed to ensure that litigants disclose the documentary foundation of claims based upon derivative title. The obligation to plead and produce the operative instrument of transfer reflects a deeper commitment to procedural fairness, transparency and verifiability within the civil justice system.

Against this background, an analysis is provided of the evidentiary deficiencies identified by the courts in Mardi Boerdery, Waldeck and Trakman, and the different approach and conclusion reached by the court in Taljaard. In all these matters, the Land Bank relied extensively upon recordals, memoranda, mortgage bond endorsements and confirmatory affidavits by corporate officials. However, in the first three cases the courts held that such material was insufficient to establish locus standi in the absence of the operative contractual instruments, namely the cession agreements, to effect the transfer of the relevant debts and the right of the cessionary to claim them. The decisions emphasise that a court cannot assume the existence, validity or content of a cession merely because its existence appears commercially probable or is asserted by the parties concerned. The transfer of a personal right must be demonstrated by means of objective documentary proof.

I further refer to the relationship between these decisions and the so-called best-evidence principle. Although the traditional common-law formulation of the rule has been substantially relaxed, South African courts continue to insist that, where the contents of a written instrument are central to a dispute, the instrument itself remains the primary source of proof. This principle performs important substantive and procedural functions. It prevents courts from relying upon conclusory characterisations of contractual effects and protects debtors and competing creditors against unverified claims of title. The Land Bank cases demonstrate that documentary disclosure remains an indispensable component of proof where derivative rights are asserted.

An incidental issue concerns the evidentiary status of corporate affidavits and the application of section 3 of the Law of Evidence Amendment Act 45 of 1988. Corporate litigation frequently involves deponents who derive their knowledge from institutional records rather than personal participation in the transactions concerned. While South African law recognises that authorised corporate officials may depose to facts gleaned from company records, I argue that an important distinction must be maintained. A deponent may verify and explain documents properly before the court but cannot replace missing operative agreements through affidavit evidence alone. To permit such a substitution would blur the distinction between primary and secondary evidence and risk admitting, in substance, if not in form, hearsay evidence concerning the existence and content of contractual instruments.

Attention is also paid to the recurring attempt by the Land Bank, in the cases referred to, to rely upon covering mortgage bond endorsements as proof of standing. It is argued that this approach is doctrinally flawed. Mortgage bonds create accessory real security rights that assume the existence of a valid underlying debt and personal right that may, where necessary, be legally enforced. Registration of a covering mortgage bond or an endorsement thereof may demonstrate the existence of security but does not in itself prove the transfer of the personal right to claim repayment. Security follows the principal obligation; it cannot independently create title to sue. The insistence upon proof of the underlying cession therefore reflects orthodox principles governing both the law of cession and the accessory nature of mortgage security.

Particular attention is devoted to the apparent tension between Taljaard and the other judgments. Whereas Mardi Boerdery, Waldeck and Trakman adopted a strict documentary approach, the Northern Cape High Court initially accepted a broader body of contractual material and explanatory affidavits as sufficient proof of standing. To my mind, however, the apparent conflict may be more evidentiary than doctrinal. Properly understood, the decisions are capable of reconciliation if the decisive distinction is recognised as the presence or absence of the operative documentary chain demonstrating the transfer of the specific debt in question. Nevertheless, the granting of leave to appeal in Taljaard underscored the continuing uncertainty surrounding the evidentiary requirements for proving cession-based standing in large-scale commercial and insolvency litigation.

The second major theme addressed in the article concerns the procedural suitability of motion proceedings where locus standi itself is disputed. The Land Bank litigation illustrates the difficulties that arise when final sequestration or liquidation relief is sought in circumstances where the applicant’s title as creditor depends upon disputed cessions, complex contractual structures and contested documentary evidence. I maintain that such disputes frequently give rise to genuine and foreseeable disputes of fact that are ill-suited to resolution on affidavit. In these circumstances, action proceedings, with their mechanisms of oral evidence, cross-examination and documentary discovery may provide a more appropriate procedural framework. The use of insolvency proceedings to resolve disputed and sometimes complex contractual disputes risks undermining the constitutional values of procedural fairness and equal access to the courts.

The conclusion is drawn that the Land Bank cases do not represent a novel development in South African law, but rather reaffirm long-established principles governing derivative title, documentary proof and procedural fairness. Their significance lies in the reminder that institutional complexity, commercial probability and administrative record-keeping cannot replace proof of the juridical source of a litigant’s rights. In an era characterised by large-scale debt transfers, securitisation and increasingly sophisticated financial business structures, the burden remains unchanged: a party seeking to invoke the coercive powers of the court on the basis of a ceded right must prove the transfer by producing the operative instrument from which that right derives. The cases therefore represent a contemporary reaffirmation of a traditional principle: where rights arise from documents, the documents themselves must ultimately speak.

Keywords: attaching and disclosing documentary proof; cession of a personal right; corporate sworn affidavits in motions; documentary proof; facta probanda; facta probantia; factual disputes in motions; hearsay evidence; Land and Agricultural Bank of South Africa; primary and secondary facts; proof of locus standi in iudicio; rule 6(12) of the Magistrates’ Court Rules; rules 18(4) 18(6) and 35 of the Uniform Rules of Court; secondary facts; section 3 of the Law of Evidence Amendment Act; sequestration and liquidation litigation; suitable procedure

 

1. Inleiding

Onlangse uitsprake van die hooggeregshof waarin die Land- en Landboubank van Suid-Afrika (“Landbank”) betrokke was, het ’n herhalende bewysregtelike vraag in Suid-Afrikaanse kommersiële litigasie in sekwestrasies en likwidasies blootgelê: wat behels voldoende bewys van locus standi waar ’n litigant as ’n sessionaris dagvaar?

In ’n reeks sake wat aansoekverrigtinge, insolvensiehersiening en interdikaansoeke insluit, is howe met ’n gemeenskaplike vraagstuk gekonfronteer, te wete of ’n eiser of applikant mag steun op bevestigende beëdigde verklarings, rekordstellings, verbandendossemente of institusionele verduidelikings sonder om die operatiewe sessie-instrument voor die hof te plaas.

Hierdie artikel openbaar die spanning wat na vore kom in: Land and Agricultural Development Bank of SA v Mardi Boerdery (Pty) Ltd (Limpopo-afdeling);5 Waldeck v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (Mpumalanga-afdeling);6 Trakman v The Master of the High Court of South Africa (Gauteng, Johannesburg- afdeling);7 en Taljaard v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (Noord- Kaap, Kimberley-afdeling).8

Drie van hierdie sake is herbevestig ’n gevestigde Suid-Afrikaanse regsbeginsel, naamlik die noodsaaklikheid om die ontstaansbron van die gesedeerde vorderingsreg te openbaar. Waar locus standi, asook die geldigheid van die skuldoorsaak (causa) op ’n sessie steun, moet daardie sessie-ooreenkoms as die ontstaansbron van die verbintenis (die brondokument) – en, waar nodig, die meganisme wat die bepaalde skuld identifiseer – beweer en voorgelê word in die aanvangsaansoek, of in ’n dagvaarding waarmee ’n aksie of aansoek ’n aanvang neem. ’n Korporatiewe beëdigde verklaring kan aanvullend as stawende bewys gebruik word, maar kan nie die vereiste van primêre dokumentêre bewys vervang nie.

