Die historiese ontwikkeling van die monnikewese in die Middeleeuse Latynse Weste, byeengebring vanuit die mees onlangse literatuur

  • 1

Die historiese ontwikkeling van die monnikewese in die Middeleeuse Latynse Weste, byeengebring vanuit die mees onlangse literatuur

Johann Beukes, Departement Filosofie en Klassieke, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 19(2)
ISSN 1995-5928

Die artikel sal binnekort in PDF-formaat beskikbaar wees.

 

Opsomming

Hierdie artikel bied ’n sistematiese en samehangende oorsig aan van die historiese ontwikkeling van die monnikewese in die Middeleeuse Latynse Weste (vroeg-vyfde eeu tot die tweede helfte van die 15de eeu), byeengebring vanuit die mees onlangse (2001–2021) spesialisuitsette in die tersaaklike afdelings. Die hermeneutiese geleier in die ontwikkelingsoorsig is dat die “monnik”, as ’n diepgaande geïnstitusionaliseerde vorm van subjektiwiteit, op ’n ongeëwenaarde skaal bygedra het tot die oorhoofse ontwikkeling van die Westerse ideëgeskiedenis en die tot stand bring van die Westerse samelewingsorde. Nadat die diskursiewe konteks vir die historiese ontwikkeling van die monnikewese in die vyfde tot die agste eeue aan bod gebring is, met aksent op die bydraes van Augustinus, Benediktus, Cassianus, Boethius en Cassiodorus in aanloop tot die val van Rome in 530, word ontwikkelinge in die Karolingiese Renaissance (vanaf 742) en die onmiddellike periode daarna (negende tot 11de eeue) onder die loep geneem, met fokus op die bydraes van Alcuin, Eriugena, Anselmus en Damianus. Die derde deel van die artikel fokus op ontwikkelinge in die vier Sentraal-Middeleeuse skoolordes (die Franciskane, Dominikane, Augustyne en Karmeliete) en die bydraes van die vernaamste skoolmonnike vanuit hierdie ordes tot die skolastiek van die 13de en 14de eeu. Die ontwikkeling van die monnikewese word teen hierdie agtergrond as die mees sentrale aspek van die algehele ontwikkeling van die Westerse geestesgeskiedenis sedert die val van Rome aangedui: Daar sou nie sprake kon wees van die post-Romeinse skepping, bewaring en ontwikkeling van ’n Westerse samelewingsorde as dit nie vir die dinamiese ontwikkeling en institusionele teenwoordigheid van die monnikewese in die Middeleeuse Latynse Weste was nie.

Trefwoorde: Alcuin; Anselmus; Augustinus; Augustyne; Benediktus; Boethius; Cassianus; Cassiodorus; Damianus; Dominikane; Eriugena; Franciskane; Karmeliete; kloosters in die Middeleeuse Latynse Weste; skoolordes

 

Abstract

The historical development of monasticism in the medieval Latin West, synthesised from the most recent literature

This article provides a systematic and coherent overview of the historical development of monasticism in the medieval Latin West (early fifth to the second half of the 15th century) by synthesising the most recent (2001–2021) specialist outputs in all relevant sections. It is shown that the “monk”, as a profoundly institutionalized form of subjectivity, contributed to the overall development of the Western history of ideas on an unprecedented scale, unparalleled to this day. After providing a discursive context for the development of monasticism in the West (Augustine, Boethius, Benedict, Cassian and Cassiodorus), the article distinguishes between progress in a first phase (within monasteries and cathedral schools from the fifth century onward) and a second phase (within mendicant orders from the early 13th century onward). The article subsequently reviews and contextualises the most influential monastic figures from the Latin West, ranging from Alcuin in the eighth century to the most significant mendicant monks up to the 14th century and the most noteworthy orders that were developed during this millennium-long period.

First, developments in monasticism in the Latin West before the onset of the fall of Rome are explored, with special reference to the contributions of Augustine, Boethius, Benedict, Cassian and Cassiodorus. It is shown that monasteries were not merely ascetic spaces for the fulfilment of a contemplative life, but centres of education where a study of the seven liberal arts could be combined with Christian instruction. Five themes are subsequently addressed in the period from the onset of the Carolingian Renaissance in the eighth century to the 12th century, focusing extensively on the contributions of Alcuin of York, John Scottus Eriugena, Anselm of Canterbury and Peter Damian: 1) the development of monastery schools during the Carolingian Renaissance; 2) monastery reforms during the 11th century; 3) the most significant monastery orders up to the 12th century (the Clunians, the Camaldolesians, the Vallumbrosians, the Carthusians and the Cistercians); 4) internal conflict between monks and between monastic orders during the 12th century (employing the deep rift between Bernard of Clairvaux and Peter Abelard as a good example); and 5) the adaptation of the Alcuinian curriculum in monastery schools under pressure from the new universities’ curricula (using Hugo of St Victor’s highly original and simplified four-part scheme of the trivium and quadrivium as exemplary of these idiosyncratic adaptations). The development of monasticism from the early 13th century onward is traced to the founding of the four mendicant orders between 1210 and 1244, and their virtually immediate impact on scholasticism: the Franciscans, the Dominicans, the Augustinians and the Carmelites. In each instance the most significant representatives of these orders are presented from the most recent specialised research. Similarities and differences between these orders, and the profoundly political ruptures that compromised the Dominican order internally from the 1320s onward, with their Franciscan counterparts prospering at the same time, are highlighted.

In conclusion it is noted that both monastery and mendicant monks were transferers of a millennium-long intellectual passion in which research and lecturing, the translation of texts of antiquity predominantly into Latin, the refined copying of older and contemporary texts, the synthesis and editing of philosophical texts of antiquity in Greek and Latin and especially the preservation of texts and intellectual traditions amidst severe political and societal instability in Western and South Europe, Britain and Ireland, were the most significant consequences. The characteristics of these monks’ intellectual labours were their precision, thoroughness and the academic integrity that imprinted them; their ability and willingness to engage the idea-historical past, always reconceptualising it. The “monk”, from whichever order, was a formidable guardian of what was entrusted to him. The role of the medieval monachus in the conservation and intensifying of concepts such as truth, virtue, order and tradition is indeed unparalleled to this day. That is why the earliest communities of monks were called “orders”: They created order amidst turmoil and tempest, furthering and deepening the notion of sensus communis – that there are things that can be known and logically, clearly and decisively communicated within a particular community. In their instance that “particular community” was localised in monasteries, whether presented from cloister classrooms and libraries or from mendicant studia at the young universities. In this broad sense this article contributes to scholarship in medieval history and philosophy by synthesising the most recent and relevant specialist outputs regarding leading monastic figures and prominent orders from the medieval Latin West, as reviewed and contextualised in the exposition, thereby presenting a systematic and coherent overview of the historical development of monasticism during this period of roughly a thousand years.

Keywords: Alcuin; Anselm; Augustine; Augustinian Order; Benedict; Boethius; Carmelites; Cassian; Cassiodorus; Damian; Dominicans; Eriugena; Franciscans; mendicant orders; monasteries in the medieval Latin West

 

1. Die diskursiewe konteks vir die historiese ontwikkeling van die monnikewese in die vyfde tot die agste eeue

Die ontwikkeling van die monnikewese was dié wesenlike aspek in die ontwikkeling van die Westerse geestesgeskiedenis sedert die val van Rome. Maar hoe het die “monnik” in die post-Romeinse wêreld verskyn en hoe het daardie verskyning deur die loop van die Middeleeue verander? Om dié gelade vertrekpunt te verhelder en die inleidingsvraag te beantwoord, word ’n toeganklike en sistematiese oorsig van die historiese ontwikkeling en samehang van die monnikewese in die Middeleeuse1 Latynse Weste2 aangebied, byeengebring vanuit die mees onlangse3 spesialisuitsette rakende elke monnikefiguur, kloosterorde en skoolorde wat hier aan die bod gebring word. Deur ’n saaklike byeenbring van hierdie onlangse ontledings word aangetoon dat die monachus as ’n ten diepste geïnstitusionaliseerde figuur op ongeëwenaarde skaal bygedra het tot die ontwikkeling van die Westerse ideëgeskiedenis en die bestendiging van ’n Westerse samelewingsorde. Die term monnik (monachus) dui egter nie op ’n gelykblywende of eenvormige subjektiwiteit wat eenvormig geïnstitusionaliseer is nie; die term monnikewese word insgelyks nie hier as ’n homogeniserende verwyser gebruik nie, maar juis as ’n selfonderbrekende semantiese aanwyser wat die veranderlike en heterogene aard van die institusioneel-gevormde monnikewese eerbiedig.

Die historiese ontwikkeling van die monnikewese was in hierdie sin ’n dinamiese proses. Die aanbod van die monnikewese in die sesde eeu moet byvoorbeeld uitdruklik van die verskyning daarvan in die 13de eeu onderskei word. By verre die meerderheid akademici vanuit die Middeleeuse Latynse Weste was kerklik-gesanksioneerde ampsdraers wat vanuit kloosters en katedraalskole in die vroeë Middeleeue en kloosterongebonde skoolordes4 vanaf die sentrale en latere Middeleeue gewerk het. Die meerderheid van hierdie ampsdraers was dus verbonde aan die een of ander orde wat aanvanklik oorwegend kloostergebonde maar vanaf die vroeg-13de eeu by uitstek kloosterongebonde was. Die onderskeid tussen sodanige kloosterordes en kloosterongebonde ordes is van wesenlike belang: Tot die opkoms van die skoolordes in die vroeg-13de eeu was alle monnike op die een of ander wyse aan ’n klooster (grootliks gereguleer deur die Benediktynse ordereëls) gebonde, maar vanaf die vroeg-13de eeu moet die basiese onderskeid tussen monnike binne en buite kloosters nougeset gehandhaaf word.

Die institusionalisering van die asketiese monnikewese in die Latynse Weste het in ’n teologies-opvoedkundige inisiatief van Augustinus van Hippo (354–430) beslag: Hierdie Afrikaan kan met reg as die eerste Middeleeuse filosoof, die oorgangsfiguur tussen die patristiek en die Middeleeue en die vader van die Westerse kloosterwese bestempel word.5 Hy was nie net die mees prominente kerkvader vanuit die laatpatristiek nie, maar ook die mees invloedryke Christelike Neoplatonis vanuit die Middeleeue. Sy leerstellinge sou Christelik-Latynse denke vir die volgende sewe eeue domineer, tot met die herbekendstelling van Aristoteles se natuurlike filosofie in die vroegskolastiek van die 12de eeu. Met sy ervaring van die eerste geslaagde barbaarse inval in Rome in 410 onder bevel van die Visigoot Alaricus I en sy indruk dat Rome onherroeplik kwesbaar geword het, dokumenteer Augustinus in De doctrina Christiana (Augustinus 1996) ’n voorstel waarin Christelike dogma met die studie van nie-Christelike (oorwegend Griekse) bronne geïntegreer kon word. De doctrina Christiana het ten diepste ’n opvoedkundige inisiatief aangebied waarmee die kwynende invloed van Rome aangespreek kon word. ’n Ouer tydgenoot van Augustinus, die eertydse Romeinse soldaat en later (teensinnige) biskop van Turyn vanaf 371, Martin van Turyn, of Martinus Turonensis (316/336–397), kan wel streng gesproke die eerste Westerse monnik genoem word. Martin het na ontslag uit die Romeinse weermag in 356 vir bykans 15 jaar ’n afgesonderde bestaan op die eiland Gallinaria gelei en later in Poitiers waarskynlik die eerste struktuur in Europa opgerig (Ligugè Abdy) wat as ’n voorloper van die daarna ontwikkelende monnikewese beskou kan word. Op grond van die kultusontwikkeling rondom Martin se persoon behoort sy rol in die ontwikkeling van die monnikewese in die Latynse Weste egter onderbeklemtoon te word – sonder om die geldigheid van die aanspraak dat hy nagenoeg die “eerste Westerse monnik” was, summier af te wys (Maurey 2014:1–20; 74–130).

Kort voor die val van Rome in 530 is Augustinus se inisiatief opgeneem deur (Anicius Manlius Severinus) Boethius (ca. 477–524).6 Boethius is rondom 477 in senatoriale familieverband gebore in die tyd toe die laaste Romeinse keiser, Romulus Augustulus, van sy amp onthef is en die Ostrogote onder leiding van Theoderik reeds beheer oor die grootste gebied van die Suid-Europese deel van die Romeinse Ryk verkry het. Boethius het in 510 konsul onder Theoderik geword, maar is 15 jaar later op grond van beweerde hoogverraad deur Theoderik self tereggestel. Boethius bevestig die aanspraak en geldigheid van die klassieke sewe liberale lettere (grammatika, retoriek en logika [die trivium] en meetkunde, wiskunde, musiek en astronomie [die quadrivium]), wat op hierdie stadium van die filosofiese oorlewering in die vroeë Middeleeue goed gevestig was en wesenlik belangrik in die onderrig van monnike in kloosterskole sou word. Hy het teen die agtergrond van Augustinus se De doctrina Christiana wesenlik net een (hoewel enorme) intellektuele doelstelling gehad: Omdat hy besef het dat die Romeinse Ryk besig was om finaal in duie te stort, waarskynlik nog in sy eie leeftyd, wou hy die Hellenistiese filosofiese erfenis (en die Latyns-patristiese kommentare daarop) in Latyn vertaal, redigeer en in Latyn herkommentarieer vir opvolgende geslagte. Middeleeuse denkers sou op die reste van Boethius se vertalings, redigerings en kommentare aangewese wees vir feitlik alle inligting rakende antieke logika, taalbegrip of grammatika, en ook rakende fundamentele kwessies met betrekking tot antieke wiskunde en musiekteorie. Augustinus en Boethius het sodoende die tafel intellektueel gedek vir die skep van ’n institusionele ruimte waarin die monachus as askeet en intellektueel histories voortgaande kon ontwikkel.

Boethius se tydgenoot Benediktus van Nursia (ca. 480 – ca. 547) het in hierdie institusionaliseringsproses in die Latynse Weste die leiding geneem. Met die totstandkoming van die eerste klooster in die Latynse Weste was die kloosterwese reeds grondig gevestig in Egipte en die oostelike deel van die Romeinse Ryk, onder leiding van woestynvadere soos Antonius die Grote (251–356) en Pachomius (292–348). Die invloedryke argimandriet van die Wit Klooster te Atripe in Egipte, Sjenoet (fl. 383), se laat vierde-eeuse kommentaar oor die Noord-Afrikaanse kloosterlewe, De vita monachorum,7 verskaf ’n aanduiding van die verrigtinge in die daaglikse lewe van ’n Noord-Afrikaanse klooster rondom die vyfde eeuwending. Benediktus het na die Noord-Afrikaanse voorbeeld van onder andere die Wit Klooster dus reeds ’n institusionele bloudruk tot sy beskikking gehad. Benediktus se institusionalisering van die kloosterwese in die Latynse Weste is naas kommentare soos dié van Sjenoet voorberei deur die byeenbring van kernmomente in die gevestigde Oosterse kloosterwese (soos merkbaar in die latere werke van Pseudo-Dionisius [ca. 500] en Maximus Confessor [580–662])8 en die jong Westerse askeseruimtes in die werke van Johannes Cassianus (ca. 360–435). Cassianus het sowel Grieks as Latyn vlot hanteer en het met die oorgang tussen die twee tale daarin geslaag om ’n kruisbestuiwing vanaf die Oosterse kloosters rondom Konstantinopel na die Latynse Weste te bewerkstellig. Sy Collationes patrum in scetica eremo (Bekentenisse van die woestynvadere) het die strukturering van bogenoemde Noord-Afrikaanse kloosterwese ook vir die opkomende Europese kloosterwese toeganklik gestel.9

Benediktus kan teen die voorbereidende dekor van die woestynvadere en Cassianus se werk as die stigter van die eerste outentieke Westerse klooster beskou word. In sy Regula Sancti Benedicti, geskryf in 516 kort voor die val van Rome, bied hy 73 stelreëls aan vir die ordening van geslagsgeskeide, asketiese en selibate ruimtes onder leiding van abte (ook vroulike abdisse vir vrouekloosters) waarin pax, ora et labora (“vrede, gebed en arbeid”) as samehangende sleutelbegrippe figureer. (Ab is van die Aramese abba, “vader”, afgelei.) Benediktus se taakstelling vir die Westerse monachus is vanuit hierdie 73 reëls duidelik: Keer weg van die versoekinge in en gebrokenheid van die wêreld en vind God as ’n geestelike pelgrim in broederlike gemeenskap met mekaar. Naas meditasie en gebed, maak akademiese werk uitdruklik deel uit van Benediktus se lectio divina – wat dus ’n hoë mate van geletterdheid en intellektuele toewyding vooronderstel het. Die meerderheid Westerse kloosterordes in die opvolgende eeue het streng voldoen aan die 73 Benediktynse reëls en opgaaf aan akademiese toewyding en sou ooreenkomstig as “Benediktynse ordes” bekendstaan. Binne hierdie ordes sou die akademiese monnikewese in die Latynse Weste gedy: Anders as in die Ooste was die ontwikkeling van die klooster rondom ’n biblioteek en klaskamers van meet af aan struktureel kenmerkend en uniek aan kloosters in die Latynse Weste. Benediktus se latere tydgenoot Johannes Cassiodorus (ca. 485–585) het byvoorbeeld ’n biblioteek in sy klooster in die suide van Italië ingerig wat as die Vivarium (“visdam”) bekendgestaan het en van waar antieke en Christelike tekste oor die hele Europa versprei is – vanaf Spanje en later tot in Ierland en die veel latere Karolingiese paleisskool in Aachen. In Spanje het veral die ensiklopedis Isidorus van Sevilla (ca. 560–636) se Etymologiae10 by hierdie sirkulasie van tekste vanuit die Vivarium gebaat. Cassiodorus (Fontaine 2005:735–59) volg in sy Institutio sowel Augustinus se verdeling van die “Goddelike” en die “menslike” in De doctrina Christiana as Boethius se bevestigende insluiting van die klassieke sewe liberale lettere, die trivium en quadrivium. Op hierdie wyse stuur Cassiodorus die kenmerkende integrasie van filosofie met die studie van Christelike dogma in die kloosters van die Latynse Weste van stapel. Hiermee is een van die vernaamste kenmerke van die institusionalisering van die monnikewese in die Latynse Weste gestempel: Kloosters sou naamlik nie slegs asketiese ruimtes van aanbidding vir die volvoering van ’n kontemplatiewe lewe wees nie, maar juis sentra van onderrig wees waar die studie van die sewe lettere (in samehang “wysheidsleer” of “wysbegeerte” genoem) met ’n Christelike opvoeding gekombineer sou word. Daarby plaas Cassiodorus ’n hoë premie op die katalogisering en kopiëring van manuskripte. Naas die studie van die sewe lettere sou hierdie argiveringsoogmerk monnike se akademiese arbeid vir die volgende eeue deurslaggewend bepaal. Die superbiblioteek in York waar Alcuin van York (730–804) bykans twee eeue later werksaam was, bied hiervan ’n uitnemende voorbeeld.

Na Cassiodorus is die monnikewese in die sesde en sewende eeue (na Benediktus se voorskrifte) sistematies in Wes- en Suid-Europa ontwikkel. Hoewel geadministreerde onderrig binne kloosters in hierdie periode tot ’n stilstand kom, is kloosterskole steeds sistematies oor die grootste deel van die Europese landskap opgerig. Hierdie inderdaad “donker” periode in die vroeë Middeleeue word gekenmerk deur maatskaplike, godsdienstige en staatkundige onrus as deel van die steeds langtermyngevolge van die val van Rome na 530, die gevolglike verskuiwing van die keiserlike setel na die Ooste en die merkwaardige opkoms van Bisantium, met ’n gevolglike polarisasie tussen Oos en Wes en toenemende spanning tussen die Oosterse en Westerse kerk, die opkoms van Islam, met ’n feitlik onmiddellike imperialistiese oogmerk na die afsterwe van Mohammed in 633, asook die suidwaartse migrasie van die Europese stamme, nogeens die Visigote, wat op hierdie stadium reeds die hele Iberiese skiereiland deurkruis het en Spanje grootliks beset het. Daarby moes rekening gehou word met die gewelddadige suidelike insypeling van stamme soos die Lombardiërs.11 Dit was die plofbare dog “nuwe” wêreld van Karel I, “die Grote”, (742–814) oftewel die Karolingiese wêreld.

