Die komplekse Emily Dickinson: ’n bespreking

  • 2

Die komplekse Emily Dickinson
Met spesifieke verwysing na haar liefdeslewe

My lewenslange betrokkenheid by die poësie van Emily Dickinson

In 1962 het ek my tesis vir die meestersgraad “Die bewerende en beeldende vers by Elisabeth Eybers” onder die studieleiding van DJ Opperman geskryf, terwyl sy grootste belangstelling as my mentor in eerste instansie in my digterskap was. Met die oog op my eie verse het Opperman my onder meer aangeraai om die poësie van Emily Dickinson te lees. Ek het ’n bundel van haar by die universiteitsbiblioteek uitgeneem en was verbyster deur haar gedigte waarvan ek aanvanklik niks verstaan het nie. Deur my MA-tesis is my aandag gevestig op die vormende invloed van Emily Dickinson op Eybers se digterskap. Die geheue is onbetroubaar en toe ek vir verheldering my MA-tesis raadpleeg, is ek verras dat ek daarin ’n vergelyking tref tussen twee gedigte van Eybers met twee tematies verwante verse van Dickinson (Spies 1963:164).

Emily Dickinson (Foto: Openbare domein)

My belangstelling in die poësie van Emily Dickinson het dus ’n prilbegin gehad en het van toe tot nou nie verflou nie, maar inteendeel deur die jare toegeneem en verdiep. Dit was in so ’n mate die geval dat ek tydens my langverlof in 1990 ’n reis na die VSA onderneem het wat in wese ’n besoek aan die New England van Emily Dickinson was. My besigtiging van die Dickinson-woning in Amherst, vandag tereg bekend as die “huis van Emily Dickinson”, was ’n hoogtepunt, maar die blywende belang van my besoek is egter die boeke oor Dickinson wat ek kon terugbring: haar versamelde gedigte, biografieë en literêr-kritiese werke oor haar poësie. Dis ’n onuitputlike bron waaruit ek nog steeds insig put in die mens en digter Emily Dickinson. Ek is deur my vriend en besondere kenner van my eie werk, Johann de Lange, geïnspireer tot ’n essay met die fokus op haar liefdesgedigte in haar groot en tematies-gevarieerde oeuvre.

Christopher Benfey (1986:28) wys op die gevaar van ’n seksistiese benadering tot Dickinson se liefdesverse wat kan lei tot grootlikse spekulasie oor moontlike minnaars. In haar lywige biografie Emily Dickinson (1988) skryf Cynthia Griffin Wolff insiggewend in haar derde hoofstuk “Love and the love poetry” oor Dickinson se liefdespoësie wat behoort tot die laat 1850’s en vroeë 1860’s. Naas die eerste onderafdeling oor “The language of love” skryf sy in die tweede onderafdeling oor “Love in the real world”. Sy wys daarop dat die liefdesgedigte nie idealiserend en onliggaamlik is nie, maar hartstogtelik en uitnodigend en ’n bewys van Dickinson se vermoë om passie te ervaar. Op dié manier skryf Griffin Wolff in teen die vroeëre veronderstelling dat die hoofrede vir Dickinson se skrywe van poësie ’n liefdesteleurstelling was. Sy erken nietemin die menslikheid van Dickinson se lesers se nuuskierigheid na wie die geliefde was wat die kreatiewe drif in haar ontketen het in die1860’s. Haar bewering dat as ’n onteenseglike antwoord ontbreek, dit ’n seën kan wees, is aanvegbaar. Die wesenlike verband tussen die lewe en die poësie van die digter ontneem nie die identiteit van die geliefde van betekenis nie. Hoe die geliefde – of dit nou die één of meerdere geliefdes was – in elke besondere fase van Dickinson se lewe op haar liefde gereageer het, is vervat in haar ervaring van die liefde soos wat dit in haar poëtiese oeuvre en in besonder in haar briewe uitdrukking vind (1988:385). 

Tereg spreek Benfey in sy boek oor Emily Dickinson Lives of a poet sy waardering uit vir Richard Sewall se biografie The life of Emily Dickinson wat in twee dele in 1974 verskyn het en waarvan ek die tweede druk van 1976 voor my besoek aan New England in 1990 gelees en pas herlees het met die oog op die skryf van hierdie artikel. Ek deel Benfey se waardering vir Sewall se biografie volkome waar hy op onbetwyfelbare gronde sê: “One reason Sewell’s biography is so huge is that he is honest, scrupulous, and skeptical; where an event admits of several interpretations, he discusses them all” (1986:22). By my skrywe oor die belangrikste aanspraakmakers op Dickinson se liefde in erotiese sin is my onmisbare bron in ooreenstemming met Benfey Richard Sewell se tweedelige biografie (1976). In navolging van Sewell konsentreer ek in my ondersoek na haar erotiese liefdeservarings in eerste instansie op hoe dit tot uitdrukking kom in haar briewe as betekenisvolle komponent van haar literêre oeuvre.

’n Vrou van vlees en bloed: lewe versus kluisenaarskap

’n Digter lees vanselfsprekend die werk van ander digters en die poësie van Emily Dickinson is deel van my konstante leesstof. Deur die kreatiewe werking van die menslike gees is ek, naas meerdere verse oor haar en enkele vertalings van haar gedigte in my oeuvre, onlangs weer geïnspireer tot ’n gedig oor haar, “Die onbekende van Amherst”. Ek het oudergewoonte dié gedig gestuur aan die digter Johann de Lange, benewens vriend, geesverwant en kenner van my poësie en eweneens ’n groot liefhebber van Dickinson. Die verwysing na die bespiegeling oor die identiteit van Emily Dickinson se moontlike geliefde in die slotstrofe het tussen my en De Lange ’n gesprek geïnisieer wat ook in die Amerikaanse literêre kritiek en geskiedskrywing ter sprake kom, nl. ’n soeke na wie die geliefde was. Ook ek was gedrewe op dié soektog, maar binne die groter konteks van die menseverhoudings wat diep op haar lewe ingegryp en van haar belangrikste werk, briewe en gedigte, gegenereer het. 

My gedig wat die gesprek tussen my en Johann de Lange geïnisieer het en die impuls is vir hierdie artikel, haal ek in sy geheel aan:

Die onbekende van Amherst
I thought that nature was enough
Till Human nature came

Die God in wie Emily Dickinson
nie kon glo nie was vir haar
die Despoot wat Moses vanaf Nebo
die beloofde land gewys het
en hom belet het om dit in te gaan.