Die herhaalde pogings van die Landbank in die betrokke sake om op endossemente van verbandaktes (dekkingsverbande) as bewys van locus standi staat te maak, sal onder die loep geneem word. Daar word aangevoer dat hierdie benadering leerstellig gebrekkig is. Verbandaktes skep bykomstige en wel saaklike sekerheidsregte wat die bestaan van ’n geldige onderliggende skuld veronderstel. Die registrasie van ’n verband of die endossering daarvan kan wel die bestaan van sekerheid aantoon, maar bewys nie op sigself die oordrag van die persoonlike reg om geldige terugbetaling van die skuld te eis nie. Die sekerheidsreg volg dus die hoofverbintenis; dit kan nie onafhanklik daarvan locus standi of titel om te dagvaar skep nie. Die aandrang op bewys van die onderliggende sessie weerspieël derhalwe gevestigde beginsels wat sowel die sessiereg as die bykomstige aard van verbandsekerheid beheers.

’n Tweede tema wat deur die Landbanklitigasie na vore kom, is die vraag of mosieverrigtinge en die buitengewone remedies van sekwestrasie en likwidasie geskikte prosedures is waar die applikant se locus standi, (sy regsbevoegdheid as ’n skuldeiser) die onderwerp van wesentlike bona fide feitegeskille vorm. In sommige van die sake wat hier onder bespreek word, was die bestaan en omvang van hierdie geskille nie onverwags nie en was dit vooraf bekend aan die bank wat met litigasie begin het. Die geldigheid van die beweerde sessies, die identifisering van die betrokke skuldvorderings en die Landbank se locus standi is dus reeds vóór die instelling van die verrigtinge uitdruklik betwis. (Dit laat vrae rakende professionele verantwoordelikheid ontstaan wat buite die bestek van hierdie bespreking val). Die litigasie is derhalwe teen die agtergrond van betwiste feite gevoer, wat ’n heroorweging van die geskiktheid van mosieverrigtinge as prosedurele meganisme vir die verkryging van finale insolvensieregshulp in dergelike gevalle regverdig.

 

2. Kontekstuele agtergrond

Die Land- en Landboubank van Suid-Afrika (vervolgens “Landbank”) is ’n statutêre ontwikkelingsfinansieringsinstelling en ’n regspersoon wat ingevolge die Wet op die Land- en Landbou-ontwikkelingsbank 15 van 2002 gestig is met die oog op die bevordering en finansiering van landbou-ontwikkeling in Suid-Afrika.

Uit die hofrekords in die Landbanksake wat bespreek word, blyk dit dat die bank gedurende die tersaaklike tydperk ooreenkomste met verskeie privaat landboufinansiers, waarna daar as “free market agents” verwys is, aangegaan het. In breë trekke het hierdie agente kredietfinansiering aan boere en hul sake-entiteite verskaf ingevolge sekere ooreenkomste met die Landbank. Hierna het die Landbank die betrokke lenings- of debiteureboeke gekoop wat ingevolge verskeie ooreenkomste met boere en hul sake-entiteite en landboufinansieringsmaatskappye aangegaan is. Op grond van hierdie kooptransaksies het die Landbank beweer dat dié vorderingsregte aan die bank sedeer is. In die hofstukke en uitsprake waarna hier onder verwys word, is hierdie ooreenkomste dikwels deur die bank ingeslote geag by die sogenaamde recordals tussen die bank en die agent.9

In die onderhawige sake was dit gemene saak dat die oorspronklike leningsooreenkomste tussen die boere en hul sake-entiteite met die landboufinansieringsmaatskappye (“free market agents”) gesluit is. Die Landbank het aangevoer dat die betrokke leningsboeke ingevolge verskeie koop- en sessie-ooreenkomste aan die bank verkoop en gesedeer is. Die vraag of, en in welke mate, die skuldenaars van hierdie oordragte bewus was, vorm deel van die breër feitegeskille wat aanleiding gegee het tot die betwisting van die Landbank se locus standi.10

Die pleitstukke het gevolglik nie deurgaans die indruk geskep dat die Landbank sy locus standi en geldige skuldoorsaak (causa) op ’n afgeleide titel, naamlik sessie, gebaseer het nie, maar eerder dat die vorderingsregte oorspronklik in die Landbank gevestig was. Waar ’n eiser of applikant egter op sy aanspraak op ’n verkreë of gesedeerde reg steun, vereis die Landdroshofreëls, Eenvormige Hofreëls en gevestigde prosesregtelike beginsels dat die materiële feite waarop sodanige afgeleide titel berus, duidelik en volledig gepleit en openbaar moet word. Die beweerde sessies, die aard daarvan, die datum van oordrag, die betrokke dokumentasie en die wyse waarop die eiser die reg verkry het (die meganisme van oordrag) behoort derhalwe uit die dagvaarding en besonderhede van eis te blyk. In die onderhawige gevalle is dit nie gedoen nie.11

Die Landbank het eerder gepoog om die beweerde sessies en daaropvolgende regsoordragte indirek deur middel van die sogenaamde recordals en ander aangehegte dokumentasie te bewys. Die gevolglike besware teen, en aandrang op, bewys van die sessie-ooreenkomste ter vestiging van die Landbank se locus standi, het gevolglik in hierdie breë konteks ontstaan, soos verder hier onder bespreek.

 

3. Sessie van ’n vorderingsreg en locus standi

Vir hierdie bespreking is dit nodig om kortliks na die aard en regsvereistes van sessie te verwys. Scott12 waarsku dat die regsbeginsels van sessie kompleks is, aangesien die begrip sessie verskeie betekenisse het. In ’n breë sin verwys dit na en is dit sinoniem met oordrag. In ’n eng sin verwys sessie na die handeling van oordrag waardeur persoonlike regte van die sedent na die sessionaris oorgedra word. Dit word by wyse van ’n oordragsooreenkoms as meganisme van oordrag (“transfer agreement”) gedoen.13 Sessie is derhalwe nie ’n wyse waarop nuwe regte geskep word nie, maar ’n meganisme waardeur bestaande persoonlike regte van een regsubjek na ’n ander oorgedra word.14

Die Suid-Afrikaanse reg erken sessie as die gebruiklike wyse waarop vorderingsregte oorgedra word. Die reg wat die onderwerp van die sessie vorm, moet voldoende bepaal of bepaalbaar wees, terwyl die partye die nodige wilsooreenstemming moet hê dat die betrokke reg van die sedent na die sessionaris oorgedra word.15

Hoewel die instelling van sessie elemente van sowel die kontrakte- as die sakereg vertoon, word dit algemeen aanvaar dat die geldigheid daarvan afhanklik is van ’n geldige oordragsooreenkoms tussen die partye. Die gewone vereistes vir ’n geldige regshandeling, waaronder regmatigheid en handelingsbevoegdheid, bly gevolglik van toepassing.

’n Skriftelike sessie-akte is nie ’n geldigheidsvereiste vir ’n geldige sessie nie. In beginsel kan ’n sessie mondelings of selfs stilswyend tot stand kom, mits die nodige wilsooreenstemming bewys kan word. Volgens Scott kan ’n sessie in sekere gevalle in ’n ander ooreenkoms vervat word, maar sodanige gevalle moet met groot omsigtigheid benader word. Scott wys egter daarop dat die bestaan en inhoud van ’n sessie in die praktyk dikwels bewysregtelike probleme oplewer wanneer die oordrag nie behoorlik gedokumenteer is nie. Om hierdie rede word skriftelike dokumentering van die sessie normaalweg as wenslik beskou.16

Hierdie onderskeid tussen die geldigheid van ’n sessie en die bewys daarvan is van besondere belang in litigasie. Waar ’n litigant beweer dat hy of sy ’n vorderingsreg deur sessie verkry het en op grond daarvan aanspraak maak op locus standi, rus die bewyslas op daardie party om die bestaan en omvang van die beweerde oordrag aan te toon.

