Die Heuwels Fantasties: "Dis ’n uur waarin jou ore beloon word"

  • 0

Die Heuwels Fantasties het pas ’n nuwe album, getitel Okay!, uitgereik. Pierre Greeff, voorsanger, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Pierre. Hoe's dinge deesdae?

Ag, dit gaan lekker besig met die uitrol van ons nuwe album en beplanning vir Liefde by die Arena en die Dam!


Foto: André Badenhorst

Geluk met DHF se nuwe album, Okay!. Interessant genoeg noem jy in ’n mediaverklaring dat die snitte, meer as op vorige albums, op hul eie staan en nie noodwendig ’n "geheel" vorm nie. Ek dink sommige luisteraars sal stry – daar's ’n baie sterk vloei op die album, en dit voel of al die snitte soos ’n legkaart inmekaarpas met die album se nuwe roete. Wou julle as DHF opsetlik ’n nuwe koers inslaan met Okay!? Hoe het julle besluit op die soort aanslag waarmee julle hier wou kom? Hoe het jy aanvanklik die eindproduk verbeel, en hoe verskil dit van waarmee julle op die ou end vorendag gekom het? Met ander woorde, watter soort systrate en herbedenkings het julle in die proses getakel, of is dit by DHF ’n geval van beplan-en-voer-uit?

Ek dink die verklaring verduidelik dalk verkeerd ... Ek dink ons het net meer so as met vorige albums regtig probeer om elke liedjie op sy eie aan te pak en te voltooi, en dus so goed as moontlik elke song op sy eie te probeer benader vir sy eie meriete.

Jy is reg, ons het sorgvuldig die album se volgorde gekies en ook dan die "interlude"-liedjies geplaas as boekmerke om die verskillende dele van die album in terme van gevoel uit te wys. Ons het met die album probeer om regtig die "less is more"-benadering te gebruik en nie net dinge by te voeg as iets nie gewerk het nie ... So het baie van die liedjies deur die opneemproses verskillende baadjies gehad ... Ons wou dit ook uitwys aan die luisteraar met "Gebreek" en "Gebreek (Reprise)" asook "Laaste rondtes" en "Jy sit hier langs my", wat lirieke deel, maar heeltemal verskil in gevoel.

Ons hoop dit gee die luisteraar ’n blik op ons proses en dat dit die luister van die album ’n meervoudige ervaring maak.

Dit is nou al (as ek reg tel) DHF se vyfde vollengte-album, en boonop ’n stewige een, met 18 snitte. In dieselfde mediaverklaring beskryf jy ’n musiekalbum soos ’n foto-album: dit herinner jou aan hoe jy gevoel het terwyl jy geskryf het. Vind jy/julle dit nog maklik om in te "tap" by daardie soort muses met elke nuwe album, of tot hoe ’n mate probeer julle julself "top" met nuwe liedere? Hoe dwing jy jouself met skryfwerk om ou temas (soos byvoorbeeld verlatenheid, liefde) op nuwe maniere aan te pak? Probeer ’n mens jouself deurlopend blootstel aan verskillende ou en nuwe musiek en inspirasies ten doel hiervan, of krap jy eerder dieper binne jouself vir nuwe vorme van uitdrukking?

Ons probeer met elke album weergee waar ons op daardie stadium is as individue en as ’n groep. Dit word natuurlik ingegee deur die dinge waarna ons luister op daardie tydstip, asook die dinge waaroor ons met mekaar gesels. Dit voel soms ons gesels amper meer as wat ons sit en skryf, vir seker aan die begin van die skepproses met ’n album.

Ons probeer definitief niks forseer nie, en dus is baie liedjies voltooi tydens die opneemproses en nie vooraf nie. Sunset Studios in Stellenbosch is die tipe plek waar jy dit met gemak kan doen ... staar na die berge, kyk die bokkies, braai elke dag en nou en dan neem ons ’n noot of twee op!

Gepraat van verskillende soorte musiek en musikante – julle het ’n swetterjoel uiteenlopende kunstenaars ingespan vir die maak van die album, onder meer Valiant Swart, Hiram Koopman, Janine Neethling, Adriaan Brand en natuurlik JR. Hoe het julle voor die tyd besluit watter kunstenaars julle graag wil betrek? Is dit van daar af maklik om uit te werk watter snitte die beste sal werk vir daardie spesifieke kunstenaars, of tot hoe ’n mate word die liedere geskep met daai kunstenaars in gedagte? Wat is vir jou die waarde daarvan om voortdurend nuwe invloede en idees te betrek – verander dit ook tot ’n mate die oorkoepelende gevoel van die album, of selfs hoe die lede dink oor musiek skep en uitvoer?

Ons collabs het nog altyd vorendag gekom as ons iets hoor wat "missing" is in ’n lied voor ons dit opneem. Dan dink ons gewoonlik: Watse tipe energie kort dit? Dan is dit ’n kwessie van gaan deur die telefoonboek en dink wie van ons vriende wat ook in die musiekmaak-vibe is, sal dalk kan help ... Mens stuur dan maar die "demo" aan en hoop dat hulle dit voel.

Gelukkig het die bogenoemde mense almal gehou van wat ons aangestuur het en hul energie kom vasvang by Sunset Studios ... Dis altyd amazing om te hoor hoe die liedjie dan uiteindelik sy regte vorm vind met almal se bydraes.

