
Foto: Canva
Die kinders in die container
“As jy nie die trok verbysteek nie,” sê Roux, “kom ons eers na die fees daar aan.”
Hy het ’n denim en pastelblou T-hemp aan. Top Gun se logo is na Top Dad verander. Sedert die swangerskaptoetse ’n maand gelede, is Yael, sy verloofde, besig om sy klere op te gradeer. Wildebees pas nie meer by sy look nie. Bosveldkleure is uit en pastelkleure is in.
“Dan moet jy na RSG luister; hulle saai direk van Oudshoorn uit. En ek bly by die spoedgrens.” Brigadier Buys sit die radio aan.
Spektrum: ’n Container met sewe kinders in is net buite Middelburg in die Oos-Kaap gevind. Die jongste meisie is skaars vyf jaar oud.
“Breek jy nooit reëls nie?” Roux draai die radio effens harder om die storie te volg.
Buys skud sy kop. Hy knibbel aan ’n stuk biltong. Tussen sy bene knyp hy ’n blikkie gaskoeldrank vas. As hy van die huis af is, breek hy sy vrou se streng dieet.
Duskant Noupoort verminder Buys spoed.
“Kan ons hier stop om water af te slaan?” vra Roux. “Dit is mos die dorp waarin die rehab is. Was? Die een waarin die kind dood is.”
“Dit is. Maar hier gaan niks aan nie.”
Kinders glimlag en wuif.
Roux se oë skreef. Wie laat hulle kinders alleen op straat toe? Veral langs ’n hoofweg.
Skaars in die dorp, tref Buys ’n slaggat wat in die skaduwee van ’n boom lê. Die wiel bars. Buys swets. Trek af.
’n Meisie stap nader. Swart rok, kort. Sy is skaars tien jaar oud.
Buys wys sy polisie-identifikasiekaart voordat sy kan inklim. “Prostituut,” verduidelik hy voordat Roux kan vra. “Meestal vir die trokdrywers.”
Roux se hand gaan na sy broeksak.
“Los dit,” keer Buys, “sy gaan nie lekkers koop nie; dis dwelmgeld.”
Hulle ruil die wiel in stilte.
“Wat pla?” vra Buys toe hulle inklim. Sy flikker tik-tik soos ’n tydbom.
Hulle kruie deur die dorp. Dit lyk of die dorp gebombardeer is. Vervalle geboue, murasies, slaggate by die duisende. Die dorp is net so vaal soos die tronk.
Die dorp se naambord is sonverbleik. Roux neem ’n foto met sy selfoon. Yael sal die draai op sy live location opmerk en wil weet hoekom hulle afgedraai het. Ook hoe dit daar lyk. Sy lippe trek ’n reguit lyn. “Die jongste meisie in die container was skaars vyf.”
Roux en Buys woon die voormalige polisiekommissaris se boekbekendstelling by. Hy het nie die kommissaris se twee memoires geniet nie, maar was mal oor sy debuutroman. ’n Groep guerrillavegters wat kleurblind was, herinner hom aan die tronk. In die stryd om oorlewing is almal kleurblind.
“Loop jy al spierrewit?” Die kommissaris loer van onder sy bril na Roux. Teken die boek. Naam, datum, plek. Groot blokletters asof hy steeds sy stempel afdruk.
“Ken Generaal my?”
Die kommissaris vryf sy bokbaardjie. Sy naels is kort en skoon. “Voordat jy vrygelaat is, moes ek jou risiko-assessering vir DKD doen.”
Drie dae later woon ’n stampvol gehoor Roux se boekbekendstelling by. Al die sitplekke is geneem; agter staan mense. Sommige het koffie in die hand. Dit klink nie of die radio-omroeper, wat die onderhoud voer, Roux se boek gelees het nie, want hy vra al sy vrae vanuit die inhoudsopgawe. Die KKNK moes liewer vir Marga Ley van Boekeplek en Kuierstoep genader het om die gesprek te lei. Nietemin verkoop hy uit. Hy verkoop selfs uit die kattebak nog boeke.
Terwyl hy ’n boek vir ’n brunet teken, vra sy wat hy nou vir ’n lewe doen. Sy draai haar selfoon na hom. Die foto is vanoggend op ’n misdaadtoneel geneem.
“Of jy was betrokke, óf jy is nou ’n polisiekonsultant.” Sy vat aan sy arm. “Ek vermoed laasgenoemde.” Stilte, dan: “Ek wil graag weet waarmee jy die polisie help.”
“Mia, jy ken mos die prosedure.” Buys trek Roux aan die arm weg. “Gesels met ons mediawoordvoerder.” Fluister vir Roux: “Sy’s mooi, maar gif.”
Feesterrein. 20:07. Roux en Buys sit eenkant sodat niemand ’n foto van die Flying Fish voor hom kan neem nie. Dit is teen sy paroolvoorwaardes.
Buys wurm ’n hele pannekoek in sy mond. Kou toe-oë. “Hummm. Hoekom straf my vrou my so? Ek koop vir jou nog ’n Flying Fish vir daardie pannekoek.”
Roux stoot dit oor die tafel. “Ek moet nog by die polisiestasie teken, so ek stel voor ons drink die laaste een by die gastehuis. Gaan ons sommer braai?”
