Die influencer

  • 0

Foto: Canva

Die influencer

Die kroegligte flikker soos stukkende verkeersligte.

“Is jy nie daardie influencer nie? Tokkelos?” Die sproetgesiggie met ‘n mop rooi hare sit ’n bottel Red Square en ’n dubbelvodka voor my neer. ’n Spider-tatoeëermerk klim by haar cleavage uit. “Hoe het jy 170K followers gekry?”

Ek kyk oor haar kop, gooi die vodka by die Red Square. Down dit.

Die kroeg ontplof!

’n Hand op my skouer. Elias, my brother from another mother.

Hoe ek famous geword het? Mosambiek, 2020. Ek het vir Weg ’n storie geskryf oor hoe om Rum & Raspberry die Afrika-manier te drink. Ek het dit afgesluk terwyl ’n skare hande op tafels dromme speel. Go, go, go. Elias is mos nie links nie – hy het live op Facebook gegaan. Sy selfoon was pap, myne nie. Donovan Fortuin van die Elsies is viral.

Spider-girl plak ‘n vuil Coke voor ‘n ander customer neer en draai na my. “Kan ek saam met jou ’n selfie neem? My eks sal so jaloers wees.” Sy skuur verby twee ouens, haar hand gly oor my skouer toe sy langs my kom staan. Goedkoop parfuum probeer ’n daggareuk verbloem. Haar wang warm teen myne. Toe soen sy my. Oopmond.

“Kwailapies.”

Vingerpunte gly oor my lippe, ken. Hark oor my hemp, af ... pluk aan my belt. “Die soen is ’n reel, die movie volg.”

My hart boks.

Elias lig sy glas. “Joh! My bra. Hoe loep jy hierna weer platvoet op die aarde?”

Met Mia Nel vlieg mens. Hoog saam met die arende. Sy is oop vir alles en sê vir niks nee nie. Maar binne haar lê ’n geheim wat sy nooit sal post nie.

“Is ek net goed genoeg vir seks ... of kan ek jou profile pic ook deel?” vra sy drie weke later. Die laken halfmas oor haar. Haar regterhand lê daarop, asof dit kan wegseil. Haar vingers rus op my bors.

Ek klim uit die bed, loop verby bierblikkies en klere. Staan wydsbeen oor die toilet. Spoel. Pype kraak in die dak.

“Was jy nie hande nie?”

“Wat kry ek vir die profile pic?” Ek val op die bed.

Sy gooi die laken af. “Jy kry reeds alles.”

“Ek weet wat jy dink. Mamma sê dit altyd vir Pa. Julle mans dink ook net met een ding. En dis oukei.” My comment onder ons profile pic het gelyk soos modderstoei – die girls het mekaar uitgehaal, en lelik.

Dit kon net sowel ’n trouring gewees het, want toe lê die girls by my aan.

 

Drie maande later sit ek in die middel van die winter voor Nagkantoor, Kaapschehoop. Boekenaweek. 15:29. Voor my lê ’n Ons Klyntji oop by Chestlyn Draghoender se gedig “op straat”. My vandaankom was ook stofstrate. My icons was – is – Frazer Barry, Johnny Davids en die verlore seun vannie Gaatjie. Die ouens made it, man – ek kap nog vir my ’n pad oop. Views is nie die real thing nie. Die kameras is nie aan as ek opgooi van stres nie; nog minder wanneer ek pynpille soos Smarties drink.

Ek strek my rug, werwels knak.

Is bestaan moontlik sonder dat iemand kyk?

Ek los die bottel halfvol. De Wet Potgieter kyk al klaar na die kelner. Hy het sy boek Grusaam vir my geteken. Geen shout-out of iets gevra nie; net gesê: “Nie alle monsters dien tronkstraf uit nie.”

Mia sit vooroor gebuig, hou haar kop vas. Sy beter nie nou opkyk nie, want daai brunette se jean span seile. 

Met die volgende vertaling moet iemand die elfde gebod onder Eksodus ingeglip. Moenie uitgevang word nie.

Ek sweer, ek haat vroue se sesde sintuig meer as ’n spieël. Mia lees nooit iets wat ek skryf nie – nooit! – totdat ek iets oor óns skryf. Dan koop sy Kuier en blaai heel eerste na die kortverhaal.

Sy is uit soos ’n kers, totdat ek op ’n Fans only page inlog. Dan word sy wakker, loer na my selfoon.

Mia vis ’n blokkie ys uit haar glas, steek dit in haar mond. Kou. “Wat glimlag jy so lekker?”

Net voor sy kan omkyk en my tot in die sewende hemel klap, gooi ek ’n boemerang. “Dink jy nie ‘Mia Fortuin’ rol lekker oor die tong nie?”

Wanneer het sy haar selfoon opgelig? Next thing I know, hit die live video ‘n million views. Maar dit vind ek eers uit toe Mammie bel. Sy en Pa is so bly. Tog. Dis bietjie vinnig, is ’n baby in die oond?

Nie eens vier-en-twintig uur later nie lê ons op die bed. Lywe papnat.

Êrens in die agtergrond blaf ’n hond.

Ek is besig om ’n spinnerak om haar spider te teken, toe sy my selfoon na my draai. “Wat dink jy?”

