Die Hegeliaanse dialek en die 'leermeester'-student-verhouding

  • 0

Onlangs verwys Daniel Hugo in die konteks van 'n debat oor die verhouding tussen digkuns en filosofie (By, Die Burger, 6 Junie 2009) na Joan Hambidge as my "leermeester". Hugo se woordkeuse het my teruggeneem na Hegel se beroemde meester-slaaf-dialek (Hegel, Miller en Findlay, 111) – wat mens ook die "leermeester"-student-dialek sou kon noem – en die belang daarvan wanneer dit kom nie net by interpretasie van hierdie woordkeuse nie, maar ook by die verstaan van verhoudings wat op die oog af as suiwer binêre, hiërargiese verhoudings voorkom. Vervolgens 'n paar gedagtes rondom die belang van die dialek.

Hegel se argument rondom die meester-slaaf-verhouding is redelik eenvoudig: die meester-slaaf-dialek ontstaan waar twee self-bewussyne mekaar konfronteer (Hegel, Miller en Findlay, 111). Elk van hierdie bewussyne, sê Hegel, dink aan die ander bewussyn in terme van die self. Bewustheid van die self bestaan vir sigself wanneer dit bestaan vir 'n ander; dit bestaan dus slegs in/as erkenning deur die ander. Dit is bekend as Hegel se teorie van wedersydse erkenning. Volgens hierdie teorie word elke self daarvan bewus dat dit nie net 'n eie lewe nodig het nie, maar ook die lewe van die ander. Die rede waarom Hegel hierdie verhouding spesifiek as meester-slaaf-verhouding tipeer, is dat daar 'n hiërargie ontstaan in die sogenaamde stryd om wedersydse erkenning (Hegel, Miller en Findlay, 111). Hegel beskryf hierdie stryd as 'n geveg waarin die een kant uiteindelik oorgee en onderwerp word aan die wil van die ander kant of bewussyn.

 

Hoewel die oorwinnaar (meester) die reg verkry om die ander (slaaf) dood te maak (Hegel, Miller en Findlay, 114–5), besef die meester sodanige doodsveroorsaking is futiel vanuit die oogpunt van wedersydse erkenning, aangesien daar sonder die aanwesigheid van die ander bewussyn geen sprake kan wees van die erkenning van die meester as meester nie. Die oorspronklik simmetriese self-erkenning word op hierdie oomblik in die dialek asimmetries: die oorwinnaar word meester, die verloorder word slaaf (objek, ding). Hoewel dit op die oog af lyk asof die meester nou die oorhand het, bly die probleem dat die meester nie erkenning of respek van 'n slaaf/objek soek nie, maar juis van 'n gelyke, of dan van iemand wat die meester as 'n gelyke respekteer (Hegel, Miller en Findlay 116–7). Intussen word die meester al hoe meer afhanklik van die slaaf – die slaaf word in die proses al hoe meer 'n onafhanklike bewuste, terwyl die meester die afhanklike word. Uiteindelik balanseer die mag van die slaaf die mag van die meester. Maar die slaaf is deur die dissipline en vaardigheid van sy werk vir die meester omvorm in 'n onafhanklike bewussyn. Die resultaat hiervan is dat beide meester en slaaf besef dat hulle beide voordeel trek uit wedersydse uitruiling/onderhandeling eerder as eensydige dominering.

 

Hegel se meester-slaaf-dialek is deur verskeie filosowe aangewend om die aard van menslike vryheid te verduidelik. Marx het dit gebruik om die klassestryd te konseptualiseer (James) en in postkoloniale studies speel die dialek steeds 'n belangrike rol om te argumenteer teen die oorheersing van die koloniseerder (Fanon en Markmann). Dit sou dan ook sinvol aangewend kon word in die huidige debat oor kolonialisme en die verhouding tussen die Nederlandse en Afrikaanse letterkunde (Die Burger, Bladwyser, 30 Mei en Bladwyser/Repliek, 6 Junie). In die psigoanalise verwys Jacques Lacan na die meester-slaaf-dialek in die konteks van die kliniese situasie as die verhouding tussen analis en geanaliseerde (Lacan en Sheridan, 216; Evans, 43). Lacan beweer hierdie rolle ruil gedurig om ooreenkomstig die basiese mutasies van die Hegeliaanse dialektiek. Dus: die leermeester is leermeester in en deur die student. Sonder die student is die leermeester nie leermeester nie. Sonder die leermeester is die student nie student nie. Soms is die leermeester nie leermeester nie, maar student. Soms is die student nie student nie, maar leermeester. Hulle is ewe afhanklik van mekaar; beide weet dat 'n produktiewe, leersame verhouding slegs kan bestaan onder die vaandel van wedersydse agentskap en respek vir en erkenning van daardie agentskap. Dink byvoorbeeld aan hoe rampspoedig 'n punt van een van jou vakke op skool was omdat die onderwyser gedurig besig was om op groteske maniere sy/haar mag uit te oefen of te illustreer en jy daarteen in opstand gekom het. Dit is 'n voorbeeld van die meester-slaaf-dialek wat nie gesublimeer word nie. (Dit is hier natuurlik belangrik om te wys op die idealistiese teenoor die aktuele aard van Hegel se fenomenologie.) Daar is min dosente wat sal ontken dat hulle gedurig by hul studente leer. Die postmoderne/poststrukturele kondisie verstaan dat die Hegeliaanse dialek nie gesublimeer word nie. Die feit dat die dialek nie gesublimeer word op aktuele vlak nie, beteken egter nie dat Hegel se analogie uitgedien is nie. In die opvoedkunde leer die Hegeliaanse dialek 'n sensitiwiteit vir mag en ondersteun dit (onder andere) die begrip dat die sinvolle leerproses (by beide leermeester en student) impliseer dat mag in so 'n verhouding gedurig verskuif en gedurig kontingent is, dat dit weer reflekteer op beide deelnemers se outonome agentskap (in soverre dit met wedersydse erkenning bestaanbaar is) en dat die een die ander nooit eenvoudig slaafs navolg of bemeester nie.

(Jaco Barnard-Naudé het 'n doktorsgraad in filosofie. Hy doseer en studeer aan die Universiteit van Kaapstad.)

Bronne

Barnard-Naudé, J. "Gaan dink weer oor kolonialisme". Die Burger, By, Repliek, 6 Junie 2009, 15.

Evans, D. An Introductory Dictionary of Lacanaian Psychoanalysis (1996).

Fanon, F en C Markmann. Black Skin White Masks (1967).

Lacan, J en A Sheridan. Ecrits: A Selection (2001).

Naudé, C-P. "Is dié kritici gekolonialiseerd?" Die Burger, By, Bladwyser, 30 Mei 2009, 15.

Hegel, GWF, AV Miller en JN Findlay. Phenomenology of Spirit (1977).

Hugo, D. "’n Kwessie van terminologie?". Die Burger, By, Repliek, 6 Junie 2009, 15.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top