Wanneer die beweerde sessie op ’n skriftelike oordragsooreenkoms berus, sal daardie dokument normaalweg die beste en mees direkte bewys van die oordrag wees. Beëdigde getuienis kan die dokument verduidelik of in konteks plaas, maar kan nie die dokument self vervang waar die bestaan, inhoud of omvang van die sessie in geskil is nie.

Dit is juis hierdie beginsels wat in die Landbanksake ter sprake gekom het. Die howe was nie gekonfronteer met ’n geskil oor die abstrakte geldigheid van sessie as ’n regsfiguur nie, maar met die meer konkrete vraag of daar voldoende bewys voor die hof geplaas is van die bepaalde regsoordrag waarop die eiser sy prosesbevoegdheid gegrond het.

Wat in die konteks van hierdie bespreking van besondere belang is, soos Scott dit stel,17 is dat ’n sessie in duidelike en ondubbelsinnige terme gestel en bewys moet word. Waar ’n litigant op sessie steun om sy locus standi aan te toon, soos die Landbank in die onderhawige sake gedoen het, en aanvoer dat die sessie uit ’n omvangryke versameling van ooreenkomste, rekordstellings, memoranda en verwante dokumentasie blyk, is dit redelik om te verwag dat die litigant die hof na die spesifieke bepalings sal verwys waaruit die beweerde sessie inderdaad blyk. Die blote voorlegging van ’n omvangryke dokumentêre versameling is nie voldoende nie.

Juis hierin lê een van die sentrale probleme in die onderhawige sake. Die Landbank het versuim om die beweerde sessie as die operatiewe of ontstaansbron van sy titel op ’n duidelike en identifiseerbare wyse aan te toon. Die gevolg is nie noodwendig dat daar geen sessie bestaan het nie, maar wel dat die sessie waarop gesteun word nie op die vereiste wyse bewys is nie. By gebrek aan sodanige bewys kan die beweerde sessie nie dien as grondslag vir die bewys van locus standi nie.

Cilliers e.a.18 verwys in hierdie verband na die bekende dictum in Swissborough Diamond Mines (Pty) Ltd v Government of the Republic of South Africa,19 waar die hof soos volg opgemerk het:

Regard being had to the function of affidavits, it is not open to an applicant or a respondent to merely annex to its affidavit documentation and to request the Court to have regard to it. What is required is the identification of the portions thereof on which reliance is placed and an indication of the case which is sought to be made out on the strength thereof.

Hierdie identifikasieverpligting op die party wat daarop steun, vind besondere toepassing waar locus standi op ’n sessie berus. Die hof behoort nie verplig te wees om self deur omvangryke dokumentasie te soek ten einde die bron van ’n litigant se titel te identifiseer nie. Dit is die litigant se plig om die operatiewe bepalings waarop daar gesteun word, duidelik uit te wys en die regsgevolg daarvan aan te toon.

Wat die formele regsvereistes vir die sessie van ’n leningsooreenkoms betref, bepaal reël 6(12) van die Landdroshofreëls eerstens dat waar ’n eiser as ’n sessionaris dagvaar, die naam, adres en beskrywing van die sedent soos op die datum van sessie, asook die datum waarop die sessie plaasgevind het, in die dagvaarding vermeld moet word. Die reël erken dus uitdruklik dat ’n sessie nie bloot bewysmateriaal is nie, maar ’n wesentlike feit vorm waarop die eiser se bevoegdheid om te dagvaar berus.

Hoewel die Eenvormige Hofreëls nie ’n identiese bepaling bevat nie, word dieselfde beginsel deur reëls 18(4) en 18(6) beliggaam. Reël 18(4) vereis dat elke pleitstuk ’n duidelike en bondige uiteensetting van die materiële feite moet bevat waarop die eiser steun, terwyl reël 18(6) voorskryf dat waar daar op ’n kontrak gesteun word, die aard van die kontrak vermeld en die relevante dokument aangeheg moet word. Waar ’n eiser se aanspraak op ’n sessie berus, vorm die sessie deel van die materiële feite wat die eiser moet bewys ten einde sy locus standi en reg op verhaal daar te stel. In die Mardi-uitspraak het die hof die volgende beslis rakende die versuim van die Landbank om die beweerde sessie-ooreenkoms aan die stukke te heg:20

Without the cession agreements, the Court cannot be satisfied that a valid transfer of rights occurred, on what terms, and whether the applicant truly acquired the locus standi it asserts. To attempt to cure this omission in reply, after the respondent squarely raised the issue in limine, is impermissible. It is trite that an applicant must stand or fall by the case made out in its founding affidavit, and that fatal defects cannot be remedied in reply.

Die howe het herhaaldelik beklemtoon dat ’n litigant sy saak in sy pleitstukke moet stel en nie deur dokumente of bewysmateriaal wat later voorgehou word nie. In Trope v South African Reserve Bank21 is bevestig dat die skuldoorsaak van die aksie uit die gepleite feite moet blyk. Dieselfde uitgangspunt word in Jowell v Bramwell-Jones22 herhaal.

Wat die sessie-ooreenkoms self betref, moet ’n party wat op ’n sessie steun nie slegs die bestaan daarvan beweer nie, maar uiteindelik ook die geldige sluiting en inhoud daarvan bewys. Die sessie moet aantoon dat die persoonlike reg (ius in personam) om prestasie van die skuldenaar te eis, van die sedent na die sessionaris oorgegaan het. Anders as by die oordrag van saaklike regte, gaan dit by sessie nie om die oordrag van eiendomsreg nie, maar om die oordrag van die krediteur se vorderingsreg teen die skuldenaar. Sonder bewys van ’n geldige sessie beskik die beweerde sessionaris nie oor die nodige locus standi om die vordering af te dwing nie.

Dit is juis om hierdie rede dat die Landdroshofreëls vereis dat die sessie reeds in die dagvaarding openbaar gemaak moet word. Die onderliggende beginsel is dieselfde in die hooggeregshof: ’n verweerder is geregtig om uit die pleitstukke self te kan bepaal of die eiser uit eie reg dagvaar, dan wel op grond van ’n reg wat deur middel van sessie verkry is. Waar die eiser versuim om sodanige afgeleide titel te pleit en eers later op kontrakte, recordals of ander dokumentasie steun om sy bevoegdheid te regverdig, ontstaan die gevaar dat facta probantia gebruik word om ’n gebrek aan facta probanda te probeer vervang. In die klassieke saak van Lief v Dettmann23 het die destydse Appèlhof bevestig dat ’n litigant wat as sessionaris dagvaar die sessie moet beweer omdat dit die bron van sy locus standi vorm. Die beslissing illustreer die beginsel dat afgeleide titel nie bloot veronderstel kan word nie, maar bewys moet word deur die party wat daarop steun.

 

4. Die Mardi Boerdery-, Trakman-, Waldeck- en Taljaard-uitspraak: die aanhegtings- en blootleggingsplig ter bewys van sessie-ooreenkomste en locus standi

Reël 18(6) van die Eenvormige Hofreëls bepaal:

’n Party wat in sy pleitstuk op ’n kontrak steun, moet vermeld of die kontrak skriftelik of mondeling is … en indien die kontrak skriftelik is, moet ’n ware afskrif daarvan … aangeheg word.

