Die kwessie van die spaar embrio’s

  • 1

Tydens die onlangse US Woordfees op Stellenbosch is (soos voorheen) belangrike en relevante onderwerpe aan die orde gestel. Tydens die Frederik Van Zyl Slabbert-gesprekreeks is byvoorbeeld aandag gegee aan die rol van moreel-etiese, filosofiese en teologiese kwessies by die toepassing van genadedood en die reg om self te besluit. Terselfdertyd is die genetiese manipulering van menslike embrio’s tydens ʼn natuurwetenskap-café krities onder die loep geneem en deur die bril van die filosofie en genetika bekyk.

ʼn Sentrale gedagte wat tydens hierdie paneelbesprekings na vore gekom het, was dat nuwe tegnologie voortdurend beskikbaar gestel word en indien die sukses daarvan deeglik bewys is, word die verdere ontwikkeling daarvan moeilik vertraag, gestuit of omgekeer.

In aansluiting by hierdie tendense vind nuwe tegnologiese deurbrake op die gebied van geassisteerde reproduktiewe tegnologie (Engels: assisted reproductive technology, of ART), in vitro-bevrugting (Engels IVF), asook die bevriesing en oorplanting van menslike embrio’s snel en bykans dramaties plaas – dit is hier en sal waarskynlik bly. Soos algemeen bekend, speel sosiale en sielkundige faktore altyd ʼn rol wanneer biotegnologiese metodes op die mens toegepas word. Kaviti Musango en Currie (2018), wat op die gebied van sisteemdinamika navorsing doen, verwys hierna as social disruption noise.

Indien pasiënte gekonfronteer word met kritieke besluitneming oor die getal embrio’s wat na afloop van IVF ingeplant word, is sekere sosialesteuringsveranderlikes  identifiseerbaar; byvoorbeeld: Word pasiënte deeglik voorberei oor die aard van besluite wat geneem moet word, insluitend die sielkundige implikasies van hul besluite, of word dit bloot op ʼn tegniese wyse as ʼn burokratiese proses hanteer – met ander woorde die ondertekening van goedkeuring- en skadeloosheidstellingvorms terwyl die emosionele konflikte hulself maar later op ʼn spontane wyse lukraak moet uitsorteer? Behoort hierdie pasiënte vooraf voorligting oor embrionale oorplanting deur professionele kundiges te ontvang? Wie sou hierdie span professionele kundiges wees? Behoort potensiële IVF-pasiënte wat hul sielkundige funksionering betref vooraf geassesseer te word? Watter instrumente (in terme van spesifieke psigometriese eienskappe) behoort in sodanige assesseringsbattery ingesluit te word? Behoort die assessering ʼn kwalitatiewe of ʼn kwantitatiewe proses te wees of moet dit eerder elemente van beide bevat? Watter sielkundige teoretiese verklaringsmodelle word gebruik as ʼn basis op grond waarvan die mediese prosedures en die psigoterapeutiese/voorligtingsprosesse tydens IVF en embrionale oorplanting uitgevoer word?

Die moontlikhede wat deur IVF aan pasiënte gebied word, is gewoonlik opwindend, maar kom terselfdertyd op die spreekwoordelike tweesnydende swaard neer, omdat die welsyn van beide die oorgeplante en die ekstra of “spaar” embrio’s weldeeglik in berekening gebring moet word en die proses gevolglik in ʼn uiters senutergende een kan ontwikkel.

Benewens die effek van sosialesteuringsgeraas wat hier bo genoem is, is die vasbeslote denkprosesse (Du Toit en Van der Merwe 1983:346) van die pasiënt altyd betrokke en van besondere belang tydens die verloop van die IVF-proses. Hierdie denkprosesse is op die bereikwording van bepaalde doelstellings gerig deur gebruikmaking van waarnemings, begrippe, waardes, en verhoudings- en korrelaateduksies.

Boyes en Walsh (2017) verwys na ʼn aantal kernaspekte rakende IVF en spaar embrio’s wat belangrike opsies inhou vir die denkprosesse van pasiënte wat met die oplossing van die  doelstelling gepaardgaan.

  • Is die gesin/paartjie/individu in alle opsigte gereed om ʼn groter gesin te akkommodeer as wat aanvanklik verwag of voorsien is?
  • Beskik die pasiënt(e) oor ʼn goedgefundeerde konseptualisering (of ʼn gedetermineerde denkproses) oor die ontstaan van menslike lewe en die kontinuum waarop embrioniese en fetale lewe plaasvind? Word hierdie begrip deur tegnologiese feite omskryf of is dit gebaseer op waardebeginsels of beide tegnologiese omskrywings en waardebeginsels? Hoe word individuele verskille tussen pasiënte verteenwoordigend van verskillende kulture, individue, groepe en godsdienstige oortuigings vertolk?
  • Gevoelvolle of empatiese oordrag (compassionate transfer). Hier word die embrio’s ontvries en teruggeplaas in die vroulike pasiënt se uterus of vagina op so ʼn wyse dat verdere ontwikkeling nie plaasvind nie. Indien die embrio in die uterus oorgeplant word, word spesifieke hormone wat gebruik word om tydens die IVF-proses die kanse op ʼn swangerskap te verhoog nie toegedien nie. Die inplanting vind ook plaas op ʼn stadium in die siklus wat nie bevorderlik is vir die inplanting van embrio’s is nie.
  • Die ekstra embrio’s kan vir navorsingsdoeleindes geskenk word.
  • Dit kan vir ander potensiële ouers geskenk word.
  • Daar kan besluit word op doelbewuste ontvriesing en “abortering” van die ekstra embrio’s of om die roete van onbepaalde bevriesing te volg.

Alhoewel IVF-pasiënte waarskynlik vooraf deeglik ingelig word deur hul praktisyns in verband met die problematiek wat met die behandelingprosedure verband hou, en daar ook goeie en nuttige wenke in dié verband op webtuistes beskikbaar is, bly die risiko en realiteit van kognitiewe dissonansie by pasiënte ʼn steuringsfaktor waarmee deeglik rekening gehou behoort te word.

Bibliografie

Boyes, KS en JS Walsh. 2017. The dilemma of spare embryos after IVF success: Social workers’ role in helping clients consider disposition options. Advances in Social Work, 18(2):583–94, DOI: 10.18060/21551 (10 Maart 2018 geraadpleeg).

Du Toit, JM en AB van der Merwe. 1984. Sielkunde ʼn algemene inleiding. Pretoria: HAUM.

Kaviti Musango, J en P Currie. 2018. Cape Town’s plans for what happens after day zero just won’t work. This is why. The Conversation, 1 Maart.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top