New England was haar Kanaän
en een somer het sy gesê
dat as God toe haar tuin kon sien,
Hy sy hemel oorbodig sou geag het.

Maar alles in sy skepping wat aards is
van die grootse tot die geringste
– die sonsopkoms en die vuurvliegie –
het sy in haar liefde omvat
en die huis en die werf van haar vader
 – omring deur die heuwels van Amherst –
wat sy later nie meer verlaat het nie
was groot genoeg vir dié omarming
en daarvoor het sy haar sintuie
daagliks wyd oop gemaak
om oor wat aan haar toevertrou is
haar brief aan die wêreld te skryf.

Vervoer deur haar eenmalige stem
– in sy eiesinnige toonaard –
weet ons sy was geen kluisenaar,
maar ’n vrou van vlees en bloed
in wie op dertig – aan haar skryftafeltjie gekluister –
snags ’n vloed van verse ontketen is,
maar wie die onmiskenbare beminde
in gestalte van die muse was,
bly in veranderende tye se kwistige bespiegeling
die onteenseglike antwoord uit.

Johann de Lange het in teenstelling met die slotreëls van my gedig volkome gelyk dat daar oor die minnaar(s)/minnaresse van Dickinson nie net bespiegel word nie, maar oortuigende getuienis bestaan. Vir my uitgebreide navorsing oor die identiteit van diegene wat Emily se erotiese liefde, beantwoord of onbeantwoord, gewek het soos dit neerslag vind in hierdie artikel dank ek heelhartig aan hom. Dit geld veral een minnares, Susan Gilbert, die latere skoonsuster van Dickinson deur haar huwelik met Emily se broer Austin. Emily se intieme verhouding met Susan dateer van voor Austin se huwelik met haar. Met dié huwelik is Susan opgeneem in die intieme binnekring van die Dickinsons en Benfey konstateer: “Emily’s brother Austin married her best friend Susan Gilbert in 1856; at the time it was hard to tell whether brother or sister was more in love with her” (1986:23; my kursivering).

Waar Benfey die vooroordele by biograwe oor Emily Dickinson ter sprake bring, verwys hy spesifiek na ’n gesentimentaliseerde, wyd-verspreide beeld van haar wat grootliks teruggevoer kan word na Susan se dogter, haar niggie Martha Dickinson Bianchi. Sy gee in verskeie publikasies oor haar tante voor dat sy beskik oor kennis van gebeure en menseverhoudings in haar lewe waarmee ander biograwe nie bekend is nie. Benfey sê in verband met Emily se geheimsinnige minnaar wat tot ’n vroeë periode in Dickinson se lewe behoort wat haar niggie beweer dat sy weet wie dit is: “She pretended to more knowledge than she had concerning Dickinson’s mysterious lover” (1986:21). Haar veronderstelling oor ’n getroude man en sy huwelikstrou as rede vir die onvervuldheid van dié liefde is nie deur latere navorsing enigsins bevestig nie. Dit kan eenvoudig summier verwerp word.

Die “onbekende Emily Dickinson” het ’n volkome normale kindertyd gehad en is vir sekondêre onderwys na Mount Holyoke Female Seminary waar sy gepresteer het en gelukkig was, maar ná ’n jaar op is, word besluit dat van haar ouers terug is dat sy na haar ouerhuis gaan vir die res van haar lewe. Haar kontak met jongmense van haar leeftyd het behoue gebly deur haar lang geselsbriewe. Benfey haal in dié verband ’n oortuigende uitspraak van haar uit 1885 aan: “A letter is a joy of Earth – It is denied the Gods” (1986:59). Uit die onmiskenbare ooreenkoms tussen haar briewe en gedigte blyk dat Dickinson die skryf van briewe ook beskou het as ’n alternatiewe beoefening van die kuns van die woord. Die aard en inhoud van die brief berus op die verhouding tussen die skrywer en die ontvanger. Waar die ontvangers se briewe as beantwoording van Dickinson se briewe so te sê totaal ontbreek, laat dit egter ’n groot leemte in die beeldvorming van die verhoudings wat aan die grond daarvan lê. Desnietemin is Dickinson se liefdesbriewe betroubare getuienis oor die aard van die wederkerige verhoudings tussen skrywer en ontvanger.

’n Gelukkige adolessensie

Mount Holyoke in 1837 (Foto: Openbare domein)

Emily Dickinson het ’n volkome normale adolessensie aan die meisieskool Mount Holyoke gehad. Dis veelbetekenend dat Paula Bennett haar studie oor vroulike kreatiwiteit na aanleiding van die poësie van Emily Dickinson, Sylvia Plath en Adrienne Rich die titel kies uit een van Dickinson se sterkste verse oor die inherente geesteskrag van vrouwees My life a loaded gun. Die inleidende gedeelte wy Bennet aan Dickinson en soos die titel te kenne gee, gaan die eerste hoofstuk oor haar adolessensie “A New England Adolescence”. Dickinson was gelukkig in haar kort verblyf van tien maande – twee termyne – as skolier aan Mount Holyoke Female Seminary in South Hadley (Sewell 1976:358). Sy was gelukkig in die skool; geïnteresseerd in die vakke waarin sy onderrig ontvang het en op ’n goeie voet met haar onderwysers en medeskoliere. Dit is dus op die oog af onduidelik waarom haar formele skoolopvoeding so gou beëindig is toe haar ouers haar terug kom haal het huis toe.

Die rede daarvoor kon egter fundamenteel verband gehou het met die etiek wat onverbreekbaar verbonde was met die siening van die onderwyseresse van hulle beroep. Die Bybel en die Christelike dogma was die grondslag van die onderrig op elke gebied. Dit is hoogs waarskynlik dat die rede vir die vroegtydige beëindiging van Emily Dickinson se skoolloopbaan wat Sewell ook oorweeg haar opstandigheid was teen die bekeringsywer in Mount Holyoke. Dié ywer was onwillekeurig sowel aan die onderrig as aan die siening van die vrou in haar tradisionele rol as huisvrou verbonde.

Bevestiging vir dié standpunt is te vinde in Thomas H Johnson se versameling van Dickinson se briewe wat hy in rubrieke verdeel en van datums en kort insiggewende kommentaar voorsien. Oor die kort periode (1847–1848) waartydens sy op Mount Holyoke was, wys Johnson op Dickinson se aanvanklike genot in haar studies en haar vriendskap wat egter langsamerhand oorgaan in ’n geestelike gekweldheid: “The religious atmosphere of all institutions was at that time heavily charged and Emily was oppressed by it.” Johnson besluit tereg dat sy met vreugde teruggekeer het na Amherst en dat al wat sy nagelaat het uit dié periode haar briewe aan haar broer Austin en aan Abiah Root is (Johnson 1971:teenblad van bl15).