Waar locus standi, of dan regsbevoegdheid, uit ’n sessie voortspruit, is die skriftelike ooreenkoms nie bloot bewysregtelik van belang nie; dit verteenwoordig die gebiedende aard van die materiële reg. Sonder bewys van die bestaan en oordrag van die vorderingsreg ontbreek die “titel” om te dagvaar.

In Mardi Boerdery het waarnemende regter Morgan, soos reeds aangetoon, beslis dat die versuim om die operatiewe sessie-ooreenkomste aan te heg, noodlottig was vir die bewys van die Landbank se locus standi.24 Die hof het die Landbank se steun op die verband-endossemente in die Aktekantoor as plaasvervangende bewys van die skriftelike sessiekontrak verwerp ingevolge waarvan die persoonlike reg om die skuld op te eis oorgedra is. Die Landbank se funderende beëdigde verklaring is as “onvoltooid en vatbaar vir eksepsie” beskryf weens nie-nakoming van reël 18(6). Die hof het hom duidelik soos volg uitgespreek oor die versuim om die beweerde sessie-ooreenkomste by die hofstukke aan te heg:

That omission is not a mere technicality. The very foundation of the applicant’s claim (that it acquired the respondent’s indebtedness) is left unproven. The Court cannot assume the existence or terms of a cession; they must be established by the documents themselves. A mortgage bond, while evidencing security over immovable property, does not in itself prove the transfer of the underlying personal right to claim repayment. Similarly, filing notices and ancillary paperwork do not demonstrate that the debt was effectively ceded.25

Ten einde hierdie bevinding verder te beklemtoon, het die hof verklaar dat howe herhaaldelik beklemtoon het dat die versuim om skriftelike ooreenkomste waarop gesteun word, aan te heg ’n wesentlike late daarstel.26 Met verwysing na vorige regspraak, bevind die hof dat die aanhegtingsverpligting voorskriftelik is en dat die pleitstuk of beëdigde verklaring by ontstentenis daarvan vatbaar vir eksepsie is. Dié defek word nie reggestel deur na verbande of liasseringskennisgewings vir aktesendossemente te verwys nie, omdat dié afsonderlike instrumente is. Die sessie- ooreenkoms bly die operatiewe dokument wat die aksiegrond daarstel en die afwesigheid daarvan is daarom fataal.27

In Trakman het die hof ingevolge artikel 151 van die Insolvensiewet 24 van 1936 die Meester van die Hooggeregshof se beslissing hersien om nie die Landbank se bewese eis teen Trademar Trading (Edms) Bpk (in likwidasie) te skrap nie. Die kernvraag was of die Landbank voldoende bewys gelewer het dat dit as skuldeiser locus standi het op grond van ’n beweerde sessie van boekskulde vanaf Grocap Financial Services (Pty.) Ltd.28

Die Landbank se eis was omvangryk en het onder meer gesteun op ’n “memorandum” en ’n “recordal” waarin daar bevestig is dat ’n koop- en sessie-ooreenkoms op 29 Junie 2012 gesluit is. Die skriftelike koopooreenkoms self is egter nie aanvanklik as deel van die stawende bewys voorgelê nie, omdat daar ’n beroep op die vertroulikheid daarvan gedoen is. Die likwidateurs het ingevolge artikel 45(2) van die Insolvensiewet hierop aangevoer dat hulle uit hoofde van hul statutêre pligte daartoe verplig is om alle beskikbare dokumente te ondersoek ten einde vas te stel of die skuld inderdaad aan die Landbank verskuldig is. Sonder die ooreenkoms en die sogenaamde “storage media” wat die spesifieke gesedeerde skulde identifiseer, kon die likwidateurs volgens hulle nie bevestig dat die Trademar-skuld wel oorgedra is nie.29

Die hof het bevind dat die blote ipse dixit van die Landbank en Grocap, sowel as die algemene bewoording in die memorandum en recordal, onvoldoende was om locus standi te bewys. Die koopooreenkoms het bepaal dat slegs sekere kategorieë skulde (“sale book debts”) oorgedra is, onderworpe aan voorafbepaalde kriteria en identifikasie deur elektroniese “storage media”. Geen behoorlik geverifieerde dokumentasie is voorgelê om te toon dat die Trademar-skuld binne hierdie kategorie geval het nie. Selfs ’n later voorgelegde sigblad het nie aan die kontraktuele vereistes voldoen of die nodige kerninligting bevat nie.30

Die hof het gevolglik bevind dat die Meester homself mislei het deur te aanvaar dat blote voorlegging van die koopooreenkoms voldoende was. By gebrek aan primêre bewys van ’n geldige sessie van die betrokke skuld, is die Landbank se eis geskrap. Die beslissing beklemtoon dat die locus standi van die eiser op objektiewe, dokumentêre bewys van oordrag moet berus en nie op bevestigende verklarings alleen nie.31

In die Waldeck-beslissing het die Landbank, in ’n direkte verwysing daarna in sy enkelvoudige dagvaarding, dit duidelik gemaak dat dit steun op sekere skriftelike ooreenkomste ten einde sy locus standi aan te toon en te bewys. Die Landbank het egter versuim om hierdie skriftelike ooreenkomste aan sy dagvaarding te heg. In plaas van aanhegting daarvan, het die bank aangevoer dat die aanhegting daarvan té omvangryk, vertroulik en irrelevant sou wees.32 Dit sou die hofdokumentasie onnodig lywig maak. In elk geval, so het die bank ook betoog, is al hierdie dokumente aan die verweerder se prokureurs beskikbaar gestel vir inspeksie ingevolge reël 35 van die Eenvormige Hofreëls.33 ’n Recordal waarop die Landbank gesteun het, het volgens die bank, die sessie van skuld deur die vryemarkagent Unigro aan die bank bewys. Hierdie recordal het verskeie sessies, verkope van ondernemings en ander ooreenkomste tussen die Landbank, Grow Capital en Unigro bevat. Die hof het egter bevind dat die recordal geen bewys daargestel het dat ’n geldige sessie tussen Unigro (die oorspronklike skuldeiser) en die Landbank aangegaan is nie. Dit was volgens die hof duidelik dat die Landbank wou hê dat die hof bloot op grond van die bank se bewering (“say so”) moes aanvaar dat daar geldige sessie-ooreenkomste met die applikante gesluit is en dat die bank dus locus standi gehad het. Die hof het hierdie argumente van die Landbank verwerp.34

Hoewel die Waldeck-beslissing dus nie direk oor reël 18(2) gehandel het nie, maar met reël 35 van die Eenvormige Hofreëls (bepaald reël 35(12)), is dit belangrik om op grond van die gemeenskaplikheid in beginsel van die onderskeie reëls na die funksie van reëls 18 en 35 te verwys voordat die Taljaard-uitsprake behandel word.

Reëls 18 en 35 van die Eenvormige Hofreëls beliggaam ’n gedeelde prosesregtelike grondbeginsel en strewe, naamlik dat litigasie nie deur verrassing of blote bewering gevoer mag word nie, maar deur deursigtige en verifieerbare voorstelling van die saak. Reël 18 vereis dat ’n eiser of verweerder sy of haar saak met voldoende besonderheid moet pleit, sodat die teenparty presies kan weet watter feite beweer word en waarop daar gesteun word. Waar ’n eis of verweer op ’n dokument berus, moet daardie dokument behoorlik geïdentifiseer en, waar toepaslik, aangeheg of uiteengesit word. Reël 35, en in besonder reël 35(12), versterk hierdie beginsel deur aan ’n party die reg te verleen om die voorlegging en inspeksie te verlang van enige dokument waarna daar in die pleitstukke verwys word. Gesamentlik funksioneer hierdie reëls dus as meganismes ter afdwinging van dieselfde normatiewe uitgangspunt: dat ’n litigant sy of haar bewyslas moet kwyt deur die openbaring van die dokumentêre grondslag van die eis of verweer en dat prosedurele billikheid vereis dat sodanige materiaal betyds en volledig aan die hof en die teenparty beskikbaar gestel word. Deur hierdie wisselwerking word die integriteit van die proses beskerm, wat verseker dat die geskil op ’n gefokusde, regverdige en ingeligte wyse besleg kan word.

