Mag daar bome en boeke wees.
Dit sou die opsomming kon wees van die Johan Combrink-gedenklesing wat vanjaar op 11 Februarie 2021 aangebied is langs die wynkelder van die plaas Bethlehem op Kylemore.
Quinton Adams was die gasspreker.
Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, bied elke jaar die Johan Combrink-gedenklesing aan ter nagedagtenis van dié bekende taalkundige, wat ook ’n stigterslid van die VVA was.
Weens COVID-19-regulasies is die lesing in die buitelug aangebied. Gaste het onder die groot ou eikeboom gesit.
Dominique Enthoven, beter bekend aan Afrikaanse lesers as Dominique Botha, skrywer van die bekroonde roman Valsrivier, het die aand se verrigtinge geopen.
Sy en haar man, Adi, besit die plaas.
Pierre Simond, ’n Franse Hugenoot, was die eerste eienaar van Bethlehem. Hy het die Bybelse naam aan die plaas gegee.
Simond het ’n boek geskryf, Les Veilles Afriqaines, wat in 1704 in Amsterdam uitgegee is.
Enthoven het haar toespraak, waarin die volle verhaal vertel word, aan LitNet se susterwebtuiste, Voertaal, beskikbaar gestel. Dit is hier te lees.
Chareldine van der Merwe, die projekbestuurder van VVA, het daarna vir Quinton Adams bekendgestel.
Adams is passievol om te verseker dat alle kinders in Suid-Afrika ’n regverdige geleentheid tot kwaliteit onderrig ontvang. As opvoedkundige sielkundige en voormalige dosent aan die Universiteit Stellenbosch, is hy betrokke by navorsing wat veral fokus op sosiale uitdagings soos armoede en geweld. Hy is tans ʼn ingeskrewe doktorale student aan die US.
Sy kundigheid het hom al geneem na Mexiko, Noorweë, Kanada, Swede, Singapoer, België, Nederland, Oxford en Londen. Tog lê sy hart in Suid-Afrika se informele nedersettings, waar hy poog om vooruitgang te help bewerkstellig. Daarom staan hy bekend as die Shack Builder, want sy bakkie het al by talle daklose mense opgedaag om hulle te help met die oprig van ’n informele huis.
Adams dien op verskeie maatskappye se rade, maar dit is sy werk in ons land se armste gebiede wat hom die naaste aan die hart lê. Sy tema vir vanjaar se lesing was: “Maak vir elke kind lees die fokuspunt!”
Adams vertel dat hy ses jaar oud was toe hy sy ma verloor het. Hy onthou dat boeke vir hom ’n toevlug geword het. In die biblioteek was daar ’n hoekie waar hy kon lees.
Aanvanklik het hy net prentjies gekyk, maar stelselmatig kon hy die woorde begin lees, toe dikker boeke begin takel.
Lees hou dus ’n persoonlike bekoring vir hom in, maar hy wil ook graag sien dat ander kinders die vreugde van boeke sal ervaar.
Hy vra onderwysers om boeke, leesboeke, saam met kinders huis toe te stuur, selfs al kan hulle nie lees nie. Deur die boek by hulle te hê, internaliseer hulle die wete dat hulle slim genoeg is vir ’n boek.
Om te lees gaan oor meer as woorde ontsyfer, maar die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel doen nie genoeg om kinders se ontwikkeling te laat plaasvind nie.
Jong kinders moet speel. Hulle moet boomklim om ruimtelike vaardighede aan te leer. Deur in bome te klim ontwikkel hulle groot-motoriese vaardighede, en ook hulle reuk- en tassintuie.
Om dan met boeke te begin speel, na die prentjies te kyk en boeke op te pas en huis toe te neem, ontwikkel hulle ander vaardighede.
Jy leer die posisie van die bladspieël. Jy leer blaai. So ontwikkel jy fyner motoriese vaardighede wat jou weer leer skryf.
Ons land se kinders speel nie genoeg nie en hulle lees nie genoeg nie.
Dan daag hulle by die universiteit op en kan steeds nie met begrip lees en sinne formuleer nie.
Adams sê van sy meestergraadstudente kan nie vrae formuleer nie, want hulle leesbegrip is te laag.
Kry die land aan die lees, is sy pleidooi. Kinders moet lees en lees. Nie net handboeke nie, ook lekker boeke.
Die impak van COVID-19-regulasies op die ontwikkeling van kinders het ook onder die loep gekom. Die onderwysstelsel is reeds oorlaai en nou moet onnies nog die virus ook in ag neem. Dit beteken meer vorms wat moet ingevul word, wat minder tyd laat vir lees, woordeskatontwikkeling en kennisuitbreiding.
Adams se grootste kritiek op die regering is dat daar te veel sogenaamde kenners is wat moeilike dokumente opstel en werkswinkels hou om onnies besig hou. In Kuba, wat ’n uitstekende leeskultuur het, is die uitgangspunt dat die onderwyser in die klaskamer die kenner is. Sy weet wat goed is vir haar kinders.
Ons moet by Kuba leer, pleit hy.
Maar hoe bevorder jy lees onder moeilike sosiale omstandighede? Is dit moontlik? Dit is.
Hy vertel van ’n skool in Mitchells Plain waar ’n groot aantal geharde misdadigers steeds in die skoolstelsel was, maar onregeerbaar. Teen die tyd dat sy hulp ingeroep is, het hulle ’n klaskamer oorgeneem en volgens die skoolhoof reeds R1,2 miljoen se skade aan die res van die skool aangerig.
Toe hy instap in hulle klaskamer, was daar graffiti wat gelees het: Welkom in Pollsmoor.
Hy sê toe vir die manne dat hy ’n leesklub wil begin en beloof dat hy elkeen R100 sal betaal elke keer dat hulle ’n boek lees en dit vir hom opsom op een bladsy.
Die naam van die klub sou Rebel Readers wees.
Die eerste week het vyf manne teruggekom om te sien of hy sy belofte sal gestand doen. Hy het.
Die klub het gegroei en die gewildste boek was George S Clason se The richest man in Babylon.
Ses maande later was die klub 30 sterk, en hulle het gereeld gelees. Die graffiti het verander na Rebel Readers. Van die grootste belang is dat nie een enkele venster gebreek is in daardie ses maande nie.
Vyf jaar later het hy sy eerste groep weer opgesoek. 70% van hulle was betrokke by informele sakeondernemings waarmee hulle hulself en ander help onderhou het.
Dit kan gebeur, sê Adams.
Maak lees vir almal moontlik, dan gaan ons land ook beter vaar.
William Keet het die bedankings gedoen.
Lees ook:
Pierre Simond – Franse Hugenoot, Afrikaskrywer in Amsterdam gepubliseer