Uittreksel uit Die helder dae deur Danie Botha

  • 0

Die smarte van resenseer (In die tyd van die Brother-tikmasjientjie)
Uittreksel uit: Die helder dae deur Danie Botha

’n Mens se leed word redelik geledig as iemand vir jou sê: Jy is nie alleen nie. Jy het nie dié smart uitgevind nie. So pas het Irving Wardle my as vryskut-toneelresensent bemoedig met sy Theatre Criticism (Routledge, Londen, 1992).

As vryskut sal ek op ’n aand na ’n opvoering gaan. Elfuur, halftwaalf begin ek tik. Eenuur, halftwee is jy hopelik klaar. Staan sesuur op om dit dalk al hersiedende oor te tik, of net deur te lees. Op kantoor aangekom, sorg jy dat dit so gou as moontlik by die kunsredaksie van Die Burger uitkom. Per faks, per bode wat Naspersgebou toe móét gaan. Of jy spreek af met kunsredakteur Wilhelm Grütter om dit in sy hand te stop wanneer hy verby die Waalburggebou op sy Suzuki gery gaan kom. Oor ’n naweek sal jy dit selfs oor die telefoon dikteer vir ’n redaksielid. Want jy durf nie korrup wees en in jou kantoortyd vir Die Burger werk nie.

Die volgende oggend tel jy die koerant by die voordeur op. Terwyl jou bad volloop, lees jy ... Neuroties, met minimale asemhaling.

Wel, daar is die kere dat jy verlig die koerant toevou. Maar die smartryke kere is wanneer jy teen ’n klaagmuur wil hamer: “Hulle” het weer “gesny”! My argumentasie is daarmee heen ... My motiverings ...

Teen tienuur die oggend op kantoor kan ek nog nie behoorlik werk nie (gelukkig gebeur dit nie elke dag nie), want ek kan nie besluit of ek nogmaals by die “hulle” op skrif of per telefoon moet kla, protesteer nie. As hulle ’n mens tog net wil kén in die saak!

Gedeeltes van die resensies in die Engelstalige koerante stem ooreen met my betoë wat nou vernietig is. Daardie menings bereik die publiek en die toneellui, beteken iets vir hulle. Met die snitte word my werk vaag en vol veralgemenings. Uit my dae as speler onthou ek hoe sulke skryfwerk ons tot raserny gedryf het, om nie eens van die weersprekings te praat nie. Maar “hulle” daar op die redaksie kort nie in weens sensuurlus nie; daar’s voortdurent ’n skaarste aan bladruimte.

Wardle, met jare lange ervaring van toneelkritiek in Amerika, Australië en Brittanje, sê: “Reviewers soon learn to write to length, knowing that if they overwrite, it is their opinions that will be cut, while all the plottery will be left intact.”

En: “As reviewers continue plying their trade on an ever-shrinking island, from the columns enjoyed by the Edwardians” (by ons die W.E.G. Louw-jare) “ down to the abbreviated paragraphs of today, descpritive detail has been insidiously squeezed out. Under the sub-editorial guillotine, the first victim is ‘colour’, then opinion, and finally – if there is anything left to cut – plot.”

Sy raad is dan om beskrywing, opinie en stawende illustrasies nie na mekaar aan te bied nie, maar alles van die begin af te meng. (Raad wat redakteur Johann Botha my ook gegee het.)

Wardle laat my ook verstaan ek hoef nie so ’n martelaar te wees met die storie van min tyd en dadelik skryf nie: “The drawback of writing against the clock is that it tempts you to rely on formula: A declarative opening paragraph, a plot summary, a sketchy analysis coming down for or against the show, and a concluding roundup of the actors with one adjective apiece ...

“On the other hand, the pressure of time and immediate memory can set the adrenalin pumping, and enable you to pour out your impressions with more vigour than you could muster in trying to recapture the event two days later.”

En nou wonder ek: Was ek nie alte bitsig nie; het ek nie al mense se aspirasies venynig vernietig nie? Of oorskat ek ’n resensent se mag? Wardle: “I seem to have arrived at an impasse, signposted ‘Hit hard but don’t hurt anybody’. There is no way out of that.

“If you express dislike, somebody is going to be hurt. If you suppress your dislike, your work will be worthless. If you temporize, the artist will feel patronized and the reader will find you out.”

As ’n resensie myns insiens, met die klem op “myns”, so salig gekonfoes is deur snitte, deur steurende setfoute; as ek wanhoop aan my skryfvermoëns en basiese intelligensie, dan “troos” ek myself: Aag, hoeveel lesers gaan in elk geval ’n halfuur lank my resensie onthou? Die spelers, die regisseur dalk?

Hieroor het Wardle ook heel nugtere gedagtes: “(The reviewer) can only sustain professional self-respect by accepting his inferior status to the art he serves.”

Naskrif: Van die kunsredakteurs het deur die jare my gewaarsku my klagtes gaan nog die einde van ons samewerking beteken. Ná twee-en-twintig jaar het dit in 2008 gebeur. Sedertdien geniet ek die vryheid om amateurteater in die Masque-teater in Muizenberg op hul webwerf te bespreek en af en toe iets op LitNet.

“Voetnoot”, Kunsblad, Die Burger, 16 Junie 1993; hersien 20 Junie 2013

Lees 'n resensie van Die helder dae deur Danie Botha.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top