Die huis

  • 0

“Vandag sal jy moet sterk staan. Jy sal moet vuisslaan teen die trane. Trane van ergernis maar dalk van heimwee ook,” prewel tannie Hessie Benson.

“Ek belowe niks nie” hoor sy ’n stem van die groot, rooi stoep se kant af.

“Kyk hoe lyk jy. Kyk na hierdie ou, rooi stoep. Jy het altyd geblink en is met trots opgevryf, maar wat ek hier voor my sien, laat my in ’n hartseer en ’n gruwe bui val. Ja, ek val in ’n bui en ’n hartseer want mens stap nie sommer in een in nie. Nee, jy val in hom in.”

Tannie Hessie druk haar vuiste in haar heupe, trek haar mond op ’n hoek, so asof sy ’n suur ding beetgekry het, of ’n suur ding haar beetgekry het.

Hierdie huis reg voor my was ’n herehuis. Dit was ’n plek waar Afrikaanse families bymekaargekom het. Mense het feesgevier. Van Kersfees, doop tot troues is hier gehou. Vername mense het hier bymekaargekom.

Die Koegelenberg-gesin het vir Klein Koot hier gedoop. Daai kind het so geskreeu dat die ma skoon flou geval het. Niemand kon haar bykry nie en die dag toe sy bykom was sy nooit weer dieselfde gewees nie. Sy is tot vandag toe nog simpel.

Mans met swart baadjies en swart hoedens het hier kom vergader. Vroue met handskoentjies en hoedjies het vrouedae hier gehou. Trotse spul gewees.

Die gras het reg rondom die opstal gegroei en die bome was ’n goddelike koelte vir anties met gloede, kinders wat plaas-plaas speel en jongmense wat agter die stamme staan en liefdeswoorde vir mekaar belowe.

“Ek sal iets moet doen,” sê Tannie Hessie weer.

“Jy sal my moet help,” praat die deur.

“Moenie bekommerd wees nie. Ek gaan vir jou olie en daai handvatsel gaan gevryf en geblink word.”

“Ek is verniel. My siel is seer,” kom daar weer ’n stem.

Tannie Hessie maak haar oë saggies toe en begin bid. Iets wat sy min doen, maar vandag gaan daar gebid word. Vandag gaan die Bose uit hierdie kosbare huis gedryf word. Al doen sy dit vrou-alleen.

Tannie Hessie begin die deur olie, soos wat ’n katoliek of ’n ding iemand sal salf en besmeer met die blinkste olie.

“Dankie,” sê die deur.

Sy vryf die handvatsel en die skarniere blink. Daai koper is weer rooi-blink.

“Dankie,” sê die handvatsel.

Nadat sy die hele dag olie gesmeer het, geskaaf en geskuur het, gaan sit sy by die ou houttafel in die kombuis.

Sy ruik weer die koffie. Sy proe daai vars brode. Sy hoor weer vrouens in die eetkamer lag terwyl mans in die sitkamer sit en praat oor die weer, vanjaar se oes en jong seuns wat hulle boerdery gaan oorvat.

Alles suksesstories. Mooi stories.

“As Tannie so alleen in hierdie verlate ou huis sit?” vra ek.

“Kind, hierdie was ’n wonderlike plek. Hier het kinders tot laat in die aand wegkruipertjie gespeel. Die groter kinders het blikaspaai gespeel.

Die ander kinders wat dalk bietjie groter was, het onder die bome gestaan en vry. Dit is ’n familieplek hierdie.

Ons het tot laat in die aand op die stoep gesit en stories vertel, selfs drome gedroom. Nou is daar niks oor van die drome nie. Niks, sê ek vir jou.”

“Het Tannie koors?” vra ek.

“Kind, sien jy daardie spens? Daai rakke het gekreun onder konfyt, ingelegde perskes en tuisgebakte brode. Kerfees was dit net gemmerbier en kleinkoekies. Families het saam om hierdie houttafel gestaan en deeg gerol, koekies uitgedruk en rosyne by die gemmerbier gevoeg. Dis dinge wat was. Wat gaan nou van ons word?”

“Kan ek vir Tannie soet tee maak?” vra ek.

“Sien jy daai vuurherd? Sien jy dit? In die winter het daar ’n vuur gebrand wat hierdie hele plek warm gemaak het. In die winter het die mans koud van buite af ingekom, hulle hande daar warm gemaak en dan het almal geweet hierdie plek is veilig en dis óns plek dié.”