 

2. Die ontwikkeling van die monnikewese binne kloosters en kloosterskole vanaf die agste eeu

Waar Augustinus as die geestelike vader van die Westerse monnikewese en Benediktus as die stigter van die eerste Westerse institusionele ruimte daarvoor – die klooster – beskou kan word, was Alcuin die eerste organiseerder van beide. Alcuin kan as die mees sentrale figuur in die vroeg-Middeleeuse institusionalisering van die monnikewese in die Latynse Weste beskou word. Die renaissance of hergeboorte van die klassieke was een van Karel I se grondigste vergesigte en hy het besonder moeite gedoen om die mees bekwame akademici van sy tyd op te soek om hierdie hergeboorte gestalte te gee – juis so ver as vanaf Anglo-Sakse en Ierland. Trouens, gegewe die wanorde in kontinentale Europa die voorafgaande eeu het die sentrum van geadministreerde geleerdheid weg van kontinentale Europa na Ierland en Noord-Engeland geskuif. Die Karolingiese Renaissance, wat behoorlik vanaf ongeveer 780 vertrek neem, is juis gekenmerk deur die inspraak en invloed van Ierse en Anglo-Saksiese denkers aan die hof van Karel I.

2.1 Die ontwikkeling van kloosterskole tydens die Karolingiese Renaissance

Ierland was nooit deel van die Romeinse Ryk nie, maar die Christendom het met die kerstening van Ierland wel die Gaeliese kultuur progressief binnegedring. Die unieke, subtiele, op die oog af vreemde Bisantyns-Benediktynse Ierse monnikewese, ’n hibriede Oos-Wes-monnikebestel, is gedurende die agste eeu stadig omvorm tot iets meer outentiek Wes-Europees in aanbod.12 Dit was vanuit Alcuin se kloosterorganisering in Noord-Engeland en ook in Ierland dat grondige monastieseskooldenke gevestig kon word (met kloosterbiblioteke soos vermelde superbiblioteek te York as eksemplaries hiervan) en dat kloosters die sentra van die geïnstitusionaliseerde akademiese onderrig vir monnike kon word. Alcuin was besorg oor die swak gehalte van die kopiëring van manuskripte en het ’n eweknie-kruisverwysingstelsel ontwerp wat vir eeue daarna steeds gebruik is ten einde die akkuraatheid en integriteit van manuskripkopiëring te waarborg. Tekste is onder hierdie Alcuiniaanse stelsel met ’n buitengewoon hoë mate van ongekorrupteerde teksooreenstemming gekopieer (Dales 2004:1–17). Alcuin was daarby ’n formidabele organiseerder. Hy ontvang in 789 opdrag van Karel I om die kloosterwese in die Karolingiese Ryk dramaties te hersien na die voorbeeld van die Ierse kloosters met hulle bewese rekord van eenvormigheid en akademiese uitset. Binne twee dekades is die Benediktynse kloosters in Wes-Europa herstruktureer, enersyds om aan eenvormigheid, ten spyte van kulturele en geografiese uiteenlopendheid, te voldoen, en andersyds om die Hellenisties-rehabiliterende oogmerke van die Karolingiese Renaissance te bevorder. Alcuin het egter ook die kurrikulum vir die intellektuele opvoeding van kerklui en monnike geformaliseer, wat vir die volgende drie eeue binne sowel kloosterskole as katedraalskole as die gestandaardiseerde kurrikulum gehandhaaf sou word: Afgesien van studies in die grondslae van die patristiek en die teoretiese aspekte van Bybelse eksegese, voer Alcuin vanuit Boethius se basiskurrikulum en Isidorus se Etymologiae die sewe liberale lettere in. Daarby sluit hy Boethius se logika en kommentaar oor Aristoteles se De Interpretatione IX in. Alcuin ontsluit dus die intellektuele geskiedenis vanuit sy Ierse en Noord-Engelse belesenheid, konkretiseer dit in uitnemende biblioteke en in ’n veel meer vaartbelynde Benediktynse kloosterstelsel wat die institusionele omgewing sou bied waar akademiese werk vir die volgende bykans drie eeue beoefen sou word, tot met die stigting van die eerste universiteit in 1088 in Bologna (McKitterick 2004:1–27).

Die Karolingies-Alcuinse model van die onderrig van monnike waarin nie-Christelike filosofie en die studie van Christelike dogma volledig geïntegreer is, het wel tot aansienlike meningsverskille rakende veral die siel, die sakramente, die verhouding tussen Goddelike voorsienigheid en die vrye menslike wil, die aard en persoon van die tweede Persoon en die rol van ikone aanleiding gegee. Die mees prominente debatvoerders binne hierdie polemiese konteks was daarom juis monnike, onder andere Hilduin (ca. 785 – ca. 855)13 en die briljante hofamptenaar Johannes Skotus Eriugena (815–877) wat met sy (hoewel onvoltooide) vyfvolume-Periphyseon die enigste werklik spekulatiewe Karolingiese filosoof vanuit die Weste was (aan die hof van Karel I se kleinseun, Karel II [“die Kaalkop”, 823–877]). Eriugena arriveer in die 840’s aan die Karolingiese hof, waarskynlik op vlug uit Ierland voor die aanstormende Vikings, wat Ierland op daardie stadium konstant met roofaanvalle geteister het. Hy doseer daar vir ’n tyd die sewe liberale lettere aan die keiserlike paleisskool te Aachen. As dosent van die trivium en quadrivium maak Eriugena ruim gebruik van Boethius se Consolatione, waaroor hy uitgebreide aantekeninge maak in voorbereiding vir die skryf van die Periphyseon (in 866 voltooi maar in 1050, 1059, 1210 en finaal in 1225 op grond van klagtes van panteïsme as ’n voorloper tot die berugte Paryse veroordelings van 1277 verban). As hofamptenaar het Eriugena geen verantwoordelikheid in die kerk self gehad nie. Hy raak egter by die paleisskool te Aachen juis in sy hoedanigheid as dosent betrokke in ’n robuuste kerklike debat rakende die voorsienigheid van God, waarin sy belesenheid in Grieks, Latyn en patristiek die keiser opval. Gegewe die Karolingiese hof se voorkeur vir die Hellenistiese erfenis versoek Karel II hom om Pseudo-Dionisius se volledige korpus uit Grieks in Latyn te vertaal. Eriugena handel die vertaling in ’n kort tyd met onderskeiding af en word op grond daarvan formeel ’n beskermling en akademiese gas van die Keiser. As opvoeder het Eriugena veel vermag om die akademiese profiel van die monnikewese in die negende eeu te verhoog en die ontwikkeling van kloosterskole as sentra van die akademiese opvoeding van monnike deur die hele Karolingiese Ryk heen te bevorder.14

Hóé betekenisvol die Karolingiese ontwikkeling van kloosters en kloosterskole vir die ontwikkelende monnikewese self was, word daarin betuig dat die skolastiese metode wat akademiese werk in die sentrale Middeleeue gekenmerk het, aanvanklik vanuit juis ’n kloosterskool ontwikkel is. In die 11de eeu het Anselmus van Kantelberg (1033–1109) die eerste grondige sistematiese en spekulatiewe werk vanuit die Latynse Weste sedert Eriugena se Periphyseon aangebied, uitdruklik as ’n uitset van die kloosterskool te Bec en as ’n student van die ab Lanfrancus (ca. 1010–1089).15 Monologion, Anselmus se eerste belangrike werk, het in 1076 begin sirkuleer en is ’n samevatting van die navorsing wat hy vanaf 1059 by die kloosterskool te Bec gedoen het. Die diep oorspronklike en invloedryke Proslogion verskyn in 1078 ten tye van Anselmus se abdyskap te Bec. Die voorwoord van Monologion verskaf belangrike geleiers vir hierdie ontwikkelende styl wat later as “skolastiek” bekend sou staan: Anselmus (1974 [1076]:3) dui in die voorwoord aan dat die boek gerig is aan sy monnikebroers te Bec en dat, op hulle aandrang, geen argumentvoering in die boek op Skrifgesag sal berus nie, maar op rasionele argumentvoering: “[R]asionele afleiding moet die bewyse verskaf en die helder waarheid moet daarvanuit openlik manifesteer, wat ook al die gevolgtrekkings van die onderskeie ondersoeke in die werk” (Anselmus 1974 [1076]:5). Daarom het Anselmus voordat die boek begin sirkuleer het, alle verwysings na gesag in terme van die Bybel en die belydenisse van die kerk uit die teks verwyder. Hy het dit aan Lanfranc in Kantelberg gestuur, wat onthuts was oor die afwesigheid van Skrifverwysings en ander kerklikegesagsverwysings. Tog het Anselmus die werk so, sonder herwysiging, laat sirkuleer. Die skolastiese metode was ’n produk van die geïnstitusionaliseerde kloosterwese en het gekom om te bly. Skolastiek was dus aanvanklik uitdruklik monnikewerk, onderneem vanuit kloosters en kloosterskole.

2.2 Kloosterhervormings in die 11de eeu

Suksesvolle institusionele ontwikkeling bring dikwels ook vergrype en oordaad. Daarvan was ook die ontwikkeling van die monnikewese in die post-Karolingiese tyd ongelukkig nie gespaar nie. Teen die middel van die 11de eeu was die monnikewese binne die institusionele ruimtes van kloosters en kloosterskole ekonomies vooruitstrewend, uitermate stabiel en daarom ’n “speelgrond vir die duiwel”, soos Anselmus dit self in sy De casu diaboli bestempel het. Ondeugde, insluitende luiheid, promiskuïteit en simonie (die omkoop van priesters en monnike) het in die kerk en kloosters van die 11de eeu meer as sporadies voorgekom. Sistematiese kloosterhervormings is daarom in die 11de eeu van stapel gestuur en daarin het die Franse monnik Petrus Damianus (1007–1072) leiding geneem. Damianus is opgevoed in die basisskool van Faenza en later in die uitnemende katedraalskool van Gerbertius van Aurillac (ca. 946–1003).16 Na ’n tydperk as privaatdosent in filosofie betree Damianus in 1035 die kloosterwese by die hermetiese klooster van Avellan, waar hy in 1043 as ab aangewys word. Bykans onmiddellik daarna begin hy met ingrypende hervorminge in die eie kring te Avellan, maar ook daarna in die wyer kloosterwese en kerk, waarvan sy polemiese hervormingsgeskrifte (waaronder sy Liber gratissimus en die sensuurteks Liber gomorrhianus; Beukes 2019a:1–9) vinnig en wyd versprei is en hy as ’n effektiewe institusiehervormer in die laat 1040’s onder Leo IX (Bruno van Egisheim-Dagsburg, 1002–1054, pous 1049–1054) se aandag gebring is. Damianus het veral ’n belangrike bydrae tot arbeidshervorming binne die kloosterwese gelewer met die verband wat hy getrek het tussen ’n kontemplatiewe lewe en arbeid. Damianus kan trouens gereken word as die voorloper van ’n grondige arbeidsetiek in die ontwikkeling van die monnikewese in die 11de eeu: Hy het trouens met sy “teologie van werk”17 ’n merkwaardige bydrae tot die voortgaande hervorming van die monnikewese in die besonder en die algemene Christelike milieu van die 11de eeu gelewer. Damianus se omvangryke ondersoek vanuit pouslike opdrag deur Leo IX na die “probleem” van monnike se seksuele aktiwiteite in kloosters en intieme kerklike ruimtes, veral biegruimtes, verskaf ’n blik op die algemene en progressiewe wegkalwing van die seksuele moraal in veral Franse kloosters gedurende die 11de eeu.18 Damianus se pogings om dit teen te gaan was op die lang duur ongeslaagd. Meer langdurig en betekenisvol was sy aksent op ’n herverstaan van arbeid as die sleutel tot ’n monnik se veronderstelde kontemplatiewe lewe. Dít doen Damianus deur vanuit ’n eskatologiese raamwerk te betoog dat al wat tussen ’n monnik en die ewigheid staan, ’n monnik se werk is. Die eerste kriterium wat by die waardering van ’n monnik se lewe behoort te geld is daarom die kontemplatiewe aard wat vanuit daardie monnik se arbeid na vore tree – en nie die dwingendheid van die monnik se gebede, meditasies en afsonderinge nie. Hierdie eskatologiese interpretasie van arbeid en singewing binne die konteks van die monnikewese was radikaal nuut in ’n samelewing wat op geen wyse nog oor die verhouding tussen arbeid, produksie en vooruitgang, asook die totstandkoming van ’n verhouding tussen die individu en ’n kollektief op grond van arbeid of produksie, nagedink het nie.

2.3 Die belangrikste kloosterordes in aanloop tot die 12de eeu

Kloosters en kloosteronderrig het in aanloop tot die 12de eeu dus ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die (in oorsprong dus oorwegend Benediktynse) monnikewese in die Latynse Weste. Die mees gevolgryke van hierdie ontwikkelende kloosterordes was naas die Benediktynse orde (afgekort O.S.B.) self:

– Die Cluniasensers (in 910 deur Willem I [875–918], hertog van Aquitaine, gestig), met Petrus Venerabilis19 (ca. 1092–1156) as die mees prominente Cluniasenser in die 12de eeu.

– Die Kamaldulensers (Ordo Camaldulensium [O. Cam.]), rondom 1012 deur die Italiaanse Benediktyn Romualdus (ca. 951 – ca. 1027) gestig.

– Die Vallumbrosiane (Ordo Vallisumbrosa [O.S.B. Vall.]), in 1038 gestig deur die Benediktynse ab Johannes Gualbertus (Giovanni Gualberto, ca. 985–1073).

–  Die Kartuisers (Ordo Cartusiensis [O. Cart.]), in 1084 gestig deur Bruno van Keulen (1030–1101), met Denis de Leeuwis (1402–1471) as ’n prominente laat-Middeleeuse eksponent.

–  Die Cisterciënsers (Sacer Ordo Cisterciensis [O. Cist.]), rondom 1110 gestig met Bernardus van Clairvaux (1090–1153) as die leidende figuur in hierdie dogtersorde van die Cluniasensers.

Die belangrikste kloosterordes wat na die 12de eeu gestig is, sluit in:

–  Die Pauliniërs (Ordo Fratrum Sancti Pauli Primi Eremitae [O.S.P.P.E.]), in 1215 gestig deur die Hongaarse hermiet Eusebius van Esztergom (ca. 1200–1270) en vernoem na Paulus van Thebes (ca. 227 – ca. 34220), wat tradisioneel beskou word as die “eerste Christelike hermiet”.

–  Die Celestiniane (O.S.B. Cel.), in 1244 gestig deur Petrus van Morrone (1215–1296), wat as pous (Caelestinus V) gedien het vir slegs vyf maande (van 5 Julie tot 13 Desember 1294) en kontroversieel bedank het na sy openbare versugting om na die eenvoudige kloosterlewe terug te keer (geen pous na Morrone het nog weer die naam Caelestinus opgeneem nie).

–  Die Olivetaniërs (O.S.B. Oliv.), in 1313 gestig deur Giovanni “Bernardo” Tolomei (1272–1348), wat die bynaam Bernardo aangeneem het uit agting vir Bernardus van Clairvaux. Hoewel die Olivetaniërs uitdruklik bande met die Benediktynse orde gehandhaaf en streng aan Benediktus se ordereëls voldoen het, was noue ooreenkomste met die Cisterciënsers prominent sigbaar, onder andere in die dra van laasgenoemde se kenmerkende wit monniketoga.

–  Die Birgittensiërs (Ordo Sanctissimi Salvatoris [O.S.s.S.], in 1369 uitsluitlik vir nonne gestig deur die Sweedse politieke aktivis Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373).

Van belang vir die onderhawige oorsig is dat hierdie kloosterordes op die spore van Benediktus, Boethius, Cassiodorus en Alcuin en later Eriugena, Anselmus en Damianus vernaamlik een doelstelling gehad het: die bewaring en bestendiging van wat aan hulle toevertrou is. Die nougesette manuskripkopiërings, biblioteke, inperking in kloosterstrukture en geroetineerde daaglikse bestaan moes dít wat eenmaal in ontvangs geneem is, vir die volgende geslagte ten goede laat meewerk. Anders gestel: Die diskursiewe oogmerk van die ontwikkeling van die monnikewese binne kloosterstrukture vanaf die vyfde tot die 12de eeue was die ontwikkeling en bestendiging van ’n Westerse samelewingsorde. Wie die post-Romeinse verskyning van die “monnik” as ’n uitsluitlik godsdienstige verskynsel interpreteer, gaan by die ten diepste kultuurstigtende moment daarvan verby. Die manuskripte, biblioteke, tafelgebede, daaglikse lesings en kontemplatiewe kloosterhandelinge lê ten liturgiese grondslag van die idee van Westersheid. Die kloostergevormde monnik van die vroeë Middeleeue is in hierdie sin ’n outentieke Westerse vaandeldraer van stigting, vorming en opvoeding.

2.4 Konflik tussen monnike in die 12de eeu

Naas die probleme rondom arbeid, die seksuele moraal en simonie wat die kloosterwese van die 11de eeu geteister het en die toenemende ontwikkeling van katedraalskole (ten koste van die voortgaande ontwikkeling van kloosterskole), het konflik tussen monnike die uitbreiding van die monnikewese in die 12de eeu ernstig begin beïnvloed. Hiervan was die stryd tussen Petrus Abelardus (1079–1142) en die bovermelde Cisterciënser Bernardus tekenend. Natuurlik het wedywering en konflik tussen monnike reeds sedert Cassiodorus se Vivarium in kloosterskole voorgekom. Tog kan konflik nie met die gangbare ingesteldheid van sensus communis in die kloosterskole geassosieer word nie. Abelardus was in en rondom Parys bekend vir sy onderrig van logika en sy pleitbesorging van die dialektiese metode in wat nou toenemend “teologie” (in uitdruklike onderskeid van “filosofie”) genoem is.21 Hy was ’n wegbereider vir die volle rehabilitering van Aristoteles se korpus in natuurlike filosofie in die vroegskolastiek van die laat 12de eeu en veral die hoogskolastiek van die 13de en 14de eeue, wat histories bykans parallel ontwikkel het met die toenemende beskikbaarstelling van Latynse vertalings van die Arabiese vertalings van en kommentare oor die Griekse tekste. Abelardus se bydrae tot die Westerse register, spesifiek as kommentator en interpreteerder van sy besondere ideëhistoriese tradisie, juis in die grootlikse afwesigheid van ’n werkbare Aristoteliese korpus in Latyn, kan trouens moeilik oorskat word.22

Bernardus weer sluit in 1112 saam met sy broers en 25 vriende aan by die pas gestigte (1098) Benediktynse klooster van Citeaux. In 1115 word Bernardus uit die klooster gestuur om ’n dogterklooster in Clairvaux in die provinsie Champagne te gaan stig. Met die klooster gestig en in werking fokus Bernardus op die werk en nalatenskap van die Cisterciënsers, met die oogmerk om hierdie klooster, sonder benadeling van die historiese band met die moederklooster te Citeaux, in ’n klooster vir die Cisterciënsers te ontwikkel. Na enkele jare se bemoeienis met kerkpolitiek, onder andere in die suksesvolle hantering van die pouslike polemiek tussen Innocentius II (pous van 1130 tot 1143) en die antipous Anacletus II (d. 1138), tree Bernardus in 1138 uit die openbare kerklike lewe en fokus op sy akademiese werk te Clairvaux. Bernardus word veral onthou vir sy prediking ter aanmoediging van die tweede kruistog (1147–1149), wat ’n totale katastrofe was – en dan juis sy konflik met en vervolging van Abelardus wat in 1140 by die Konsilie van Sens ten opsigte van aspekte van sy filosofiese uitset veroordeel is. Filosowe soos Abelardus beweeg volgens Bernardus nooit anderkant “leë praatjies oor onmerkwaardige sake” nie – as sodanig is die filosowe se gesprekke “windpraatjies” (ventosa locuacitas, Bernardus 1957:2/131, ’n pejoratiewe frase wat eerder die betekenis van “windgat” inhou) en “filosofiese woordspelery” (verbositate philosophorum, Bernardus 1957:2/274). Met Abelardus duidelik in sy visier beskryf Bernardus (1957:1/239, ook met verwysing na 2 Timoteus 3:7) die filosoof-teoloë van die vroeg-12de eeu as “rondlopers, nie in staat om die waarheid in sekerheid te ontvang en daarin te vestig nie, altyd nogeens studerend en nie in staat om tot ’n kennis van die waarheid te kom nie”. Hierdie toksiese karikatuur van die filosoof as ’n “selfingenome figuur” het ongetwyfeld tot die veroordeling van Abelardus by Sens meegewerk.23

Bernardus het ook op die veroordeling van ’n tweede prominente 12de-eeuse monnik, Gilbertius van Poitiers (1085–1154), aangedring. Gilbertius is in Poitiers gebore, akademies in Chartes en Laon opgelei, en het in sowel Chartres as Parys as junior teologiedosent begin werk. In 1142 is hy aangewys as biskop van Poitiers. By minstens twee geleenthede, waarvan een op aandrang van Bernardus, moes hy homself teen klagtes van kettery verweer (oorwegend rakende sy leer oor die Drie-eenheid); in beide gevalle suksesvol. Hy is as ’n gerespekteerde akademikus asook kerkleier in 1154 oorlede. Sy studente, die Porretani genoem, het die skool wat hy kort voor sy dood juis in die Porretynse kwartier van Parys gestig het, as basis gebruik om die grammatika, logika en teologie wat Gilbertius volgens sy eie filosofiese metodes en konsepte aan hulle geleer het, verder in Frankryk en die groter Wes-Europa bekend te maak. Die Porretynse skool het vir minstens vyf dekades na Gilbertius se dood nog bestaan.24 Die konflik tussen hierdie monnike lui ’n algemene tendens tot konflikstelling in die monnikewese vanaf die vroeg-12de eeu in, hoewel toenemend eerder by katedraalskole en die jong fakulteite van die opkomende universiteite as in die kloosterskole self. Die voortslepende en hewige konflikte tussen die Dominikane (oorwegend Aristotelies in oriëntasie) en Franciskane (oorwegend Platonies en Augustyns) vanaf die vroeg-13de eeu kan onder meer na hierdie eerste spore van intense konflik tussen Westerse monnike in die 12de eeu herlei word.