Wat vergoed het vir haar beperkte skoolopvoeding was vir die jongmense van haar tyd die skryf van briewe waarvan Sewell sê: “Indeed, letters were an important part of the self-education among these young people” (1976:370). Namate Dickinson ouer geword en steeds minder in die geselskap van ander verkeer het, was die skryf van briewe nie net onmisbaar vir kommunikasie nie, maar dit het al hoe meer die beoefening van ’n kunsvorm geword (Sewell 1976:370). Mettertyd het briefwisseling vir haar die vorm aangeneem van kommunikasie wat sy bo direkte mens tot mens kontak verkies het. Die skryf van briewe het vir haar ’n lewenswyse geword waaraan ’n sinvolle ek-jy-verhouding ten grondslag gelê het. Haar briewe was ’n ondersoek van die self en die lewe.

Emily Dickinson was een van ’n vriendekring van vyf jongmeisies, naas haar, nl Jane Humphrey, Emily Fowler Ford, Abby Wood en Abiah Root. Dit was kennelik vir Emily ’n idille om uitvoerig per brief met dié vier vriendinne te kommunikeer. Die belangrikste korrespondent in die groep volgens my soos wat Johnson bevestig, was ongetwyfeld Abiah Root. Die intimiteit van haar briewe aan Abiah het binne die konteks van haar lewe die aard van ’n voorspel tot haar latere verhouding met Susan Gilbert. Die verhouding met Susan was verreweg die intiemste in die periode 1850–1852 soos spreek uit Emily se tallose briewe aan haar wat as niks anders as liefdesbriewe beskou kan word nie. Ná haar broer Austin se huwelik met Susan het Emily se verhouding van ’n leeftyd met haar noodwendig ander aksente gekry. As bronne van haar lewe en digterskap staan ek eerstens stil by haar verhouding met Abiah voordat Susan haar belangrikste korrespondent geword het.

Emily en Abiah

In Johnson se Selected letters van 1986 is dit die briewe van Emily Dickinson aan Abiah Root wat die sterkste indruk op die leser maak. Sewall (1976:380) wys daarop dat ná ’n jaar aan die Amherst Academy Abiah die dorp verlaat het vir ’n skool nader tuis in Springfield en die kommunikasie tussen haar en Emily noodwendig per brief moes geskied. Die treffendste brief in die Selected letters is myns insiens ’n lang weldeurdagte brief wat op twee datums geskryf is, nl 7 en 17 Mei 1850. Dit het dus bewus in haar gees vorm aangeneem. Naas onderwerpe oor haar alledaagse lewe gaan dié brief oor onderwerpe wat vir Dickinson lewensbelangrik sou bly. Sy is inderdaad twintig op dié tydstip en het haar adolessensie ver agter haar gelaat.

Die besondere brief aan Abiah rig sy aan “Dear Remembered” en sy verklaar dat die omstandighede waaronder sy dié oggend skryf terselfdertyd “glansryk”, “beproewend” en “heilsaam” is. Die glansrykheid is die eindresultaat; die beproewing is die wyse waarop dit bereik word en sy vertrou die heilsaamheid kenmerk albei (Sewell 1976:38). Uit haar brief blyk dat die glorie die twee brode is wat sy gebak het. Die beproewing het betrekking op haar ma wat op die oomblik slapend op die bank lê, maar hewig ly aan “neuralgie”; “sinkings” in die volksmond (HAT). Siekte, konstateer Emily, bring verlatenheid mee, maar spreek die vertroue uit dat gesondheid en gelukkige dae weer sal kom. Inderwaarheid het Dickinson allesbehalwe ’n sterk band met haar ma gehad wat sy merk op haar gelaat het. Die speelsheid, humor en optimisme in die brief aan Abiah word toenemend verdring deur somberheid, frustrasie en neerslagtigheid.

Emily praat haar hart teenoor Abiah uit oor haar teleurstelling dat sy ’n geliefde vriend wat opgedaag het, terwyl sy die skottelgoed ná die middagete gewas het, se uitnodiging om in die woud te gaan ry, moes afwys. Sy wou so graag gaan, sy behoort te gegaan het en sy beskou dit as onregverdig dat sy moes weier. Dit was nie vir haar ’n grootse oorwinning oor ’n versoeking nie, maar ’n hulpelose anders as die wyse waarop Christus versoekings weerstaan het. In haar nadenke oor lyding in die wêreld skryf sy dat ons dwaal en nie weet hoe om uit die donker bos waarin ons beland, te kom nie. Die antwoord daarop kry sy in wat sy om haar hoor: “(W)hose is the hand to help us, and to lead, and forever guide us, they talk of a ‘Jesus of Nazareth,’ will you tell me if it be he?” Emily Dickinson het haar kennelik in ’n godsdienstige herlewing bevind, terwyl sy “een is wat talm en draal en dink en draal” en haar nie willens en wetens tot Christus bekeer nie (Johnson 1971:39).

By die hervatting van haar brief ’n week later skryf sy aan Abiah dat sy nog steeds vasgevang is in die huishouding en die koningin van die hof sou gewees het as stof en vullis die kroonsierade was. Sy konstateer dat haar ma gedeeltelik herstel het, maar nog ’n invalide is en dat haar pa en broer aandring op kos en dat sy die martelaar is wat aan hul behoeftes voldoen. Dit is die aanleiding tot haar ironiese uitspraak dat Abiah haar moes sien in die bande van wanhoop waarin sy haar in haar kombuis bevind, terwyl sy bid om verlossing. Sy vervolg: “My kitchen I think I called it, God forbid that it was, or shall be my own – God keep me from what they call households, except that bright one of ‘faith’” (1971:40). Die aanhaling van die woord “faith” verraai Dickinson se twyfel dat Abiah haar kon oortuig van haar geloof. Waaroor daar geen twyfel kan bestaan nie, is dat Emily Dickinson op twintig vas en seker geweet het dat die huishoudelike lewe nie haar roeping was nie.

