Titel: Die helder dae
Skrywer: Danie Botha
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624070122
Koop Die helder dae by Kalahari.com
Die enigste klank wat oorbly, nadat die ambulanse weg is uit hierdie stowwerige kulturele hoekie van die land genaamd Kaapstad, is die klank van Aspoestertjie wat die straat skoonvee … Ek het só aan Bob Dylan se “Desolation Row” gedink terwyl ek Danie Botha se Die helder dae lees. Telkens oor my skouer gekyk, waar kom die grrts-grrts vandaan?
O, dis my geheue. Die leser word Aspoestertjie.
Die klanke kom van die herinneringe wat Danie Botha losmaak, die name van bekendes wat opdoem en ’n rukkie talm voordat jou geheue gesigte daarby voeg.
Kyk, daar is die Buurvrou, daar is Van der Merwe van die TW, en Gladstone, en die Klein Teater se grootste Shylock, daar is Limpie en Suzanne en Oom Joon en Frans Venter en Juffrou Berta …
Die geslagte van die toekoms sal Die helder dae beskou as kleinood, ’n versameling kosbare inligting oor die lewe aan die Kaap van Storms in die jare veertig tot vroeg 21ste eeu. Dit bou ’n beeld van die groot verskeidenheid mense wat almal bygedra het tot die kulturele sfeer van dié tydperk, soos vertel deur iemand wat gelukkig genoeg was om daardie mense almal te geken het. Vir die studente van die letterkunde en toneelkuns sal dit ’n onvervangbare verwysingspunt word.
Vir die tydgenootlike leser is daar ander vondste. Ek was gelukkig genoeg om Danie Botha in die jare sewentig te leer ken toe ek by Die Burger begin werk het en hy by Tafelberg-Uitgewers was. Hy was die een wat die versugting uitgespreek het dat Die Burger ook aandag aan amateurtoneel moes gee, en Leendert Dekker voorgestel het as resensent daarvan. Dit het goed gewerk, totdat ek deur ’n sameloop van omstandighede (Dekker kon iets nie resenseer nie, en Danie het ons uit ons nood verlig) ontdek het dat Danie as resensent dit is wat vandag as “the real deal” beskryf sou word.
Later het hy ook rubrieke vir die kunsblad geskryf, hoofsaaklik oor die dinge wat hom geïnteresseer het: die letterkunde en teater. En so met die verloop van tyd, nadat ek uitgewer geword het, het ek begin dink ek ken Danie Botha goed.
Ek was verkeerd.
Die helder dae is ’n versameling outobiografiese tekste wat vantevore in koerante, tydskrifte, bloemlesings en op LitNet verskyn het. Botha het ter wille van die geheelbeeld artikels bygeskryf. Sodoende kry ons ’n indringende en omvattende blik op ’n heel besonderse lewe.
Buiten die kosbare inligting wat hy deurgee oor mense soos Ina Rousseau, John Kannemeyer, Paul Malherbe, Suzanne van Wijk, en so meer, kry mens ook ’n ingeboude evaluering van die redes hoekom daardie mense ons agting verdien. Daar is dikwels ’n baie netjiese en deernisvolle verklap van hul kwinte. Hy maak ook die deur op ’n groot skreef oop sodat ons die ratwerk van die uitgewerswese kan sien draai.
En tog kan mens maar begin soek na ’n geseur oor die negatiewe dinge van die lewe; jy sal dit nie kry nie. Die titel van die boek is Die helder dae, wat dit uitdruklik uitspel dat hy nie wil skryf oor die dae waarin die lewe se somber, depressiewe sy jou oorweldig nie, maar oor daardie dae en tyd wanneer jy die helderte van skoonheid, genot, naasteliefde ens ervaar. Die helder dae is in ’n majeursleutel geskryf.
Die dele van sy lewe en karakter wat te voorskyn tree uit die skrywes oor skrywers, toneelspelers en literatore, dié ken ek. Botha kraai nie oor sy prestasies as uitgewer en toneelmens nie, maar hy kon dit sonder skaamte gedoen het.
Die bydraes oor sy kinderdae, en die oorgang van student na biblioteekmens na uitgewer vul die kennis wat sy kollegas van hom had, baie goed aan.
Vir my was die verrassing die insluiting van sy bydraes tot Die Kerkbode. Botha se lewe is gerig deur sy godsdiens, maar hy was nog nooit iemand wat daardie aspek in die gesigte gevryf het van die mense wat by die werk met hom saamgeleef het nie.
Wanneer mens na baie van die stukke wat hy in die jare negentig en later vir Die Kerkbode geskryf het, gryp hy terug na insidente en dinge uit sy jeug en beroepslewe, en leer ken jy sy innigheid, sy warmte en medemenslikheid.
Deur die jare het ek sy knorrige sy al beleef. Die helder dae wys hoeveel méér daar is. Aspoestertjie sê dankie, Danie!
Lees 'n uittreksel uit Die helder dae deur Danie Botha.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
Kommentaar
Ek hou baie van ou Suid-Afrikaanse verhale; ek leer baie dinge daaruit, maar die grootste van al daai dinge is liefde en respek.
Ek is maller as mal oor vervloeë jare se leesstof.