2.5 Die aanpassing van die Alcuinse kurrikulum by kloosterskole in die 12de eeu

Die opkoms van die universiteitswese en die gevolglike verdeling van kennis in “vakke” en “fakulteite” het op die beproefde Alcuinse kurrikulum (dus die trivium en quadrivium, asook Boethius se logika) druk uitgeoefen en sowel kloosterskole as katedraalskole gedwing om die ou kurrikulum aan te pas. ’n Voorbeeld van so ’n aanpassing kan gevind word by die kloosterskool te Saint-Viktor Abdy buite Parys in die eerste dekades van die 12de eeu. Hugo van Saint-Viktor (1097–1141) het na sy toetrede tot die abdy in die vroeë 1120’s vinnig opgang gemaak en is reeds voor 1128 as magister van die skool aangewys. Vanuit die kloosterskool het Hugo 46 werke die lig laat sien, waaronder De Sacramentis christiane fidei en Didascalicon. Eie aan die akademieseverantwoordingseise van die tyd wou Hugo ’n eie wetenskapsbegrip formuleer. In hierdie opsig lewer hy ’n unieke en onderskeidende bydrae met sy verbygaan van die rigiede inhoude van die trivium en quadrivium en oorspronklike aanbod van ’n eenvoudig skema waarin die trivium en quadrivium nou vierdelig onderskei word in die teoretiese, praktiese, meganiese en logiese lettere. Die teoretiese lettere bestryk teologie, fisika en wiskunde, die praktiese lettere bestaan uit private en publieke dissiplines, en die meganiese lettere bestaan uit materiaalvervaardiging, wapenproduksie, handel, geneeskunde en drama. Die logiese lettere bestaan uit grammatika en retoriek. Hugo se aanbod was, gemeet aan die onbuigsame inhoude van en skeiding tussen die trivium en quadrivium, ’n soepel wetenskapsteoretiese verantwoording (Beukes 2020d:262–97). By ander kloosters is dieselfde soort aanpassings gemaak om gevorderde onderwys so wyd as moontlik te verruim en direk met die jong universiteite se kennisspesialisering in fakulteite te kompeteer.

Hugo is opgevolg deur Richard van Saint-Viktor (d. 1173), ’n Skot wat in die middel-1140’s die klooster betree het en Anselmus se protoskolastiese erfenis vanuit die kloosterskool by die dwingende eietydse onderwyseise aangepas het. Richard het rondom 1158 onderhoof van die klooster geword en in 1162 hoofmonnik. Sy spekulatief-filosofiese werk oor die Drie-eenheid het ’n beduidende invloed in die hoogskolastiek uitgeoefen, veral ten opsigte van die filosofiese nawerking van sy bewyse vir die bestaan van God op die spoor van Anselmus se beroemde ontologiese argument.25 Sy ervaringsgedrewe epistemologie het ook ’n beduidende invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van vroulike mistiek in die sentrale Middeleeue, onder meer te vinde by die 13de-eeuse begyn wat die eerste en belangrikste eksponent van sogenaamde Middeleeuse liefdesmistiek sou wees, Hadewijch van Antwerpen (fl. 1240). Die ontwikkeling van die monnikewese in die Latynse Weste is kloosterskole soos dié by Poitiers en Saint-Viktor sovéél verskuldig. Hierdie skole se invloed sou egter onder die toenemende invloed van die fakulteite lettere en teologie by die jong en opkomende universiteite, asook die toetrede van die 13de-eeuse skoolordes, taan. Ná Richard was daar nog twee monnike uit hierdie sonderlinge klooster te Saint-Viktor wat tot die nawerking van die intellektuele erfenisse van die monnikewese in die hoogskolastiek bygedra het: Godfrey van Saint-Viktor (d. 1194) het ’n bronne-oorsig van die filosofie (Fons Philosophiae) aangebied, waarin hy die bestaande resepsies van Plato, Aristoteles en Boethius omvattend gerubriseer en nugter gekommentarieer het. Walter van Saint-Viktor (d. ca. 1181) het op sy beurt ’n polemiese, vierdelige ontleding van Abelardus, Petrus Lombardus, Petrus van Poitiers en Gilbertius in sy Contra Quatuor Labyrinthos Franciae aangebied, waarin hy ’n tipies vroegskolastiese verset teen die progressiewe teenwoordigheid van Aristoteles in die 12de-eeuse intellektuele diskoers toon. In daardie opsig was Walter filosofies minder vaartbelynd as sy gebalanseerde voorgangers by Saint-Viktor, naamlik Hugo, Richard en Godfrey. Nietemin was Walter die laaste noemenswaardige eksponent van die kloosterskool te Saint-Viktor.

 

3. Die ontwikkeling van die monnikewese binne skoolordes vanaf die vroeg-13de eeu

Die 13de eeu was ’n tydperk van intellektuele stroomversnellings as gevolg van die opkoms van die universiteitswese, die beskikbaarstelling van Aristoteles se volledige korpus (nou uitdruklik met insluiting van sy natuurlike filosofie) in Latyn vanuit die Arabiese vertalings van die Griekse tekste, die formele skeiding tussen teologie en filosofie en die opkoms van tegniese Aristotelianisme in die skolastiek. Die ervaring van “krisis” was in hierdie tyd in Wes-Europa wyd verspreid en het meegewerk tot die opkoms van hierdie nuwe, kloosterongebonde monnike-ordes, wat beskou is as toevlugte in ’n onvoorspelbare wêreld. Dit sou skoolmonnike van die mees hoogstaande snit verg om die ervaring van hierdie “krisis” sowel te verwoord as te ontlont.

Die strukturering van onderrig en navorsing is in die vroeg-12de eeu getransformeer deur die plasing daarvan in die eerste institusionele vorm van die “universiteit”, die studium generale (“algemene studiesentrum”). Hiervan was die regsfakulteit te Bologna in Spanje (1088) die eerste, gevolg deur die lettere- en teologiefakulteite te Parys en Oxford en die mediese fakulteit te Salerno. Salerno as rigtinggewende fakulteit in geneeskunde sou later moes terugstaan vir die opkomende fakulteit te Montpellier, maar Bologna, Parys en Oxford sou vir die volgende drie eeue nog die mees gerespekteerde fakulteite vanuit hulle bepaalde spesialiteitsdissiplines in die Latynse Weste verteenwoordig. Die aanvanklik stadige ontwikkeling van die universiteitswese in die 12de eeu is van impetus voorsien deur die toetrede van die skoolordes in die vroeg-13de eeu.26

Vanaf die vroeg-13de eeu was dit juis hierdie vier nuwe skoolordes wat in sowel die intellektuele arena as die openbare lewe prominent na vore getree het. Die Dominikaanse orde (Ordo Praedicatorum, Orde van Predikers, afgekort O.P.) is in 1220 deur die Spaanse priester Dominic van Caleruega (ca. 1172–1221) gestig, terwyl die Franciskaanse orde (Ordo Fratrum Minorum, Orde van die Beskeie Broedergemeenskap, afgekort O.F.M.) in 1209 gevorm is deur die Italiaanse mistikus Franciskus van Assisi (1181–1226). Later is ook die Augustynse orde (gestig in 1244, Ordo Sancti Augustini, O.S.A.) en die tydgenootlike Karmeliete (Ordo Fratrum Beatissimae Virginis Mariae de Monte Carmelo, O. Carm), waarvan die wortels teruggaan na die berg Karmel in Palestina ná die derde kruistog, 1189–1192) in die lewe geroep. Hierdie vier skoolordes het elkeen ’n eie oorsprong, identiteit, oogmerk en stilistiese aanbod gehad. Nietemin was daar gemene delers tussen die vier ordes. Hulle wou buite die (op daardie stadium) ekonomies vooruitstrewende kloosterstrukture funksioneer, het gevolglik van die beginsel van persoonlike eiendomsreg afstand gedoen, alle persoonlike eiendom ten tye van toetrede tot die betrokke skoolorde aan die pouslike patrimonie (in ruil vir pouslike sanksie en beskerming deur middel van gesaghebbende pouslike bulle) toevertrou, en was vir finansiële ondersteuning en materiële onderhoud van die gemeenskappe waar hulle gedien het, afhanklik. In ruil het die skoolmonnike barmhartigheidswerk in daardie gemeenskappe onderneem, veral ten opsigte van siekesorg, armsorg en bejaardesorg. Die eeue oue sekuriteit van die klooster is sodoende verlaat ter wille van ’n kontemplatiewe en dienende lewe in die wêreld self.

Daarby het hierdie vier skoolordes, anders as die plek- of hoogstens streeksgebonde kloosterordes, ’n internasionale profiel, in die beperkte Middeleeuse sin, gehandhaaf: Die leidinggewende magistri vanuit die skoolordes het oor ’n soort “Europese” (in die beperkte Middeleeuse sin) status beskik, bemoontlik deur hulle intensiewe studiereise tussen die onderskeie plaaslike skole (studia) van die betrokke orde en hulle gewilligheid om opeenvolgende poste by verskillende universiteite te beklee (die Franciskaan Johannes Duns Skotus [ca. 1266–1308] het byvoorbeeld by verskeie Franciskaanse studia én die Universiteite van Oxford, Cambridge, Parys en Keulen teologie doseer, terwyl die Dominikaan Meister Eckhart [1260–1328] vanaf die Dominikaanse studium in Erfurt na Parys vir nagraadse studies gestuur is, waar hy ook later teologie sou doseer, terwyl hy deurlopend diens gedoen het by Dominikaanse studia in Turyn, Sakse, Strassburg en Keulen). Reeds rondom 1250 was skoolmonnike die mees toonaangewende dosente in teologie by die twee belangrikste Middeleeuse teologiefakulteite te Oxford en Parys.

Die skoolordes het dus daarin uitgemunt om dosente en studente binne ’n groter Europese netwerk te vestig en – weer anders as die streeksgebonde kloosterordes – aan die indruk van provinsialiteit te ontkom: Dosente en studente vanuit die vier skoolordes het vryelik tussen studia en universiteite in Engeland, Italië, Frankryk en Duitsland beweeg en ’n hegte kennisnetwerk tot stand gebring. Nietemin was daar gedurende die hoogskolastiek ’n intense en voortslepende konflik tussen die nuwe skoolordes en die ouer kloosterordes, veral die Benediktynse subordes soos die Cisterciënsers, Cluniasensers en Kartuisers – en natuurlik ook tussen die twee mees prominente skoolordes self, die Franciskane en die Dominikane. Hoewel die invloed van die kloosterwese op die ontwikkeling van die monnikewese in die sentrale en latere Middeleeue behoue gebly het, kon dit die wesenlike rol wat kloosteromgewings in veral die agste en negende eeue gespeel het, nie ewenaar nie. Die skoolordes het institusioneel eenvoudig op net té veel vlakke uitgemunt: Die Dominikane het gespesialiseer in die aanbod van gratis skoolonderrig en openbare prediking in die gemeenskappe waarin hulle ontplooi is (daarom paslik betitel as Ordo Praedicatorum), vis-à-vis die Franciskane, wat nederigheid in hulle barmhartigheidswerk, diakonale ondernemings en gemeenskapsorg geaksentueer het (daarom paslik benoem as Ordo Fratrum Minorum), terwyl die Augustyne en Karmeliete beide fasette benadruk het.27

3.1 Die Franciskaanse ontwikkeling

Franciskus self was nie akademies buitengewoon goed opgelei nie en het gevolglik nie ’n hoë premie op sy orde se intellektuele ontwikkeling geplaas nie. Die Franciskaanse inspeling op die universiteitswese (wat na meer as ’n eeu se ontwikkeling toenemend stabiel begin funksioneer het) was daarom aanvanklik beperk. Die Franciskane het ook van meet af besluit om die teologiese opleiding van hulle leerlinge te beperk tot hulle studia, onder selfstandige bestuur en onafhanklik van die universiteite. Hierdie afstandname van die universiteite het weldra geblyk teenproduktief te wees. Die Franciskane het gevolglik die studia behou om ’n vorm van basis- en hoër onderwys aan te bied, terwyl die mees uitstaande studente vanuit die studia wel met volle beurse (stipendia) na lettere- en teologiese fakulteite gestuur is, oorwegend by Oxford en Parys. Die ander skoolordes sou die Franciskane in hierdie opsig volg: Die studium word behou, maar die verbintenis met die universiteitswese word gelyklopend ontwikkel en uitgebou.

Hoewel daar dus aanvanklik verset vanuit die Franciskaanse orde teen akademiese toewyding was, synde onversoenbaar met Franciskus se eenvoudige idealisme, het die orde oor die volgende 150 jaar uitstaande universiteitskolastici opgelewer. Die eerste hiervan was Alexander van Hales (ca. 1185–1245), die eerste Franciskaanse magister in teologie by die Universiteit van Parys, wat daarom as die vader van die Franciskaanse skool in skolastiese sin bestempel kan word. Hales is opgevolg deur sy leerling Johannes van Rochelle (ca. 1190–1245), die eerste Franciskaan wat ’n baccalaureus in teologie aan die Universiteit van Parys verwerf het (Ryan 2010:1–18). Na Hales en Rochelle het die Franciskaanse teenwoordigheid by die Universiteite van Parys en Oxford vinnig toegeneem en die ontwikkeling van die kloosterongebonde monnikewese van ’n sonderlinge intellektuele veerkragtigheid voorsien. Richard Rufus van Cornwall (fl. 1231–1256) sluit in 1238 by die Franciskaanse orde in Parys aan. Hy was die vyfde Franciskaanse dosent in teologie by Oxford en was reeds ’n gerekende dosent in Aristoteliese metafisika by Oxford ten tye van sy aansluiting by die orde. Rufus het bekendheid verwerf vir sy verdediging van die Franciskaanse opvatting van die wil (na Augustinus se interpretasie) teen die Dominikaan Richard Fishacre (ca. 1205 – ca. 1248).28 Die gerekende “natuurwetenskaplike” (toe nog “natuurlike filosowe” genoem) Roger Bacon (1214/20–1292) het in die vroeë 1250’s by die Franciskaanse orde in Oxford aangesluit nadat hy reeds bekendheid by die Universiteit van Parys as ’n dosent in Aristoteliese natuurlike filosofie verwerf het. Bacon se belangstelling in eksperimentele wetenskap en toegepaste wiskunde, gebed binne ’n wyer Aristoteliese raamwerk en gekombineer met ’n eg-Franciskaanse nadruk op die belang van mistiek, het veel vermag om die Franciskane se profiel binne die “natuurwetenskappe” te verhoog.29

Die mees uitstaande Franciskaan in die 13de eeu was egter ongetwyfeld Bonaventura (1217–1274). Hy het aanvanklik vanaf 1236 lettere in Parys studeer en in 1242 tot magister in filosofie gepromoveer voordat hy in 1243 by die Franciskaanse orde in Parys aangesluit het. Hy het daarna oorbeweeg na die teologiese fakulteit met die oog op die verwerwing van ’n magister in teologie en minstens sy baccalaureus in teologie onder Hales se gerespekteerde toesig voltooi.30 Bonaventura se mistieke teks Itinerarium in mentis Deum (Die reis van die verstand na God), in 1259 in die Franciskaanse klooster te La Verna geskryf, dieselfde plek waar Franciskus in 1224 sy beroemde stigmata-ervaring gehad het, het die sonderlinge aard van Franciskaanse mistiek in die 13de eeu gestempel.31

In die 14de eeu staan twee Franciskane op Bonaventura se spoor uit: vermelde Duns Skotus en Willem van Ockham (ca. 1285–1349). Skotus se werk by Franciskaanse studia en die teologiese fakulteite te Cambridge, Oxford, Parys en Keulen getuig van ’n ideëhistoriese aandag aan die fynste besonderhede en intensiewe nuanses in die hantering van die intellektuele voorgeskiedenis, asook ’n voorkeur vir subtiele onderklemtoon in skolastiese polemieke. Skotus het ’n enorme aandeel32 gehad in die stroomversnelling in Franciskaanse ontwikkelinge na die Paryse veroordelings van 1277. (Vir ’n oorsig van die ontwikkelinge wat tot hierdie veroordelings gelei het, sien Beukes 2020a, Volume II, ble. 753–8.) Op 7 Maart 1277 veroordeel biskop Etienne Tempier van Parys ’n lys van 219 stellings wat hy direk met Aristoteliese werksaamhede by die letterefakulteit in Parys assosieer. Dit was verreweg die grootste en mees gevolgryke van talle soortgelyke veroordelings van filosofiese en teologiese posisies wat sedert die 11de eeu plaasgevind het. Robert Kilwardby (ca. 1215–1279; Beukes 2020b:1–14), self ’n voormalige Dominikaanse dosent in teologie in Parys, het 11 dae later, in sy hoedanigheid as aartsbiskop van Kantelberg, 30 proposisies veroordeel wat tematies feitlik strykdeur met die Paryse veroordelings in verband gebring kan word.33 Tempier het reeds in 1270 13 proposisies veroordeel, wat in besonder met Sigerius van Brabant (ca. 1240–1282) se teoretiese posisies in verband gebring is. Die 13 veroordeelde proposisies van 1270 was egter net die voorloper van en wegbereider tot wat in 1277 sou volg. Tempier het ekskommunikasie as die enigste strafsanksie voorgestel vir enige dosent, skrywer of student wat enige een of meer van die 219 proposisies privaat of in die openbaar sou onderskryf het. Die teiken was duidelik Aristoteliese filosofie wat op meer as filosofie self van toepassing gemaak word; of skerper gestel, filosofie wat die belangrike vroegskolastiese onderskeid tussen filosofie en teologie ontken en filosofie bedryf asof dit teologie is, en andersom. Ook Thomas Aquinas (1225–1274) is postuum op bepaalde punte vanuit die 219 proposisies veroordeel en sy veroordeling sou eers in 1323 opgehef word. Die Franciskane, wat oorwegend eerder op die spoor van Augustinus gebly het as om in Aristoteliese filosofie op te gaan, is hierdie veroordelings grootliks gespaar. Die negatiewe impak van die veroordelings op die Dominikane wat oorwegend Aristotelies-georiënteerd was, het trouens tot ’n vaartversnelling in die Franciskaanse ontwikkeling gelei. Die Dominikane sou die prestige-uitsette van die Franciskane na 1277 nie naastenby kon ewenaar nie. Die Dominikaanse tradisie was trouens vanaf 1329 na die (postume) veroordeling van aspekte in die filosofiese mistiek van Meister Eckhart in ’n krisis vir intellektuele oorlewing gedompel – waarvan dit in geheel nooit kon herstel nie. (Vir ’n oorsig oor Dominikaanse ontwikkelinge na 1329, sien Beukes 2021b:1–8.)