Oor hierdie uitsprake heen funksioneer reëls 18(6) en 35(5) as méér as bloot prosedurele formaliteite. Dit dien as ’n strukturele waarborg wat verseker dat afgeleide titel deur sy operatiewe bron bewys word; met ander woorde, dit verskaf die materiële regsbasis vir die eis.

Teenoor die uitsprake gelewer in die Mardi-, Trakman- en Waldeck-saak, het die Noord- Kaapse Hooggeregshof ’n ander benadering met betrekking tot die locus standi van die Landbank gevolg.

In Taljaard v Land Bank35 het regter Williams bevind dat die Landbank wél locus standi gehad het om die likwidasie- en sekwestrasie-aansoeke te bring. Sy het steun geplaas op ’n versameling van dokumente (“suite of agreements”) tussen Unigro en die Landbank, tesame met stawende beëdigde verklarings deur senior amptenare wat die oordrag van regte, titel en belang in die betrokke leningsooreenkomste gestaaf en verduidelik het. Daarbenewens het die hof klem gelê op die beweerde formele sessie, endossement en registrasie van verbandregte in die Aktekantoor. Die hof was tevrede dat die geheel van die kontraktuele dokumentasie en implementeringshandelinge voldoende bewys gelewer het van ’n geldige sessie. Sy het die applikante se aandrang op ’n enkele, selfstandige sessie-ooreenkoms as kunsmatig en ongegrond verwerp.36

In ’n latere uitspraak in dieselfde saak om verlof tot appèl37 het regter Williams by die aanhoor daarvan egter erken dat haar benadering nie versoenbaar was met die streng dokumentêre benadering wat in Waldeck en Trakman gevolg is nie. (Die Mardi Boerdery-uitspraak was ten tye hiervan nog nie gelewer nie). In daardie sake, soos aangedui, is bevind dat ’n blote recordal of bevestiging deur die partye, sonder voorlegging van die onderliggende operatiewe dokumente wat die oordrag konkreet bewys, onvoldoende was om locus standi te bewys. Regter Williams het dus in haar verlof tot appèl-uitspraak erken dat haar bevinding – dat die versameling van dokumente en bevestigende verklarings voldoende was – direk bots met die benadering in Trakman en Waldeck. Juis om regsekerheid te verkry waar teenstrydige uitsprake bestaan oor die bewysvereistes vir sessie as grondslag vir locus standi, is verlof om appèl tot die Hoogste Hof van Appèl toegestaan.38

Toe die saak egter voor die Hoogste Hof van Appèl gedien het in Taljaard v Land and Agricultural Development Bank of South Africa,39 het die hof nie oor die meriete van die geskil oor sessie en locus standi beslis nie. Die vraag voor die hof was of die tussentydse bevel van regter Williams appelleerbaar was of nie. Die hof het bevind dat die bevel interlokutêr van aard was en gevolglik nie appelleerbaar was nie. Die spanning tussen die benadering gevolg in Taljaard en dié in Trakman en Waldeck is derhalwe nog nie finaal deur die Hoogste Hof van Appèl besleg nie. Die hof het voorts daarop gewys dat die tersydestellingsaansoek wat betrekking het op die betrokke sekwestrasie- en likwidasiebevele steeds voor die Noord-Kaapse Hooggeregshof hangende was.40

Die kontras in die howe se benadering tot wat in wese ’n eenvoudige regsaspek rakende locus standi is, is dus opvallend. Waar Mardi, Trakman en Waldeck ’n streng dokumentêre bewysstandaard vereis, het regter Williams aanvanklik ’n ander benadering gevolg. Die spanning tussen hierdie benaderings moet dus nog finaal deur die Hoogste Hof van Appèl besleg word.

Die huidige posisie is egter nie bevorderlik vir regsekerheid nie en dus nie in die openbare belang nie. Indien die tydsverloop, koste en omvang van die litigasie, asook die dikwels oneweredige magsbalans en hulpbronne tussen die Landbank en die individuele boer of sy sake-entiteit in aanmerking geneem word, is dit nie onredelik dat die Suid-Afrikaanse publiek groter duidelikheid en finaliteit van die regstelsel sou verwag nie.

Benewens die aanhegtings- en blootleggingsvereistes van die Eenvormige Hofreëls, behoort ook ander bewysregtelike oorwegings in ag geneem te word by die beoordeling van locus standi wat uit ’n sessie-ooreenkoms spruit. Die bestebewys-beginsel41 is ’n sodanige oorweging. Hoewel die klassieke bestebewys-beginsel nie meer as ’n streng uitsluitingsreël in die Suid-Afrikaanse bewysreg toegepas word nie, bly die onderliggende uitgangspunt daarvan relevant. Waar die inhoud van ’n skriftelike instrument die bron van die litigant se beweerde reg vorm, bly daardie instrument die mees gesaghebbende bewys van die inhoud daarvan. Die Landbanksake illustreer juis hierdie beginsel: recordals, memoranda, korporatiewe verklarings en ander sekondêre dokumentasie kon nie die afwesigheid van die operatiewe sessiedokumente vervang nie.

 

5. Korporatiewe beëdigde verklarings en artikel 3 van die Wysigingswet op die Bewysreg

Artikel 3(1) van die Wysigingswet op die Bewysreg 45 van 1988 bepaal dat hoorsêgetuienis ontoelaatbaar is, tensy dit in die algemeen in die belang van geregtigheid toegelaat moet word.42

Korporatiewe litigasie behels dikwels beëdigde verklarings wat op institusionele rekords steun eerder as op die deponent se persoonlike betrokkenheid by die onderliggende transaksies. In Ganes v Telecom Namibia Ltd43 het die Hoogste Hof van Appèl aanvaar dat ’n behoorlik gemagtigde beampte positief kan verklaar oor feite wat uit maatskappyrekords blyk, mits ’n voldoende grondslag daarvoor gelê word. Die hof het voorts beklemtoon dat ’n deponent tot ’n beëdigde verklaring bloot as getuie optree en nie afsonderlike magtiging benodig om die verklaring af te lê nie. Die uitspraak verslap egter nie die vereiste dat die operatiewe dokumente waarop ’n litigant se aanspraak berus, steeds bewys moet word nie.

In die huidige konteks beteken dit eerstens dat ’n beëdigde verklaring wat die egtheid of korrektheid van ’n aangehegte skriftelike ooreenkoms bevestig, nie op hoorsêgetuienis neerkom nie; die dokument self bly die primêre bewys van sy inhoud. Hierteenoor is ’n beëdigde verklaring wat bloot die bestaan of inhoud van ’n nie-voorgelegde kontrak beweer, in wese sekondêre bewys van daardie kontrak. Hoe gesaghebbend die deponent ook al mag wees, kan sodanige verklaring nie die operatiewe dokument vervang indien die litigant se vorderingsbevoegdheid of locus standi juis uit daardie dokument voortspruit nie.