Tannie Hessie staan op en vat my aan die arm.

“Kom kyk. Ek wil vir jou nog iets gaan wys.”

Ons stap in die lang gang af en gaan staan onder waar die badkamer links afdraai.

“Sien jy hierdie gang? Sien jy dit? Hier het dosyne bruide afgestap, reg in die arms van hulle geliefdes. Hierdie gang praat van liefde. Hierdie mure getuig van vrede. Sien jy dit?”

“Ek sien, Tannie,” sê ek.

“Kan ons gaan tee drink?” vra ek weer.

“Hierdie houtvloere het geblink. As die familie hier bymekaargekom het, het ons as kinders saggies opgestaan en op ons tone hier afgestap, reguit spens toe. Hierdie vloer het ’n taal gepraat wat net ons verstaan. Die grootmense het nie daai taal geken nie. Dit was ons geheime taal,” en daar trek tannie Hessie haar skoene uit en stap op haar tone die gang af.

Ek doen dit ook.

“Ek verlang na alles wat was. Ek wens ek kan weer sing. Ek wil weer om middernag in jou oor fluister,” hoor ek ’n stem.

“Tannie, het Tannie dit gehoor?” vra ek verskrik.

“Ja, Kind, dis die taal van die gang. Die gang het jou gekies,” sê sy.

“Tannie, ek dink ek wil bietjie gaan lê.”

“Daar is nie tyd vir lê nie. Ons moet werk. Jy sal moet help. Hierdie gang het met jou gepraat en jy is gekies. Kom.” Ons trek weer ons skoene aan en stap na die hoofslaapkamer toe, of wat eens die hoofslaapkamer was.

“Na jou sal ek kyk. Vee net bietjie die vloer uit,” hoor ek ’n stem. “Die winter gaan koud wees. Sorg dat die ganse goed gepluk word sodat ons die kussings en komberse kan opstop. Winter in die Vrystaat is bytend koud.”

“Het Tannie gehoor?” vra ek grootoog.

“Jy is gekies” sê tannie Hessie.

“Sien jy daardie vensters?” vra tannie Hessie en wys na die sitkamer se groot oopskuifvensters.

“Kan ons nie maar loop nie?” vra ek.

“Ons is nou wel gekraak en party is gebreek, maar ons sal nog steeds vensters bly. Help ons net om ’n nuwe ruit in te sit en dit styf te plak met daai goeters wat kliphard word.”

“Jy is gekies,” sê tannie Hessie toe ek grootoog na haar kyk.

Toe weet ek.

Tannie Hessie het saggies by die deur uitgestap en op die stoep gaan sit. Ek het bly staan. Ek wil meer weet. Ek wil deel wees van die oplossing. Ek wil hierdie huis lewe gee.

“Wie is julle?” vra ek saggies.

“Ons is verminkte boere. Hulle het ons gebreek en ons mag stukkend wees, maar ons gaan weer opstaan en blink,” praat die stukkende vensters en ek besef dis al die gruwelike plaasaanvalle en -moorde.

“Ons is Rhodes, Totius en Kruger,” hoor ek die gang praat. “Hulle het ons verniel, maar ons gaan bly staan. Vryf ons net ’n klein bietjie blink,” en ek poleer die vloer blink-glad en Kruger glimlag.

“Ek is ’n universiteit. Ek gaan weer vol word en die ingeleg gaan weer op my rakke staan. Al wat dit kos, is om my af te stof,” praat die spens. Ek stof al die rakke af en was die ou canfruitbottels uit.

“Dankie, nou kan ek vir al die jong mense weer gee,” praat die spens.

“Jy red my,” hoor ek ’n rowwe stem.

“Wie is jy?” vra ek hees en saggies.

Die huis se deur gaan effens oop, ’n geskeurde gordyn loer by ’n gebreekte venster uit en ’n dakplaat klap toe die windjie begin waai.

“My naam is Suid-Afrika. My mure is dik en stewig. Ek kry seer, maar dankie dat julle my probeer red,” hoor ek die huis praat.

“Daar het jy dit, kind, jy kyk na ons eie Suid-Afrika,” sê tannie Hessie en skink koffie in die mooiste koppies wat ek nog ooit gesien het.

Dit vat net een ou, Tannie, ’n mannetjie met stywe broeke en die mooiste skinkbord met beeldskone koppies en pierings om te red wat daar nog te redde is.

Lees ook

Die vismark

Almal van ons is op soek na iets

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top