Die vreemde aanhef van haar brief “Dear Remembered” impliseer dat Abiah rede kon hê om te dink dat Emily haar vergeet het. Inderwaarheid was daar op dié tydstip van hul vriendskap ’n sekere mate van spanning tussen hulle wat aan die grond van Emily se brief lê: Abiah het onder invloed van die herlewing Jesus as haar Saligmaker aangeneem; Emily nie. In sy nawoord sê Johnson: “The religious revival was of such proportions that on June 8 the Springfield Republican could report that it was still in progress. Edward Dickinson made confession of his faith and joined the church on 11 August (1971:41). Emily Dickinson het in haar godsdienstige twyfel die buitestander gebly wat haar in ’n sekere mate van haar gesin kon vervreem het, maar die bande was so sterk dat dit nooit gebeur het en daar nooit op haar druk uitgeoefen is om ’n kerklidmaat te word nie.

Die vervreemding tussen Emily en Abiah het steeds groter geword. Sewall verwys na die eerste tekens van ’n breuk deur die aanhaling van ’n brief waarin Emily verwys na die heropening van Mount Holyoke waar Abiah teenwoordig was, maar Emily slegs ’n aanloklike glimp van haar gekry het. Sy vra aan Abiah waarom sy nie by die geleentheid na haar toe gekom en met haar gepraat het nie en of ’n brief van haar Abiah nie bereik het nie, wat haar rede kon gee om verontreg te voel, maar as sy nie meer met haar bevriend wil wees nie, moet sy dit reguit sê: “(I)f you don’t want to be my friend any longer, say so, & I’ll try once more to blot you from my memory. Tell me very soon, for suspense is intolerable” (Sewall 1976:383). Daarna het die vriendskap met onverminderde toegeneentheid voortgegaan, maar algaande het die tye tussen die wisseling van briewe langer geword totdat dit in 1854 summier tot ’n einde gekom het. Die rede vir die beëindiging van die Emily-Abiah-verhouding was wedersyds. In geval van albei het dit saamgehang met die respektiewelike verloop van albei se onderskeie lewens.

Johnson karakteriseer die periode 1851–1854 as ’n tydperk van ingrypende veranderinge in die Dickinsons se gesinslewe. Die veranderinge het ook omwentelings meegebring in Emily se gemoed en menseverhoudings. In haar briefwisseling met haar geliefde broer Austin toe hy onderwyser was in Boston en tydens sy studie in die regte aan Harvard het Emily die daaglikse intimiteit van hulle gesinslewe konstant aan hom voorgehou. Austin se verhouding met Susan het daartoe bygedra dat sy die mees prominente vriendin in Emily se lewe in die vroeë 1850’s geword het. Dis ironies dat in haar laaste brief aan Abiah omstreeks 25 Julie 1854 Emily oënskynlik aan Abiah skryf, terwyl die dominansie van Susan in haar lewe sentraal is in die brief.

 Anders as in haar brief van 17 Mei 1850 betrek sy Abiah nie by wat sy doen en voel nie. Waaroor sy uitgebreid skryf, is Susan se siekte; die senuweespanning waaraan sy die laaste paar weke gely het, die getroue dokter, haar waaksame suster. Emily sluit jubelend af deur te vertel dat toe sy Susan die Saterdag besoek het, “daar ’n helder-kleurige ruiker op die kaggelrak gestaan het en Susie uitgeput deur die rangskikking van die blomme in ’n gemakstoel gesit het”. Dit lyk vanselfsprekend dat Emily haarself oor dié uitvoerige lofsang oor Susan moes verontskuldig: “I make my story long, but I knew you loved Susie – Abiah, and I thought her mishaps, quite as well as her brighter fortunes, would interest you” (Johnson 1971:118). Dis onwaarskynlik dat Susan se wedervarings Abiah geïnteresseer het, want dié brief aan haar was die einde van haar en Dickinson se korrespondensie en vriendskap. Abiah is later in 1854 met dominee Samuel W. Strong van Westfield getroud. Die paaie van ’n godsdienstige twyfelaar en ’n domineesvrou moes noodwendig uitmekaar loop.

Emily en Susan

Susan Gilbert (Foto: Openbare domein)

Emily Dickinson se briewe aan Susan Gilbert in die periode 1850–1854 word gekenmerk deur die romantisering van Susan en van hulle vriendskap. Sewell sê daaroor: “(T)he letters to Sue, even discounting the romantic style then in fashion and her own flair for rhetoric, are nothing less than love letters” (1976:163; my kursivering). Dié briewe laat geen twyfel oor die erotiese inslag daarvan nie soos wat Paula Bennett illustreer met die aanhaling van ’n brief van Emily aan die afwesige Susan in Junie 1852:

Susie will you indeed come home next Saturday, and be my own again, and kiss me as you used to? … I hope for you so much, and feel so eager for you … that the expectation once more to see your face again, makes me feel hot and feverish … (1990:31).

Wat Susan teruggeskryf het, is onbekend. Net twee van haar briewe het bewaar gebly en dateer uit die vroeë-1860’s toe tyd en omstandighede onwillekeurig ’n afname in intimiteit van hul vriendskap veroorsaak het. Nogtans moes die romantiese toonaard van Emily se vroeë briewe in ’n sekere mate ook Susan se briewe gekenmerk het. Dit kon die aanleiding gewees dat Emily in ’n brief aan Susan skryf dat hulle hulleself kan verheug oor die eksklusiwiteit van hul vriendskap “with the fancy that we are the only poets, and everyone else is prose (Bennett:31, 32). 

Die retorika roep by Sewell die tersaaklike vraag op na wat agter die retoriek van die vroeë briewe lê: “What did Sue really mean to Emily?” (1976:163). Hy sê tereg dat sy vir Dickinson veel beteken het, veral waar haar jeugvriendskappe tot die verlede behoort het namate haar vriendinne van haar vervreem en in die huwelik getree het. Sewell konstateer dat Emily gevoel het Austin en Susan as haar bure en haar suster Lavinia – met wie sy die ouerhuis gedeel het – voorsien ruimskoots in haar behoefte aan geselskap en sosiale verkeer: “As she looked forward to Austin’s marriage, she saw Sue as her second sister, living only a hedge away. Discussions of life and love and literature go on endlessly as they had begun in letters” (1976:163).