Soos aangetoon, het die howe in Mardi, Waldeck en Trakman geweier om beëdigde verklarings te aanvaar wat nie deur die tersaaklike operatiewe dokumente gesteun is nie. Die probleem was nie bloot tegnies van aard nie. Sonder die kontrak of ander operatiewe dokument, is die hof in wese versoek om die regsgevolge van ’n beweerde transaksie op grond van afgeleide, en dus sekondêre, getuienis te aanvaar. Hierdie beslissings illustreer dat korporatiewe beëdigde verklarings ’n belangrike stawende funksie kan verrig, maar nie die plek van primêre dokumentêre bewys kan inneem waar die bestaan en omvang van die litigant se reg juis uit die dokument self moet blyk nie.

 

6. Die Aksessore aard van ’n dekkingsverband

’n Herhalende tema in die bespreekte Landbanklitigasie, was die bank se beroep op verbandendossemente as bewys van die beweerde oordrag van skuldvorderings en gevolglike bewys van sy locus standi.

In dié verband wys Scott egter daarop dat ’n verband na twee onafhanklike regte verwys, naamlik die persoonlike reg waarna verwys word as die “hoofskuld” en die saaklike reg wat in die verbandakte beliggaam is en wat dien om die persoonlike reg te verseker.44

’n Verband skep ’n beperkte saaklike sekerheidsreg, maar dit is duidelik aksessoor (bykomend of ter aanvulling) tot die hoofskuld wat dit verseker.45 Die bestaan van die verband veronderstel dus die bestaan van ’n geldige onderliggende skuld. Registrasie van ’n endossement op ’n verband bewys die bestaan van die sekerheidsreg, maar nie noodwendig die geldige oordrag van die persoonlike vorderingsreg waarop die sekerheid betrekking het nie.

Waarnemende regter Morgan het in Mardi Boerdery breedvoerig aandag gegee aan die Landbank se argument dat die endossemente op die verbandaktes, tesame met bewerings dat die onderliggende skuld aan die bank gesedeer is, voldoende bewys van sy locus standi daarstel. Die hof het hierdie argument verwerp en beklemtoon dat die verbandendossemente nie self die oordrag van die vorderingsreg bewerkstellig of bewys nie. Die endossemente kon derhalwe nie die afwesigheid van die operatiewe sessiedokumente aanvul nie.

Hierteenoor in die Taljaard-litigasie, in ’n uitspraak gedateer 1 Desember 2023, spreek regter Williams haar soos volg uit oor die beweerde sessie aan die Landbank deur die betrokke vryemarkagent, Unigro, wat na haar mening gestaaf is deur die endossement van die dekkingsverband oor onroerende eiendom:

The covering mortgage bonds in respect of Project Multiply and the Merwede Trust were formally ceded to Land Bank as part of the implementation of the process and were registered by the Registrar of Deeds as reflected on the mortgage bonds attached to annexure ‘X’. I am satisfied that Land Bank had the locus standi to bring the applications for the liquidations and sequestration. The applicant’s insistence on being provided with a single agreement of cession between Unigro and Land Bank, with regard to the debts of the insolvent entities, in these circumstances, appears to be rather infantile.

Die benadering gevolg in Mardi Boerdery strook met gevestigde beginsels van die Suid-Afrikaanse sekerheidsreg. ’n Verbandreg is aksessoor tot die hoofskuld wat uit die onderliggende causa, in hierdie geval die leningsooreenkoms, voortspruit. Die endossering van ’n dekkingsverband kan nie onafhanklik van die onderliggende vorderingsreg ontstaan of voortbestaan nie. Waar ’n litigant se locus standi as skuldeiser op ’n beweerde sessie berus, moet die sessie en die oordrag van die vorderingsreg self bewys word; die bestaan van die sekerheidsreg alleen is onvoldoende.

Die benadering gevolg deur regter Williams in Taljaard is moeilik versoenbaar met die gevestigde beginsels van die sekerheidsreg. Dié uitspraak heg beduidende gewig aan die registrasie van verbandendossemente en die bestaan van ’n versameling kontraktuele dokumente, ondanks die afwesigheid van ’n enkele operatiewe sessie-ooreenkoms wat die oordrag van die betrokke vorderingsregte uitdruklik bewys. Die gevolg is dat die uitspraak die indruk laat dat die bestaan van die sekerheidsreg as voldoende aanduiding van die oordrag van die onderliggende skuld aanvaar is. Dit is teenstrydig met die benadering gevolg in Mardi Boerdery, Trakman en Waldeck, waar die howe daarop aangedring het dat die oordrag van die vorderingsreg self deur primêre dokumentêre bewys aangetoon moet word.

 

7. Die ongeskiktheid van mosieverrigtinge waar locus standi in geskil is

’n Sekondêre, maar belangrike, tema wat uit die Landbanklitigasie afgelei kan word, is die vraag of mosieverrigtinge, en veral sekwestrasie- en likwidasie-aansoeke, altyd die geskikste prosedure is waar daar bona fide materiële feitegeskille bestaan, soos dié rakende die applikant se titel as skuldeiser. Hierdie tema word kortliks ter afsluiting van die artikel bespreek.

Die Suid-Afrikaanse prosesreg erken reeds sedert Room Hire Co (Pty) Ltd v Jeppe Street Mansions (Pty) Ltd46 dat mosieverrigtinge in die algemeen ongeskik is vir die beslegting van wesentlike feitegeskille. Hierdie uitgangspunt is later bevestig in Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd,47 waar die destydse Appèlhof beklemtoon het dat finale regshulp in mosieverrigtinge slegs toegestaan kan word indien die feite wat deur die respondent beweer word, saam met die applikant se erkende feite, die bevel regverdig.

Die geskil in die Landbanksake handel nie bloot oor die uitleg van dokumente of die afwesigheid van sessiekontrakte nie. Die kernvraag was telkens of die Landbank regmatig die reg verkry het om die betrokke skuld af te dwing. Hoewel hierdie vraag in die eerste plek die Landbank se locus standi raak, kan dit in bepaalde gevalle ook die bestaan of omvang van die onderliggende skuldoorsaak (causa) raak. Waar ’n respondent byvoorbeeld die beweerde sessie, die omvang van die skuld of die geldigheid van die onderliggende transaksies bona fide betwis, ontstaan wesentlike feitegeskille wat nie op mosie beslis behoort te word nie. In sodanige gevalle behoort aksieverrigtinge eerder as mosieverrigtinge gevolg te word.

Dit spreek vanself dat waar die bestaan van ’n skuldeiser se titel soms afhanklik is van ’n ingewikkelde ketting van kontrakte, koopooreenkomste en beweerde sessies, bona fide wesentlike feitegeskille maklik kan ontstaan wat moeilik op grond van blote beëdigde verklarings besleg kan word. Die probleem word verder vererger waar die operatiewe dokumente nie volledig voor die hof geplaas word nie en die applikant die hof versoek om gevolgtrekkings uit sekondêre dokumente, recordals of korporatiewe verklarings te maak.

Die Taljaard-litigasie illustreer hierdie probleem verder. Benewens die geskil oor die Landbank se locus standi, het die verrigtinge ook sakereddingsaansoeke ingevolge artikels 129 en 131 van die Maatskappywet 71 van 2008 behels. Die Landbank het hierdie aansoeke teengestaan op grond daarvan dat die bank, weens die insluiting van die vryemarkagent se beweerde vorderingsreg, die oorheersende skuldeiser was. Die howe is gevolglik versoek om op die stukke alleen oor mededingende bewerings rakende die ondernemings se finansiële lewensvatbaarheid en die vooruitsigte op rehabilitasie, te beslis.

