Die jaar toe ek elke aand soesji geëet het

  • 3

Foto: Pixabay

’n Mens moet versigtig wees vir wat jy op LitNet, of enige werf, kan optel.

2008 was ’n donker jaar. Ek het in Kaapstad gewoon. LitNet laat weet my iemand wil my e-posadres hê, want hy het werk vir my.

Werk is ’n towerwoord – gee dit maar vir hom, sê ek. Iemand wat ek Scottie sal noem, kontak my. Hy sê my gedigte op LitNet het tot sy siel gespreek. Hy voel ek sal sy diepste wese kan verstaan en sy storie kan (help) vertel. Hy soek ’n spookskrywer en geld is nie ’n kwessie nie. Hy en sy girlfriend is op pad Kaap toe vir sake en sal my graag wil ontmoet om te praat oor ’n kontrak.

Ek daag by die luukse hotel op. In die foyer sien ek ministers en hul sekuriteitswagte rondbeweeg. Ek word uitgenooi na Scottie en girlfriend se suite. Hulle bestel ’n bottel Chivas Regal en ’n bottel Jack Daniels van ontvangs, en dis nog voormiddag.

Scottie is nogal ’n skok op die oog: ’n intimiderende blok mens, lank en breed met ’n kaalgeskeerde kop, letsels en ink op elke stukkie vel wat uitsteek. En daar is heelwat vel wat uitsteek; hy is sonder hemp in die warm Kaapse somer. Ou, harde vet. Ringetjies in die ore. Tronktatoes op die nek. Blou oë. Rowwe Oos-Randse aksent, my china. En ’n voorliefde vir tussenwerpsels in Tsotsi-Afrikaans.

Hy praat baie. Hy was dekades in die tronk vir bankroof, verkragting en moord. Maar nou het hy die Heer gevind en wil sy storie vertel. Hy het dit reeds geskryf en iemand in Amerika het dit geredigeer. Hy noem die bedrag wat hy haar betaal het, en dit laat my my kwotasie opwaarts aanpas.

Wat is my rol dan eintlik, wonder ek. Ons kom ooreen op ’n tarief wat vir my astronomies was. Ek sal dit gaan lees en voorstelle maak.

Die manuskrip is ’n deurdrumpel, nader aan 1000 as aan 500 bladsye. Dis in Engels en wemel van dramatiese cliches. Dis plofbare materiaal, die bloedstollende verhaal van ’n seuntjie vir wie daar geen plek in sy gesin was nie, wat op straat begin rondhang en misdadig geraak het. Wat deur ’n polisieman op ’n vuil skuimrubbermatras in ’n sel verkrag is. Van ’n pa wat drink. Van woede wat opbou. Van die dag toe hy sy eerste mens lem, hoe bevredigend dit was toe die vel breek soos ’n waatlemoen.

Ek sien gou die vorm wat die manuskrip moet aanneem om optimaal leesbaar te wees – sny aan die selfbejammering, sny aan die laaaaang hoofstuk oor sy army-dae, waar die briesende, beskadigde en reusagtige seun verder verneder is: Die leser stel tog nie belang in elke push-up wat hy moes doen en elke vloekwoord wat die korporaal geblaf het nie. Ek werk nagte deur, sny en herrangskik, druk hier en daar iets duideliker en meer treffend uit en stuur sommer gou vir hom die meer vaartbelynde eerste deel. Soos afgespreek, betaal hy solank R20 000 in my rekening in.

Die koeël was deur die kerk. Ek sou reeds die handdoek wou ingooi en nooit weer van hom hoor nie, maar ek was nou in sy diens. Hy bel my by die werk in Die Son se oopplankantoor en bulder soos ’n gekweste bul: “You ANNIHILATED my army days!”

Gou het ek verstaan: Ek mag niks sny nie. Niks verander nie. Al wat ek mag doen, is om in verwondering hande te klap oor sy kleurryke lewe en sy briljante vermoë om dit te verwoord. Hy het ’n onversadigbare honger na lof. Hy glo hy is briljant, slimmer as enige stelsel, en eis konstant erkenning daarvoor. Ek moes beskikbaar wees vir sy lang telefoonoproepe laatnag, as hy gekoring is, of gesnuif.

Want ja, ten spyte daarvan dat ek sy weermagdae wou vernietig, begin hy soos ’n verliefde skoolseun optree. Vertel my hoedat sy girlfriend hom nie verstaan nie. Hoedat niemand sy wilde, gevleuelde hart verstaan nie, behalwe miskien ek, wat, dit voel hy aan, in my siel ’n anargistiese sigeuner is. Ons is op dieselfde golflengte, glo hy. Hy maak vir my mixed tapes van sy gunsteling-countryballades, soos “Wildfire”:

She comes down from Yellow Mountain
On a dark, flat land she rides
On a pony she named Wildfire
With a whirlwind by her side
On a cold Nebraska night.

Dit was ’n skrikwekkende fiksasie en ek het gekompromitteer gevoel. Omdat ek reeds ’n bedrag betaal is, het ek aanhou werk, voorstelle gemaak, versigtig herrangskik, hier en daar geherformuleer, verbindingsparagrawe gepen en hy was meestal in sy noppies. Ek is nog ’n bedrag betaal.

