Die kwiksilwer van tyd (Why life speeds up as we grow older)

  • 1

Die meeste van ons voel waarskynlik dat 2018 soos ’n Hermes met vlerke aan sy skoene omgevlieg het. Ouer mense sê ’n jaar was vroeër baie langer toe hulle meer rolle moes vervul en meer dinge op hul doenlysie gehad het. Terwyl ons biologiese ritmes afneem, is dit asof die buitewêreld spoed optel.

Daar is egter selfs jongmense wat sê tyd glip deur hul vingers en hulle skryf dit aan die vinnig-ontwikkelende tegnologie toe. Belewenis van tyd is eie aan elke individu se perspektief en nóú verbonde aan ’n mens se geheue en emosionele (positief of negatief) belewing daarvan. Daar is die welbekende verklaring dat ’n mens se subjektiewe geheue van ’n jaar verband hou met jou ouderdom. ’n Kind van tien jaar oud ervaar ’n jaar as ’n tiende van haar lewe terwyl ’n vrou van sestig dit as net ’n sestigste ervaar.

Almal weet ons herinnerings is soms onbetroubaar en bedrieglik. Douwe Draaisma, Nederlandse psigoloog en skrywer van die boek Why life speeds up as we grow older, sê sielkundige tyd tik verby op ’n interne horlosie onder begeleiding van ons herinneringe. Hy glo die persepsie dat die tyd versnel, is een van baie soortgelyke illusies, wat ’n mens se belewing van tyd koppel aan wat in ons bewussyn gebeur.

Hy haal die Duitse filosoof Ernst Jünger aan wat in sy boek Das Sanduhrbuch ‘n lewe met ’n uurglas vergelyk waar die korrels sand teen mekaar skuur en algaande gladder word en dus al hoe makliker van die een bol na die ander beweeg. Terselfdertyd poleer die sand die noute in die uurglas sodat dit onsigbaar wyer word met die onafwendbare gevolg dat hoe  langer die uurglas gebruik word, hoe vinniger die sand na die onderste bol vloei.

Wetenskaplikes en filosowe bestudeer lankal die subjektiewe aard van tydsbelewing. William James, Amerikaanse filosoof en sielkundige, het 150 jaar gelede die persepsie van korter tyd toegeskryf aan die relatief minder nuwe ervarings wat mense in hul later jare beleef in vergelyking met vroeër toe ’n mens meer ontvanklik en aktief was.

Vergelyk die belewing van ’n week se vakansie waarin ’n mens baie ervarings het, met ’n siekbed van drie weke. As jy terugkeer huis toe, voel dit of daardie vakansie baie langer was terwyl die tyd in die bed korter voel omdat daar nie eintlik stimulasie was nie. Terwyl jy dit ervaar het, het die week op vakansie egter vinnig verbygegaan en tydens die siekbed het dit gevoel of die ure traag verbygaan. Albert Camus beskryf hierdie paradoks in sy verhaal oor die buitestaander wat ná vyf maande in die tronk die dae tegelykertyd as lank en kort ervaar het; lank om verby te sleep, maar so eenselwig en uitgerek dat dit gevoel het asof dieselfde dag eindeloos aangaan. Terselfdertyd voel dit asof die eerste week in ’n nuwe huis met nuwe indrukke stadig verbygaan, maar as jy jou oë weer uitvee, bly jy al ’n paar jaar daar.

Die Franse denker Jean-Marie Guyau het geskryf dat geheue ’n mens se ondervindings orden soos ’n kunstenaar ruimte orden met die gebruik van perspektief. Hy het ook gevind dat ’n jaar waarin baie in jou leefwêreld gebeur, langer voel as een wat eentonig en sonder variasie is en waarin die weke en maande ineen vloei.

Guyau se raad as ’n mens jou perspektief van tyd wil verleng, is om elke kans aan te gryp om dit te vul met nuwe dinge. Leer iets nuuts, gaan op reis en verjong jouself deur iets nuuts te leer.  Wanneer jy dan op ’n jaar terugkyk waarin jy baie dinge beleef het, sal die beelde wat opgehoop het in jou geheue, jou ’n lang tyd gee om te herleef.

’n Mens se persepsie van tyd is dus meer bepalend as die objektiewe meting daarvan. Ander faktore wat mense se ondervinding van tyd beïnvloed is die intensiteit van gewaarwordings, die assosiasies wat dit wakker maak, hoeveel aandag ’n mens daaraan gee, hoe dikwels dit gebeur en die inspanning wat dit verg om dit in die geheue te stoor. Om jou aandag op iets te fokus, werk so dat ’n mens ’n sensasionele gebeurtenis soos byvoorbeeld ’n opspraakwekkende moord of katastrofe soos 9/11 as baie meer onlangs beleef as wat dit in werklikheid was. Teen die tyd dat die moordenaar sy vonnis uitgedien het, kan ons gewoonlik nie glo dit het al so lank gelede gebeur nie. Die sielkundige Sulley verduidelik dit is soos om deur ’n verkyker of ’n teleskoop die detail van ’n gebeurtenis nog helder voor die gees te sien wat jou dan die lengte van die tyd wat verby is, laat onderskat.

Maar waarom dan die persepsie dat jare vinniger of stadiger gaan as die ure en dae dieselfde bly? En waarom onthou ons gebeure wat persoonlike trauma veroorsaak het, beter as ander? Dinge wat ons graag sou wou vergeet, bly ons dikwels in detail by terwyl ander wat ons graag wil onthou, geneig is om vinnig te vervaag.  Lyers aan post-traumatiese stressindroom weet maar te goed dat traumatiese gebeurtenisse in die vorm van terugflitse ongevraag by hulle opkom. Dit is asof hierdie soort herinneringe saam met tyd vorentoe beweeg. Met aangename ervarings wat ons geniet het en graag weer wil beleef, onderskat ons ook die tyd wat ons daarvan skei, sê Draaisma. Maar as dit weer gebeur, spoed die geleentheid waarna ons só uitgesien het, verby weens die kontras met die lang tyd waarin ons daarna uitgesien het.

Dit word al duideliker dat tyd in meer as een opsig soos kwiksilwer is. Draaisma noem Alexis Carrel, Franse medikus en Nobelpryswenner, se treffende vergelyking van objektiewe tyd met ’n rivier wat teen ’n egalige pas deur ’n vallei vloei. Aan die begin van sy lewe, vergelykbaar met vroeg in die oggend, hardloop ’n kind energiek langs die oewer van ’n rivier, vinniger as wat die water see toe vloei. Rondom die middel van die dag is die jong man se pas langsamer en dan hardloop hy net so vinnig as wat die rivier vloei. Teen die aand se kant word die man, nou baie ouer, se pas stadiger as die rivier s’n omdat sy kragte begin afneem. Aan die einde van die dag gaan hy staan en gaan lê dan op die wal om te rus terwyl die river steeds teen dieselfde tempo van vroeër verder vloei.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top