Soos ek al genoem het, Okay! is ’n stewige album, met 18 snitte op – veel meer as die gewone 12 of 13. Hoe het dit gekom dat hierdie album so tjok-en-blok is? Verskeie bands kies om eerder dikwels EP's of selfs net singles deurlopend vry te stel, in vergelyking met die groter vollengte-albums. Wat is jou filosofie hieroor – wat wen en verloor ’n mens met die een benadering, en die ander? Duidelik verkies DHF die album-benadering, en tog met ’n enkelsnit hier en daar (soos "LED Liefde", wat reeds verlede jaar uitgereik is). Wat is vir jou die aantrekkingskrag van ’n vollengte-album?

Dit is hoe ons daarvan hou om ons luisteraars op ’n reis saam met ons te vat – met verrassings hier en daar en effe meer vleis aan die been ... ’n Stewige album, soos jy dit noem, soos hierdie met interludes, en ’n uur is al wat ons van jou vra, en ek dink dis ’n uur waarin jou ore beloon word ...

Daar is plek vir als – EP's, albums, singles ... solank daar goeie musiek gehoor en gemaak word, kan niemand verloor nie.

Terug by die musiek self: dit voel of julle beslis ’n paar nuwe dinge wou verken, met al die elemente wat betrek is ... Daar's heelwat elektroniese avontuurlustigheid (soos op "Gebruik my", "Gebreek" en "Om hemelsnaam"), en ook lekker verrassende buite-instrumente, soos genoem met die kunstenaars hier bo. Tot hoe ’n mate was dit opsetlik – soos in, dat julle nog altyd dié of daai effek wou probeer – of was dit eerder ’n natuurlike evolusie oor die albums heen? Watter soort wisselwerking is daar vir jou tussen hierdie elemente en die lirieke? Met ander woorde, tot hoe ’n mate groei die lirieke in die musiek se rigting, of dink jy dit is redelik onafhanklik?

Daai wisselwerking verskil van lied na lied, want elke lied het sy eie oorsprongstorie. Daar is vir seker meer "horns" op die album as voriges, en ek dink dit is baie te danke aan die besonderse bydrae wat Hiram Koopman op saksofoon gemaak het ... Hy speel baie gereeld ook nou live met ons. Jy kon dit ook duidelik hoor op "LED Liefde" – die eerste liedjie wat hy saam met ons opgeneem het. Dis definitief nie die een of die ander nie.

Hier's nou baie vrae oor beplanning en opsetlikheid en so aan ... Moet sê, dit klink ook uit die musiek of julle moerse baie fun kon gehad het! Veral op liedere soos "Sheila" en "See staar". Waar het die inspirasie vir die bietjie meer tong-in-die-kies snitte vandaan gekom, en hoe verskil die opneemproses daarvan van die swaarder liedere?

Die album is gebore met baie idees uit ons eerste skryfsessie by Vleesbaai, waar ons letterlik vir ’n week vir die see gestaar het en net idees vasgevang het, nie liedjies nie ... Daardie 24 musikale idees, halwe refreine en verse het toe op die ou end die album geword.

Wanneer dit kom by die "fun" wat jy hoor, dink ek dis die freewheeling van daardie begin by Vleesbaai en die losheid wat opneem in ’n omgewing soos Sunset Studios jou bied. Als is alles.

Die lede van DHF, soos almal in die VanFokKingTasties-groepering, begin so geleidelik aanbeweeg na ’n rustiger bestaan met gesinne in die voorstede en so aan ... niemand is mos meer 21 nie. Het dit vir jou enigsins ’n impak op julle toerskedules, gereeldheid van gigs, druk om by so veel as moontlik plekke uit te kom, en dies meer? Of benader ’n mens dit maar soos ’n werk – get on with it, of jy nou live gigs gooi vir ’n bestaan, en of jy ’n aktuaris is? Hoe voel jy persoonlik oor geleidelik minder besig raak, of word dit juis nou lekkerder?

Ek dink ons werksetiek het dieselfde gebly, al het van ons ‘burbs toe getrek en kinders al bygevoeg ... Daardie natuurlike verandering in ’n mens se lewe dink ek embrace ons almal op ons eie manier, en jy sal dit vir seker kan hoor in die musiek.

Op die ou end voel ons, dink ek, as geheel om ’n kunstenaar te wees het ’n baie belangrike funksie in die samelewing, en ons is bly dat ons dit kan bydra tot die groter geheel.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir jou wat musiek betref? Enige side projects waaroor ons opgewonde kan raak? Hoe lyk DHF se pad vorentoe van hier af?

Ons wil hierdie liedjies vat na mense toe in die nooks en crannies van die land en dit beleef saam met ons aanhangers.

En dan, my eerste band, Lukraaketaar, vier vanjaar 10 jaar sedert die een album wat ons uitgebring het. Ons speel met die idee om dit op vinyl uit te bring, en dan miskien net twee showtjies te doen vir oulaas.

In ’n vorige onderhoud het ek jou gepols oor die sin van die lewe. Wat is die sin van die dood?

"Dis onverganklik soos die grond ..."

Foto: André Badenhorst

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top