Die gruishoop vol misgekykte diamante: Joan Hambidge in gesprek met Daniel Hugo

  • 0

Ons het bykans dieselfde tyd op die digkuns-toneel verskyn. Hoe sien jy die verandering tussen toe en nou in die digkuns, veral wat ons uitgewershuise betref?

In die tagtigerjare van die vorige eeu is daar dikwels beweer dat die digkuns die kroon van die Afrikaanse letterkunde is. En die digters is inderdaad soos prinse en prinsesse deur die uitgewers behandel. Digters is toe by die dosyn gepubliseer – of hulle nou egte adel was of nie.

Sedertdien is die kroon deur die prosaskrywers – eers die kortverhaalskrywers en toe die romanskrywers – van ons koppe gepluk. Die prosaskrywers verdien uiteraard meer geld, en die uitgewerye kan dit lankal nie meer bekostig om onverkoopbare boekies uit te gee nie. Die gevolg is dat daar deesdae minder ydeltuite gepubliseer word. Dit kom die gehalte van ons digkuns ten goede.

Aan die ander kant kry jong digters baie min blootstelling en aanmoediging – veral aangesien ons nie tydskrifte vir kreatiewe skryfwerk het nie. (Eintlik is LitNet die enigste durende forum vir die nuwe geslag.) Destyds kon ons eers in een van die hand vol “little magazines” ons gedigte in druk sien en dan kort daarna ’n eie bundel in die hand hou. Daarom is ons ook die laaste klompie digters wat as ’n groep geïdentifiseer is, die sogenaamde Tagtigers. (Moet ons nou ons kollektiewe skuld bely?)


Jy is 'n uiters produktiewe digter wat besonder nougesette aandag aan vorm gee. Wie is en was jou invloede? Ek lees altyd Opperman en Auden raak. Het ek gelyk?

Jy is heeltemal reg. Die groot invloed op my digkuns was DJ Opperman. Ek is selfs al ’n Opperman-kloon genoem! Ek was natuurlik ’n rymkonyn in Opperman se Letterkundige Laboratorium op Stellenbosch. Maar dit was sekerlik nie die Groot Konyn se idee om kleintjies te kloon nie.

Dit was veral Opperman se opstel oor die kwatryn en sy beoefening van die Persiese kwatrynvorm (aaba) wat my lank besig gehou het. In my bundel Die klein aambeeld (1983) het ek ’n huldigingsgediggie – ’n Persiese kwatryn, hoe anders? – vir hom geskryf:

in ’n land van klip en weinig troos
het hy kosmiese kragte onverpoos
vertolk vir ’n bot en boerse volk:
’n den wat stem gee aan die suidoos.

Vandag pla die hoogdrawende, stoere styl my. Net die slotreël bevat ’n sprankie oorspronklikheid. Dié kwatryn is verder in ’n groot mate bloot ’n eggo van Opperman se “In memoriam” aan Totius (in Blom en baaierd, 1956):

Telkens as hierdie volk van God afdwaal,
sal hy in Afrika se klip en kaal
herinner word hoe groot Hy is
deur die tinktinkietaal van Totius.

Ek glo darem dat ek die Opperman-invloed mettertyd ontgroei het.

WH Auden het ek eers later in my lewe begin lees. Die lang satiriese gedig “Persoonlike korrespondensie” in my bundel Vuurdoring (1987) is ingegee deur Auden se briljante “Letter to Lord Byron”. Auden het, net soos Opperman, oor die poësie geskryf vanuit die ambagtelike perspektief. Ek het net soveel uit hulle opstelle geleer as uit hulle gedigte. Auden het die digter ’n ambagsman genoem, maar met dié verskil: ’n Skrynwerker weet vooraf presies hoe die meubelstuk gaan lyk wat hy wil maak. ’n Digter, daarenteen, mag ’n stoel in die oog hê, maar eindig met ’n dubbelbed of ’n jonkmanskas. Die poëtiese verbeelding is onberekenbaar.

Die volgende uitspraak van Auden gee my steeds groot plesier: “Good poets love bad puns”. Dit is juis ’n flou woordspeletjie wat dikwels vir my die aanleiding tot ’n vers is. Die titelgedig van my bundel Korte mette (1982) begin só: “jou voorkop het die koepel/ van ’n koptiese kerk”. Snap jy: kop/kopties? En die digter is die enigste een wat dit oulik vind.


Jy het ons digkuns verruim met jou uitstekende vertalings van Vlaamse en Nederlandse skrywers. Hoe beïnvloed vertaling uiteindelik jou eie skryfwerk?

