Die hel, digtersparadys en die woord

  • 1

“There is a crack, a crack in everything. That’s how the light gets in.” – Leonard Cohen

Dit is vroeg op Sondagoggend. Die teerpadoppervlak is nat van die vorige aand se bui. Die sonstrale sproei deur die sluiers van die boomtakke oor die straat.

Koel, verfrissend.

Ek draal in Dorpstraat. Kyk na geboue, advertensies, winkelname, neem dinge af, neem waar, maak aantekeninge.

“Freedom of movement” ... egter geen linkse, politieke NRO gemoeid met ’n lappie aarde vir almal nie; net ’n koopplek vir “Original leather goods, clothing and accessories”.

Ek is hier vir ’n ontbytafspraak met die romanskrywer by die Stellenbosch Hotel. Vanaf die stoep met nog min aansittendes nie en vele kelners wat voorberei  vir ’n besige dag, spoel die klanke  van Sting se “Fields of gold”: “Many years have passed since those summer days among the fields of barley/ See the children run as the sun goes down among the fields of gold.”

Dan is hy daar. Die woordruiter in swart.

Motors van voor en agter belemmer vir ’n wyle sy geleentheid vir ’n foto van die uwe naby aan die gevaarlike middellyn van die pad. Maar uiteindelik oorwin ons geduld.

Ons gesels en kuier, byna 180 minute lank. Ons stoei met die woord en die simbool, dorp, stad en platteland, die hel en bevryding verbonde aan skryf en ontduik tussendeur vallende akkers op die tafel.

“A boy has to hustle his book.” – Truman Capote

Daar is ’n goeie opkoms by die ATKV-Boektent die Saterdagmiddag om 5-uur. Hulle het gekom om te luister na Gilbert Gibson, Jolyn Phillips ('n vriendin van haar staan in vir haar), Pieter Fourie, Fourie Botha, Daniel Hugo, Remona Voges, Jaco van der Merwe en die uwe. ’n Lekker bonte verskeidenheid met uiteenlopende style en aanslae.

Ek wil met Hugo saamstem dat ’n Gibson-voorlesing sy gedigte veel toegankliker / meer verstaanbaar maak as op papier. Almal beïndruk my – Van der Merwe met die byderwetse temas oor twitter en krieketkwotas; Pieter Fourie se ekonomiese woordgebruik; Hugo se vernuf met versmaak; Fourie Botha (met sandale aan, en ek probeer vasstel of hy tydens sy voorlesing sy groottoon aan die regtervoet saam met sy ander tone kan roer); Radbraak, wat skerp soos ’n vislem sny en bloedig oopvlek. Elkeen ’n sterk nuwe vars stem op ’n taalvloer waar jy jou fyntrap moet ken. 

Soos Capote bemark ek my boek en verkoop … vyf eksemplare.

Slegs middeljarige vroue koop.

Vroegoggend (Saterdag) en honger kom ek agter dat kontant hier nie koning is nie – oral bied slegs ’n plastiekkaart jou toegang tot alles. Korporatiewe wet van die Kaap, maar wat is ’n fees sonder ’n borg?

Wolke van verandering, uitbreidings langs die Neelsie

Terwyl ek op my bus wag vir die terugrit, sit ek in die Neelsie rond, beweeg afwisselend van vloer na vloer, binne na buite. Die horlosie loop vandag so stadig soos daardie skilpad waarna Daniel Hugo in ’n gedig verwys het.

Die plek “smells like teen spirit” “and all” as ek onderskeidelik Kurt Cobain and JD Salinger se karakters mag aanhaal. Ek besef die sjoebroekie is nog lank nie dood nie en dat denimkortbroeke en mini’s hier soos soetkoek moet verkoop.

Studente begin eers rondom twaalf uit hul doppe kruip (na ’n nag van baie dop en meer), en begin die dag met borde, tot boordens toe vol met tjips en burgers, en sluk alles af met koffie en Score-energiedrankies.

Later daag groepies sleepvoet op met skootrekenaars, sak op tafels toe – werksopdragte moet inderhaas voor Maandag afgehandel word. 

