Die grys mense tussen ons

  • 4

Foto: Izak de Vries

...
Die persoon wat by die verkeerslig staan en bedel met sy handgeskrewe kartonpleidooi, sy verslete klere en sy bakhand, het vir die meeste van ons onsigbaar geword. Die ma en kind wat kom kos vra, die persoon wat in ons vullisdromme krap op soek na iets wat vir ons waardeloos kom word het, maar wat vir hulle ’n maaltyd of ’n paar sent in die sak beteken, is almal grys mense.
...

In stedelike oorlogvoering is die “grys man” die persoon wat so gewoon en middelmatig is dat hy glad nie uitstaan nie.

Sy haarstyl, sy lengte, sy kleredrag, sy bou, alles val binne die gemiddelde. Niks omtrent hom staan uit nie. Daar is niks omtrent hom wat agterna onthou en beskryf kan word nie. Sy gewoonheid maak hom onsigbaar. In oorlogvoering en in spioenasie is dit ’n gesogte eienskap. Wie kan agterna ’n persoon beskryf aan wie hulle geen aandag geskenk het nie, oor wie die oog gegly het sonder om stil te staan?

’n Paar weke gelede sien ek ’n video op Twitter van ’n onderonsie tussen ’n swart man en polisiebeamptes in ’n groot Amerikaanse stad. Die man is geklee in ’n swart hoodie, swart sweetpakbroek en donker hardloopskoene.

Een polisiebeampte het die man beet en probeer hom taamlik hardhandig in die rigting van die polisievoertuig dwing. Heelparty omstanders skree en neem video’s. Hulle het, soos ek, gedink hierdie onderonsie gaan eindig met die swart man dood en die polisie wat net skouers optrek en aanbeweeg na die volgende vergryp. Op een stadium ruk die man los en begin hardloop. Die polisiebeamptes hardloop nie agter hom aan nie. Hulle verkies om in hul voertuig te spring en agter hom aan te ry. Dis relevant, want vir enkele sekondes het hulle hom nie in die oog nie.

Dis waar die video ’n verrassende wending neem.

Die oomblik toe die vlugtende man buite sig is, gaan lê hy oop en bloot op die sementblad en maak of hy slaap. Die polisievoertuig met die twee beamptes wat so pas met die man handgemeen was, kom om die draai gery, letterlik sekondes later. Hulle kyk nie eens na die man op die grond nie, hulle ry nie stadiger om seker te maak wie hy is nie; hulle ry verby en verdwyn buite sig van die selfoonopnemer. Die omstanders begin van verligting lag. Die opname eindig.

Die byskrif by die videogreep is eenvoudig: “Gray man theory in action.” Inderdaad.

...
Ons wil hulle nie sien nie, want dan moet ons ons eie bevoorregting konfronteer.
...

Dis maklik om die vinger na daai polisiebeamptes te wys en hulle te kritiseer. Hulle is immers, so veronderstel ons, opgelei om meer oplettend te wees as die man op straat. Hulle moet besonder onbevoeg  wees om nie iemand te herken met wie hulle sekondes vroeër te doen gehad het en na wie hulle aktief op soek was nie.

As ons eerlik met onsself wil wees, moet ons erken dat ons waarskynlik nie veel beter sou gevaar het nie. Of ten minste, ék sou nie beter gevaar het nie. Ons het al die kuns aangeleer om verby sekere kategorieë mense te kyk.

Ons is immers elke dag omring deur grys mense. Die persoon wat by die verkeerslig staan en bedel met sy handgeskrewe kartonpleidooi, sy verslete klere en sy bakhand, het vir die meeste van ons onsigbaar geword. Die ma en kind wat kom kos vra, die persoon wat in ons vullisdromme krap op soek na iets wat vir ons waardeloos kom word het, maar wat vir hulle ’n maaltyd of ’n paar sent in die sak beteken, is almal grys mense. Ons wil hulle nie sien nie, want dan moet ons ons eie bevoorregting konfronteer. Ons verseg om hulle as unieke individue te erken, want dan moet ons iets doen omtrent hulle omstandighede. En daar is sovéél van hulle. Dis gewoon makliker om hulle nie raak te sien nie as om die sistemiese ongeregtigheid wat hul situasie veroorsaak, te probeer aanspreek.

