Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie brei uit

  • 0

Logo’s: verskaf

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie brei uit.

Lede van PEN Afrikaans, PEN Nederland en PEN South Africa kan vanjaar aansoek doen vir dié maandlange skrywersverblyf.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans is trots om aan te kondig dat hul gesogte skrywersresidensie, waarvoor opbetaalde lede van PEN Afrikaans die afgelope drie jaar kon aansoek doen, vanjaar ook oop is vir aansoeke van lede van PEN South Africa en PEN Nederland.

Na verwagting sal die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans voortaan elke jaar twee PEN-sentrums nooi om deel te neem en só van hierdie maandlange skrywersverblyf in die Stigting se Paulet Huis op Somerset-Oos ’n selfs meer besonderse ervaring te maak.

Die doel van hierdie projek is om aan skrywers – beide opkomend en gevestig – die geleentheid te bied om vir ’n maand lank van hulle daaglikse verpligtinge te ontsnap om voltyds aan hul manuskripte te kan werk. Daar is nie ’n mentorskapelement aan die residensie nie en skrywers sal teen hul eie pas skryf en vorder.

De historiese Paulet Huis met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers en lowergroen tuin, bied die ideale geleentheid vir skrywers met die nodige dissipline en motivering om in ’n inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.

“Ons is baie opgewonde oor die uitbreiding van ’n skrywersresidensie wat tot op datum al wonderlike vrugte afgewerp het. Dit sluit bekroonde digbundels, verruimende kinder- en jeugboeke, ’n memoir en selfs ’n album met praatpoësie in. Ons sien uit daarna om te sien wat hierdie ronde oplewer. Met aansoeke wat vanjaar soos gebruiklik van PEN Afrikaans, maar ook van PEN Nederland en PEN South Africa ingewag word, is ’n diverse groep en stimulerende gesprekke om die etenstafel reeds iets om na uit te sien,” sê Theo Kemp van die Jakes Gerwel Stigting.

Die Jakes Gerwel Stigting dek die kostes van die skrywers se verblyf vanaf 6 Junie tot 3 Julie 2022, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth, indien relevant, en vervoer van en na die lughawe.

Die koste van enige buitelandse reis om die residensie te kan bywoon, is nie ingesluit nie. Dit sal óf vir die aansoeker se eie rekening wees óf vir dié van ’n ondersteunende instansie wat daardie koste sal dek. Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans kan geen verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.

Alle genres sal oorweeg word.

Belangstellende skrywers moet hulle aansoeke teen 18 Maart rig aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, by theo@jgf.org.za. Skrywers doen aansoek in die taal waarin hul skryf en die aansoek moet bestaan uit:

  • ’n Brief ter motivering van waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak en bevestiging van lidmaatskap van enigeen van die deelnemende PEN-sentrums, naamlik PEN Afrikaans, PEN Nederland of PEN South Africa
  • ’n Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
  • ’n Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.
  • ’n Brief van ’n uitgewery wat daarin belangstel om die aansoeker se werk uit te gee of vir publikasie te oorweeg, sal sterk in die kandidaat se guns tel.

Verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans, PEN South Africa en PEN Nederland sal die aansoeke oorweeg, waarna onderhoude met kortlyskandidate sal plaasvind op 20 April. Die suksesvolle aansoeke sal op 25 April aangekondig word.  

Oor die vennote

Die Jakes Gerwel Stigting het ten doel om die nalatenskap van wyle prof Jakes Gerwel – wat uitgeblink het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en sakeman – deur relevante projekte uit te bou. Die Stigting fokus op die bevordering en bemagtiging van skrywers en wil bydra tot die verryking en verruiming van ons letterkunde. Die Stigting is trots op die vennootskap met PEN Afrikaans, aangesien prof Gerwel passievol was oor Afrikaans en sy diverse moedertaalsprekers. 

Meer inligting oor die Jakes Gerwel Stigting is beskikbaar by www.jgf.org.za

PEN Afrikaans, PEN Nederland en PEN South Africa is drie van die meer as 140 sentrums van PEN International, die wêreld se voorste skrywersvereniging. Dit is ’n wêreldwye en polities onverbonde organisasie wat die bevordering en versterking van uitdrukkingsvryheid en letterkunde nastreef. 

Lees meer oor:

PEN Afrikaans by www.penafrikaans.org.za

PEN Nederland by https://pennederland.nl

PEN South Africa by https://pensouthafrica.co.za/

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top