Die land van opgekapte lyke

  • 4

Daar is ’n klompie sogenaamde “texts of terror” in die Bybel. Seker die ergste een is in Rigters 19. ’n Leviet se byvrou loop weg na haar pa. Haar man is agterna om haar te gaan haal, maar let wel, eers ’n jaar en vier maande later. Met sy aankoms ontvang haar pa hom besonder gasvry. Dit wil amper voorkom asof sy skoonpa hom wil paai en hom wil vra om sy dogter nie op die gewone manier te straf nie. Die Leviet het volgens die wette van daardie tyd die reg gehad om haar ernstig te straf – sy was sy vrou en dus in daardie tyd ook sy eiendom.

Dan vertrek hulle uiteindelik, en op pad terug na die Efraimsberge waar hulle gewoon het, moet hulle oornag. Die eerste opsie wat die slaaf voorstel, is die stad genaamd Jebus (vandag Jerusalem). Die Leviet wil egter nie in ’n vreemde stad oorbly en by die Jebusiete oornag nie. Hy druk dus eerder deur na ’n stad van sy eie volksgenote.

Hulle oornag toe in Gibea, ’n stad van die Benjaminiete. Die Israeliete in hierdie stad wil egter nie vir hulle blyplek gee nie. ’n Vreemdeling wat daar woon, neem hulle wel in.

Dan kom die vreeslik wrede deel van die verhaal. ’n Spul boewe omsingel die huis en wil die Leviet vir ’n homoseksuele bendeverkragting hê. Sy gasheer bied egter sy eie dogter en die Leviet se byvrou aan, maar terwyl hulle nog redekawel oor die saak, stamp die Leviet sy byvrou by die deur uit.

In vers 27 staan: “Toe haar man die môre opstaan en die huis se deur oopmaak om verder te reis, lê die vrou, sy byvrou, in die deur met haar hande op die drumpel.” Die wetter het dus kans gesien om ten spyte van alles wat die vorige nag gebeur het, nog te gaan slaap! Hy val amper oor haar op die drumpel van die huis toe hy verder wil reis. En boonop sê hy vir sy verminkte vrou op die drumpel: “Staan op dat ons kan vertrek.” Sy was egter dood.

Dan doen die Leviet ’n vreemde ding: hy sny haar in twaalf stukke op en stuur aan elke stam in Israel ’n stuk. Hoekom doen hy dit? Aan die einde van die verhaal staan die antwoord: “Ons moet dit ter harte neem. Ons moet ’n plan maak. Ons moet praat!”

Augustus was Vrouemaand, maar sedert die einde Augustus tot nou toe, is vele vroue in ons land – ten spyte van pogings tot bewusmaking – verkrag, vermink en vermoor. Een vrou is selfs in Bellville in stukke opgesaag. Op sosiale media is dit duidelik dat daar ’n verslaenheid heers onder mense, bykans ’n gevoel van magteloosheid, asof ’n damwal gebreek het en die geweld nie gestuit kan word nie.

Mense is terselfdertyd by versadigingspunt rakende beriggewing oor misdade teen vroue. Dis ook ’n klagte wat mens soms hoor teenoor dagblaaie soos Beeld, Volksblad en Die Burger, naamlik dat daar te veel misdaadverslaggewing in die koerante opgeneem word. Mense wil nie daagliks gekonfronteer word met foto’s en berigte van hierdie gruweldade nie. Natuurlik is die debat oop of hierdie beriggewing afstomping tot gevolg het en of dit bydra tot bewusmaking. Vandag wil ek (toegegee, ietwat moedeloos oor al die moorde) die Bybelse lyn vat, en dit behels: om hierdie berigte in te span om nie te vergeet nie, om te (begin) praat en iets te doen!

Sou dit moontlik wees om elke berig van elke vrou oor wie verslag gedoen word, te sien as ’n "(papier-/elektroniese) muur van herinnering" wat moet lei tot gesprek en hopelik ook optrede? Kan dié soort beriggewing ons help om nie te vergeet nie en sinvol daaroor te praat; op só ’n wyse te praat dat onthou en praat oorgaan tot aksie? In Rigters 19 word baie gepraat, maar nie een keer in die hele lange teks, kry ’n vrou ’n spreekbeurt nie. Dis net mans wat oor hulle praat en besluit wat met hulle gebeur. Om sinvol te onthou, te praat en te doen, kan help om aan die verminkte vroue ’n stem te gee.

Daar is Bybelkenners soos Phyllis Trible wat daarop wys dat tekste soos Rigters 19 spesifiek nie in die redaksieprosesse uit die Bybel geredigeer is nie, sodat die tekste in latere tye as ’n herinnering en ’n oproep kan dien. Ja, die misdaadverslaggewing is vir sommige ’n seer oog in ’n koerant en vir ander sorg dit vir sensasionele leesgenot. Dalk moet ons al daardie berigte veel eerder sien as ’n Allersieleliturgie wat dien as aanklag en lament, ’n papiermuur van herinnering wat tegelyk smeek en oproep: “die Here weet, moet ons nie vergeet nie, moet wat gebeur het, nie vergeet nie, praat oor die ding en doen iets!” Dalk is Septembermaand, die maand van "nie wegkyk nie", ’n maand waarin ons deeglik elkeen van die berigte moet lees en herlees totdat dit soos ’n woedende litanie in ons lywe gaan sit.

Anthea Thopps, 21/07/2019 – vermoor in Beaufort-Wes.

Meghan Cremer, 08/2019 – vermoor in Philippie.

Verusha Padayachee, 08/2019 – vermoor in Pietermaritzburg.

Esmeralda Isaacs, 08/2019 – vermoor in Upington.

Sadiqah Newman, 09/08/2019 – vermoor in Manenberg.

Lynette Volschenck, 21/08/2019 – vermoor en haar lyk is opgesaag in Bellville.

Nathalia Pienaar, 24/08/2019 – vermoor in Lavender Hill.

Lauren Prins, 24/08/2019 – vermoor in Bishop Lavis.

Uyinene Mrewetyana, 24/08/2019 – verkrag en vermoor in Kaapstad.

Leighandre Jegels, 30/08/2019 – vermoor in Oos-Londen.

Jesse Hess 30/08/2019 – vermoor in Parow.

Sisanda Fani 31/08/2019 - vermoor in Port Elisabeth.

Janika Mallo 01/09/2019 – verkrag en vermoor in Heinz Park.

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Monica Hammes

    Dankie. Dis betekenisvol. Dit laat my dink aan Manie Malan wat graag uit die Ou Testament gepreek het en die stories ook vertel het asof dit gister in die koerant gestaan het.

  • Hoe verskriklik dat daar mans is wat vroue nou na al die jare steeds verniel, verwoes, verneder, verguis, vernietig. Hoe gelukkig is ek nie om getroud te wees met 'n man wat na 56 jaar my steeds met respek en liefde behandel nie. Genadiglik is daar nog sulke mans ook! Ek dank Hom daagliks vir hierdie voorreg!

  • Julian Müller
    Julian Müller

    Die kontras tussen Rigters 10 en die verhaal van Jesus se omgaan met die vrou by die put, is opvallend!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top