Sonder om oor die meriete van die onderskeie standpunte kommentaar te lewer, illustreer die litigasie die beperkinge van mosieverrigtinge waar omvangryke kommersiële, finansiële en bewysregtelike geskille terselfdertyd ter sprake is. In sodanige gevalle bestaan die gevaar dat sekwestrasie- of likwidasieverrigtinge gebruik word om geskille te besleg wat eerder deur aksieverrigtinge met mondelinge getuienis en kruisondervraging beslis behoort te word. Dit strook met die gevestigde beginsel dat insolvensieverrigtinge nie as plaasvervanger vir gewone siviele litigasie behoort te dien waar die beweerde skuld of die identiteit van die skuldeiser bona fide en op redelike gronde betwis word nie.

Die Landbanklitigasie illustreer juis hierdie gevaar. Waar die locus standi van die applikant afhanklik is van betwiste sessies en kontraktuele dokumente, bestaan daar ’n sterk argument dat aksieverrigtinge, eerder as mosieverrigtinge, die geskikte prosedure is.

 

8. Gevolgtrekking

Die bespreekte sake bevestig ’n gevestigde beginsel van die Suid-Afrikaanse reg: waar locus standi op ’n gesedeerde reg gegrond word, moet die litigant voldoende bewys lewer van die sessie waarop die beweerde reg berus.

In ’n era van massa-skuldverkope, sekuritisering en komplekse finansieringsreëlings, bly die bewyslas tradisioneel dat dokumentêre integriteit locus standi bevestig.

Die drie sake van Mardi Boerdery, Waldeck en Trakman versterk hierdie beginsel. Die benadering gevolg deur regter Williams in Taljaard staan egter in spanning daarmee, aangesien die hof bereid was om uit ’n versameling dokumente, verbandendossemente en bevestigende verklarings af te lei dat die Landbank sy locus standi bewys het. Die vraag of hierdie benadering met die strenger dokumentêre standaard in die ander sake versoenbaar is, bly voorlopig onbeantwoord totdat die Hoogste Hof van Appèl finaal daaroor beslis.

Die meerderheidsregspraak wat bespreek is, konsolideer egter ’n konsekwente leerstellige boodskap: bewys van titel vereis bewys van oordrag.

Die belang van die bespreekte uitsprake strek egter verder as die tegniese vereistes vir sessie. Op ’n dieper vlak handel die geskille oor die verhouding tussen dokumentasie en regsbevoegdheid in moderne kommersiële litigasie. Finansiële instellings beskik toenemend oor omvangryke administratiewe stelsels, elektroniese databanke en komplekse kontraktuele strukture wat oor jare ontwikkel het. Wanneer geskille ontstaan, bestaan die versoeking om die hof te vra om op die institusionele geheue van die instelling, die verklarings van sy amptenare, of die waarskynlikheid van sy weergawe staat te maak. Die Landbanksake bevestig dat die reg steeds meer vereis. Howe beslis nie op grond van administratiewe waarskynlikheid nie, maar op grond van bewese regsfeite.

Daarin lê die breër betekenis van die meerderheidsregspraak hier bespreek. Die howe het nie bloot op beter papierwerk aangedring nie. Hulle het die fundamentele beginsel bevestig dat diegene wat hulle op die dwingende mag van die reg wil beroep, die bron van hul bevoegdheid om dit te doen moet kan aantoon. Dit geld des te meer in sekwestrasie- en likwidasieverrigtinge, waar die gevolge van ’n suksesvolle aansoek verreikend is en dikwels die einde van ’n persoon of maatskappy se ekonomiese bestaan beteken. Die vereiste van bewese locus standi dien dus as ’n belangrike waarborg teen die risiko dat ingrypende insolvensieregshulp toegestaan word op grond van onbevestigde of onvoldoende gedokumenteerde aansprake.

Die bespreekte Landbanklitigasie werp terselfdertyd ’n verdere prosedurele vraag op wat moontlik nog nie finaal deur die Hoogste Hof van Appèl beantwoord is nie. Waar die bestaan van die skuld, die identiteit van die skuldeiser en die geldigheid van die beweerde sessie self onderwerp word aan omvangryke feitegeskille, ontstaan die vraag of mosieverrigtinge die geskikste prosedurele middel vir die beslegting van sodanige geskille is. Van die sake wat bespreek is, toon die spanning wat ontstaan wanneer ingewikkelde kontraktuele en bewysregtelike vrae binne die beperkte raamwerk van beëdigde verklarings besleg moet word.

Wat ook al die uiteindelike uitkoms van die Taljaard-saak of ander tersydestellingsaansoeke van reeds toegestaande sekwestrasie- en likwidasiebevele mag wees, is een gevolg van die Landbanklitigasie reeds duidelik. Die sake het die aandag opnuut gevestig op die sentrale rol wat dokumentêre bewys speel in die bewys van afgeleide titel. Die uitsprake waarin dieselfde benadering gevolg is, herinner daaraan dat die reg hom nie bloot bemoei met die vraag of ’n reg waarskynlik bestaan nie, maar of die bestaan daarvan voldoende bewys is. In daardie opsig verteenwoordig die uitsprake nie ’n nuwe ontwikkeling nie, maar eerder ’n terugkeer na ’n ou waarheid: waar regte uit dokumente spruit, moet die dokumente uiteindelik self spreek.

 

Bibliografie

Cilliers, A.C., C. Loots en H.C. Nel. 2009. Herbstein and Van Winsen: The civil practice of the High Courts and the Supreme Court of Appeal of South Africa. 5de uitgawe. Kaapstad: Juta & Co.

Hiemstra, V.G. en H.L. Gonin. 1992. Drietalige regswoordeboek / Trilingual legal dictionary. 3de uitgawe. Kaapstad: Juta & Co.

Peté, S., D. Hulme, M. du Plessis, R. Palmer, O. Sibanda en T. Palmer. 2024. Peté & Hulme’s Civil procedure: A practical guide. 4de uitgawe. Kaapstad: Oxford University Press.

Schwikkard, P.J. 2003. The challenge of hearsay. South African Law Journal, 120(1):63–79.

Schwikkard, P.J. en S.E. van Der Merwe. 2009. Principles of evidence. 5de uitgawe. Kaapstad: Juta & Co.

Scott, S. 2018. Scott on cession: A treatise on the law in South Africa. Kaapstad: Juta & Co.

Zeffertt, D.T. en A.P. Paizes. 2017. The South African law of evidence. 3de uitgawe. Durban: LexisNexis.

 

Eindnotas

1 Hierna verwys as locus standi of regsbevoegdheid, waarmee bedoel word die reg om regsaksie in te stel. Sien Hiemstra en Gonin (1992):225.

2 Vergelyk King’s Transport v Viljoen 1954 1 SA 133 (C) 138–139; Dusheiko v Milburn 1964 4 SA 648 (A); Inzinger v Hofmeyr (7575/2010) [2010] ZAGPJHC 104; en JG Afrika (Pty) Limited v Intsika Yethu Municipality (380/2023) [2024] ZAECMKHC 36, waar die howe die onderskeid tussen facta probanda (die materiële feite wat bewys moet word) en facta probantia (die bewysmateriaal waarmee sodanige feite bewys word) beklemtoon.