Ockham kan op sy beurt saam met Bonaventura en Skotus as die uitnemendste van alle Franciskane in daardie unieke skooltradisie in die ontwikkeling van die monnikewese in die Latynse Weste bestempel word. Hy sit enersyds Skotus se nalatenskap voort, maar spreek ook vernietigende kritiek uit teen “universaliteit” en die bestaan van “metafisiese universeles”. In hierdie sin was Ockham34 die oorgangsfiguur vanaf skolastiek na “postskolastiek” (Beukes 2021a:1–12), op weg na die Italiaanse Renaissance. Tussen Hales en Ockham was daar ’n beduidende aantal ander eminente Franciskane wat ’n wesenlike bydrae tot die ontwikkeling van die kloosterongebonde monnikewese gelewer het. Johannes Peckham (ca. 1230–1292) was ’n polemiese verdediger van Augustynse leerstellings in die aanloop tot die Paryse veroordelings van 1277.35 Roger Marston (ca. 1235 – ca. 1303) was ’n Engelse Franciskaan uit die laat 13de eeu en ’n student van Peckham in Parys. Hy was teenwoordig by die konfrontasie van die Franciskane in 1270 in Parys met Aquinas oor die eenheid van substansiële vorm, ’n gebeurtenis wat hom diep beïnvloed het – enersyds op grond van die buitengewoon polemiese stemming in Parys vanaf die laat 1260’s toe hy ’n baccalaureus in teologie daar was, veral ten opsigte van die openlike konflik tussen die Franciskane (dus oorwegend Augustyns-georiënteerd) en die Dominikane (dus oorwegend Aristoteliese denkers, waarvan Aquinas op daardie stadium die leidinggewende intellektuele figuur was). Marston was egter diep beïndruk deur sowel sy Franciskaanse magister Peckham as Aquinas self, wat betref die kwaliteit teologiebeoefening wat hy tydens hierdie groot konfrontasie, die laaste voorloper tot die Paryse veroordelings van 1277, aanskou het. Hy was reeds terug in Oxford ten tye van die veroordelings, waar onder andere Aquinas en Sigerius veroordeel sou word. Marston kwalifiseer uiteindelik in 1276 as magister in teologie by Oxford en begin vanaf 1285 by Cambridge doseer. In hierdie tyd het Peckham, toe in sy hoedanigheid as aartsbiskop van Kantelberg, sy ewe berugte veroordelings van bepaalde Aristoteliese en Dominikaanse teoretiese posisies in filosofie en teologie die lig laat sien. Dit het die bestaande gaping tussen die Franciskane en Dominikane vergroot, tot die mate dat beide ordes na binne begin keer en selfkoesterend begin werk het: Franciskane sou voortaan sorg vir Franciskane, en Dominikane vir Dominikane. Die konflik tussen kloostermonnike in die 11de eeu kry hiermee nuwe gestalte. Die ou monnikegebruik om selfs die mees venynige opponent steeds as “frater” (“broer”) aan te spreek, begin in hierdie tyd stadig wegkalwe en snedigheid tussen monnike van verskillende ordes was aan die orde van die dag. Die hoogskolastiek was nou onherroeplik verdeel. Dit het ook die gevolg gehad dat ordes geneig het om uitsluitlik na binne te kommentarieer: Franciskane sou voortaan met Franciskane praat, en Dominikane met Dominikane. Dit het die aanvanklike produktiwiteit van die oorgang vanaf die vroegskolastiek na die hoogskolastiek, ernstig geknou. Die Franciskaanse orde se teoretiese posisies in filosofie en teologie het in hierdie tyd inderdaad in ’n “Franciskanisme” ontaard (só benoem deur Marston se eerste moderne spesialisnavorser, Franz Pelster [1928:526–56]).

Matteus Aquasparta (ca. 1240–1302) was ’n Italiaanse meester-generaal van die orde en ’n voormalige student van sowel Bonaventura as Peckham. Die Spanjaard Ramon Lull (1232–1316) was ’n Franciskaanse mistikus wat met sy ars of “demonstratiewe kuns” as nuwe argumentatiewe metode ’n alternatief vir die Dominikaanse ontwikkeling van die Aristoteliese wetenskapsbegrip aangebied het (Bonner 2007:1–25; vgl. Beukes 2022:1-10). ’n Ander Spanjaard, Gonsalvus Hispanus (ca. 1267–1313), was Skotus se promotor en was in 1303 in ’n legendariese konfrontasie met Eckhart by die Universiteit van Parys gewikkel. Willem van Ware (fl. 1290) het op ’n jong ouderdom by die orde in Oxford aangesluit en was in die laaste jare van die 13de eeu Skotus se voorkeurdosent. Franciskus van Mayronis (1288–1328) was ’n magister in teologie en student van Skotus wat in die 1320’s prominent na vore getree het as ’n vername eksponent van Skotus se belangrikste teoretiese posisies en sodoende as een van die eerste lede van die “Skotistiese skool” geag kan word.36 Walter Chatton (ca. 1285–1343) is op grond van sy streng navolging van Skotus se teoretiese posisies egter meer formeel as die “eerste Skotis” benoem,37 gevolg deur Johannes van Reading (ca. 1285–1346). Willem van Alnwick (ca. 1275–1333) was ’n Engelse Franciskaan en noue bondgenoot van Skotus wat voorgraads by Parys in teologie afgestudeer en daarna teologie doseer het by die Franciskaanse studium in Oxford.38 Hoewel Adam Wodeham (d. 1358) Ockham se protégé was, het hy gedurende Oxford se “goue era van teologie-filosofie” vanaf die 1330’s ook bekendheid verwerf as ’n uitstaande eksegeet van Skotus se gelade en komplekse tekste.39

Ockham is om ’n ander en dringender institusionele rede belangrik vir die Franciskaanse ontwikkeling van die kloosterongebonde monnikewese: Die Franciskane bevestig naamlik onder sy leiding in die vroeg-14de eeu hulle verbintenis tot die ou monnike-ideaal ten opsigte van “genuanseerde armoede”. Een van die redes vir die totstandkoming van die skoolordes was juis ’n afstandname van die toenemende welvaart in die geïnstitusionaliseerde kloosterwese. ’n Genuanseerde armoede-ideaal was vir die Franciskane vanuit Franciskus se klem op eenvoud en minimalisme ononderhandelbaar belangrik. Ockham en Franciskus van Marchia (ca. 1290 – ca. 1344), ’n Franciskaanse magister in teologie by Parys en onversetlike teenstander van Johannes XXII (Jacques Duèze, 1244–1334, pous 1316–1334),40 bots vanaf die vroeë 1320’s saam met ander prominente Franciskane met die pous oor die orde se verstaan van armoede.41 Die Franciskane het hulle diepe verbondenheid aan Franciskus se ideale42 met hierdie konfrontasie bevestig. Hulle was in die eerste plek monnike en nie skolastiese akademici nie. Hierdie ontwikkeling het aan die Franciskaanse orde geloofwaardigheid besorg gedurende ’n dekade waarin die ander groot skoolorde, die Dominikane, reeds sedert die veroordeling van aspekte van Aquinas se skolastiese uitset in 1277 toenemend in binnepolitiek verstrik geraak het.

Ander prominente Franciskane uit die laat 13de eeu en eerste helfte van die 14de eeu sluit in Arnaldus van Villanova (1238–1311), Richard van Middleton (ca. 1249–1302), Vitalis du Four (ca. 1260–1327), Petrus Aureolus (1280–1322),43 Richard Brinkley (fl. 1350–1373),44 Robert van Halifax (ca. 1300–ca.1350)45 en Landulfus Caracciolus (d. 1351).46 Hendrik van Harclay (ca. 1270–1317) het teen 1296 gepromoveer tot magister in lettere by Oxford en het van 1312 tot 1317 as kanselier van die universiteit gedien. Hy was aanvanklik ’n sekulêre of orde-ongebonde magister, maar is onder invloed van Skotus se interpretasie van die Franciskaanse posisie oor ’n aantal intellektuele kwessies, in 1297 wel as priester georden (Beukes 2021g:259–81).

3.2 Die Dominikaanse ontwikkeling

Anders as die Franciskane, het die Dominikane van meet af aan ’n hoë prioriteit op die interne ontwikkeling van die orde deur akademiese opleiding en gevorderde wetenskapsbeoefening geplaas. Die rede daarvoor was die orde se aksent op “openbare prediking”, wat niks anders was nie as gratis maar gesofistikeerde openbare lesings in 13de-eeuse teologie. Elke Dominikaanse studium het gevolglik beskik oor minstens een lector wat reeds ’n minimum van vier jaar se studie in teologie by ’n universiteit afgehandel het. Anders as die Franciskane, wat studia op sowel die platteland as in stede opgerig het, het die Dominikane voorkeur verleen aan die vestiging van studia in gevestigde universiteitstede soos Parys, Oxford, Cambridge en Toulouse. In talle stede, waaronder Keulen, Erfurt en Praag, is die bestaande Dominikaanse studium inderdaad later tot ’n volwaardige universiteit uitgebou. Verder is onderrig in teologie by die belangrikste 13de-eeuse universiteite soos Oxford en Parys deur Dominikane oorheers.47 In suidelike stede soos Bologna en Montpellier, waar daar geen teologiefakulteite was nie, het beide die Dominikaanse en Franciskaanse studia die teologiese opleiding van plaaslike studente oorgeneem en trouens ’n monopolie op teologiese opleiding uitgeoefen.48 Omdat die orde by uitstek in universiteitstede gevestig was, het die Dominikane ’n wesenlike rol gespeel in die ontwikkeling van die algemene universiteitsadministrasie en ook die vooraanstaande leerstoele by teologiefakulteite beset. Die wisselwerking tussen die plaaslike Dominikaanse studium en die universiteit was opvallend spontaan: Sekulêre of orde-ongebonde studente het Dominikaanse magistri gehad en sekulêre (orde-ongebonde) dosente het Dominikaanse studente binne die plaaslike studium onderrig (Beukes 2021b:1–3).

Hierdie spontane en intieme verhouding tussen ’n skoolorde en die universiteite – wat veronderstel was om algeheel orde-onverbonde of sekulêre institusies te wees – het wel tot aansienlike spanning en selfs konflik aanleiding gegee, veral by Oxford en Parys. Die Dominikane het vir hulleself toenemend sekere voorregte by hierdie universiteite beding, wou selfstandige besluite oor leerplanne neem, selfstandig studente werf en sonder inmenging van universiteitsweë dosente aanstel. Waar sekulêre dosente oor die algemeen dubbelgepromoveerd was (eers by lettere en daarna by teologie), is skoolmonnike nie toegelaat om éérs by lettere te studeer en daarna na teologie te beweeg nie. Sekulêre dosente was tereg onder die indruk dat hulle breër opleiding by die twee fakulteite onderwaardeer is ten gunste van die aanstelling van skoolmonnike wat voorgraads by die plaaslike studium en nagraads by die teologiefakulteit afstudeer het. Hierdie spanning kon die ontwikkeling van die Dominikaanse orde in die intieme samehang daarvan met die Middeleeuse universiteitswese egter nie onderbreek nie. Waar Alexander van Hales die Franciskane se eerste skolastiese pleitbesorger was, is Roland van Cremona (ca. 1178–1259) in 1229 as die Dominikane se eerste toesighoudende dosent in teologie by die Universiteit van Parys aangewys deur die filosoof-biskop van Parys, Willem van Auvergne (ca. 1180–1249).49

Die belangrikste intellektuele ontwikkeling binne Dominikaanse konteks was die toetrede van Albertus Magnus (ca. 1200–1280) tot die orde tussen 1223 en 1229. Albertus was in talle opsigte sy mees beroemde leerling, Aquinas, se gelyke. Albertus se ander student, Ulrich von Strassburg (ca. 1220–1277),50 het beweer dat hy ’n “wonderwerk vir sy tyd” was – en ’n inskrywing op sy grafsteen in die Dominikaanse kerk in Keulen verwys insgelyks na Albertus as “’n prins onder filosowe, groter as Plato, selfs nie ’n mindere van Salomo in al sy wysheid nie” (Resnick 2013:1). Voor Aquinas se kanonisering in 1323 was Albertus inderdaad as sonder gelyke in die Middeleeuse intellektuele geskiedenis geag. In ’n tyd waarin sy tydgenote ’n ervaring van krisis gehad het en talle vaartversnellings moes beleef, waaronder die aanvegting van hulle innigste oortuigings deur die kultuurvreemde idees van ’n “heidense” filosoof wat toe al langer as 1 500 jaar dood was, het Albertus na vore getree as ’n skolastiese beredderaar van hierdie krisis. Hy het die Aristoteliese tekste omarm, dit sy eie gemaak en dit – vir die eerste keer grondig, omvangryk en sonder teologiese voorbehoude – aan die Latynse Weste van die 13de eeu bekendgestel. Albertus het in Aristoteles se filosofie ’n ongeëwenaarde sin vir Hellenistiese wysheid en intellektuele vermoë aangetref wat hy ten spyte van die verbod op lesings van Aristoteles in Parys vir sy tydgenote oopgedek het. Albertus het aangedui dat die wetenskappe in hierdie nuwe literatuur oor die geskepte wêreld handel, onafhanklik van enige bepaalde teologie, en dat juis daarom by hierdie literatuur aansluiting gevind behoort te word. Hierdie erkenning van die outonomie van die wetenskappe het die bastions van die Latynse Weste vir die eerste keer sedert Eriugena behoorlik oopgemaak, sodat die opvolgende skolastici teologie en filosofie – en filosofiese teologie – met kenmerkende presisie kon beoefen.51

Aquinas self is sonder twyfel die mees beroemde, mees ontginde en mees gekommentarieerde Dominikaan in die geskiedenis van die orde. Die gevolgrykheid van Aquinas se prestasies vestig in sy bydrae tot die ontwikkeling van die skolastiek deur die implementering van grondliggende Aristoteliese filosofiese vertrekpunte binne die raamwerk van die 13de-eeuse Christelike dogmatiese stelsel, waaruit ’n oorspronklike Middeleeus-filosofiese stelsel ontstaan het wat sowel die pouslike sanksionering van die Paryse veroordelings van 1277 as die Roomse Inkwisisie en veral die pedantiese vooroordele van die moderne periode oorleef het. Sy Summa Theologiae, wat 61 volumes beslaan, is volumegewys die omvangrykste boek in filosofie en teologie in die Westerse ideëgeskiedenis en kan in alle opsigte as ongeëwenaard en waarskynlik as onewenaarbaar beskou word. Die Dominikane het Aquinas toegelaat om met sy studies by die Universiteit van Parys te begin onder direkte toesig van Albertus. Teen 1248 was Aquinas ’n baccalaureus in teologie; en na vier jaar in Keulen, waar hy saam met Albertus die beroemde Dominikaanse studium opgerig het, kon hy uiteindelik in 1252 met sy nagraadse studie in teologie by Parys voortgaan. Teen 1255 was hy ’n volle magister in teologie by Parys, ten spyte van die feit dat hy nog nie as 29-jarige daarvoor kon kwalifiseer nie (by Parys was die minimum ouderdom om tot magister in teologie te promoveer 35 jaar). In Aquinas se geval is ’n daadwerklike uitsondering gemaak, deur die pous self, in die vorm van ’n spesiale pouslike bevel wat die Universiteit van Parys toestemming gegee het om met die toekenning van die kwalifikasie voort te gaan. Daar moes ook ’n koninklike lyfwag vir die jong monnik beskikbaar gestel word ten einde fisieke aanvalle van nydige medestudente te verhoed. Maar daar was selfs meer rede vir hulle jaloesie: Suiwer op akademiese meriete word Aquinas in dieselfde jaar as magister regens of toesighoudende dosent van teologie by Parys aangewys. Dit was normaalweg slegs vir senior dosente beskore en ’n magister kon nie langer as drie jaar in daardie hoedanigheid dien nie – die aanstelling as toesighoudende dosent was ook eenmalig en kon nie herhaal word nie. Nou dien ’n 29-jarige in hierdie pos, boonop as die enigste sub-35 jaar oue magister in teologie in die Universiteit van Parys se geskiedenis. Vir die volgende drie jaar doseer Aquinas as toesighoudende dosent teologie in Parys, waarna hy op grond van sy tekstuele uitsette in 1259 (tot 1268) toegelaat word om verder slegs akademies hoef te werk aan die pouslike hof, wat in hierdie tyd tussen Anagni, Orvieto, Rome en Viterbo rondgetrek het. Dit is juis aan die rondtrekkende pouslike hof waar Aquinas die Summa Theologiae geskryf het. 52

Vermelde Richard Fishacre (ca. 1205 – ca.1248) was die eerste Dominikaanse magister by Oxford wat sy opleiding uitsluitlik in Engeland ondergaan het. Fishacre, oorspronklik afkomstig uit die distrik van Exeter, het hom vir opleiding in teologie en filosofie ingeskryf by die jong studium te Oxford, waar hy dadelik deur die Dominikane gewerf is. As ’n student van die akademiese vakvereniging Oxford Blackfriars het hy sy opleiding grootliks van Robert Bacon (d. 1248; te onderskei van vermelde Franciskaan Roger Bacon), die eerste Dominikaanse magister by Oxford, ontvang. Teen 1240 was Fishacre self ’n magister in teologie wat reeds toe al telkens in voorvermelde skermutselinge met die Franciskaan Rufus gewikkel was. Vir die volgende drie jaar sou hy die leerstoel in filosofiese teologie met sy leermeester Robert deel. Van jongs af geteister deur swak gesondheid, sterf Fishacre nog maar in sy vroeë veertigs, in dieselfde jaar as Robert. Vir die Universiteit van Oxford was dit traumaties om beide hierdie Dominikaanse vaandeldraers van Oxoniaanse wetenskapsbeoefening in een jaar te moes verloor.53

Soos Kilwardby by Oxford, was Johannes van Parys (of Quidort; ca. 1255–1306) ’n kontroversiële Paryse Dominikaan rondom die oorgang na die 14de eeu. Quidort was reeds ’n magister in filosofie ten tye van sy toetrede tot die jong Dominikaanse orde, wat op hierdie stadium dus slegs sowat vyf dekades in Wes-Europa bestaan het. Van 1293 tot 1295 doseer hy die Sententiae by Parys, waarna hy promoveer tot magister in teologie. In 1295 moes Quidort hom egter vir die eerste keer formeel verdedig teen klagtes wat teen hom ingedien is op grond van sy diskursiewe verbintenis met Aquinas, wie se erfenis in die laaste kwart van die 13de eeu op grond van die veroordelings van 1277 selfs deur binnekring-Dominikane vermy is.54 Meister Dietrich (ca. 1250 – ca. 1310) was, soos sy voorganger Strassburg en jonger tydgenoot Meister Eckhart, veel verskuldig aan Albertus se omvangryke nalatenskap: Al drie hierdie hoogskolastici het op grond van Albertus se invloed beduidende bydraes tot Middeleeuse filosofie gelewer, maar in Dietrich se geval het die invloed ook meegewerk tot belangrike bydraes in die opkomende natuurwetenskappe van die 13de eeu. Dietrich het reeds as seun by die Dominikane in Duitsland aangesluit en het in 1271 as tutor by die Dominikaanse klooster in Freiberg begin werk. Die Dominikane stuur hom in 1272 na Parys om met voorgraadse studie te begin, waar hy teologie onder toesig van Hendrik van Gent (d. 1293) studeer. Dietrich keer aan die begin van 1280 as baccalaureus in teologie terug na Duitsland en doseer teologie in Trier vir die res van daardie jaar. In 1281 verbind hy hom daartoe om vir die volgende 12 jaar nagraadse studies by Parys te onderneem. In 1296 studeer hy uiteindelik af as magister in teologie by Parys. Hy was op daardie stadium reeds in Albertus se vorige pos as hoof van die Duitse Dominikane aangewys (in 1293), ’n taak wat hy met onderskeiding behartig het tot sy dood rondom 1310.55

Thomas van Sutton (ca. 1250 – ca. 1315) was ’n Dominikaan wat bekendheid verwerf het vir sy verdediging van die mees prominente Thomistiese leerstellinge by Oxford in die 1290’s. Op hierdie stadium was Aquinas se teoretiese uitgangspunte oor substansiële vorm, die suiwer potensialiteit van prima materia en die reële onderskeid tussen essensie en eksistensie reeds met die Paryse veroordelings afgewys. Deur sy Dominikaanse voorganger lojaal te verdedig binne ’n konteks waar die Franciskane duidelik die oorhand gehad het en homself daarmee uitermate bloot te stel, getuig van Sutton se durf en intellektuele integriteit. Hy was nie ’n oorspronklike en sintetiese denker soos Aquinas, Gent of Skotus met hulle nuwe en vernuwende skolastiese posisies nie. Tog was daar wel ’n element van filosofiese oorspronklikheid in Sutton se vermoë om uiteenlopende standpunte en ’n gebrek aan konsensus oor belangrike sake te herinterpreteer aan die hand van ’n stel konsensusstigtende beginsels, waarmee hy wel daarin geslaag het om die afstand tussen Aquinas en Franciskaanse opponente soos Peckham te vernou.56 Ook Hervaeus Natalis (ca. 1250–1323), wat in 1318 as meester-generaal van die Dominikane aangewys is, het Aquinas verbete verdedig teen die Franciskaanse aanslag – maar juis ook teen interne teenkanting teen Aquinas binne Dominikaanse geledere.57 Hierdie interne aanslag teen Aquinas deur Dominikane soos Jakobus van Metz (fl. 1300) en Durandus van St Pourçain (ca. 1270–1334) is veral gedurende die eerste twee dekades van die 14de eeu van stapel gestuur en het op die lang duur geen blywende effek op Aquinas se statuur gehad nie. Aquinas se leer is met sy kanonisering in 1323 in ere herstel, maar die skade wat die orde intern deur die kritiek van figure soos Metz en Durandus aangedoen is, sou blyk onomkeerbaar te wees.