By alle waardering vir Sewell as sensitiewe vakkundige, skryf Bennett oortuigend in teen sy siening dat Emily haar met Austin se verlowing aan Susan reeds verheug het oor sy toekomstige huwelik met haar en dat hulle bure sou wees. Bennett haal uitvoerig aan uit ’n brief van Emily aan Austin waarin sy kennis neem van sy aflê van sy ongetroude staat en inderdaad met onmiskenbare ironie beweer dat sy “verlig is om te hoor dat hy Kanaän binnegegaan het” (1990:34). Bennett konstateer dat wat egter veral haar gramskap gewek het, die gedig is wat hy kennelik by die brief ingesluit het en waardeur hy volgens haar op haar terrein oortree het. Dit blyk uit haar skrywe dat hy nie kon geweet het dat sy ook verse skryf nie, dus is haar verwyt gerig daarop dat hy Susan van haar wegneem. Met verwysing daarna is haar toon inderdaad in die woorde van Bennett “bitter en sinies” (1990:34):

And Austin is a Poet. Austin writes a psalm. Out of the way Pegasus …

Now Brother Pegasus, I’ll tell you what it is – I’ve been in the habit myself of writing some things, and it rather appears to me that you ’re getting away my patent, so you’d better be somewhat careful, or I’ll call the police! (1990:35).

Dickinson verklaar onomwonde dat sy reg op Susan as haar vriendin en muse het. Dié uitspraak druis in teen haar wete van die verhouding tussen haar broer en Susan waartydens sy selfs sy liefdesbriewe geadresseer het ter wille van die behoud van privaatheid. Vir Emily was haar bestemming dié van ’n vrouedigter waarvan sy Susan ’n deelgenoot wou maak, maar vir Susan was dit nie die aangewese weg nie. Sy was meer afhanklik van sosiale goedkeuring en nie finansieel selfonderhoudend nie. Aan die einde van haar tersaaklik brief aan Austin erken Emily openlik dat sy in hulle mededinging die onderspit gedelf het en bevestig hulle verbondenheid aan mekaar en gemeenskaplike liefde vir Susan:

Dear Austin, I am keen, but you are a good deal keener, I am something of a fox, but you are more of a hound! I guess we are very good friends tho’, and I guess we both love Sue just as well as we can (Bennett 1990:34, 35).

Austin sou dit nie vreemd gevind het dat Emily haar liefde vir Susan in ooreenstemming met sy liefde vir haar uitgespreek het nie. Romantiese verbintenisse tussen meisies is in dié periode nie as patologies beskou nie, dus ook nie die eksklusiwiteit en intensiteit van Emily se liefde vir Susan nie (Bennett 1990:272; nota 21). Sewell verklaar dat dit onwaarskynlik is dat Susan met dieselfde passie as Emily haar briewe beantwoord het: “It is hard to believe that Sue responded to Emily’s fervor in kind; the likelihood is that she was repelled by it or, at the very least, found it too demanding” (1976:165).

Austin se hofmakery het lank geduur. In 1854 het Susan aan haar broer geskryf dat Austin verwag dat hulle in die op hande herfs in die huwelik sal tree. Die hoofrede dat dit nie gebeur het nie, was die voltooiing van die naburige huis as hulle toekomstige woning, die Evergreens, nietemin het die huwelik drie jaar ná hul verlowing eers in 1856 plaasgevind (Sewall 1976:113). Daar was kennelik geen gedrewenheid by een van die twee verloofdes om die huweliksband te lê nie en toe dit wel gebeur, het dit ’n huwelik ingelei wat ontdaan was van sterk passie en het dit in die kortste tyd ’n ongelukkige verbintenis geword. Vroeg in September 1854 het Emily aan Susan geskryf oor die breuk tussen hulle in die veranderde omstandighede. Dié brief is in dieselfde trant geskryf as die afsê-brief aan Abiah. Sy begin onomwonde by die punt waaroor dit gaan en sluit af met die besef van die finaliteit van die onvermybare beëindiging van hulle verhouding op dié tydstip: “Sue – you can go or stay – There is but one alternative – We differ often lately, and this must be the last…Sue – I have lived by this. It is the lingering emblem of the Heaven I once dreamed, and though this is taken, I shall remain alone, and though in the last day, the Jesus Christ you love, remark he does not know me – there is a darker spirit will not disown it’s child… We have walked pleasantly – Perhaps this is the point at which our paths diverge – then pass on singing Sue, and up the distant hill I journey on” (Sewell 1976:165).

Ná haar huwelik het Susan as gasvrou opgegaan in ’n bedrywige sosiale lewe, terwyl Emily in haar toenemende onttrekking uit die samelewing uiteraard nie daarin kon deel nie. Nogtans het Emily se intieme band met Austin gebly en het sy inniglik betrokke geraak by die drie kinders uit sy en Sue se huwelik; by Ned, die oudste, in ’n mindere mate by Mattie, die dogter, en veral by die jongste, Gilbert. Die dood van Gilbert op 5 Oktober 1883 aan tifus, ’n skamele twee maande na sy negende verjaarsdag op 1 Augustus, was ’n smartlike verlies vir die hele familie. Met sy dood was dit die eerste keer in vyftien jaar dat Emily weer by die Evergreens gekom het en van die verlies van Gilbert het sy nooit volkome herstel nie. Dit het in die maande daarop gelei tot die skrywe van die innigste briewe van Emily aan Susan sedert hulle jeug. Een daarvan beskou Sewell tereg as “miskien die mooiste wat sy ooit aan enigiemand geskryf het” (1976:204). Dis ’n brief waarin sy Gilbert oproep sonder om te verwys na Susan se pyn en verdriet. Sy sluit dié brief af met die volgende kwatryn:

Pass to thy Rendezvous of Light,
Pangless except for us –
Who slowly ford the Mystery
Which thou hast leaped across!
(Sewell 1976:205)

Anders as Sewell vind ek dit nie vreemd dat moeder en tante nie mekaar se smart kon deel en versag oor Gilbert se dood nie. Vir ’n mens se diepste emosionele pyn het jy nie woorde nie; daarin is die mens op sy eensaamste. Nogtans het ná Gilbert se dood die band tussen Susan en Emily heg gebly tot en met Emily se oorlye in 1886. Dit is in stand gehou deur briefwisseling al was hulle net ’n heining van mekaar verwyder. Hulle het boeke bespreek en uitgeruil waarvan Susan sommige ook aan Emily present gegee het. Tereg konstateer Sewell dat Susan Emily se horison verbreed en ’n wesenlike deel aan haar vorming gehad het. Emily het haar erkentlikheid daarvoor teenoor Susan met kenmerkende dubbelsinnigheid bevestig: “ ‘With the exception of Shakespeare, you have told me more knowledge than any one living. To say that sincerely is strange praise’ ” (Sewell 1976:199). Wat nie ongesê kan bly nie is dat Emily ook aan Susan van haar verse gestuur het waarop sy geantwoord het. Van Susan het net haar kommentaar op die twee variante van één enkele gedig “Safe in their Alabaster Chambers” behoue gebly. In ’n nota aan Emily het sy haar waardering vir die gedig uitgespreek, maar met voorbehoud. Van haar kritiek op die slotstrofe het Dickinson erns gemaak met ’n alternatiewe slotstrofe. Johnson (1961:26) neem albei variante op in sy keur:

Safe in their Alabaster Chambers –
Untouched by Morning
And untouched by Noon –
Sleep the meek members of the Resurrection –
Rafter of satin
And Roof of stone.