3 Peté e.a. (2024:161). Dit is belangrik om daarop te let dat ’n versuim om al die materiële feite (facta probanda) te beweer, en, waar nodig, te staaf met stawende feite (facta probantia) in die funderende en steunende eedsverklarings in die mosieproses, ’n gebrek om die gevraagde regshulp aantoon en aanleiding mag gee tot weiering van die bevel waarom aansoek gedoen is. Dit het betrekking op die locus standi van die partye, die beweerde jurisdiksie van die hof én die skuldoorsaak.

4 Artikel 34 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (die Grondwet).

5 Land and Agricultural Development Bank of SA v Mardi Boerdery (Pty) Ltd (13434/2022) [2025] ZALMPPHC 230 (15 November 2025) (hierna verwys as “Mardi”).

6 Waldeck v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (4013/18) [2019] ZAMPMHC 4 (14 Oktober 2019) (hierna verwys as “Waldeck”).

7 Trakman v The Master of the High Court of South Africa (2020/12432) [2021] ZAGPJHC 168 (21 Mei 2021) (hierna verwys as “Trakman”).

8 Taljaard v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (1335/2021; 963/2021; 964/2021; 2436/2021) [2023] ZANCHC 94 (1 Desember 2023) (hierna verwys as “Taljaard”).

9 Die Landbank het in die sake hierdie recordals aangeheg om die beweerde ketting van regsoordragte (“chain of title”) vanaf die oorspronklike kredietverskaffer na die Landbank aan te toon. Die howe moes dan bepaal of die recordals bloot agtergrondmateriaal was en of dit inderdaad voldoende bewys gelewer het dat die relevante vorderings geldig aan die Landbank gesedeer en oorgedra is. Vgl. First National Bank of SA Ltd v Lynn 1996 2 SA 339 (A) 345F–346G. In hierdie saak het die Hoogste Hof van Appèl beklemtoon dat sessie ’n wyse van afgeleide regsverkryging is waardeur die vorderingsreg van die sedent na die sessionaris oorgaan en dat die betrokke reg voldoende identifiseerbaar moet wees. Hierdie beginsels vorm die leerstellige grondslag vir die latere Landbankgeskille oor die bewys van die beweerde volgorde van regsoordragte (“chain of title”).

10 Sien bv. Trakman (waar die beweerde verkoop van GroCap se boekskulde aan die Landbank en die identifisering van die oorgedraagde skulde bespreek word) en Taljaard (waar die Landbank steun op beweerde koop-, sessie- en delegasieooreenkomste waardeur Unigro se regte aan die Landbank oorgedra is).

11 Trope v South African Reserve Bank 1992 3 SA 208 (T) 210G–211B; Jowell v Bramwell-Jones 1998 1 SA 836 (W) 902J–903B. Vgl. die onderskeid tussen facta probanda en facta probantia soos bespreek in die regspraak oor reël 18.

12 Scott (2018:24 e.v.).

13 Ibid. 210.

14 Ibid. 25.

15 Ibid. 210 e.v.

16 Ibid. 234.

17 Ibid. 237.

18 Cilliers e.a. (2009:443).

19 1999 2 SA 279 (T) 324G-H.

20 Mardi par. 23.

21 1992 3 SA 208 (T) 210G–211A.

22 1998 1 SA 836 (W) 902J–903B. Sien ook McKenzie v Farmers’ Co-operative Meat Industries Ltd 1922 AD 16, veral op 23. Hierin kom die klassieke beskrywing van ’n skuldoorsaak voor: “Every fact which it would be necessary for the plaintiff to prove, if traversed, in order to support his right to the judgment of the Court.”

23 1964 2 SA 252 (A).

24 Mardi par. 23. Hierdie uitspraak volg uit ’n geopponeerde mosie-aansoek waarin die Landbank vonnis teen Mardi Boerdery versoek het vir betaling van ’n bedrag geld en gevra het dat ’n sekere plaaseiendom spesiaal uitwinbaar verklaar moet word uit hoofde van twee verbande ten gunste van die Landbank. Die kern van Landbank se saak was dat die regte en verpligtinge wat die bank teen Mardi Boerdery verkry het, voortgespruit het uit beweerde sessie-ooreenkomste tussen twee finansieringsmaatskappye en die bank. Ten spyte van verskeie versoeke daartoe, het die Landbank geweier en/of versuim om die beweerde sessie-ooreenkomste te openbaar. Gevolglik was die gebrek aan die Landbank se locus standi deel van die primêre fokus in die saak. Daar was behalwe hierdie prosesregtelike beswaar deur Mardi Boerdery ook ’n feitelike geskil oor die korrekte bedrag.

25 Par. 18.

26 Par. 19.

27 Parr. 25–26.

28 Die likwidateurs het die Meester se weiering om die Landbank se eis te skrap suksesvol hersien; die hof het bevind dat die beweerde sessie nie deur voldoende primêre dokumentêre bewys gestaaf is nie.

29 Parr. 7, 19, 24, 25, 30, 40, 43 en 60.

30 Trakman parr. 28–30.

31 Trakman par. 40.

32 Waldeck parr. 26–35.

33 Waldeck par. 17.

34 Waldeck parr. 25–30

35 In Taljaard v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (1335/2021; 963/2021; 964/2021; 2436/2021) [2023] ZANCHC 94 (1 Desember 2023)

36 Taljaard parr. 10 en 21.

37 Taljaard v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (1335/2021; 2436/2021; 963/2021; 964/2021; N557/2021) [2025] ZANCHC 11 (24 Januarie 2025)

38 In par. 7 van die uitspraak spreek regter Williams haar soos volg uit: “It is clear that my judgment in this regard is in direct contradiction to the judgment in Trakman. In Waldeck v Land and Agricultural Development Bank of South Africa, Mpumalanga Division, Middelburg, 4013/18, Land Bank failed to discover in terms of Rule 35(12) certain documents underpinning an alleged cession of rights on the basis of confidentiality and sought to rely solely on a recordal or confirmation between inter alia Unigro and Land Bank as proof of the existence of a cession and the validity thereof. The Court held inter alia that ‘The recordal is no proof of the fact that valid cessions were entered into between Unigro (the applicant’s initial creditor) and the respondent.’ (At paragraph 26).”

39 Taljaard v Land and Agricultural Development Bank of South Africa ([2026] ZASCA 29.

40 Bevel gedateer 15 Maart 2024: Taljaard v Land and Agricultural Development Bank of South Africa (1094/2022). Volgens die hofrekord van die tersydestellingsaansoek is die saak in die Noord-Kaapse Hooggeregshof uitgestel hangende die uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl. Die tersydestellingsaansoek bly derhalwe die waarskynlikste prosedurele middel waardeur die geskil oor die Landbank se locus standi en die geldigheid van die beweerde sessies uiteindelik bereg sal word. Dit is ook bevestig deur die Hoogste Hof van Appèl se uitspraak in 2026.

41 Zeffert en Paizes (2017:422), wat in die algemeen soos volg opmerk: “A party is not allowed to prove the content of a document except by producing the document itself.”

42 Vir ’n algemene bespreking van art. 3(1), sien Schwikkard (2003:63 e.v.).

43 Ganes v Telecom Namibia Ltd 2004 3 SA 615 (HHA).

44 Scott (2018:225 e.v.).

45 Ibid. 381 e.v.

46 Room Hire Co (Pty) Ltd v Jeppe Street Mansions (Pty) Ltd 1949 3 SA 1155 (T) 1162–1165.

47 Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd 1984 3 SA 623 (A) 634E–635C.

 

 

LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top