Vanaf die 1330’s was die Dominikane in ’n binnegeveg om oorlewing gewikkel terwyl die Franciskaanse orde gedy het.58 Die intense konfrontasie tussen die twee Dominikane Willem Crathorn (fl. 1330) en Robert Holcot (ca. 1290–1349) is sprekend van juis hóé broos die orde na Aquinas se veroordeling meer as ses dekades vroeër geword het. Crathorn het rondom 1315 tot die orde toegetree en was in die vroeë 1330’s werksaam by Oxford. Holcot het daarin uitgemunt om ’n potsierlike karikatuur van Crathorn op te stel en het voortdurend agterdog oor Crathorn se bekwaamheid opgewek.59 Hierdie aanvalle het gelei tot Crathorn se isolasie en vereensaming by Oxford en hy het die universiteit in die laat 1330’s stil verlaat. Niks word verder in die literatuur weer aangaande Crathorn berig nie. Hy is binne enkele jare nadat hy Oxford verlaat het, in eensaamheid oorlede en in ’n ongemerkte graf in die distrik Oxfordshire begrawe. Holcot, wat in 1326 by die orde aangesluit en die gewone onderrigprogram in lettere, logika, Aristoteliese filosofie en teologie by die Dominikaanse studium in Northampton deurloop het, promoveer in 1333 tot magister in teologie en word kort daarna as toesighoudende dosent van die Dominikane by Oxford aangewys. Daarna dien hy vir ’n termyn as skriba van die biskop van Durham in Londen, waarna hy na Oxford terugkeer om voltyds teologie te doseer. Die tragiese afloop van Crathorn se vervreemding en dood het wel ook vir Holcot negatiewe gevolge ingehou. Ook hy is teen die einde van die 1330’s onverwags by Oxford weg – hy is waarskynlik gevra om die universiteit te verlaat – en het daarna tot 1343 by Cambridge gewerk. Aan die einde van 1343 keer Holcot na Northampton terug, waar hy die laaste jare in isolasie gewerk het. Daar is hy in 1349 aan die Swart Pes oorlede.60 Hierdie ongelukkige insident was ongelukkig nie die uitsondering binne Dominikaanse geledere nie. Inteendeel, meer konflik het vanaf die 1330’s tussen Dominikane onderling voorgekom as tussen Dominikane en die ander skoolordes.

Die interne afswakking van die Dominikaanse orde het egter ’n hoogtepunt bereik in die eerste inkwisisionele vervolging van ’n magister in teologie (hoewel postuum). Die orde se 14de-eeuse strydros Eckhart het op ’n jong ouderdom tot die Dominikaanse orde toegetree en teologie studeer aan die studium in Keulen en later ook by die Universiteit van Parys. In 1294 is hy benoem as die hoofmonnik van die Dominikaanse studium in Erfurt, terwyl hy kort daarna as vikaris-generaal van die Dominikane in Turyn aangewys is. In 1302 promoveer hy tot magister in teologie by Parys en beklee in die opvolgende jare ’n reeks uitvoerende posisies binne die Dominikaanse orde in Duitsland. Die aansien wat hy geniet het, word daarin betuig dat hy vanaf 1311 ’n twééde keer die leerstoel by teologie in Parys wat vir Dominikaanse buitelanders gereserveer was, beklee het. Daardie eer het voor Eckhart slegs Aquinas te beurt geval.61 Gedurende die dekade van 1313 tot 1323 het Eckhart in Strassburg gewoon en gewerk, waar hy verantwoordelikheid aanvaar het vir die cura monialum (die pastorale versorging van Dominikaanse nonne, in sy geval in die suide van Duitsland). Met sy terugkeer in 1324 na Keulen aanvaar hy die pos as hoof van dié beroemde studium wat destyds deur Albertus en Aquinas opgerig is, maar word bykans dadelik deur die aartsbiskop van Keulen formeel van kettery aangekla. Eckhart verwerp alle aanklagte teen hom in sy regverdigingskrif en teken appèl aan by die pous in Avignon. Hy is oorlede voordat die verhoor afgehandel kon word. In die pouslike bul In agro dominico, gedateer 17 Maart 1329, veroordeel Johannes XXII formeel 28 proposisies vanuit Eckhart se tekste en gepubliseerde preke, waarvan 17 as “kettery” en 11 as “moontlike kettery” aangedui is.

Die Dominikane het probleme ervaar om van Eckhart se veroordeling te herstel.62 Die Dominikaanse krisis van die middel-14de eeu, of die Probleme der nacheckartschen Zeit (Sturlese 2007:137), het die orde teen die 1340’s trouens lamgelê en moes dit beslissend aangespreek word. Berthold van Moosburg (ca. 1300–1361) bied in die 1350’s binne hierdie probleemkonteks sy enigmatiese negevolume-kommentaar oor die Neoplatonis Proklus se Στοιχείωσις θεολογική (Stoicheiosis Theologikae; Elemente van teologie), getitel Expositio super Elementationem theologicam Procli, aan as ’n invalshoek om hierdie krisis wat nou reeds meer as twee dekades aan die woed was, te ontleed en met voorstelle vir die Dominikaanse hantering daarvan vorendag te kom. Dit was binne die konteks van die 14de-eeuse postskolastiek ’n unieke en verfynde taktiese skuif – naamlik om nie Aristoteles nie, maar die Neoplatoniese oorlewering te gebruik om die veroordeling van Eckhart (en by implikasie talle ander Dominikaans-mistieke denkers tot op daardie datum) teen te gaan en daardie veroordelings af te wys.63 Die besondere bydrae van die Expositio was dat dit ’n laat Middeleeuse weergawe van Neoplatonisme met ’n unieke bestekopname van kenmerkend Duits-Dominikaanse teorieë aangebied het. Deur die leerstellinge van sy Duits-Dominikaanse voorgangers in die groot ideëhistoriese landskap van antieke en Middeleeuse Neoplatonisme te kontekstualiseer, het Moosburg daarin geslaag om ’n bepaalde kulturele identiteit geloofwaardig aan Albertisme te koppel en die konsoliderende vermoë van die Dominikaanse identiteit uit te wys. Die bykomende bonus aan hierdie projek was dat daar vir ’n eerste keer vanuit die Dominikaanse oord daarin geslaag is om ’n volhoubare alternatief vir die robuuste Aristotelies-gedrewe skolastiek in Parys en in Oxford (hoewel tot ’n mindere mate) daar te stel. Tog sou selfs hierdie magistrale werk nie genoeg wees om voortgaande interne konflik in die Dominikaanse orde af te weer nie. Hoewel die Expositio aanvanklik veld binne die orde gewen het – al was dit aanvanklik ook net as gevolg van die indrukwekkende omvang en verfynde stilistiese kwaliteit van die werk – het die invloed daarvan betreklik vinnig na Moosburg se dood in 1361 verswak, juis as gevolg van teenkanting binne Dominikaanse geledere self. Die orde sou eers weer gedurende die Italiaanse Renaissance die indruk van ’n herstelde, eenvormige en eensgesinde orde laat.

Naas die Franciskaanse en Dominikaanse ontwikkelinge van die monnikewese moet egter ook die twee kleiner skoolordes – die Augustyne en Karmeliete – se ontwikkelingsbydraes oorsigtelik verreken word, aangesien hulle vanaf die 1250’s op die vooruitgang en suksesse van die twee groter skoolordes ingespeel het.

3.3 Die Augustynse ontwikkeling

Die Augustynse orde het vanaf die stigting daarvan in 1244 vanselfsprekend krities teenoor die sentralisering van Aristoteliese natuurlike filosofie binne die 13de-eeuse hoogskolastiek gestaan en sou enige poging om ’n resepsie-ewewig tussen Aristoteles en Augustinus te bewerkstellig, verwelkom. Hendrik van Gent (d. 1293) het wel nie tot die orde behoort nie, maar hy sou eers ná die Paryse veroordelings van 1277 akademies werklik op dreef kom nadat sy kritiek teen die Aristoteliane in aanloop die veroordelings juis wyd in Augustynse kringe verwelkom is. As ’n sekulêre, orde-ongebonde monnik was Gent in staat om sy leerstoel as magister by teologie in Parys tot kort voor sy dood te behou, en hy het inderdaad ’n merkwaardige invloed op Augustynse skoolmonnike in die tweede helfte van die 13de eeu uitgeoefen.64

Dit was egter Gilius van Rome (1243–1316) wat die eerste monnik vanuit die Ordo sancti Augustini was om as magister in teologie by Parys te kwalifiseer. Opvallend het Gilius juis nie oordrewe lojaal teenoor die Augustynse trajek gestaan nie: Hy het as seun tot die orde, kort na die stigting daarvan, in Rome toegetree en is met ’n stipendium van die orde Parys toe gestuur met die oog op voorgraadse studie in filosofie en nagraadse studie in teologie. In Parys was hy bevoorreg genoeg om van 1269 tot 1272 nagraads onder Aquinas self te studeer. Hierdie verbintenis was vir beide skolastici kosbaar en Gilius sou sy lewe lank Aristotelies-Thomisties in filosofies-teologiese oriëntasie bly. Gilius se akademiese opgang is egter gestuit deur die Paryse veroordelings van 1277 toe hy, juis op grond van sy hegte verbintenis met Aquinas, op die lys van sensurabele skolastici geplaas is en van sy magister in teologie gestroop is. Hy het tydens die ondersoek geweier om enige van die Thomistiese standpunte wat hy tot op daardie stadium in ’n herverwerkte en oorspronklike formaat laat dien het, terug te trek. Op grond van sy gevolglike gespanne verhouding met die kerk is Gilius versoek om as onderwyser van die teenpouslike prins van Frankryk, Phillip IV (le Bel of “die skone”, 1268–1314), op daardie stadium ’n seun van ongeveer 10 jaar oud, te dien. Gedurende hierdie tydperk as onderwyser aan die koninklike hof het Gilius De regimine principum geskryf, waarin hy die monarg se gesag positief teenoor pouslike outoriteit opgeweeg het. Gedurende 1285 versoek Honorius IV (Giacomo Savelli, ca. 1210–1287, pous 1285–1287) egter dat Gilius se standpunte, wat dus formeel as kettery deur die Paryse veroordelings bevind is, herondersoek behoort te word. Daarvoor roep die nuwe biskop van Rome, Ranulph de la Houblonierre, ’n teologiese studiekomitee byeen wat Gilius na ’n deeglike ondersoek as magister in teologie herstel. Met agt moontlik produktiewe akademiese jare daarmee heen hervat Gilius sy akademiese loopbaan met onverdrote ywer, tot die mate dat hy aan die einde van daardie jaar as toesighoudende dosent van Parys aangewys word, ’n eminente pos wat hy tot in 1291 met onderskeiding beklee het. In 1292 word hy as hoofmonnik van die Ordo sancti Augustini verkies en in 1295 as biskop van Bourges deur Bonifatius VIII (Benedetto Caetani, 1230–1303, pous 1294–1303) aangewys. In ’n dramatiese wending keer Gilius egter kort hierna sy rug op die prinsie-leerling van enkele jare tevore: Teenoor veral vermelde Dominikaan Quidort se ideologiese ondersteuning van (nou) koning Phillip IV, in hierdie koning se dramatiese konfrontasie met Bonifatius rondom eiendomsreg en die saaklike onderskeid tussen pouslike en koninklike gesag, skaar Gilius hom filosofies en teologies by Bonifatius onmiddellik na sy omstrede verkiesing as pous (na Celestine IV se vermelde vrywillige abdikasie). In uitdruklike ondersteuning van Bonifatius skryf Gilius in 1301 De ecclesiastica potestate, waarmee hy sy lojaliteit aan die pous uitgebreid verantwoord. Kort daarna skryf Gilius ook ’n lang opstel, Contra exemptos, ter ondersteuning van die pouslike onderdrukking van die gevierde Ridders van die Tempelorde. Dit was onder meer vanuit die wye sirkulasie van hierdie opstel dat hierdie Tempelorde by die Konsilie van Vienne in 1312 finaal verbode verklaar en ontbind is. Hoewel Gilius dus ’n Augustyn was wat veel meer Aristotelies-Thomisties as gangbaar Augustyns was, het sy ondersteuning van pouslike gesag en tempering van koninklike gesag kenmerkend van die orde se institusionele posisionering in die oorgang van die 13de na die 14de eeu geword.65

Naas Gilius was Jakobus van Viterbo (ca. 1258–1307), met die familienaam Capocci, maar in die skolastiek so vernoem na die plek van herkoms, ’n belangrike hoogskolastikus vanuit die Augustynse orde in die tweede helfte van die 13de eeu. Viterbo tree in 1270 tot die orde toe en begin sy basisstudies by die orde se studium in Viterbo. In 1275 stuur die Augustyne hom met ’n stipendium na Parys sodat hy daar juis onder sy orde se magister, Gilius, teologie by die beroemde fakulteit kon studeer. Op grond van daardie studenteverbintenis met Gilius sou Viterbo in die skolastiek bekend word as die tweede noemenswaardige hoogskolastikus uit die Augustynse orde. Hy behaal die baccalaureus in teologie in 1288 en promoveer in 1293 tot magister in teologie – hy moes op daardie stadium minstens 35 jaar oud gewees het, op grond van die Paryse ouderdomsvereistes vir die toekenning van die magister in teologie (ook vandaar dat sy geboortedatum na ongeveer 1258 herlei kan word). Later in dieselfde jaar word Viterbo as toesighoudende dosent van die Augustyne by Parys aangewys nadat Gilius in 1292 die benoeming as meester-generaal van die orde aanvaar het. Hoewel nie die intellektuele gelyke van sy magister nie, was Viterbo ’n gewilde dosent. Die groot aantal quodlibeta en quaestiones wat hy nagelaat het,66 dui daarop dat hy die klaskamer bo die biblioteek as werksruimte verkies het. In 1300 keer Viterbo terug na Italië om diens as rektor van die Augustynse studium in Napels op te neem. Op 3 September 1302 word Viterbo as aartsbiskop van Benevento aangewys en slegs drie maande later, op 12 Desember 1302, aanvaar hy die pouslike aanstelling as aartsbiskop van Napels. Hy het sy laaste jare in die aangrypende katedraal van St Januarius in Napels deurgebring en is in 1307 betreklik jonk in die siekeboeg van die katedraal oorlede.

Gregorius van Rimini (ca. 1300–1358) was ’n Italiaanse Augustyn wat as magister in teologie by Parys afgestudeer het. Die orde het hom rondom 1322 vir die eerste keer na Parys gestuur, waar hy die baccalaureus in teologie na ses jaar se studie behaal het as inwoner en student van die orde se studium naby die universiteit. Rimini het self daarna vir meer as ’n dekade as dosent van die orde se studium in Bologna opgetree, met inbegrip van kort lesingbesoeke aan Padua en Perugia.67 Uiteindelik skryf die Augustyne Rimini in 1341 in vir die magister in teologie by Parys, wat hy teen 1345 behaal het nadat sy lesings oor die Sententiae oorweldigend positief ontvang is. Rimini was nie net ’n uitstekende teoloog nie, hy was buitengewoon goed op hoogte met die filosofiese werke van Oxford-Franciskane soos Chatton en Ockham, maar op sterkte van die Engelse invloed (die Subtilitates Anglicane) in Parys in die 1340’s, juis ook buitengewoon goed bekend met die werke van ietwat latere Franciskaanse Oxoniane soos Wodeham en Fitzralph. Trouens, Rimini kan juis beskou word as een van die belangrikste filosofiese brugfigure tussen Oxford en Parys in die 1340’s en 1350’s.68 Die vestiging van diskursiewe oorgange tussen uiteenlopende ordes, skole en bewegings kan ook as een van die belangrikste kenmerke en bydraes van die Augustynse orde in die 14de eeu beskou word. Dit sluit die nadertrek en insluiting van die skugter en afstandelike Karmeliete in.

3.4 Die Karmelitiese ontwikkeling

Die Karmeliete het oorwegend nader aan die Dominikane as aan die Franciskane gestaan, in die sin dat hulle hermeneutiese sleutel Aristoteles via Aquinas en Neoplatonisme via Pseudo-Dionisius was – eerder as Plato via Augustinus, soos oorwegend by die Franciskane. Dominikane en Franciskane het betreklik streng by die raamwerk van hulle eie skole en magistri gehou, terwyl die Augustyne, buiten die voorrang aan Augustinus en Augustynse ordereëls, soos hier bo aangedui, wel gemene grond tussen die skoolordes probeer opsoek het. Die Karmelitiese orde was egter die skoolorde wat die uitsette van sekulêre of orde-ongebonde magistri met die grootste erns geneem het en bereid was om ver buite die raamwerk van die eie orde te beweeg. Die enkele grootse sekulêre invloed op die Karmeliete was waarskynlik Godfrey Fontibus (ca. 1250 – ca.1315), ’n invloedryke en uitdagende sekulêre magister in teologie by Parys van 1285 tot 1304. Fontibus is gebore vanuit die adelstand by die kasteel van Fontaines-les Hozémont, geleë in die provinsie Liège in eietydse België. Hy studeer as sekulêre student filosofie by lettere in Parys en die Sorbonne, waarna hy in 1285 as magister in teologie by Parys afstudeer. Reeds vanaf sy voorgraadse studiejare het Fontibus ’n verrassende belangstelling getoon in die werk van die twee 1277-veroordeelde Averroïste Sigerius en Boethius van Dacia asook in Aquinas se lesing van Aristoteles, wat, soos aangedui, gedeeltelik ook in 1277 veroordeel is. Van vroeg af het Fontibus dus gekies om op dun ys te beweeg. Dit het egter nie verhoed dat hy reeds in 1285, na sy promovering, as toesighoudende dosent van Parys aangewys is nie en ook daarna as ’n invloedryke sekulêre magister teologie by Parys kon bly doseer tot in ongeveer 1304, waarna hy in ’n aantal kerklike posisies in Parys, Keulen en Rome gedien het.69

Fontibus se invloed op die Karmeliete blyk duidelik uit sy student Guido Terrena (d. 1342) se vindingryke verdediging van Aristotelies-teoretiese posisies, maar ook vir sy kritiek van bepaalde Aristoteliese en Thomistiese uitgangspunte. Terrena studeer in die vroeë 1300’s teologie onder Fontibus in Parys en promoveer in 1312 tot magister – hy was slegs die derde Karmeliet wat tot op daardie stadium tot magister kon vorder. Van 1313 tot 1317 dien hy as toesighoudende dosent van die Karmeliete in Parys, waar hy as hoofdosent van opkomende jong Karmeliete soos Johannes Baconthorpe (ca. 1290–1345) opgetree het en deur studente met die sobriquet Doctor Breviloquus vereer is. Nadat hy in 1318 as meester-generaal van die Karmeliete aangewys word, tree hy op as teologiese adviseur van Johannes XXII, wat, soos vroeër aangedui, op daardie stadium met prominente Franciskane soos Ockham in ’n onverkwiklike geskil betrokke was oor Franciskaanse eiendomsreg en die Franciskaanse beginsel van kommunale vruggebruik. Uiteraard het Terrena se pouslike adviesstukke hom in die ongelyk met die Franciskane gebring en die Karmeliete effektief teen die Franciskane opgestel. Gegewe die vooruitgang van die Franciskane en die agteruitgang van die Dominikane oor die volgende drie dekades was dit ’n strategiese fout wat die Karmeliete duur te staan gekom het: ’n Reeds skugter orde is daarmee vir die afsienbare toekoms uit die hoofstroom teologiese diskoers geweer. Daarby het die Karmeliete gebuk gegaan onder ’n swak reputasie sover dit filosofiese uitsette betref: Hoewel die orde reeds in die 12de eeu gestig is, het die Karmeliete laat tot die Middeleeuse universiteitswese toegetree en is hulle veral by lettere nooit as gedug geag nie. Die Karmeliete se filosofiese werke is daarby swak gekopieer en met huiwering gesirkuleer. Dit is juis die rede waarom Terrena se oorspronklike werke in filosofie, asook bogenoemde kommentare oor Aristoteles, selfs nie die tweede helfte van die 14de eeu selfstandig oorleef het nie. Hoewel Terrena hom naby sy leermeester Fontibus in sy hantering van die mees prominente filosofiese vraagstukke hou, is die invloed van Aquinas en ander Dominikane soos Durandus van St Pourçain by hom duidelik merkbaar. In sy epistemologie volg hy Aquinas en Fontibus, maar hy neem soms eklektiese posisies in, veral wanneer hy kenmerkend poog om patristiese elemente met tydgenootlike skolastiese oortuiginge te versoen. Oorhoofs beskou was Terrena se bydrae tot die hoogskolastiek beperk en ’n aanduiding van die Karmeliete se skynbaar inherente akademiese begrensdheid.