Desmond Tutu het gesê: “There comes a point where we need to stop just pulling people out of the river. We need to go upstream and find out why they are falling in.”

...
Hoekom dan die weerstand teen ’n staatsbefondste toelaag wat mense uit armoede lig?
...

Dit kan net gebeur wanneer ons erken dat armoede ’n vorm van geweld is, iets wat oor jare heen ’n traumarespons aanwakker. Dis maklik om te sê die dromkrapper moet gaan werk soek, maar hoe doen hy dit wanneer hy nie eens toegang tot water en seep het om te was nie, of ’n bed om op te slaap of ’n horlosie om die tyd mee te volg nie? Hoe doen hy dit sonder ’n vaste adres? Hoe bou enigeen die selfvertroue op om by enige werksplek in te stap op soek na werk as die samelewing rondom jou daarop gemik is om neer te sien op armoede?

Miskien kan die verandering begin wanneer ons ophou om die swaarkry mis te kyk en eerder die persoon voor ons se menswaardigheid te erken. In plaas van kyk na die verslete, vuil klere en die reuk  van ongewaste lywe, laat ons die persoon voor ons sien. Dis iemand se kind, se ma, se suster, se geliefde.

Dis ons, as ons omstandighede net anders was.

Hoekom dan die weerstand teen ’n staatsbefondste toelaag wat mense uit armoede lig? Hoekom neersien op mense wat toegang tot een of ander vorm van welsyn probeer verkry? Ons hele samelewing word verbeter as almal toegang het tot kos, klere, water en ’n veilige dak oor ons kop.

Die grysmanteorie sou onmoontlik wees as ons almal rondom ons as volledig menswaardig erken het. Die blote feit dat dit bestaan, is ’n klad op ons naam as gemeenskap.

  • 4

Kommentaar

  • Ongelukkig het hierdie saak meer kante as net dit, Bettina. Jou strekking is maar dat armoede, rassisme en verlies aan menswaardigheid die gevolge is van ’n wydverspreide sistemiese mislukking. Jy het tot ’n mate reg. Maar staatswelsynstoelaes is eintlik niks anders nie as om stroomaf te bly staan en reddingsboeie uit te gooi, en nie stroomop te gaan kyk waarom miljoene inval nie. Die sistemiese mislukking is waarskynlik geskep voor 1994 – niemand kan dit juis ontken nie. Maar niemand kan ook ontken dat dit sedertdien so diep gewortel geraak het in hierdie land dat dit nooit ontwortel sal kan word nie. Die wet op maatskaplike welsynstoelae is geskep ná 1994, en mens kan redeneer dat afhanklikheid van die ANC-beheerde staat die ANC waarskynlik vir ewig in beheer sal hou. Miljoene is afhanklik gemaak. En jy byt mos nou nie die hand wat jou voed nie ... Nee wat, dis alles emotiewe uitlatings wat jy maak, baie mooi uit ’n maatskaplike opheffingsoogpunt, maar staatsafhanklikheid is in der waarheid ’n langtermyn program van die staat. Die middelklas en ryk klas onderhou die armlastiges en behoeftiges, en terselfdertyd hou die ANC homself aan bewind onder die rookskerm van maatskaplike toelaes. Dis maar net belastinggeld wat indirek gebruik word om die politieke regime aan bewind te hou.

  • Barend van der Merwe

    Dit is die ongelykhede wat ten hemele skreeu. En die onversadigbare gierigheid van ons sogenaamde leiers. Daar was ’n tyd, lank voor my geboorte, wat die grootbaas so om en by 20 keer meer as die laags besoldige oukie verdien het. Vandag het daai ratio opgeskiet na honderde kere of selfs duisende kere meer. Die verstommende ongelykhede het vir ons "normaal" geword ja. En hoe volhoubaar is dit? Ek weet ook nie hoe volhoubaar is ’n basiese inkomstetoelaag nie. Dit sal begin by R350 en dan word dit elke jaar ’n stryd omdat dit so min is. Die goewermint sukkel al reeds net om hulle amptenare se salarisse te betaal. Ek hoor van die munisipaliteite wil al glo hulle amptenare met voedselkoepons betaal. Hoe sal so ’n regering ooit daarin kan slaag om iets soos ’n basiese inkomstetoelaag te bestuur? Ons het baie wette en planne in die land, maar nie die leiers wat al die dagdromery ’n realiteit kan maak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top