Vertaling van poësie is vir my in die eerste instansie ’n tegniese uitdaging. Ek twyfel of enige van die digters wat ek vertaal het – Herman de Coninck, Jean-Pierre Rawie, Gerrit Komrij, Tom Lanoye, Rutger Kopland – enige regstreekse invloed op my gehad het. Ek vertaal wel wat tot my spreek. Ongelukkig is nie alles wat tot my spreek, vertaalbaar nie. (Ek dink byvoorbeeld aan die gedigte van Paul van Ostaijen.) Daar is beslis iets soos ’n onvertaalbare gedig – veral waar die kern van ’n vers geleë is in ’n woordspel of ’n dubbelsinnige idiomatiese uitdrukking. Dit is meestal ook onmoontlik om die klank van die vers van een taal na ’n ander oor te dra. As jy ’n halfrym op een plek verloor, probeer jy met ’n assonansie of ’n alliterasie op ’n ander plek daarvoor vergoed. Vertaling is ’n proses van keuses maak en kompenseer. En soms, net soms, klink die vertaling beter as die oorspronklike.

Jy is ook bloemleser. Watter funksie vervul dit vir jou?

’n Bloemleser is ’n bekendsteller en ’n bewaarder. Die letterkunde is soos ’n gruishoop wat ’n mens oor en oor moet sif om die misgekykte diamante te vind. Die patroon waarin dié vondste dan in ’n tematiese bloemlesing gerangskik word, gee daaraan ’n uitsonderlike flonkering.

Dit is belangrik dat die samesteller ’n inleiding skryf. Nie net om sy keuse te motiveer nie, maar ook om lesers in te lig, te inspireer en op te voed. Buiten akademiese tydskrifte is die publikasiemoontlikhede vir literêre kritici deesdae besonder beperk. Elke bloemlesing sonder ’n inleiding is ’n gemiste kans om ’n groter publiek te bereik. So ’n inleiding bied ’n gulde geleentheid om onderhoudend en toeganklik oor gedigte, liedtekste en kortverhale te skryf.

Jou werk as onderhoudvoerder, nee eintlik begeleier, by RSG het dikwels ander skrywers op die voorgrond geplaas. Nou ook met jou werk by die Huis der Nederlanden. Verspil 'n mens nie energie op hierdie manier nie, of skep dit juis energie?

Ongelukkig het ek nie die luukse om volle beheer oor my energiebesteding te hê nie. Digbundels, bloemlesings en vertalings bring nie genoeg geld in om die wolf en Trevor Manuel van die deur weg te hou nie. (Hoewel, ek sal nogal geëerd voel as mnr Manuel persoonlik aan my deur klop!) Die meeste van my energie gaan dus in my dagtaak.

Die werk wat ek vir die Afrikaanse radiodiens gedoen het, was besonder verrykend. Ek is gedwing om elke week ’n nuwe Afrikaanse boek te lees vir die program Leeskring, en ek moes vir die poësieprogramme die hele Afrikaanse digkuns fynkam. Vandat ek by die Huis der Nederlanden is, het ek daagliks toegang tot die grootste Nederlandse biblioteek in die suidelike halfrond. ’n Groter voorreg kan ek my nie voorstel nie!

En ja, die kontak met literatuur stimuleer die skryflus. In dié opsig is dit wel energieskeppend.

Jy is met 'n skrywer getroud. Is daar 'n simbiotiese proses?

Ja, ons lees mekaar se werk en probeer wedersyds dapper om die liefdevol gelewerde kritiek te verwerk.

Wanneer verskyn daar weer 'n bundel van jou?

Hopelik binnekort. Ek vind dat my asem korter word met die jare. Die veertien reëls van ’n sonnet voel vir my nou soos ’n marathon. Ek is dus weer terug by die kort lopies van die kwatryn en die haikoe. Hier is ? voorsmakie:

Blanko blad

hier het ’n winterhaikoe gestaan:
maar die lettergrepe – pynlik stip
getel – het hul greep op die yswit
vlak verloor en spoorloos weggeglip

Wie is jou gunsteling-digters in Afrikaans?

My leermeester: DJ Opperman
My oermoeder: Elisabeth Eybers
My bloemlesingdames: Olga Kirsch en Ina Rousseau
My Moses: Breyten Breytenbach
My Nemesis: Charl-Pierre Naudé.

Hoe skryf Daniel Hugo 'n gedig?

Mag ek antwoord met ’n gedig uit my bundel Vuurdoring (1987)?

Bladwit

wat u op elke blad te lese
kry, is die produk van fonosintese

die boek glans swart op wit, mis die groen:
mens sou dit eerder ’n notebalk moet noem

uit die verwarring van oog en oor
groei die raasblaar as gepaste metafoor

met chlorofil en koloratuur
word sinesteties hier gestig: clair-obscur.
 

Wat my tot die maak van ? gedig dryf, is dus: klank, metafoor en sintuiglike ervaring. Die gedig is dan die sintese van hierdie dinge. (O, amper vergeet ek van die flou woordspel.) Emosies en abstrakte denke is gevaarlike materiaal vir ’n digter. NP van Wyk Louw het gesê: “Alle diepte moet bedrieg.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top