
Dit is met groot opgewondenheid dat die Jakes Gerwel Stigting, LitNet en Huisgenoot hul verkose kandidate bekend maak vir die vyfde Kommadagga-slypskool wat hierdie jaar van 14 Oktober tot 3 November plaasvind.
S'fundo W. Sosibo, Sibusiso Fihlani, Tenita Kidelo, Tiaan Booyens (La Grange) en Vuyokazi Ngemntu, vyf opkomende skrywers wat ons diverse tydgees in kort skryfstukke wil verwoord, is binnekort op pad na Paulet Huis, die bekoorlike “ander tuiste” vir skrywers wat die Jakes Gerwel Stigting geskep het in die oase-dorpie van KwaNojoli (Somerset-Oos) in die Oos-Kaap.
Tydens die drie weke lange slypskool sal die kandidate ’n intensiewe mentorskap ondergaan in die skryf van kortverhale en ander kort skryfstukke. Die gesoute mentor, Fourie Botha, is ’n bekende in die uitgewersbedryf en het al menige Suid-Afrikaanse skrywer se skrywersboot suksesvol geloods, eers as uitgewer by Penguin Random House en nou as literêre agent. Fourie is self ’n bekende digter met twee bundels Donkerkamer (benoem vir die Ingrid Jonker-prys) en Krap uit die see op sy kerfstok.
Waar die kandidate reeds met geesdrif uitsien na die publikasiegeleentheid wat LitNet en Huisgenoot na afloop van die slypskool aan hulle verseker, kan hulle met hierdie mylpaal van ’n vyfde aanbieding van die Kommadagga-slypskool ook uitsien na die uitsonderlike geleentheid om Paulet Huis te deel met die ikoniese skrywer Zoë Wicomb, outeur van, onder meer, You can’t get lost in Cape Town, David’s story, Playing in the light, The one that got away, October en Still life.
Ons stel die kandidate kortliks voor:

S'fundo W. Sosibo
S’fundo Sosibo, voorheen ’n lektor aan die Universiteit van KwaZulu Natal, skryf in die tradisie van absurde drama. Sy werke bou Afro-queer narratiewe uit en spreek temas soos identiteit en tradisie aan. S’fundo het reeds vir die Nasionale Kunstefees op Makhanda geskryf, deelgeneem aan die Almasi African Playwrights Conference en is genooi vir die eerste queer skrywersimposium in Zimbabwe (Walking with Shadows) in 2022. Hy is ’n alumnus van die Johannesburgse Instituut vir Gevorderde Studies (JIAS) en sy kortverhale haal die kortlys van gesogte kompetisies. S’fundo wil graag ’n trilogie van verhale waaraan hy tans werk, voltooi en publiseer.
Sibusiso Fihlani
Sibusiso Fihlani is ’n skrywer en dramaterapeut wat daarin glo om sy talent te gebruik om ’n verskil te maak. Hy is die voorsitter van Art that Matters, direkteur van die Ezempilo-fees vir geestesgesondheid en het by die Rural Health Advocacy Project (RHAP) en Nkosi's Haven gewerk. Hy is ’n genoot vir gesondheidsgelykheid van die Atlantic-instituut en Tekano. Met sy teater- en gemeenskapwerk het Sibusiso reeds die Dr John Kani-prys, die Yvonne Banning-prys en die Regter Edwin Cameron-toekenning ingepalm. Sibusiso wil graag sy skryftalent verder ontwikkel om sosiale verandering teweeg te bring.

Tenita Kidelo
Tenita Kidelo beskryf haarself as ’n Bolander met ’n Karoo-agtergrond. Sy het haar haar meestersgraad in die letterkunde in 2020 voltooi en werk tans aan verskeie kortverhale wat sy graag wil afrond. Van die hoogtepunte in haar loopbaan is haar eerste verhaal wat in Kuier gepubliseer is en ook haar werk as radio-omroeper by RSG vir die programme Kompas en Kopkrap vir jonger gehore. Die Kommadagga-slypskool is vir haar ’n geleentheid om ’n beter skrywer te word en ’n gelukkige einde vir haar stories in ’n kortverhaalbundel te vind.

Tiaan Booyens (La Grange)
Tiaan Booyens eien vir hom die skrywersvan La Grange, sy ma se nooiensvan, toe. Vir hom verteenwoordig hierdie keuse al die sterk vroue en saggeaarde mans wat hom geïnspireer het om te begin skryf. Sy studies onder leiding van prof Sally-Anne Murray in kortskryfkuns tydens sy taal- en kultuurskursus, was ’n hoogtepunt. Dié ervaring het hom na sy honneurs in Frans na vryskutwerk vir en internskappe by uitgewers soos NB-Uitgewers, Penguin Random House en Mirari Press gelei. Skryf is vir Tiaan die medium waardeur die menslike gedeel kan word en hy droom om sy eie jeugverhale te publiseer.

Vuyokazi Ngemntu
Vuyokazi Ngemntu is ’n uitvoerende kunstenaar en skrywer vanaf Kaapstad wat digkuns, sang, fisiese teater, stories en rituele kombineer om trouma afkomstig uit vorige geslagte te navigeer, ongelykheid te konfronteer en heling te bring. Haar kortkunstalent behaal reeds groot welslae met Binnegoed wat aangewys is as algehele wenner in ’n streekskompetisie van die Afrikatydskrif Ibua Journal en The Serpent’s Handmaiden wat gekortlys is vir die Share Africa Climate Change-toekenning vir fiksie. Sy werk tans aan ’n kortverhaalbundel met die werkstitel The Book of Shadows & Triggers.