Wat het hy gedoen? Hy was bekend as The Helmet Robber. Hy het ’n plakboek met koerantberigte van sy loopbaan gehou. Hy het banke beroof met ’n rewolwer in sy valhelm versteek. Hy was deel van ’n misogene, misdadige motorfietsbende wat nie gehuiwer het om te moor nie. Wat vroue soos honde behandel het en gevry het met die okkulte.

Wat het ek gedoen? Ek het (toe hy vir my ’n kaartjie koop) opgevlieg Stilfontein toe en by hom en sy Amerikaanse girlfriend oorgebly in ’n weelderige, smaaklose huis. Sy was darem ’n sterk vrou wat nie gelyk het of sy nonsens duld nie. Hy was nogal bang vir haar. Sy het sonder twyfel inkriminerende inligting oor hom gehad. En blykbaar is al die gesteelde geld (waarvan hy baie oorgehou het) op haar naam oorgedra, want hy moes onder die radar vlieg.

Die manuskrip was reeds geskryf, maar sy wens was dat ek onderhoude met hom voer oor sy lewe, sodat ek hom en die materiaal beter kan verstaan. Dan huil hy soos ’n kind en bely verskriklike dinge wat ek nie hier kan oorvertel nie. Ek luister soos ’n sielkundige, knik soos ’n priester terwyl my siel besoedel word.

........

Daar was beslis ’n skroef los met hom, of miskien was dit dwelms: Hy sou een oomblik weerloos en bedroef wees, dan verander die landskap van sy gesig eensklaps asof ’n wolk voor die son skuif en skielik is hy vyandig en stateer kil dat hy my nie kan vertrou nie, dat ek gevaarlik is, soos elke fokken chick ooit. Vreesaanjaende woedebuie.

.........

Daar was beslis ’n skroef los met hom, of miskien was dit dwelms: Hy sou een oomblik weerloos en bedroef wees, dan verander die landskap van sy gesig eensklaps asof ’n wolk voor die son skuif en skielik is hy vyandig en stateer kil dat hy my nie kan vertrou nie, dat ek gevaarlik is, soos elke fokken chick ooit. Vreesaanjaende woedebuie.

Op ’n dag besluit ek: tot hier toe en nie verder nie. Ek kan nie meer nie, met sy buie en eise en inbreuk op my tyd en persoonlike ruimte. Met sy aura vol gate. Ek laat weet hom dat ek onttrek van die projek en dat ek nie die geld wat hy reeds betaal het, gaan terugbetaal nie aangesien ek min of meer ses maande aan sy boek gewerk het.

Toe breek alle hel los. Ek antwoord nie meer sy oproepe nie, maar luister tog bewend na die stemposse: “You owe me 40K, fucking cunt. Nobody fucking steals from Scottie. The brothers in Cape Town will come for you. Hulle gaan vir jou kom uitvat, tief.”

Ek was ’n wrak. Ek het nie geslaap nie. Daardie gevoel wanneer jou maag in die nanag in jellie verander en jy jou geboortedag verwens.

Toe laat my vriendin Pippa my praat met haar vriend John Roos, ’n advokaat. Hy raai my aan om Leonard Knipe te gaan sien – ’n afgetrede baasspeurder wat nog vryskutwerk doen. Ek ry Somerset-Wes toe. Hy was baie vriendelik en professioneel en wou geen geld aanvaar vir die konsultasie nie. Ek gee Scottie se naam en kontakbesonderhede vir hom. Hy bel my ’n paar dae later en sê die polisie weet van Scottie en daar is nog onopgeloste sake. Moord verjaar nooit nie. Moord en roof stel ook BAIE belang in die manuskrip.

Nee, lieg ek toe maar, want ek wou sowaar nie op hom piemp nadat ek reeds sy geld gevat het nie; my motherboard het gecrash en ek het die manuskrip verloor. Jammer.

Wel, Leonard moes hom gebel en ’n paar dinge vertel het, want ek het nooit weer van Scottie gehoor nie. Ek vermoed hy het die foon en die huis in Stilfontein opgegee en ondergronds gegaan.

Wat het ek met die geld gedoen? Die laaste sent op soesji gespandeer. Ek het elke aand gaan soesji eet en vriende getrakteer. Sulke bloedgeld moet geblaas word, het ek gevoel.

Wat het ek daaruit geleer? Gedigte is gevaarlik? Moet liefs nie die oog van ’n moordenaar vang nie? Stel grense?

Wanneer ek vandag, as wettige redakteur, soms met veeleisende skrywers te doen kry, dink ek by myself: Julle is lammers, engele. Julle weet nie wat moeilik is nie.

Wou hy ooit die boek uitgee, wonder ek? Waarskynlik nie, want daar was veel in wat hom sou oopstel vir vervolging. Nee, ek dink sy naakte siel wou sonder skroom in alle eenvoud tot my gaan. Hy wou hê ’n vrou in wie se gedigte hy iets herken het, moes dit lees en sy wese verstaan en aanvaar.

As jy nog leef en LitNet lees: Jammer, Scottie, ek kon nie.

 

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top