
...
Dis nie bloot die herlewing van ’n geliefde teaterikoon nie, maar ’n geleentheid om vir ’n hele aand die buitewêreld uit te sluit in ’n magiese wonderwêreld van spieëls en vere en maskers en kostuums, terwyl wêreldbekende akrobate hul toertjies hoog bo jou lewer en operadivas en goëlaars jou verlei.
...
Die kontessa van towerkrag en magie is terug in die Moederstad. Ek moet van die begin af erken dat ek dalk die verkeerde persoon is om ’n kritiese resensie oor Madame Zingara te skryf. Ons is sedert die oorspronklike restaurant meer as 25 jaar gelede in Kaapstad geopen het, groot aanhangers.
Dit was meer as ’n plek om te eet, hoewel die chilli-chocolate steak gou die fynproewers se tonge aan die brand gehad het – letterlik en figuurlik. Dit was boheemse drama en teater onder een dak. Daar was baie teen die mure, op die tafel en uit die dak om na te kyk. Baie om jou aandag gevange te hou sonder dat jy besef hoe lank jy vir kos of diens of drankies wag. Dit was ’n aand uit; nie net ’n aand uit vir iets te ete nie. En dit was alles ekstra, pasella.
Toe die restaurant in 2006 afbrand, het ek gedink dis die einde van dié magiese – alhoewel mitiese – kontessa.
Toe die eerste tent ’n paar jaar later onder die snelweë van die Kaapstadse hawefront haar fluweelgordyne vir gehore lig, was ek in my element.
Na ’n dekade se stilte is Madame Zingara triomfantelik terug met La Dolce Royal, wat by Century City aangebied word. Dis nie bloot die herlewing van ’n geliefde teaterikoon nie, maar ’n geleentheid om vir ’n hele aand die buitewêreld uit te sluit in ’n magiese wonderwêreld van spieëls en vere en maskers en kostuums, terwyl wêreldbekende akrobate hul toertjies hoog bo jou lewer en operadivas en goëlaars jou verlei.
Craig Leo, een van Suid-Afrika se teateralchemiste, blaas weer lewe in die mitiese Royal Countess Zingara. Hy word bygestaan deur mede-regisseur, Valentina Leo, en kreatiewe direkteur, Richard Griffin – die man wat destyds die mitiese kontessa vanuit sy verbeelding na Kaapstad gebring het. Saam met ’n internasionale ensemble van kunstenaars, skep hulle ’n wêreld so magies soos Alice se ondergrondse wonderwêreld wat terselfdertyd nostalgies en nuut voel: ’n plek waar ou Zingara-towerkrag wals met iets uit jou kinderdae-fassinasie met die sirkus en sweefstokke en leeutemmers.
La Dolce Royal kom nie as ’n vertoning nie, maar as ’n ontwaking: ’n kollektiewe herinnering aan hoe dit voel om weer te glo in wêrelde waar die absurde skoonheid en goëlery hande neem met soepelheid en teater.
Alles gebeur in die pragtige Vlaamse spiegeltent. (Lees meer hieroor op Voertaal.)
Die aand se begeleier, of gids, wat jou deur die klein deurtjie lei, is Timekeeper (Andile Magxaki), ’n charismatiese teenwoordigheid wat orde gee aan die droom waarin die aand ontaard het, sonder om jou enigsins – soos Alice se wit haas met sy sakhorlosie – oor die tyd te laat wonder.
Die gehoor word “Zingarians” genoem en gemaan om hul fone weg te sit, hul ore te spits en ten volle teenwoordig te wees. Sommige gehoorlede het hul gesigte keurig laat verf; ander het deel van die magie geword deur kostuums en maskers en pruike te huur. Dis beslis nie net die kunstenaars en kelners wat oorgegee het aan die kontessa se towerkrag nie!
Terwyl gehoorlede by die tafels plek neem, sit die Courvoisier-hofnar (Byron Pietersen) soos ’n ware ryk markies in sy vergulde stoel en bekyk die gehoor van agter sy masker. Maak nie saak hoe bedrywig dit om hom raak nie, hy sit ongestoord.
Die vertoning begin met die Wenende Vrou (Jenny le Roux) wie se “Prayer to the world” ’n rou emosionele toon aanslaan, voordat haar smart plek maak vir asembenewende vervoering.

Die Clorettes
Die Clorettes-sangers, Andrea Anthony, Edith Plaatjies, Brandon Jonathan, Naz Abrahams, wat liedjies van Glenn Swart sing, is ’n kykie in die blues en jazz van die suide van Amerika se gloriedae.