Buys knik. Hy lek elke vingerpunt af voordat hy sy lippe met ’n servet skoonvee. “Hemels.” Hy vou ’n landkaart voor hulle oop. Kruise regoor die land dui die plekke aan waar die vragmotorbestuurders se lyke gevind is. “Veertien trokdrywers se nekke is in vyf jaar gebreek en ons het boggerôl.”
Sommige is swart, ander wit. Party is gay, ander straight. Niemand werk vir dieselfde maatskappy nie. Niemand woon in dieselfde dorp nie. Niks is gesteel nie. Wat kan die motief wees?
Roux se selfoon lui; hy antwoord.
“Sorry, ek’t vanoggend 80 km fietsgery en geslaap toe jy my gebel het,” sê Deon Gouws. “Waarmee help ek?”
“Volgens Facebook het jy die container gekry. Het die kinders kos gehad?”
“Niks. Hulle water was ook al klaar en die plek het gestink. Geen toilette ...”
Roux kyk na Buys. “Die kinders ... wat gebeur met hulle?”
“Hulle is môre weer op straat. In Middelburg is daar nie geld vir kos nie, maar altyd geld vir drank. Al moet ’n kind se lyf daarvoor betaal.” Hy sug hardop. So asof hy sy laaste asem uitblaas. “Ek ry ekstreme afstande vir fondsinsameling om soveel moontlik van die kinders van die straat af te kry, maar dit bly ’n druppel in die emmer.”
“Is jy ’n dominee?”
“Was. Vir dertig jaar in Stellenbosch. Ek kon nooit verstaan hoekom die Here my hierheen gestuur het nie, maar met die kinders voel ek tuis.”
“Ek sal graag maandeliks iets wil gee.”
Saans video call Roux vir Yael sodat sy nie so alleen voel nie. Soggens eet hy en Buys ontbyt. Stiptelik om agt. Buys eet elke oggend iets nuuts; Roux nie. Hy eet altyd dieselfde: een eier en een snytjie brood. In die tronk het hulle bandiete soggens in die kombuis mes gesteek; later jare het hy gewoond geraak om sonder ontbyt klaar te kom. Hy leef op koffie.
Tussen die boekgesprekke lê Roux langs die swembad en lees. Hy sukkel egter om in die boek, wat hy die eerste dag op die fees gekoop het, te kom, nie omdat Erla Diedericks ’n swak skrywer is nie – inteendeel, hy dink haar Die bewonderaar kan enige tyd met Stephen King vergelyk word. Die kinders in die container wil hom nie los nie. Hy is verbaas hoeveel goed hy oor mensehandel op Netwerk24 kry.
Sodra hulle die Langpad-reeksmoordenaar vasgetrek het, gaan hy hom op die container toespits. Al moet hy tydelik in Middelburg bly en in Deon se kerk die vloere skrop – die bliksems gaan kak.
Na die fees, op pad terug Klerksdorp toe, stop hulle in Middelburg.
“Ek dink jy het verby gery,” sê Roux vir Buys. Sy selfoon lui.
Deon: “As jy in jou truspieëltjie kyk, sal jy my sien.”
Deon is fris. Gesond. Hy lyk nie ’n dag ouer as vyftig nie. Sy hande omskulp Roux s’n. As Deon hard moet druk, kraak elke been.
As iemand jou vra of jy iets wil drink, het Buys hom geleer, sê jy altyd ja. Altyd koffie of tee. Koeldrank en water laat nie veel tyd vir rondkyk toe nie.
Terwyl Deon die ketel kook, kyk Roux na die boekrak. Hy herken Andrew Vachss se Burke-titels. Tel. Sewentien. Een kort. Hy kyk weer.
Deon sit die skinkbord in die middel van die tafel neer. “Help julleself.”
“Waar’s jou seun?” Roux tel ’n koppie op. Geen melk, geen suiker. Hy knik na die foto’s teen die muur agter Buys. Almal is weermagfoto’s. Spesmagte.
“Voor my bekering.” Hy tel die pyp in die asbakkie langs die boek op, stop dit. “Mag ek maar?”
Only child lees Roux onderstebo. Die vermiste Burke-titel. Flood het in 1985 verskyn, Strega het gevolg, daarna Blue Belle. Die eerste vragmotorbestuurder se lyk is net buite Fochville langs die N12 gevind, vandaar Buys se betrokkenheid. Die tweede lyk is twee maande later ook langs die N12 gevind; hierdie keer net buite Stilfontein op die Potchefstroom-pad. Die derde lyk in Bothaville.
Roux tel sy selfoon op. Google Vachss se boeke in volgorde. Tel. Only child is die veertiende boek in die reeks. Die veertiende lyk lê buite Oudshoorn. Ooreenkomstig die tyd wat Deon fietsgery en geslaap het.
Daar is altyd ’n patroon. Die dorpe begin met dieselfde letter as die boektitels.
Nou weet hy ook wat die motief is: Vragmotorbestuurders tel kinders op vir persoonlike genot.
Roux staan op, druk ’n koevert in Deon se hande. “Vir die kinders.” Hy knik na die boek. “Burke is ’n legend; net jammer daar is net agtien boeke.”