Light laughs the breeze
In her Castle above them –
Babbles the bee in the stolid Ear,
Pipe the Sweet Birds in ignorant cadence –
Ah, what sagacity perished here!
(1859)

Safe in their Alabaster Chambers –
Untouched by Morning –
And untouched by Noon –
Lie the meek members of the Resurrection –
Rafter of Satin – and Roof of Stone!

Gone go the Years – in the Crescent – above them –
Worlds scoop their Arcs –
And Firmaments – row –
Diadems – drop – and Doges – surrender –
Soundless as dots – on a Disc of Snow –
(1861)

Sewell spreek sy waardering uit vir wat hy beskou as Sue se skerpsinnige lees van die twee variante waardeur hy haar as ’n mentor met ’n sekere statuur vir Emily identifiseer(1976:201). In sy boek oor Dickinson The only kangaroo among the beauty skryf Karl Keller direk in teen Sewell se waardering van Susan se mentorskap. Hy wys tereg in die tersaaklike gedig op die bewuste cliché’s van die eerste strofe en die soetlike toon daarvan in teenstelling met die suggestie van nihilisme in die tweede strofe (1980:191). Dit vra om kortliks analities bespreek te word om die tekortkoming van Sue se mentorskap aan die kaak te stel. In die eerste strofe rus die lidmate van die opstanding nog ondergronds in hul kiste, terwyl die bries “lag” in sy “lugkasteel”, die by “babbel” vir ’n dowe oor en die “liewe voëls” onwetend hul “kadanse” “fluit”. Die onbewuste volle natuurlewe kontrasteer Dickinson met die doodslaap van die gestorwenes; ’n voor die hand liggende kontras wat Sue misgekyk het, terwyl kontras en paradoks ’n essensiële kenmerk van die poësie is. Om Sue te plesier het Emily twee ander slotstrofes geskryf wat Johnson tereg nie gepubliseer het nie. Sy wou kennelik gehad het dat Sue van haar verse moes hou, al moes sy tot die besef gekom het dat sy as mentor ’n sekere gebrek aan begrip daarvoor gehad het. Die einde van Susan se mentorskap het die afsluiting van Emily Dickinson se adolessensie en haar geboorte as digter verteenwoordig.

Emily en Samuel Bowles

Samuel Bowles (Foto: Openbare domein)

Ná die verlies van Susan as ’n mentor het Emily Dickinson in haar middel-twintigerjare die noodsaak van een wesenlik gevoel. ’n Voor die hand liggende kandidaat vir dié rol was Samuel Bowles, die energieke, ekstroverte redakteur van die Springfield Republican, ’n huisvriend van die familie Dickinson, in besonder van Austin en Sue. Hy was veral aangetrokke tot Sue soos tot alle intelligente vroue. Hy het ook in besonder die platoniese vriendskap met ongetroude, intelligente vroue stimulerend gevind en sy grootse vriendskap was met Maria Whitney, ’n voormalige dosent in tale aan Smith College (Sewell 1976:471).

Uiteraard het Emily ook tot dié kategorie van Bowles se intieme vriendinne behoort en was hy ’n gereelde besoeker by haar aan huis. Maar soos in die algemeen in haar kluisenaarskap het sy hoofsaaklik in briewe op kenmerkende ekstroverte wyse oor haar diep menslike ervarings en emosies met hom gekommunikeer. Oor die omvang en aard van die briewe wys Sewell op haar gebrek aan oordeel om deel te wou word van Bowles se gekompliseerde en besige lewe. Vyf-en-dertig van Dickinson se briewe en ongeveer vyftig gedigte aan hom het behoue gebly (Sewell 1976:473). Twee episodes van sy besoeke aan haar was die gevolg van haar vreemde onttrekking toe hy Amherst ná ’n ruskuur besoek het en sy geweier het om hom te sien. Een daarvan het aanleiding gegee tot ’n vermaaklike insident wat insiggewend is vir begrip van Emily se gevoelens vir Bowles.

In haar brief van verskoning oor dié weiering spreek sy haar blydskap uit oor sy terugkeer wat vir haar “beter is as ’n somer en om sy stem op die onderste verdieping van die huis te hoor, beter as enige voëlsang” (Sewell 1976:494). Die rede skryf Sewell toe aan oorweldigende emosie en ’n onstuimige gemoed: “She may indeed not have trusted herself ” (Sewell 1976:495). Sy verseker hom in haar verskonende brief sonder verduidelikings dat sy hom wel wou sien en spreek die hoop uit dat hy dikwels Amherst toe sal kom (Sewell 1976:495). By ’n tweede besoek in waarskynlik 1877 het sy weer eens eers op die boonste verdieping gebly en geweier om af te kom en het hy boontoe gebulder: “Emily, you damned rascal! No more of this nonsense! I traveled all the way to Springfield to see you. Come down at once” (Sewell 1976:510). Sy skryf daarna ’n verskonende brief waarvan die slot lui:

I went to the Room as soon as you left to confirm your presence – recalling the Psalmist sonnet to God beginning:

I have no Life but this –
To lead it here –
Nor any Death – but lest
Dispelled from there –
Not tie to Earth to come –
Nor Action new
Except through this extent
The love of you.

It is strange that the intangible thing is the most adhesive.

Your ‘Rascal’
I washed the Adjective.

