Die jaar toe Pa ... deur Hannes Visser: ’n resensie

  • 2

Die jaar toe Pa ...
Hannes Visser
Naledi
ISBN: 978-1-928426-65-3

Die jaar toe Pa is 'n digbundel van 80 bladsye. Ek het dit as 'n ongelooflik aangrypende lees ervaar. Dit is 'n eerlike, insiggewende, diep vertelling in kort gedigte en 'n blik uit die lewe gesien deur die oë van 'n skaars tienjarige seun. Die seun, komende uit 'n arm, disfunksionele gesin, deel vertellings en stel die leser aan die lewe en sy seer bloot. Dit is 'n vinnige, maar emosioneel-gelade lees wat jou ontroerd laat. Al is dit net 80 bladsye, is dit 80 onvergeetlike bladsye waarin Visser uitstekend slaag om jou in te trek en jy die lewe deur die oë van 'n kind sien. Dié bundel, uitgegee deur Naledi, getuig van die lewe van soveel kinders, ver weg van die sprokie wat 'n mens graag vir jou eie kind sou wou daarstel. Die hoofstukke is in dagboekformaat en sluit verskeie belangrike gebeure uit ons Suid-Afrikaanse geskiedenis in. Tog is dit wat jou bybly ná die laaste bladsy, die horlosie wat nooit weer teruggedraai kan word nie. Dit wat gesien en ervaar is, kan nie verander word nie. Die seer waaraan die seun blootgestel is, veral in sy vormingsjare, is 'n bitter werklikheid. Die Portugese het 'n woord, saudade, en veral in die laaste bladsy ervaar 'n mens in diepte hierdie heimwee. Die jaar toe Pa is in Junie vanjaar by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) en Die Vriende van NALN bekendgestel. Mag daar nog vele boeke uit Hannes Visser se pen voortvloei.

In 2007 het Hannes sy eerste digbundel, Gedigtes, self uitgegee. In 2012 het hy tesame met elf ander digters die bundel Boksemdais 2 uitgee. Hy het al verskeie pryse in die Bloemfonteinse skrywersvereniging se landwye kompetisies gewen. In 2013 het hy eersteprys in die kortverhaalafdeling gewen, sowel as tweedeprys in die poësie-afdeling. In 2017 wen hy tweedeprys in die prosa-afdeling – kortverhale en in 2018 die eersteprys in die poësie-afdeling in 'n landwye kompetisie.

Van sy gunstelingskrywers is Hennie Aucamp, Roald Dahl en Richard Brautigan vir kortverhale. Hy hou van die poësie van Gert Vlok Nel, Ronelda Kamfer, Danie Marais, Ingrid Jonker, Daniel Hugo, Breyten Breytenbach en David Kramer, en onder romanskrywers veral van Umberto Eco, Ingrid Winterbach, Etienne le Roux, Annelie Botes, Etienne van Heerden, Gabriel Garcia Marquez en Milan Kundera. 

Hy het sy onderwysdiploma behaal en in Roodepoort sy eerste onderwyspos beklee. Hy is tans die redakteur van die Oudtshoorn Courant. Hy bied werksessies in kreatiewe skryfwerk en digkuns aan. Hy is ook 'n geakkrediteerde lewensaftrigter en Neuro-linguistiese programmeringspraktisyn (NLP) . Hy tree op as motiveringspreker, doen voorlesings en gesprekke wat soms gepaardgaan met musiek gelewer deur die Oudtshoorn-musikant Marisca Rain.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Corlietha Swart

    Hannes, ons BSV'ers is trots op jou, want ons volg al jou vordering v jare by elkeen van ons slypskole - nou vir die groot pryse, Swaer...
    Corlietha Swart (Voors.: Namens die BSV).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top