Ek skreef my oë. “Is dit nie gister se profile pic nie?” Toe sien ek dit. My username: Tokkelos & Mia. Ek vryf my hande oor my kop. Herhaal elke vloekwoord wat ek ken in my kop; maak nuwes op.

As ek dit nou verander, pryk ek in hierdie week se Son as mamparra van die jaar.

Moord is nie ‘n opsie nie. Elias was ses maande in Pollsmoor – hy het gesê daar is niks verniet nie. Alles word onder die komberse betaal. Fokkit. Mia het klaar betaal – nou vat sy alles.

Kry crimes of passion korter vonnisse?

 

’n Jaar later, Klerksdorp. Cooba.  Die speaker buite op die stage pomp. “Troumateriaal”. As ek geweet het Brendan Peyper tree hier op, het ek ’n ander kroeg gesoek.

Die kelnerin kan die hoofrol in ’n updated Pretty woman-movie uitleef. Sy sit ’n kondoom saam met my bier neer. “Saterdag word jy tot lewenslank gevonnis – make the best of it.”

’n Boerboelklong skuur verby. Klap my op die skouer. “Tokkelos, trek die bokkie plat.”

“Sies!” Die kelnerin sis deur haar tande.

Sy wurm haar hand in haar denim, delf ... ’n trouring. “Ek’s bly my verloofde is vrek – hy was ’n narsis.” Elke lettergreep kletter soos guns op die Flats.

Sy leun vorentoe. Ek ook, om beter te kan sien.

“Moenie met Mia trou nie,” fluister sy. Dan: “Jy lyk deesdae soos spinasie wat in die son staan.”

Die barman roep haar, sy wys vir hom ’n middelvinger. Haal haar selfoon uit haar gatsak uit. Scroll. “Kyk net hoe het jou content verander. Jy was authentic. Nou edit jy alles asof jy, soos Gayton, president wil word.”

Bande skree, toeters blêr toe die kroegdeur oopgaan.

Die deur swaai toe. Haar vingers vee steeds oor haar skerm. Skielik Haar glimlag verhelder. “Kyk.”

Pers naels wys waar. “Kom down rum in Cooba en ek soen jou oopbek.”

Ek gryp die iPhone uit haar hande. My viral video, die heel eerste comment. “Chantel Nel ... jy’s haar suster. Slat my met ’n nat snoek. Ek dog Mia was in ’n kinderhuis.”

Chantel snorklag. “Verbeteringskool, rehabs ... tronk ... Jy’s haar golden ticket na fame.”

Peyper neem ’n blaaskans; my ore ook.

Ek skuif die kondoom terug. “Ná jou skof?”

Met daardie oë kon sy my net sowel ’n lap dance gegee het. “My suster het haar eks met ’n skêr gesteek.”

“Hoekom ek?”

“My comment. Sy’t gesien ek like jou stukkend.”

“En?”

“Ek’t teen haar getuig.” Dan, half asof sy met haarself praat: “Payback is a bitch.”

 

Vrydagaand. 23:47. Mia luister na ’n podcast op YouTube. Alistar Fortuin aka Jan Bloed, ’n 26’s tronkgeneraal. Sy: “Fokkit, die ou was so lank in die tronk, hy weet nie eens wat Facebook is nie.”

Op daai oomblik scheme ek ek wens ek ook nie. Ek kruip onder die laken uit, steek my selfoon onder Gaireyay Fredericks se Een voet innie kabr weg, loop badkamer toe.

Maak ’n paar kreungeluide.

Google: Facebook scams.

Ek download ’n paar foto’s, post dit op my Facebook-bladsy. Gaan na my settings, log eers uit alle ander devices uit, verander my wagwoord na ’n kombinasie van lukrake letters en syfers – iets wat nie eens ek weer kan onthou nie. Ek kopieer dit in die Confirm-blok en log uit. Daarna verwyder ek die scamfoto’s uit my gallery en ook uit die trash. Ek maak seker dat my Google-soekgeskiedenis vir vanaand skoon is, en dat niks in Photos gebackup is nie

Ek spoel die toilet en was my hande.

Moet ek air freshener spuit? The devil is in the detail en sy ...

Mia gebruik die Skepper se naam ydellik. Skree-huil: “Net toe my lewe perfek is, hack hulle óns Facebook. Ek kan nie inlog nie – jy?”

“Wat? Laat ek net my selfoon kry, ek dink dit lê nog in die kombuis.”

Nou begin die reis – wie is Donovan Fortuin van die Elsies sonder enige likes?

Ek gebruik die mikrogolfoond se lig as baken om nie die katboks raak te skop nie.

’n Kerkklok slaan.

Mia praat agter my. “Hoekom is jou selfoon in die kombuis?”

Die selfoon val uit my hande.

Pieng.

Haar lippe trek ’n reguit lyn. “Wie’s sy?”

Sy tel my selfoon op. Die skerm verspook haar gesig soos wat Pa met ’n flits gedoen het toe ek nog klein was. Skadu’s klim teen haar wang op, nes daai spider se pote teen haar sleutelbeen. Sy lees die boodskap. Sy sit dit op die kombuistafel neer. “Jo Prins wil weet of Gaireyay se resensie klaar gaan wees voordat jy op honeymoon gaan?”

Ek voel soos een van die lifers wat vrygelaat is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top