Sewell, synde die skitterende biograaf wat hy is, verwys na ’n ongepubliseerde variant van dié brief waarop die laaste reël van die gedig lees ‘The loving you’” (1976:511). Indien hierdie brief aan Bowles, veral deur die weggelate reël in die oorspronklike weergawe, nie ’n liefdesbrief is nie weet ek kennelik nie wat ’n liefdesbrief is nie. Tereg sê Sewell dat Emily die insig moes gehad het dat Samuel Bowles buite haar bereik was as minnaar, maar dat die hart sy redes het waaroor rede nie beheer het nie. Sewell besluit oor Emily se liefde vir Bowles: “(S)he was deeply in love with him for several years and never ceased loving him, at a distance, for the rest of her life” (1976:473). Sy was op haar beurt ook as digter buite sy bereik deur sy onbegrip vir poësie wat op metaforiese wyse die digter se bedoeling verwoord. Waar Emily in haar religieuse verse geobsedeer was met wat sy die “flood subject” genoem het, nl. die opstanding (“resurrection”), het Bowles ’n praktiese ingesteldheid op die godsdiens gehad. Ook wat betref Emily Dickinson se grootste gedrewenheid in haar vriendskap met Bowles as redakteur van die Springfield Republican om haar gedigte te publiseer, het hy haar tot haar bittere teleurstelling gefaal.

Emily en Helen Fiske Hunt Jackson

In sy belangrike studie oor Emily Dickinson The only Kangaroo among the beauty skryf Karl Keller onder meer oor haar vriendskap met die vrouedigter Helen Fiske wat ook van Amherst afkomstig was en in die laat-1860’s daarheen teruggekeer het. Waarskynlik onder invloed van Bowles het Emily haar Verses (1870) gelees en onder sy invloed haar hooggeag. Dickinson het soos gebruiklik deur briefwisseling tussen 1868 en 1875 probeer om Helen Jackson intiem te bevriend en desondanks nie haar gedigte aan haar toevertrou vir publikasie nie. Die voor die hand liggende rede was dat sy kennelik nie haar verse verstaan het nie (1979:206). Sonder Dickinson se toestemming het Jackson nietemin ’n gedig van haar in ’n bloemlesing A masque of poets (1875) opgeneem.

Helen Jackson was ’n tipiese naïewe leser. Sy was dikwels verbyster deur Dickinson se verse soos blyk uit ’n paragraaf van ’n brief aan haar: “This morning I have read over again the last verses you sent me: I find them more clear than I thought they were. Part of the dimness must have been in me. Yet I have others which I like better. I like your simplest and (most direct) lines best” (1979:208; my kursivering).

Emily Dickinson het weer van haar verse aan Helen Jackson gestuur, maar haar versoek om direktheid geïgnoreer (1979:208–9). Dié versoek openbaar Jackson se gebrek aan insig in die essensiële aard van poësie wat in sy gedrongenheid betekenis deur suggestie oordra; die sterkste deur metaforiese uitdrukking. Jackson se onbegrip van Emily Dickinson se verse is voorafgegaan deur haar rampspoedige vriendskap met Thomas Wentworth Higginson.

Op sy uitnodiging aan jong aspirantdigters in The Atlantic Republican van April 1862, “Letter to a Young Contributor” om hulle gedigte aan hom te stuur, het sy aan hom geskryf. In hul lang daarop volgende korrespondensie het sy haar, helaas, in nog groter onbegrip as by Helen Jackson vasgeloop. Dié korrespondensie het sy volgehou, maar geweier om ’n kompromis met Higginson aan te gaan en gewys op die ononderhandelbare metaforiese aard van haar poësie as die bewuste bedoeling daarvan vir haar lesers: “‘There’s a noiseless noise in the Orchard – that I let persons hear’” (1979:217). Sy was oortuig van die aard van haar digterskap en dit was vir haar ononderhandelbaar soos wat sy dit onomwonde aan hom gestel het:

Perhaps you smile at me. I could not stop for that – My Business is Circumference – An ignorance, not of Customs, but if caught with the Dawn – or the Sunset see me – I am Myself the Kangaroo among the Beauty. (1979:217)

Emily en Otis Phillips Lord

Otis Phillips Lord (Foto: Openbare domein)

Emily Dickinson se liefde vir Susan in hulle puberteit het ’n sterk erotiese dimensie gehad wat ná Susan se huwelik met Austin noodwendig oorgegaan het in lewenslange geesverwantskap binne hulle familieverbintenis. Susan was ná haar huwelik onbereikbaar as minnares soos Samuel Bowles as minnaar in sy huwelikslewe. Dit laat by my geen twyfel oor Emily Dickinson se seksuele oriëntasie as biseksueel nie. Maar tereg beklemtoon Sewell dat die waarde van Dickinson se werk in die geskrewe teks, gedigte en briewe, lê, maar voeg nietemin tereg by: “Perhaps it was the woman in her, perhaps it was simply a basic human need, but all her life Emily Dickinson needed an object, a person on whom she could focus her creative powers” (1976:642). Die verhoudingslewe van ’n digter in al sy variëteite moet dus volgens hom wel in die beoordeling van sy/ haar werk in aanmerking geneem, maar nie oorskat word nie. Hy wys daarop dat Emily se suster Lavinia sonder om die sin van haar opmerking ten volle te deurgrond gesê het “that Emily was always on the lookout for the ‘the rewarding person’” (1976:642).

Die tragiek van haar liefdeslewe was dat soos Bowles veral ’n toegeneentheid gehad het vir Susan soos vir Maria Whitney, sy spesiale vriendin, ’n huisgenoot van hom en sy vrou, en dus vir Emily onbereikbaar. Dit is dus merkwaardig dat in die laaste fase van haar lewe daar wel ’n man vir Emily bereikbaar was; merkwaardig omdat sy aard en statuur binne die samelewing teen ’n liefdesverhouding met Emily Dickinson ingedruis het (Sewell 1976:643). Lord het aan Amherstkollege gegradueer, aan Harvard studeer en ná sy huwelik met Elizabeth Farley na Salem verhuis waar hulle as kinderlose egpaar vir die res van hulle lewe gewoon het. Hy is op 9 Oktober 1843 met haar getroud toe sy 29 en hy 31 was, dus vir dié tyd taamlik laat. Elizabeth is in 1877 op drie-en-sestigjarige leeftyd oorlede.

As onverbiddelike streng regter was Lord ’n groot vriend van Edward Dickinson met dieselfde temperament en het hy Amherst dikwels besoek as gas van die Dickinsons. Op die oog af kan die liefdesverhouding tussen Emily en Lord nie anders as vreemd aandoen nie, maar sy ooreenkomstige aard met haar vader verklaar dit myns insiens onomwonde. Sy het as dogter ook haar vader se humor en liefde geken. In ’n sekere sin, gesien haar slegte verhouding met haar moeder, was Emily Dickinson ’n vadersdogter. Ná Lord se dood op 14 Maart 1884 het die Boston Transcript hom geëer vir sy ignorering van ontersaaklike hoflikhede as dit regspraak vertraag het en sy “robust common sense”. “Like him or dislike him, they all agreed on his power and his authority. This was the man whom Emily Dickinson in her late forties, called ‘My lovely Salem’, ‘my Darling’ , ‘My Sweet One, My Church’" (Sewell 1976:648).