Met Terrena se vermelde student Baconthorpe was dit egter ietwat beter gesteld. Naas Terrena die vernaamste verteenwoordiger van die vroeë fase van die ontwikkeling van die Karmelitiese orde, en waarskynlik ook verlangs familie van die vermelde Franciskaanse natuurlike filosoof Roger Bacon, was Baconthorpe ’n magister in teologie by en ook toesighoudende dosent van die fakulteit teologie in Parys in die vroeë 1320’s. Hy het ’n grondige kommentaar oor die Sententiae asook drie quodlibeta nagelaat, wat onder die Karmeliete sodanige bekendheid verwerf het dat dit tot vroeg in die moderne era ’n paar keer herdruk sou word. Trouens, teen die 17de eeu was Baconthorpe soveel die “amptelike” verteenwoordiger van die Karmeliete as wat Gilius en Viterbo dit van die Augustyne, Albertus en Aquinas dit van die Dominikane en Skotus en Ockham dit van die Franciskane was. As ’n dosent by Cambridge en Oxford het Baconthorpe bekendheid verwerf vir nogeens (kenmerkend-Karmelities) eklektiese lesings van sowel Aquinas as Skotus, wat meegebring het dat hy hom op ’n polemiese middelgrond tussen die Dominikane en Franciskane bevind het. Vanuit hierdie middelposisie teiken hy ook Gent, die vermelde Franciskaan Petrus Aureolus, Gilius, en selfs sy leermeester Terrena se magister, Fontibus. Sy skolastiese sobriquet Doctor Resolutus is ontleen aan hierdie wydgaande geskille waarin Baconthorpe homself gesitueer het – asook dat hy elke sodanige geskil met buitengewone gedrewenheid wou oplos. Baconthorpe was voortdurend bedag daarop om nie die parameters wat in 1277 deur die veroordelings by Parys en Oxford gestel is te toets nie en het sorgvuldig binne daardie bane gebly. Hy het egter nie gehuiwer om enige iemand heftig en polemies teen te gaan wat na sy mening buite daardie parameters beweeg het, of selfs net die risiko geloop het om daarbuite te beweeg nie. In hierdie hiperpolemiese geskille stel Baconthorpe homself kenmerkend op as ’n “outentieke” en “oorspronklike” eksegeet van die Aristoteliese tekste, wat hy dikwels eenvoudig verbatim of per secundum philosophos (“met direkte aanhalings uit Aristoteles”) gebruik om ’n geskil te besleg sonder om aan die Latynse vertaling van Aristoteles se bewoording iets te wysig of dit selfstandig te kommentarieer. Baconthorpe is egter wel ’n belangrike hoogskolastikus, omdat die omvang en inhoud van sy skermutselings met ander skolastici ’n goeie aanduiding van die algemene stemming van die filosofiese en teologiese debat in die vroeg-14de eeu gee, naamlik dat dit dikwels en selfs meermale ontaard het in ’n siellose haarklowery oor sake wat nie filosofies of teologies werklik as gevolgryk geag kan word nie – byvoorbeeld in sy konfrontasie met Aquinas oor die vraag of daar veelvoudige hemelwesens of engele in ’n enkele species kan wees (wat Aquinas ontken het en waarmee hy hom gevolglik blootgestel het aan die veroordeling van een van die 219 proposisies in Parys in 1277). Natuurlik gaan dit hier in die agtergrond oor ’n belangrike filosofiese beginsel, naamlik dié van individualisering – maar die filosofiese beginsel self word in die skadu gestel deur eindelose abstraherende spekulasies (oor byvoorbeeld die aard en identiteit van die hemelwesens), wat die eg-skolastiese aandrang op duidelikheid, relevansie en aktualisering effektief in die steek gelaat het. Nietemin het Baconthorpe konstruktiewe werk gelewer wanneer hy hom buite hierdie polemieke gehou het en nie versand het in ’n onproduktiewe soort pseudoskolastiek nie. Wanneer hy die moed van sy oortuiging gehad het om werklik oorspronklik en sinteties te dink, het hy wel produktief bygedra tot bogenoemde skolastiese oogmerke van duidelikheid, tersaaklikheid en aktualisering.70

Wat sodanig van Baconthorpe beweer word, geld egter ook vir elke eksponent van die kloosterordes en die drie ander skoolordes. Waar polemiek, akademiese binnegevegte, kerkpolitiek, kloosterkonflik en konflik tussen skoolordes of binne skoolordes onderling aan die orde was, is die monnikediskoers verskraal tot die abstraherende verweer teen en dogmatiese verdediging van siellose teoretiese posisies. Waar diskursiewe oorspronklikheid, ’n sin vir sensus communis en ernsname van die bewaring en bestendiging van die vergange die toon aangegee het, het die monnikewese binne die kloosterordes en latere skoolordes egter gedy. Daarvan getuig die enorme uitsette vanuit die kloosterwese in die Middeleeuse Latynse Weste self.

 

4. Samevatting

Hierdie artikel het vertrek geneem vanuit die volgende openingstelling en vraag: Die ontwikkeling van die monnikewese was dié wesenlike aspek van die ontwikkeling van die Westerse geestesgeskiedenis sedert die val van Rome; en: Hoe het die “monnik” in die post-Romeinse wêreld verskyn en hoe het daardie verskyning deur die loop van die Middeleeue verander? In die voorgaande drie afdelings is hierdie openingstelling in besonderhede verhelder en die vraag grondig beantwoord. Dit behoort vanuit hierdie institusiehistoriese en ideëhistoriese oorsig duidelik te wees dat sowel kloostermonnike as skoolmonnike die draers van ’n uiteindelik meer as duisend jaar oue intellektuele hartstog was waarvan die vrug navorsing en doseerwerk, vertalings van antieke tekste in oorwegend Latyn, die keurigste kopiërings van antieke en tydgenootlike tekste, die byeenbring en redigering van antieke filosofiese tekste in Grieks en Latyn, en veral die bewaring van tekste en intellektuele tradisies midde hewige politieke en staatkundige onrus deur Wes- en Suid-Europa, Brittanje en Ierland heen was. Kenmerkend van die monnikewese se intellektuele arbeid was die presisie, deeglikheid en integriteit wat dit gekenmerk het; die vermoë en gewilligheid om filosofies te herkonseptualiseer en die vergange met erns te bejeën. Die monnik, van welke klooster- of skoolorde ook al, was ’n formidabele bewaarder van wat dit ook al was wat aan hom toevertrou is. Met hierdie oorsig is ook die rol wat die monachus gespeel het in die bewaring en verdieping van begrippe soos waarheid, deug, orde en tradisie as ongeëwenaard uitgewys. Daarom is na die bestendigende monnikewese vanaf die vyfde tot 15de eeue juis as “ordes” verwys: Hulle het orde geskep en ’n sin vir orde bevorder. Die Westerse ideëgeskiedenis is sonder die monnikewese se unieke klem op sensus communis onvoorstelbaar. Daar sou nie sprake kon wees van die skepping, bewaring en ontwikkeling van ’n Westerse samelewingsorde as dit nie vir die dinamiese ontwikkeling en institusionele teenwoordigheid van die monnikewese in die Middeleeuse Latynse Weste was nie. Daarvoor behoort “Westerlinge” die Europese, Engelse en Ierse monnike in hulle stil grafte met Latynse inskripsies ewig dankbaar te wees.

 

Ut enim monachorum opera legerem, necesse erat me ipsum monachum fieri

 

Bibliografie

Adams, M.M. 1987. William Ockham. Volume I en II. Notre Dame, Indiana: University of Notre Dame Press.

—. 2006. Anselm on faith and reason. In Davies en Leftow (reds.) 2006:32–60.

Adriaenssen, H.T. 2011. Peter Olivi on perceptual representation. Vivarium, 49(1):324–52.

—. 2014. Peter John Olivi and Peter Auriol on conceptual thought. Oxford studies in Medieval philosophy, 2:67–97.

Aertsen, J.A. 1996. Albertus Magnus und die mittelalterliche Philosophie. Allgemeine Zeitschrift für Philosophie, 21(1):111–28.

—. 2013. Albert’s doctrine on the transcendentals. In Resnick (red.) 2013:611–8.

Aertsen, J.A., K. Emery en A. Speer (reds.). 2000. Philosophie und Theologie an der Universität von Paris im letzten Viertel des 13. Jahrhunderts. Berlyn: Walter De Gruyter.

Anselmus. 1974 [1076]. Anselm of Canterbury. Monologion, proslogion, debate with Guanilo and Meditation on human redemption. Hopkins, J. en H. Richardson (reds. en vert.). Londen: SCM.

Anzulewicz, H. 2013. Anthropology: The concept of man in Albert the Great. In Resnick (red.) 2013:325–46.

Augustinus. 1865. Epistolae quas scripsit reliquo vitae tempore (ab anno 411 ad 430). Migne, J.-P. (red.). Patrologia Latina 33, http://patristica.net/latina, ble. 471–1024 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 1996. De doctrina Christiana. Corpus Christianorum Series Latina 32. Martin, J. (red.). Turnhout: Brepols.

Bakker, P.J.J.M. en C. Schabel. 2002. Sentences commentaries of the later fourteenth century. In Evans (red.) 2002:425–64.

Barney, S.A., J.A. Beach, O. Berghof en W.J. Lewis (komm., verts. en reds.). 2006. The Etymologies of Isidore of Seville. Cambridge: Cambridge University Press.

Bermon, P. 2002. La Lectura sur les deux premiers livres des Sentences de Grégoire di Rimini, O.E.S.A. (1300–1358). In Evans (red.) 2002:267–85.

Bernardus (van Clairvaux). 1957. Opera. Leclercq, J. en H. Rochais (reds.). Rome: Editiones Cistercienses.

Beukes, J. 2018a. Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie. LitNet Akademies, 15(3):502–64. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_502-564.pdf (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2018b. Die Arabiese trajek in die post-Karolingiese periode in Middeleeuse filosofie. LitNet Akademies, 15(3):565–626. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2018/12/LitNet_Akademies_15-3_Beukes_565-626.pdf (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2018c. Dionisiese spore in Kusa se metafisika. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 74(4):1–9, Art. #5112. https://doi.org/10.4102/hts.v74i4.5112 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2019a. “Foucault se sodomiet”: Damianus se Liber gomorrhianus (1049) heropen. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 75(4):1–13, Art. #5216. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5216 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2019b. Héloïse d'Argenteuil se filosofiese uitset. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 75(4):1–12, Art. #5281. https://doi.org/10.4102/hts.v75i4.5281 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2019c. De potestate regia et papali: ’n “uurglas”-bywerking van die mees onlangse Quidort-navorsing. LitNet Akademies, 16(2):109–68. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2019/10/LitNet_Akademies_16-2_Beukes_109-168.pdf (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2020a. Middeleeuse filosofie. Volume I en II. Pretoria: Akademia.

—. 2020b. The Dominican Robert Kilwardby (ca. 1215–1279) as schoolman and ecclesiastical official. Verbum et Ecclesia, 41(1):1–14, Art. #2065. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2065 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2020c. Sensus communis: The relevance of Medieval philosophy in the 21st century. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 76(4):1–13, Art. #5937. https://doi.org/10.4102/hts.v76i4.5937 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2020d. Omnium expetendorum prima est sapientia: Hugo van Saint-Viktor (1097–1141) en die probleem van hiperspesialisasie in die eietydse wetenskapsbegrip. LitNet Akademies, 17(1):262–97. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2020/04/LitNet_Akademies_17-1_Beukes_262-297.pdf (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2020e. The Trinitarian and Christological Minnemystik of the Flemish beguine Hadewijch of Antwerp (fl. 1240). HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 76(1):1–10, Art. #5865. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5865 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2020f. Die politieke aktivisme van Birgitta Birgersdotter (1302/3–1373). Verbum et Ecclesia, 41(1):1–12, Art. #2134. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2134 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2020g. Intervroulike seksualiteit in die latere Middeleeue: ’n Ideëhistoriese oorsig. Verbum et Ecclesia, 41(1):1–13, Art. #2074. https://doi.org/10.4102/ve.v41i1.2074 (15 Oktober 2021 geraadpleeg).

—. 2020h. Die triomf van ’n post-skolastieke mistiek oor skolastieke lojalisme: Gersonius versus Ruusbroec (postuum), 1399. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 76(1):1–12, Art. #5672. https://doi.org/10.4102/hts.v76i1.5672 (15 April 2021 geraadpleeg).

—. 2021a. The case for post-scholasticism as an internal period indicator in Medieval philosophy. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(1):1–12, Art. #6270. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6270 (15 Mei 2021 geraadpleeg).

—. 2021b. Neoplatonism in the Cologne tradition of the later Middle Ages: Berthold of Moosburg (ca. 1300–1361) as case study. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1–15, Art. #6281. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6281 (15 Mei 2021 geraadpleeg).

—. 2021c. Die “vyf trane” as mistieke uitdrukking in die Dialoë van die Dominikaanse non Katharina van Siëna (1347–1380). HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77:1–9, Art. #6553. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6553 (15 Oktober 2021 geraadpleeg).

—. 2021d. Augustinus en vroulike homoërotiek in die vroeë Middeleeue: ’n Foucaultiaanse ideëhistoriese interpretasie. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1-12, Art. #6880. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6880 (15 November 2021 geraadpleeg).

—. 2021e. The 50-year jubileum of the Society for the Promotion of Eriugenian Studies in the John Scottus Eriugena (815–877) research, 1970–2020. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1–13, Art. #6456. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6456 (15 Oktober 2021 geraadpleeg).

—. 2021f. Middeleeuse studies, Mediëvalistiek en Mediëvalisme: Kritiese onderskeide en samehange. Verbum et Ecclesia, 42(1):1–8, Art. #2236. https://doi.org/10.4102/ve.v42i1.2236 (31 Augustus 2021 geraadpleeg).

—. 2021g. Hendrik van Harclay (ca. 1270–1317) se kritiese Skotisme, afgelei uit sy Quaestiones Ordinaire (1312–1317). Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 61(1):259–81. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2021/v61n1a16 (15 April 2021geraadpleeg).

—. 2021h. “Skoolordes” in plaas van “bedelordes”: ’n Heroorweging van die toepaslikheid van die begrip mendīcāns in die Middeleeuse vakregister. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 77(4):1-12, Art. #6837. https://doi.org/10.4102/hts.v77i4.6837 (15 November 2021 geraadpleeg).

—. 2022a. Die ontwikkeling van ars in die teologies filosofiese werke van Ramon Llull (ca. 1232–1316). Verbum et Ecclesia, 43(1):1-10, Art. #2530. https://doi.org/10.4102/ve.v43i1.2530 (15 Mei 2022 geraadpleeg).

—. 2022b. Die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 62(2). (In publikasie.)

Blowers, P.M. 2016. Maximum Confessor. Jesus Christ and the transfiguration of the world. Oxford: Oxford University Press.

Bonin, T. 2001. Creation as emanation: The origin of diversity in Albert the Great’s On the causes and the procession of the Universe. Notre Dame, IN: University of Notre Dame Press.

Bonner, A. 2007. The art and logic of Ramon Llull. A user’s guide. Leiden: Brill.

Bos, E.P. 2003. Francis of Meyronnes on relation and transcendentals. In Pickavé (red.) 2003:320–36.

Bos, E.P. (red.). 1998. John Duns Scotus (1265–1308). Renewal of philosophy. Amsterdam: Rodopi.

Briggs, C.F. 2016. Life, works and legacy. In Briggs en Eardley (reds.) 2016:6–33.

Briggs, C.F. en P.S. Eardley (reds.). 2016. A companion to Giles of Rome. Leiden: Brill.

Brower, J. en K. Guilfoy. 2006. Introduction. In Brower en Guilfoy (reds.) 2006:1–12.

Brower, J. en K. Guilfoy (reds.). 2006. The Cambridge companion to Abelard. Cambridge: Cambridge University Press.

Brown, S., T. Dewender en T. Kobusch (reds.). 2009. Philosophical debates at Paris in the earlier fourteenth century. Leiden: Brill.

Bullough, D.A. 2004. Alcuin. Achievement and reputation. Leiden: Brill.

Carabine, D. 2000. John Scottus Eriugena. Oxford: Oxford University Press.

Casiday, A.M.C. 2007. Tradition and theology in St. John Cassian. Oxford: Oxford University Press.

Catto, J.I. 1984. Theology and theologians 1220–1320. In Catto (red.) 1984:471–517.

Catto, J.I. (red.). 1984. The history of the University of Oxford, Volume I: The early Oxford schools. Oxford: Oxford University Press.

Clegg, B. 2003. The first scientist. A life of Roger Bacon. Londen: Constable.

Costambeys, M., M. Innes en S. MacLean. 2014. The Carolingian world. Cambridge: Cambridge Medieval Textbooks.

Courtenay, W.J. 1987. Schools and scholars in fourteenth-century England. Princeton: Princeton University Press.

—. 2008. Ockham and Ockhamism. Studies in the dissemination and impact of his thought. Leiden: Brill.

Cross, R. 1999. Duns Scotus. Oxford: Oxford University Press.

—. 2002a. The metaphysics of the Incarnation. Thomas Aquinas to Duns Scotus. Oxford: Oxford University Press.

—. 2002b. Absolute time: Peter John Olivi and the Bonaventurean tradition. Medioevo, 27(1):261–300.

—. Theology. In Briggs en Eardley (reds.) 2016:34–72.

Cullen, C.M. 2006. Bonaventure. Oxford: Oxford University Press.

—. 2014. Bonaventure’s philosophical method. In Hammond, Hellmann en Goff (reds.) 2014:121–66.

Dales, D. 2004. A mind intent on God. The spiritual writings of Alcuin of York. Canterbury: Canterbury Press.

—. 2012. Alcuin. His life and legacy. Cambridge: James Clarke & Co.

Davies, B. en B. Leftow (reds.). 2006. The Cambridge companion to Anselm. Cambridge: Cambridge University Press.

Delio, I. 2014. Theology, spirituality and Christ the center: Bonaventure’s synthesis. In Hammond, Hellmann en Goff (reds.) 2014:361–402.