Ek is so verveeld ek kyk selfs vir ’n wyle na die rugby op die grootskerm.

Die sin van die rit

Hierdie reis was ’n reis met baie wag en stadige ure tussenin. Vrydagaand  vanuit Cradock met ’n busdiens wat deur ’n sukkelende/wankelende SOE met bewerings van staatskaping en ongure verbintenisse bedryf word.

Wel, hulle diens stink – hul Facebook-blad wemel van inskrywings deur verontregte kliënte, klagtes oor kakkerlakke (ja, dit is waar, kan ek eerstehands bevestig) en nors, onbeholpe personeel. Vanaf skuins na middernag, tot die volgende oggend, reis ons op die maat van gospelmusiek, luidrugtig hard, en niemand kla nie. Jy’t mildelike seëning van bo op hierdie reis nodig, dink ek later.

Tussen Beaufort-Wes en Laingsburg, in die donker; die strepe kopligte van aankomende verkeer – soos skape deur die dipgat – beur dieper die binneland in.

Vanuit die bus om 2.45 vanoggend sien ek haar by die garage met baie taxi’s en te min toilette; sy het ’n klein rugsak en soek desperaat na iemand om aan haar te sê sy lyk "beautiful in Beaufort-Wes".

Die rit terug is met ’n ander busdiens, privaat en professioneel, met flink diens, skoon ryruimtes. Koffie word aangebied. Dit is hoe dit moet wees.

Ai, die verleiding en luukse van wins.

Vir die bysiende leser. Soos Jeremy Cronin gehoop het: “Learn how to speak with the many voices of the land.”

’n Ongesonde obsessie? Of Afrikaans se onsterflike Romeo and Juliet?

Die skrif aan die muur? Ek is nie seker of dit installasiekuns of ’n advertensie is nie.

In Dorpstraat, uitstalling: Old Mac, digging for happiness, deur Madge en George Lang

In Andringastraat is daar ’n kunsgalery. In die vertoonvenster, ’n Portchie vir R35 000. Die vorige dag gesels ek met ’n persoon verbonde aan die plaaslike munisipaliteit wat met die fees help. Ons beland by die grondvraagstuk en by die Groepsgebiedewet.

R4 000 het sy ouers destyds vir hulle stuk grond hier gekry toe hulle moes trek, uit, weg.

Andringastraat: die stilte voor die skares storm;  verder af die kunsgalery met die Portchie

Slotgedagtes

Net voor die voorlesing die Saterdagmiddag skep ek asem in die gang van die Universiteitsmuseum. Voor en agter my, groot afbeeldings van Wim de Villiers en wyle Russel Botman met uittreksels uit hul toesprake.

Ek deel ’n harde rooi bankie met ’n swart huishoudster, skoonmaker. Pienk oorjas, doek en moeg; ek in swart broek en wit hemp, gedigte in die hand.

Ek wonder hoeveel het vir haar verander tydens hierdie Grootandersmaak; ek wonder wat Roger Ballen met so ’n oomblik sou kon doen, watter visuele gesprek hy uit ons ongemaklike stiltes sou kon optower.

En skielik word die woord vir my vlees …

Word hierdie vrou se lot ons droewe land se werklike verhaal.

Ons survive met 'n helse lot pyn in hierdie land, ja
kom ons drink op die een wat sy drome oorleef,
op die een wat kry wat hy vra.

                             – Johannes Kerkorrel


Hier onder volg 'n paar van Naomi Bruwer se kiekies van die Digtersparadysgeleentheid waaroor Clinton onder andere hierbo skryf.

Clinton du Plessis

Clinton V du Plessis, Pieter Fourie, Fourie Botha, Gilbert Gibson en Daniel Hugo

Daniel Hugo

Fourie Botha

Jaco van der Merwe

  • 1

Kommentaar

  • Susarah Maria van Zyl

    En hier kom sit, soos dikwels tevore, NP van Wyk Louw se "O wye en droewe land" weer eens in my kop en hart ... Dankie aan Clinton.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top