Dit is opvallend dat Emily in haar briewe aan Lord nie haar digterskap ter sprake bring nie: “Nowhere in the letters or fragments does she speak of poetry, or the writing of poetry, or of herself as a poet” (Sewell 1976:660) Dat haar digterskap in haar briewe nooit ter sprake gekom het nie, is waarskynlik die geheim van hulle blywende liefde vir mekaar wat wedersyds net op hul albei se menswees betrekking gehad het. Desnietemin het Emily op Lord se aansoek om met hom te trou “nee” gesê; volgens haar die gewelddadigste woord wat ons toevertrou aan taal. Terselfdertyd is dit ook die belangrikste woord vir die beskerming van ’n vrou se kunstenaarskap: “(T)he woman artist must use her no to draw the necessary limits around herself and her life that will protect her integrity and allow her to reconcile herself with her gift” (Bennett 1999:265, 266). Ondanks haar uiteindelike weiering om met hom te trou, noem Bennett tereg Emily Dickinson se verhouding met Lord ’n “passionate love affair” (1999:84). Emily se brief aan hom in 1878, ’n jaar ná sy vrou se dood, spreek van ekstatiese verligting en erkenning van haar liefde vir hom:

My lovely Salem smiles at me. I seek his Face so often – but I Have done with guises.

I confess that I love him – I rejoice that I love him – I thank the maker of Heaven and Earth – that gave him me to love – the exultation floods me. I cannot find my channel – the Creek turns Sea – at the thought of thee – Will you punish me? – ‘Involuntary Bankruptcy’ – how could that be Crime?

Incarcerate me in yourself – rosy penalty – threading with you this lovely maze, which is not Life or Death of one, and the flush of the other – waking for your sake on Day made magical with you before I went … (Sewell 1976: 653–4).

Emily Dickinson se poësie het soos haar briewe ’n sterk religieuse inslag, alhoewel sy nie ’n kerkganger was nie. Die kerk is in haar liefdesbriewe aan Lord ’n metafoor van haar liefde vir hom soos in haar briewe aan Sue in hulle puberteit. In 1852 skryf sy dat die gelowiges by die gelui van die kerkklok die diens sal bywoon wat Sue nie moet doen nie, maar haar tot Emily moet wend: “(C)ome with me this morning to the church within our hearts, where the bells are always ringing, and the preacher whose name is Love – shall intercede there for us” (Johnson 1961:79). Dis opvallend dat Emily ruim dertig jaar later in 1882 in ’n brief aan Lord, ’n volslae agnostikus, in sterk ooreenkomstige metafore en met dieselfde strekking, aan haar liefde vir hom uitdrukking gee: “‘While others go to Church, I go to mine, for are you not my Church, and have we not a Hymn that no one knows but us’” (1976:652).

Sewell sê oor haar verhouding met Lord dat in teenstelling met ander mans wat haar gemistifiseer het sodat sy haar onttrek het, hy dit nie gedoen het nie en vervolg: “But in Otis Lord’s presence …she ‘sang’” Hy vervolg dat hulle lied stil geword het deur hulle albei se siektes en sterwe. Lord is in Maart 1884 oorlede en twee lentes later in 1886 is Emily weggelê in die ewige stilte van die graf. By haar begrafnis het Higginson Emily Brontë se vers ‘no coward soul is mine’ voorgelees en later in sy dagboek geskryf: “… the sister Vinnie put in (the coffin) two heliotropes by her hand ‘to take to Judge Lord’” (1976:667). Gesien die hegte band tussen die twee susters is dié pers blomme ’n onbetwisbare simbool van Emily Dickinson se liefde vir Otis Phillips Lord.

Ten slotte

In my skrywe oor Emily Dickinson se liefdeslewe, geïnspireer deur Johann de Lange, was my bedoeling om haar lewe te belig deur veral haar briewe. Daarbenewens wou ek ook op haar digterskap fokus deur verwysing en aanhaling van sekere van haar gedigte. Sy was nie ’n vreemde, eksentrieke kluisenaar nie, maar ten volle mens en vrou met ’n onvervreembare verbondenheid aan haar digterskap. Naas Walt Whitman word sy vandag beskou as die grootste Amerikaanse digter en is sy as sodanig wyd bekend in Amerika en Engelstalige lande. Wat betref die Afrikaanse poësieliefhebbers is Dickinson bekend by meerdere Afrikaanse digters, maar behoort veel bekender te wees by toegewyde Afrikaanse poësielesers. Dis my hoop dat hierdie essay van my daartoe ’n bydrae sal lewer.

Bronnelys

Archibald MacLeish, Louise Bogan, Richard Wilbur. 1960. Emily Dickinson: Three Views. Amherst: Amherst College.

Benfey, Christopher E.G. 1984. Emily Dickinson and the problem of others. Amherst: The University of Massachusetts Press.

Benfey, Christopher E. G. 1986. Emily Dickinson: Lives of a poet. New York: George Braziller.

Bennet, Paula. 1990. My life a loaded gun: Dickinson, Plath, Rich & Female Creativity. Illini Books.

Bennet, Paula. 1990. Emily Dickinson: Woman Poet. Iowa City: University of Iowa Press.

Johnson, Thomas H. 1961. Final harvest: Emily Dickinson’s poems. Boston, MA: Little Brown.

Johnson, Thomas H. 1971. Emily Dickinson: selected letters. Cambridge, MA: Belknap Press.

Keller, Karl. 1980. The only kangaroo among the beauty: Emily Dickinson and America. Baltimore en Londen: The Johns Hopkins University Press.

Mossberg, Barbara Antonina C. 1982. When the writer is a daughter. Bloomington: Indiana University Press.

Sewell, Richard B. 1976. The life of Emily Dickinson. Volume One, Two. Londen: Faber & Faber.

Spies, C. P. (Lina). 1963. Die bewerende en beeldende vers by Elisabeth Eybers: Magister in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.

Spies, C.P. Lina. 1995. Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Kaapstad en Pretoria: Queillerie.

Wolff, Cynthia Griffen. 1988. Emily Dickinson. “A Merloyd Lawrence Book”. Published by arrangement with Alfred A, Knof, Inc.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top