De Rijk, L.M. 1988. Semantics and metaphysics in Gilbert of Poitiers. A chapter of twelfth century Platonism. Vivarium, 26(2):73–112.

Donati, S. en C. Trifogli. 2016. Natural philosophy. In Briggs en Eardley (reds.) 2016:73–113.

Doyle, J.P. 2006. Hervaeus Natalis O.P. (d. 1323) on intentionality: its direction, context, and some aftermath. The Modern Schoolman, 83(1):85–123.

Driver, S.D. 2002. John Cassian and the reading of Egyptian monastic culture. Londen: Routledge.

Duba, W.O. 2000. The immaculate conception in the works of Peter Auriol. In Friedman en Nielsen (reds.) 2000:5–34.

Dumont, S.D. 2009. Godfrey of Fontaines and the succession theory of forms at Paris in the early fourteenth century. In Brown, Dewender en Kobusch (reds.) 2009:39–125.

Dyson, R.W. (inl., red. en vert.). 2009. James of Viterbo. De regimine Christiano. A critical edition and translation. Leiden: Brill.

Etzkorn, G.J. 1992. John Pecham, O.F.M.: a career of controversy. In King, Schaefer en Wadley (reds.) 1992:71–82.

Evans, G.R. 2000. Bernard of Clairvaux. Oxford: Oxford University Press.

—. 2006. Anselm’s life, works and immediate influence. In Davies en Leftow (reds.) 2006:5–31.

Evans, G.R. (red.). 2002. Mediaeval commentaries on the Sentences of Peter Lombard. Volume I. (Volumes II en III, P.W. Rosemann [red.] 2010 en 2015). Leiden: Brill.

Flasch, K. 2007. Dietrich von Freiberg. Philosophie, Theologie, Naturforschung um 1300. Frankfurt am Main: Klostermann.

—. 2015. Meister Eckhart. Philosopher of Christianity. A. Schindel en A. Vanides (verts.) New Haven: Yale University Press.

Folger-Fonfara, S. 2008. Das Super-Transzendentale und die Spaltung der Metaphysik: Der Entwurf des Franziskus von Marchia. Leiden: Brill.

Fontaine, J. 2005. Education and learning. In Fourarcre (red.) 2005:735–59.

Fourarcre, P. (red.). 2005. The new Cambridge Medieval history, Volume I, c. 500 – c. 700. Cambridge: Cambridge University Press.

Friedman, R.L. en L.O. Nielsen (reds.). 2000. Peter Auriol (Spesiale uitgawe). Vivarium 38(1).

Friedman, R.L. en C. Schabel. 2001. Francis of Marchia’s commentary on the Sentences: Question list and state of research. Mediaeval Studies, 63(1):31–106.

Friedman, R.L. en C. Schabel (reds.). 2006. Francis of Marchia – theologian and philosopher. A Franciscan at the University of Paris in the early fourteenth century. Leiden: Brill.

Grabmann, M. 1957. Die Geschichte der scholastischen Methode. Volume I en II. Berlyn: Akademie Verlag.

Hall, A.W. 2007. Thomas Aquinas and John Duns Scotus: Natural theology in the high Middle Ages. New York: Continuum.

Hammond, J.M., J.A.W Hellmann en J. Goff (reds.). 2014. A companion to Bonaventure. Leiden: Brill.

Heiduk, M. 2012. Offene Geheimnisse – Hermetische Texte und verborgenes Wissen in der mittelalterlichen Rezeption von Augustinus bis Albertus Magnus. Proefskrif, Fakulteit Filosofie, Universiteit van Freiburg.

Hirvonen, V. 2004. Passions in William Ockham’s philosophical psychology. Dordrecht: Kluwer.

Hödl, L. 1990. Literar- und problemgeschichtliche Untersuchungen zum Sentenzenkommentar des Wilhelm von Ware O.F.M. (nach 1305). Recherches de Théologie Ancienne et Médiévale, 57:97–141.

Hoffman, F. 1995. Der Wandel in der Scholastischen Argumentation vom 13 zum 14 Jahrhundert, aufgezeigt an zwei Beispielen: Robert Holcot und William Crathorn. Miscellanea Medievalia, 23:301–22.

Hoffmann, T. 2008. Walter Chatton on the connection of the virtues. Quaestio: Yearbook of the History of Metaphysics, 8:57–82.

Hughes, K.L. 2014. Bonaventure’s defense of mendicancy. In Hammond, Hellmann en Goff (reds.) 2014:509–42.

Ingham, M.B. 2004. The philosophical vision of Duns Scotus. Washington: Catholic University of America Press.

Iribarren, I. 2002. The Scotist background in Hervaeus Natalis’s interpretation of Thomism. Thomist, 66:607–27.

—. 2005. Durandus of St Pourçain. A Dominican theologian in the shadow of Aquinas. Oxford: Oxford University Press.

Kandler, K.-H., B. Mojsisch en F.-B. Stammkötter (reds.). 1999. Dietrich von Freiberg. Neue Perspektiven seiner Philosophie, Theologie und Naturwissenschaft. Amsterdam: B.R. Grüner.

Kardaun, M. en J. Spruyt (reds.). 2000. The winged chariot. Collected essays on Plato and Platonism in honour of L.M. de Rijk. Leiden: Brill.

Karger, E. 1998. Richard Rufus on naming substance. Medieval Philosophy and Theology, 7:51–67.

—. 2004. Ockham and Wodeham on divine deception as a skeptical hypothesis. Vivarium, 42(2):225–36.

Keele, R. 2003. The so-called res theory of Walter Chatton. Franciscan Studies, 6(1):37–53.

—. 2007. Can God make a Picasso? William Ockham and Walter Chatton on divine power and real relations. Journal for the History of Philosophy, 45(1):395–411.

King, E.B., J.T. Schaefer en W.B. Wadley (reds.). 1992. Monks, nuns and friars in Mediaeval society. Sewanee: Press of the University of the South.

Klima, G. 2000. Thomas of Sutton on the nature of the intellective soul and the Thomistic theory of being. In Aertsen, Emery en Speer (reds.) 2000:436–55.

—. 2002. Thomas Sutton and Henry of Ghent on the analogy of being. Proceedings of the Society for Medieval Logic and Metaphysics, 2:34–44.

Kobusch, T. 2000. Petrus Aureoli: Philosophie des Subjekts. In Kobusch (red.) 2000:236–49.

Kobusch, T. (red.). 2000. Philosophen des Mittelalters. Darmstadt: Primus.

Largier, N. 1999. Negativität, Möglichkeit und Freiheit. Zur Differenz zwischen der Philosophie Dietrichs von Freiberg und Ekcharts von Hochheim. In Kandler, Mojsisch en Stammkötter (reds.) 1999:149–68.

Leone, M. 2005. Metaphysics, theology and the natural desire to know separate substances in Henry of Ghent. Quaestio, 5(1):513–26.

Leppin, V. 2003. Wilhelm von Ockham: Gelehrter, Streiter, Bettelmönch. Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.

Logan, I. 2009. Reading Anselm’s Proslogion. The history of Anselm’s argument and its significance today. Surrey: Ashgate.

Long, R.J. en M. O'Carroll. 1999. The life and works of Richard Fishacre O.P.: Prolegomena to the edition of his Commentary on the Sentences. München: Verlag der Bayerischen Akademie der Wissenschaften.

Lowe, E. 2003. The contested theological authority of Thomas Aquinas: The controversies between Hervaeus Natalis and Durandus of St Pourçain. New York: Routledge.

Luscombe, D. 2010. Monks and friars. In Pasnau en Van Dyke (reds.) 2010:63–75.

Marenbon, J. 1981. From the circle of Alcuin to the school of Auxerre. Cambridge: Cambridge University Press.

—. 1988. Early Medieval philosophy (488–1150). An introduction. New York: Routledge.

—. 2003. Boethius. Oxford: Oxford University Press.

—. 2009. Introduction: reading Boethius whole. In Marenbon (red.) 2009:1–10.

Marenbon, J. 2009 (red.). The Cambridge companion to Boethius. Cambridge: Cambridge University Press.

Maurer, A.A. 1999. The philosophy of William of Ockham in the light of its principles. Toronto: Pontifical Institute of Mediaeval Studies.

Maurey, Y. 2014. Medieval music, legend and the cult of St. Martin. The local foundations of a universal saint. Cambridge: Cambridge University Press.

McGuire, B.P. 2011. Bernard’s life and works: A review. In McGuire (red.) 2011:18–61.

McGuire, B.P. (red.). 2011. A companion to Bernard of Clairvaux. Leiden: Brill.

McKitterick, R. 2004. History and memory in the Carolingian world. Cambridge: Cambridge University Press.

McMahon, R. 2006. Understanding the Medieval meditative ascent. Washington: The Catholic University of America Press.

Mews, C.J. 2005. Abelard and Heloise. Oxford: Oxford University Press.

—. 2011. Bernard of Clairvaux and Peter Abelard. In McGuire (red.) 2011:133–68.

Mieth, D. 2004. Meister Eckhart: Mystik und Lebenskunst. Düsseldorf: Patmos.

Möhle, H. 2007. Formalitas and modus intrinsecus. Die Entwicklung der scotischen Metaphysik bei Franciscus de Mayronis. Münster: Aschendorff.

Mojsisch, B. 2001. Meister Eckhart: Analogy, univocity and unity. Summerell, O.F. (vert.). Amsterdam: Grüner.

Moorhead, J. 2009. Boethius' life and the world of late antique philosophy. In Marenbon (red.) 2009:13–33.

Mulchahey, M. 1998. “First the bow is bent in study ...”: Dominican education before 1350. Turnhout: Brepols.

Nielsen, L.O. 2002. Peter Auriol’s way with words: the genesis of Peter Auriol’s Commentaries on Peter Lombard’s First and Fourth Books of the Sentences. In Evans (red.) 2001:149–219.

Otten, W. 2013. The reception of Augustine in the early Middle Ages (c. 700 – c. 1200). In Pollmann en Otten (reds.) 2013:23–39.

Palazzo, A. 2004. Ulrich of Strasbourg and Denys the Carthusian: textual analysis and doctrinal comments. Bulletin Philosophy Médiévale, 46:61–113.

Pasnau, R. en C. Shields. 2004. The philosophy of Aquinas. Boulder: Westview Press.

Pasnau, R. en C. van Dyke (reds.). 2010. The Cambridge history of Medieval philosophy, Volume I. Cambridge: Cambridge University Press.

Pelletier, J.E. 2013. William Ockham on metaphysics. The science of being and God. Leiden: Brill.

—. 2017. Is there a metaphysical approach to the transcendentals in Ockham? The case of the Good. In Pelletier en Roques (reds.) 2017:111–24.

Pelletier, J.E. en M. Roques (reds.). 2017. The language of thought in late Medieval philosophy. Essays in honor of Claude Panaccio. Londen: Springer.

Pelster, F. 1928. Roger Marston, O.F.M. (d. 1303), ein englischer Vertreter des Augustinismus. Scholastik, 3:526–56.

Perl, E.D. 2007. Theophany: the Neoplatonic philosophy of Dionysius the Areopagite. Albany: State University of New York Press.

Pick, L.K. 2005. Peter the Venerable and the New World Order. Early Medieval Europe, 13(4):405–11.

Pickavé, M. (red.). 2003. Die Logik des Tranzendentalen. (Festschrift für Jan A. Aertsen). Berlyn: Walter de Gruyter.

Pini, G. 2000. Being and creation in Giles of Rome. In Aertsen, Emery en Speer (reds.) 2000:390–409.

Pinzani, R. 2003. The logical grammar of Abelard. Dordrecht: Kluwer.

Pollmann, K. 2005. Augustine’s hermeneutics as a universal discipline? In Pollmann en Vessey (reds.) 2005:206–31.

Pollmann, K. en W. Otten (reds.). 2013. The Oxford guide to the historical reception of Augustine. Oxford: Oxford University Press.

Pollmann, K. en M. Vessey (reds.). 2005. Augustine and the disciplines. Oxford: Oxford University Press.

Power, A. 2013. Roger Bacon and the defence of Christendom. Cambridge: Cambridge University Press.

Ranft, P. 2006. The theology of work. Peter Damian and the Medieval religious renewal movement. New York: Palgrave Macmillan.

Resnick, I.M. 2013. Albert the Great: biographical introduction. In Resnick (red.) 2013:1–14.

Resnick, I.M. (red.). 2013. A companion to Albert the Great. Theology, philosophy and the sciences. Leiden: Brill.

Rogers, K.A. 2008. Anselm on freedom. Oxford: Oxford University Press.

Ryan, D. 2010. Jean de la Rochelle’s distinction between being and essence and its significance in debate regarding the Aristotelian four causes in relation to the rational soul. Yearbook of the Irish Philosophical Society (Departement Filosofie, Nasionale Universiteit van Ierland), ble. 1–18.

Saurette, M. 2010. Thoughts on friendship in the letters of Peter the Venerable. Revue Bénédictine, 120(2):321–46.

Schabel, C. 1999. Landulphus Caracciolo and a Sequax on divine foreknowledge. Archives d'Histoire Doctrinale et Littéraire du Moyen Âge, 66(1):299–343.

—. 2000. Theology at Paris, 1316–1345: Peter Auriol and the problem of divine foreknowledge and future contingents. Aldershot: Ashgate.

—. 2002a. Landulph Caracciolo and Gerard Odonis on predestination: Opposite attitudes toward Scotus and Auriol. Wissenschaft und Weisheit: Franziskanischen Studien zu Theologie, Philosophie und Geschichte, 65(1):62–81.

—. 2002b. Oxford Franciscans after Ockham: Walter Chatton and Adam Wodeham. In Evans (red.) 2002:359–77.

—. 2002c. Parisian commentaries from Peter Auriol to Gregory of Rimini and the problem of predestination. In Evans (red.) 2002:221–66.

—. 2006. Philosophy and theology across cultures. Gersonides and Auriol on divine foreknowledge. Speculum, 81(3):1092–117.

—. 2007. Carmelite Quodlibeta. In Schabel (red.) 2007:493–541.

Schabel, C. (red.). 2007. Theological Quodlibeta in the Middle Ages: The fourteenth century. Leiden: Brill.

Schlosser, M. 2014. Bonaventure: Life and works. In Hammond, Hellmann en Goff (reds.) 2014:9–60.

Sjenoet van Atripe. 1913. De vita monachorum. Leipoldt, J. (red.). Sinuthii Archimandritae vita et opera omnia, Volume IV. Corpus Scriptorum Christianorum Orientalium 73. Parys: Gabalda.

Slotemaker, J.T en J.C. Witt. 2016. Robert Holcot. Oxford: Oxford University Press.

Spade, P.V. 1994. The logic of sit verum in Richard Brinkley and William of Ockham. Franciscan Studies, 54(1):227–50.

—. 1999a. The academic and intellectual worlds of Ockham. In Spade (red.) 1999:17–30.

—. 1999b. Ockham’s nominalist metaphysics: Some main themes. In Spade (red.) 1999:100–17.

Spade, P.V. (red.). 1999. The Cambridge companion to Ockham. Cambridge: Cambridge University Press.

Speer, A. en L. Wegener (reds.). 2005. Meister Eckhart in Erfurt. Miscellanea Mediaevalia 32. Berlyn: Walter de Gruyter.

Spruyt, J. 2000. Gilbert of Poitiers on the application of language to the transcendent and sublunary domains. In Kardaun en Spruyt (reds.) 2000:205–37.

Steer, G. 2005. Meister Eckharts deutsche reden und predigten in seiner Erfurt Zeit. In Speer en Wegener (reds.) 2005:34–55.

Sturlese, L. 2007. Homo divinus. Der Prokloskommentar Bertholds von Moosbrug und die Probleme der nacheckartschen Zeit. In Sturlese (red.) 2007:137–54.

Sturlese, L. (red.). 2007. Homo divinus. Philosophische Projekte in Deutschland zwischen Meister Eckhart und Heinrich Seuse. Stuttgart: Kohlhammer.

Suto, T. 2012. Boethius on mind, grammar and logic. Leiden: Brill.

Teske, R.J. 2006. Studies in the philosophy of William of Auvergne. Milwaukee: Marquette University Press.

Thijssen, J.M.M.H. 1990. The response to Thomas Aquinas in the early 14th century. Eternity and infinity in the works of Henry Harclay, Thomas of Wilton, and William of Alnwick. In Wissink (red.) 1990:82–100.

Toivanen, J. 2007. Peter Olivi on internal senses. British Journal for the History of Philosophy, 15(3):427–54.

—. 2013. Perception and the internal senses: Peter of John Olivi on the cognitive functions of the sensitive soul. Leiden: Brill.

—. 2016. Peter Olivi on political power, will, and human agency. Vivarium, 54(1):22–45.

Toronen, M. 2007. Union and distinction in the thought of St Maximum the Confessor. Oxford: Oxford University Press.

Valente, L. 2008. Logique et théologie. Les écoles parisiennes entre 1150 et 1220. Parys: Vrin.

Visser, S. en T. Williams. 2009. Anselm. Oxford: Oxford University Press.

Von Balthasar, H.U. 2003. Cosmic liturgy. The universe according to Maximus the Confessor. San Fransisco: Ignatius Press.

Vos, A. 2006. The philosophy of John Duns Scotus. Edinburgh: Edinburgh University Press.

Weiner, S.F. 2007. Eriugenas negative Ontologie. Amsterdam: B.R. Grüner.

Wielockx, R. 2011. Henry of Ghent and the events of 1277. In Wilson (red.) 2011:25–62.

Williams, T. (red.). 2003. The Cambridge companion to Duns Scotus. Cambridge: Cambridge University Press.

Wilson, G.A. (red.). 2011. A companion to Henry of Ghent. Leiden: Brill.

Wippel, J.F. 2000. Godfrey of Fontaines at the University of Paris in the last quarter of the thirteenth century. In Aersten, Emery en Speer (reds.) 2000:359–89.

Wissink, J.B.M. (red.). 1990. The eternity of the world in the thought of Thomas Aquinas and his contemporaries. Leiden: Brill.

Wood, J. 2012. The politics of identity in Visigothic Spain. Religion and power in the histories of Isidore of Seville. Leiden: Brill.

Zupko, J. (1994–)1997. How it played in the Rue de Fouarre: The reception of Adam Wodeham’s theory of the complexe significabile in the arts faculty at Paris in the mid-fourteenth century. Franciscan Studies, 54:211–25.

 

Eindnotas

1 Die tydperk 410 tot 1464, soos breedvoerig elders beredeneer (Beukes 2020a, Volume I, ble. 11–4), word hier gehandhaaf vir ’n breë periodisering van die Middeleeuse ideëgeskiedenis, bestaande uit ses interne periodes: die post-Romeinse periode (vroeg-vyfde tot die middel van die agste eeu), die Karolingiese periode (middel van die agste tot die laat negende eeu), die post-Karolingiese periode (laat negende tot die laat 11de eeu), die vroegskolastiese periode (laat 11de tot die vroeg-13de eeu), die hoogskolastiese periode (vroeg-13de tot die middel van die 14de eeu) en die postskolastiese periode. Vir ’n uitgebreide verantwoording van die interne periodisering van die postskolastiese periode as sodanig, sien Beukes (2021a:1–11). Ingevolge hierdie datering en interne periodisering sou die eerste drie periodes ook as die “vroeë Middeleeue”, die twee skolastiese periodes ook as die “sentrale Middeleeue” en die laaste periode (1349–1464) ook as die “latere Middeleeue” bekend kon staan.

2 “Middeleeuse Latynse Weste” is nie ’n toutologie nie. Die “Middeleeuse Weste” moet van die “Middeleeuse Ooste” onderskei word (hoewel eietyds uitdruklik nie geskei word nie; Beukes 2020b:2–3), terwyl die “Latynse Weste” onderskei moet word van Middeleeuse kontekste waar die volkstale en nie Latyn nie, die gangbare spreektale was. Binne die kloosterordes, universiteite en skoolordes was die gangbare spreektaal wel Latyn; vandaar die digte kwalifikasie “Middeleeuse Latynse Weste”. Vir ’n toeganklike inleiding tot intellektuele ontwikkelinge in die “Middeleeuse Ooste” tussen die agste en 11de eeue, sien Beukes (2018a, 2018b).