Die Oekraïense tweeling Mykola en Andrii Pysiura
Musikaal en visueel bereik die vertoning besondere hoogtes. Megan Spencer se operastem styg majestueus bo die tent uit, terwyl die Oekraïense tweeling Mykola en Andrii Pysiura se waaghalsige balanstoertjies al oe-end en aa-end deur die gehoor gevolg word.
Lunga Buthelezi wat haarself soos ’n luislang om haar eie lyf wriemel, laat gehore snak.
Dan kom staan Tatiana Babiy op die verhoog en met groot presisie laat sy een veer op palmtakke balanseer. Vir ’n hele ruk is dit doodstil in die tent. Haar konsentrasie sleur die skare in stilte mee en dié balanseertoertjie voeg ’n brose meditatiewe kwaliteit tot die aand.
Buite wag die reuse-sementorakel waarin jy klein papiertjies met gebede op kan sit. Dit word later die aand aan die gehoor voorgelees. Klein gebede vir wêreldvrede, liefde en genade. Dalk om hierdie magiese gevoel met die wêreld te deel.

Rola Bola
Axel Perez se Rola Bola – hoog bo in die lug op ’n hemelhoë tafel – laat hou die gehoor asem op terwyl hy op onmoontlike maniere op silinders balanseer, maar hierdie gebore vermaker weet hoe om ons uit sy hand te laat eet.
Tussendeur dra kelners – wat saamsing en lag en skerts, in kostuums wat wissel van polisie-uniforms en dié van ringmeesters en bikers; ballerinas en skoonmakers met babapoppe op hul rûe; tot feetjies met ballonne wat agter hulle aan dartel – drankies en kos aan.
Af en toe is daar ’n ander gasheer, Kevin Ellis, wat met sy kleurryke kostuums tussen die tafels beweeg, skeutjies tequila in ywerige kele afgooi, grappies maak of geselsies aanknoop.
Teen die derde bedryf word die aand se Cirque du Soleil-gevoel op sy hoogtepunt gevoer: Die Argentynse duo Juan Pablo Palacios en Victoria Perez Iacono se akrobatiese toertjies laat jou asemloos, hande-voor-die-oë kyk, maar alte bang jy mis iets.
Hierdie produksie is ’n liefdesbrief aan die menslike gees en die vermoë om vir ’n wyle weer soos ’n kind aan towerkrag te glo – ongeag hoe stormagtig die lewe daarbuite tans is.
La Dolce Royal herinner ons nie net aan Madame Zingara se nalatenskap nie; dit bevestig haar noodsaaklikheid. In ’n tyd van sinisme en haas bied die kontessa en haar helpers iets skaars: die vermoë om jou te laat voel dat tyd tydelik stilstaan.
- Madame Zingara – La Dolce Royal
- Tent: Spiegelpaleis, deur Rik Klessens en sy span
- Kreatiewe regisseur: Richard Griffin
- Kunsregisseurs: Craig Leo en Valentina Leo
- Die Clorettes-sangers: Andrea Anthony, Edith Plaatjies, Brandon Jonathan, Naz Abrahams, met musiekverwerking deur Glenn Swart
- Ander optredes: Jenny le Roux, Megan Spencer, Andile Magxaki, Mykola en Andrii Pysiura (Oekraïne), Lunga Buthelezi, Tatiana Babiy (Oekraïne), Axel Perez (Meksiko/LA), Tara Boom, Juan Pablo Palacios en Victoria Perez Iacono (Argentinië), Kevin Ellis
- Musikale regisseur, stemafrigter en verwerkings: Glenn Swart
- Beligting: Joshua Cutts, bygestaan deur Mannie Manim
- Choreografie: Sam Kotze
- Karaktertoesighouer: Kevin Ellis
- Dinsdag tot Sondag tot Maart by Century City
- Geen o/5’s
- Die deure open saans om 18:00 en die asemrowende vertoning begin om 20:00. Kaartjies kos van R1 290 per persoon en sluit ’n welkomdrankie, viergang-maaltyd en vertoning in. Daar is privaat sitkamers, die Aperoltuin en die Royal Balconies en ander spesiale BBP-ervarings beskikbaar. Bespreek by www.zingara.co.za, boxoffice@zingara.co.za of 021 891 0448.
Foto’s: verskaf
Lees ook:
Die gravin is terug in al haar glorie in ’n Vlaamse spiegeltent

