Die grammatika van liefhê

  • 0

André Strijdom se nuutste literêre kabaret is gereed om gehore te betower met ’n onweerstaanbare tema: die Liefde.

Gebaseer op die letterkundige werke van digters soos J.C. Steyn, D.J.Opperman, Ingrid Jonker, G.A. Watermeyer en Lina Spies, is twee muses aan’t stry oor wat die liefde is, en probeer wetenskaplik tot ’n somtotaal of slotsom kom. Hulle besluit om hul onderskeie filosofieë op mekaar uit te toets, en op twee onskuldige sterflike mense deur hulle verlief te maak.

Hierdie situasie veroorsaak heelwat ekstase, konflik, pyn, ensovoorts, wat uiteindelik uitloop op ’n deurmekaarspul wat geen antwoorde kan bied op die oorspronklike vraag nie, behalwe dat mens die liefde nie kan vryspring nie, en dat niemand dit kan vaspen met dogma of definisie nie. En soos wat die muses gestroop raak van hulle pretensie, vind die mense hul krag daaruit en groei van gestroop tot geklee.

Wie die oorwinnaar is, sal die gehoor self moet kom uitpluis…

Die uitsonderlik talentvolle rolverdeling bestaan uit Brian Robson (genomineer vir ’n Fleur du Cap prys) en Julia Strydom as die muses wat stry, en André Tereblanché en Grethe van der Merwe as die (singende) sterflike wesens wat gemanipuleer word in hierdie soeke na antwoorde.

Keer terug na die program-indeksblad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top