3 Op enkele uitsonderings na is spesialisontledings vanuit slegs die afgelope twee dekades (2001–2021) in hierdie ontwikkelingsoorsig verreken en byeengebring. In ander dissiplines mag twee dekades moontlik op ’n reeds verouderde aanbod dui. Gegewe die ouderdom van die dissipline en die stadige tempo van navorsingsontwikkelinge binne die vakgebied, is dit in Middeleeuse studies nie die geval nie. Let daarop dat gevestigde Latynse terme soos magister, baccalaureus, trivium, quadrivium en studium nie gewoonlik in die loop van tekste waarin hulle verskyn, as “vreemde” woorde/terme beskou word wat kursief gedruk word nie.

4 Vir ’n betoog ter vervanging van die tradisionele maar “mediëvalistiese” (Beukes 2021f:1–6) terme bedelmonnike en bedelordes na skoolmonnike en skoolordes in Afrikaans, sien Beukes (2021h:1–9).

5 Sien Luscombe (2010:63); Otten (2013:23–39) en Pollmann (2005:206–31). Augustinus was reeds teen 406 goed vertroud met die interne funksionering van kloosters in Noord-Afrika; hy waarsku byvoorbeeld teen seksuele begeerte tussen vroulike kloosterlinge met verwysing na ’n “liefde tussen susters wat eerder vleeslik as geestelik” is en rig uitdruklik binne kloosterkonteks ’n direkte vermaning aan “onbeskeie vroue wat skaamteloos met ander vroue flirteer” (Augustinus 1865:964). Die besonderhede en saaklikheid van hierdie en soortgelyke aanwysings dui daarop dat Augustinus deeglik bewus was van die basiese verrigtinge en etiese problematiek in kloosters in Noord-Afrika, onder andere met verwysing na die selibaat.

6 Boethius was in hierdie sin inderdaad der letzte Römer und der erste Scholastiker – so benoem deur die gevierde 20ste-eeuse Middeleeuse navorser, Martin Grabmann (1957:148). Vir onlangse besprekings, sien Marenbon (2003:7–42; 2009:1–10); McMahon (2006:211–48); Moorhead (2009:13–33) en Suto (2012:3–6;17–41).

7 Sien Sjenoet (1913; vgl. Beukes 2021d:4–5).

8 Vir die “Oosterse” invloed van Siriese monnike soos Pseudo-Dionisius op die hibriede Westers-Oosterse kloosterontwikkeling in Ierland in die besonder, sien Perl (2007:1–16;111–4) en Beukes (2018c:1–9). Vir die skerper Bisantynse invloed via Maximus Confessor (580–662), sien Blowers (2016:9–28), Toronen (2007:1–11) en Von Balthasar (2003:29–80).

9 Sien Casiday (2007:90–97) en Driver (2002:1–4).

10 Sien Barney e.a. (reds. en verts.) (2006:7–26) en Wood (2012:1–22).

11 Sien Beukes (2018a:505–9).

12 Sien Bullough (2004:24–34;301–3) en Dales (2012:1–34).

13 Hilduin het die eerste vertaling van Pseudo-Dionisiese korpus vanuit Grieks na Latyn onderneem. Hierdie vertaling is egter betreklik gou vervang met Skotus Eriugena se vertaling (sien Luscombe 2010:65).

14 Sien Beukes (2021e:1–10); Carabine (2000:13–26); Costambeys, Innes en MacLean (2014:1–30); Marenbon (1981:88–111; 1988:48–52) en Weiner (2007:1–40).

15 In 1060 word Anselmus as monnik van die kloostergemeenskap in Bec toegelaat. Hy volg Lanfrancus in 1063 as hoof van die kloosterskool op en word in 1078 as ab van die klooster aangewys, met Lanfrancus vanaf 1070 dienend as aartsbiskop te Kantelberg. In 1093 word Anselmus – hoewel hy die benoeming teensinnig aanvaar het – aangewys as Lanfrancus se opvolger in Kantelberg; sien Adams (2006:32–60), Evans (2006:5–31), Logan (2009:1–6), Rogers (2008:1–15) en Visser en Williams (2009:3–12; 59–94).

16 Gerbertius van Aurillac was van 972 tot 989, voordat hy pous sou word (Silvester II, 999–1003), hoof van die katedraalskool te Reims, wat hy uitgebrei het om die Karolingiese paleisskool effektief te vervang. By die katedraal van Reims is die trivium en quadrivium sodanig uitgebrei dat dit elke afdeling van logika, Latynse literatuurstudies en wetenskaplike navorsing tot op daardie datum ondervang het. Dit is in die vroeg-11de eeu geag die beste skool vir sekondêre onderrig in Wes-Europa te wees (Ranft 2006:34). Rondom die middel van die 11de eeu begin katedraalskole die suksesse van kloosterskole ewenaar en stelselmatig selfs daarop verbeter.

17 Ranft (2006:1) se unieke begrip.

18 Vir ’n wydgaande bespreking van die seksuele moraal binne kloosters in die eerste helfte van die 11de eeu, sien Beukes (2019a:3–5 en 2020g:4–5).

19 Venerabilis is in 1122 tot ab van die Benediktynse abdy te Cluny wat reeds in 910 gestig is, aangewys; sien Pick (2005:405–11) en Saurette (2010:321–46).

20 Die biografiese datering is korrek: Paulus van Thebes het na oorlewering vanaf die ouderdom van 16 jaar alleen in die Egiptiese woestyn gewoon en ongeveer 113 jaar oud geword.

21 Sien Brower en Guilfoy (2006:1–12) en Pinzani (2003:1–6).

22 Abelardus se problematiese seksuele verhouding met die filosoof-non Héloïse d'Argenteuil (ca. 1100–1164), later tegnies wel sy “wettige eggenote”, het ongetwyfeld tot sy konflik met kloostermonnike, veral die Cisterciënsers, bygedra; sien Beukes (2019b:1–12) en Mews (2005:1–25).

23 Sien Evans (2000:5–21; 172–9); McGuire (2011:18–61) en Mews (2011:133–68).

24 Hoewel buite die 21ste-eeuse verrekeningskopus van literatuur in hierdie artikel, kan in Gilbertius-studies nie by die onvergelykbare ontleding van die groot Nederlandse spesialis L.M. De Rijk (1988:73–112) verbygegaan word nie; sien daarby Spruyt (2000:205–37). Hier kan ook na die belangrikheid van Alanus van Lille (d. 1203) binne die Porretynse konteks verwys word: Alanus het grondige kontak met Gilbertius se skole in Chartres en Parys gehad en het formeel tussen 1170 en 1180 in Parys gedoseer, waar hy beskou is as ’n uitnemende dosent in die trivium, veral ten opsigte van logika (naas grammatika en retoriek), en as ’n gerekende eksegeet van Platonisme; ook het hy Gilbertius se filosofies-teologiese uitset met gesag gekommentarieer en aangespreek. Alanus se nalatenskap is tekenend van die invloed en langblywendheid van kloosterskole soos dié van Gilbertius te Chartres en Parys; sien Valente (2008:1–30).

25 Sien Beukes (2020e:6–8).

26 Vir ’n onlangse histories-kritiese oorsig oor die opkoms van die studium generale en die universiteitswese, sien Beukes (2020a, Volume I, ble. 393–8).

27 Sien Beukes (2020c:2). Die Franciskane het in 1212 in ’n tweedefase-ontwikkeling vir nonne voorsiening begin maak (Ordo Sanctae Clarae [O.S.C.], waarna op die Nederlandse spoor as Claris-nonne verwys kan word). Die Dominikane het ook mettertyd ruimte geskep vir vroue (Mantellate genoem) om as nonne tot die orde toe te tree (waaronder Katharina van Siëna, 1347–1380; Beukes 2021c:1–9). Nonne in die Augustynse orde het voldoen aan die ordereëls van Augustinus soos uiteengesit in Augustinus se Epistola ccxi, en vroulike Augustynse kloosters was reeds sedert die einde van die vyfde eeu sistematies en eenvormig in werking gestel. Augustynse nonne was die Augustynse skoolmonnike van die 1240’s dus etlike eeue vooruit. Die 15de-eeuse meester-generaal van die Karmeliete, Johannes Soreth (ca. 1395–1471), het daarin geslaag om in 1452 ’n orde vir Karmelitiese nonne te stig met sanksie van die pouslike bul Cum Nulla. Hoewel dit dus meer as twee eeue geneem het, het al vier skoolordes teen die einde van die 15de eeu subordes of vleuels vir vroue gehad.

28 Die legendariese botsing tussen die Dominikane en die Franciskane by Oxford vanaf die 1240’s kan juis vanuit die teoretiese posisies van Fishacre en Rufus afgelees word. Die vraag was of die wil primêr as ’n wilsgedrewe of as ’n intellektuele fakulteit beskou moes word. Fishacre het eg Dominikaans betoog dat wanneer in vryheid gekies word, dit effektief beteken dat die vrye wil teengegaan word, aangesien die vrye wil – vry soos wat dit is – onvolledig is. ’n Mens kan kies teen dit wat gewil word. Ware vryheid beteken om die wil tot vervulling of vervolmaking te bring deur in staat te bly om die wil intellektueel te opponeer. Hierteen was Rufus en die Franciskane skerp in verset: Die wil is juis wilsgedrewe en kan nie rasioneel geopponeer word nie. Hierdie posisie strook natuurlik met die natuurgedrewe voorkeure van die Franciskaanse orde, wat aan verskynsels soos instink, oorlewing en die wil besondere status toegeken het; sien Karger (1998:51–67).

29 Bacon is tydens die Paryse veroordelings van 1277 summier tot tronkstraf gevonnis en sou eers in 1292, enkele maande voor sy dood, vrygelaat word; sien Clegg (2003:11–9) en Power (2013:1–28).

30 Bonaventura behaal daarna wel in 1253 die magister in teologie en doseer tot 1257 beide lettere en teologie in Parys, waarna hy aangewys word as die meester-generaal van die Franciskaanse orde in Frankryk. Vir die volgende 16 jaar sou hy vanuit die Franciskaanse orde, steeds met ’n hegte verbintenis aan beide fakulteite in Parys, ’n besonder invloedryke figuur in die Wes-Europese akademiese milieu wees, juis in aanloop tot die Paryse veroordelings op 8 Maart 1277 van ’n “radikale Aristotelisme” by beide fakulteite in Parys. In 1273 word hy aangewys as biskop van Albano. Bonaventura sterf op 15 Julie 1274 met ’n dramatiese in duie storting en traumaties vir lede van die vergadering ten tye van die Algemene Konsilie van Lyons.

31 Bonaventura betoog dat die geskape werklikheid ’n “wêreld van tekens” behels wat konstant na die Skepper terugverwys, dat die Skepper “in die tekens teenwoordig is” en dat volgehoue nadenke oor die Skepper se teenwoordigheid in die tekens self lei tot “kennis van God”. Die werk is gelaai met Platoniese uitgangspunte en vooronderstellings via Augustinus, Pseudo-Dionisius en Anselmus; sien Cullen (2006:3–22; 2014:121–66); Delio (2014:361–402); Hughes (2014:509–42) en Schlosser (2014:9–60).

32 Sien Cross (1999:3–14, 33–8; 2002a:1–26, 297–310), Hall (2007:1–27, 75–109), Ingham (2004:1–38), Vos (2006:1–102) en die bydraes in die redaksiewerke van Bos (red.) (1998) en Williams (red.) (2003).

33 Kilwardby, in Engeland gebore en sowel voorgraads as nagraads in Parys in filosofie opgelei, het vanuit die vroegskolastiek ’n besondere bydrae tot die oorgang na die hoogskolastiek gelewer voordat hy in 1272 aartsbiskop van Kantelberg en in 1278, ’n jaar voor sy afsterwe, kardinaal van die pous geword het. Beide hierdie veroordelings in 1277, eers op 7 Maart by Parys en toe op 18 Maart by Oxford, kan verstaan word as die gevolg van bykans twee eeue se intense institusionele spanning tussen die kerk en die opkomende universiteite, met Aristoteles as die sentrale figuur binne hierdie spanningsveld. Nadat Johannes XXI (1215–1277, pous 1276–1277) ’n saaklike versoek aan die biskop van Parys gerig het om die kurrikulum by die letterefakulteit by die universiteit van Parys te ondersoek op grond van wat die pous waargeneem het as ’n problematiese sintese tussen Aristoteliese standpunte en die kerklike leer, om daarna aan die pous terug te rapporteer, het Tempier eiesinnig besluit om die tekste wat op daardie stadium in omloop was, self te ondersoek en 219 daarvan, met inbegrip van die ekskommunikasie of ten minste die sensurering van die skrywers daarvan, te veroordeel en te verban – dit sluit Aquinas in.

34 Hoewel dit buite die dateringskopus (2001–2021) van hierdie ontwikkelingsoorsig val, sien die magistrale tweevolume-oorsigwerk van M.M. Adams (1987). Vir meer onlangse lesings, sien Courtenay (2008:9–22, 91–106); Hirvonen (2004:1–42); Leppin (2003:1–32); Maurer (1999:1–12, 159–83, 295–338, 451–539); Pelletier (2013:1–10,127–48, 199–205; 2017:111–24); Shogimen (2007:1–74) en Spade (1999a:17–30; 1999b:100–17).

35 Peckham het hom opgestel teenoor die filosofiese en teologiese posisies van Aquinas en die twee Averroïste Sigerius van Brabant (ca. 1240 – ca. 1282) en Boethius van Dacia (fl. 1270–1280), wat die ergste onder die veroordelings deurgeloop het. Peckham, naby Brighton te Sussex gebore, is op ’n vroeë ouderdom na die Benediktynse abdy in Lewes gestuur, waarna hy voorgraads by Oxford en as geordende Franciskaanse monnik sy nagraadse studie in Parys onder Bonaventura se leiding met onderskeiding voltooi het. Hy is in 1279 as aartsbiskop van Kantelberg aangewys; sien Etzkorn (1992:71–82).

36 Mayronis sluit as seun by die Franciskaanse studium in Digne aan en word in 1304 na Parys gestuur, met die bedoeling dat hy sy voorgraadse studie onder leiding van juis Skotus kon onderneem. Hy verwerf in 1307 inderdaad die baccalaureus in teologie onder Skotus se leiding, maar omdat hy te jonk was om dadelik met die magisterstudie in teologie voort te gaan, verplaas die Franciskane hom na die provinsiale studium in Frankryk. Skotus sterf in 1308 en Mayronis keer eers in 1320 terug na Parys, steeds diep ontwrig deur die voortydige heengaan van sy magister. Hy promoveer uiteindelik in 1323 as magister theologiae. Sy baccalareusstudente by Parys vereer hom daarna met die gepaste sobriquet Doctor Acutus (“die gepynigde doktor”); sien Bos (2003:320–36) en Möhle (2007:1–25).

37 Sien Hoffmann (2008:57–82) en Keele (2003:37–53; 2007:395–411).

38 So nou as wat sy persoonlike en administratiewe verbintenis met Skotus was, het Alnwick sy skolastiese onafhanklikheid en intellektuele integriteit behou deur sowel met oorspronklikheid op Skotus se tekste te reageer as om oor ’n aantal wesenlike kwessies met hom te verskil; sien Thijssen (1990:82–100).

39 Sien Karger (2004:225–36), Schabel (2002b:359–77) en Zupko (1997:211–25).

40 Sien Folger-Fonfara (2008:1–17) en Friedman en Schabel (2001:31–106), asook Friedman en Schabel se uitstaande redaksiewerk (Friedman en Schabel [reds.] 2006).

41 Sien Beukes (2021h:1-9; vgl. 2020f:5, vn. 6).

42 Die hoogs oorspronklike en strydlustige Petrus Olivius (ca. 1248–1298) wat van 1267 tot 1272 met ’n stipendium onder Bonaventura in Parys studeer het, het insgelyks drie dekades vantevore betoog dat die gebruik van lewensmiddele noodsaaklik is sonder om op enige saaklike reg, veral eiendomsreg, daaromtrent aanspraak te hoef te maak, selfs sonder om formeel terug te hoef te leun op die meer soepel juridiese begrip usus. In hierdie opsig skei hy weë met Bonaventura se nuansering van usus as “verantwoorde en nie-uitbuitende gebruik”. Ockham sou Bonaventura se onderskeid drie dekades later in sy konfrontasie met Johannes XXII wel weer so gebruik; sien Adriaenssen (2011:324–52; 2014:67–97); Beukes (2022b); Cross (2002b:261–300) en Toivanen (2007:427–54; 2013:1–38; 2016:22–45).

43 Sien Duba (2000:5–34), Kobusch (2000:236–49), Nielsen (2002:149–219) en Schabel (2000, in geheel); vergelyk Schabel (2006:1092–117).

44 Sien Spade (1994:227–50).

45 Sien Bakker en Schabel (2002:425–64).

46 Sien Schabel (1999:299–343); vergelyk Schabel (2002a:62–81).

47 Sien Mulchahey (1998:1–35). Vir die rol van die Dominikane in die ontwikkeling van die Universiteit van Oxford, sien Catto (1984:471–517). Vir ’n breë oorsig oor die ontwikkeling van skooldenke binne sowel studia as universiteite in die 14de eeu, sien Courtenay (1987:190–3).

48 Sien Luscombe (2010:69).

49 Auvergne het Hales ook toegelaat om sy leerstoel in teologie te behou na Hales se formele toetrede tot die Franciskaanse orde, wat beteken het dat die twee belangrikste skoolordes vanaf die 1230’s onder Auvergne se leiding oor leerstoele in teologie by Parys beskik het; sien Teske (2006:9–28).

50 Strassburg was ’n medestudent van Aquinas, dosent in teologie by die klooster in Strassburg en opsighoudende monnik (prior) van die Duitse Dominikane in die provinsie Teutonia. Sy belangrikste werk was die Summa de Bono (verkort as die Bono), ’n omvangryke filosofies-teologiese summa, geskryf tussen 1262 en 1272; sien Palazzo (2004:61–113).

51 Sien Aertsen (1996:111–28; 2013:611–8); Anzulewicz (2013:325–46); Bonin (2001:15–21); Heiduk (2012:6–22) en Resnick (2013:1–14).

52 Sien Pasnau en Shields (2004:1–20).

53 Vir ’n uitstekende inleiding tot Fishacre se lewe en werk, sien Long en O’Carroll (1999).

54 Sien Jones (2015a:1–34; 2015b:77–118) en Beukes (2019c:109–68).

55 Sien Flasch (2007:1–28) en Largier (1999:149–68).

56 Sien Klima (2000:436–55; 2002:34–44).

57 Sien Doyle (2006:85–123); Irribarren (2002:607–27) en Lowe (2003:3–10, 57–84).

58 Sien Iribarren (2005:1–16, 163–81, 275–84).

59 Sien Hoffmann (1995:301–22).

60 Sien Slotemaker en Witt (2016:1–12).

61 Sien (Steer 2005:34–40).

62 Sien Flasch (2015:3–56), Mojsisch (2001:1–24) en Mieth (2004:1–38).

63 Sien Beukes (2021b:1–15) en Sturlese (2007:137–54).

64 Sien Wielockx (2011:25–62) en Leone (2005:513–5).

65 Sien Briggs (2016:6–33), Cross (2016:34–72), Donati en Trifogli (2016:73–113) en Pini (2000:390–409).

66 Viterbo het naas een belangrike werk (De regimine Christiano, in 1302 geskryf [sien Dyson 2009:1–584]; vir ’n inleiding tot Viterbo se werk, sien Dyson 2009:xv–xxxiv) quodlibeta (Disputationes de quodlibet) in vier volumes en quaestiones (Quaestiones de divinis praedicamentis) in twee volumes nagelaat.

67 Sien Bermon (2002:267–85) en Schabel (2002c:221–66).

68 By Gilius, Viterbo en Rimini se skolastiese bydraes tot die ontwikkeling van die Augustynse orde kan ook Jan van Ruusbroec (1293–1381), die sonderlinge Vlaams-Nederlandse mistikus uit die middel- en latere deel van die 14de eeu (met die mooi sobriquet Alter Dionysius) en sy kloostergemeenskap te Groenendaal wat onder Augustynse ordereëls gefunksioneer het, gevoeg word; sien Beukes (2020h:1–12).

69 Sien Dumont (2009:39–125) en Wippel (2000:359–89).

70 Sien Schabel (2007:493–541).

 

• Die fokusprent deur cocoparisienne by hierdie artikel is geneem van Pixabay.


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top