Die goeie pa verken die uitwerking van seksuele mishandeling in rouste detail

  • 0

Jy weet waarvoor jy jou inlaat as jy ’n toneelstuk oor seksuele mishandeling gaan kyk. Of weet jy? Want jou lyf reageer anders as iemand wat weet waarvoor hy homself inlaat as jy in aaklige detail begin verstaan waardeur die karakters op die klein houtplatform voor jou emosioneel en fisies gaan.

Die goeie pa, die Suid-Afrikaanse première van die internasionaal bekroonde teaterstuk The good dad, wat deur Paul du Toit vertaal en geregisseer is, is deur die bekroonde kreatiewe span van The unlikely secret agent – wat vir agt Fleur Du Cap-teatertoekennings genomineer is en waarvoor Paul du Toit die toekenning vir beste regisseur gewen het – vervaardig.

Erika Marais, wat ’n nominasie ontvang het vir haar vertolking van Eleanor Kasrils in bogenoemde produksie, speel in Die goeie pa die rol van drie vroue en die pa.

Op die oog af lyk hulle na ’n gelukkige familie. Tweelingtienerdogters, ’n saggeaarde pa en ’n raakvatma, wat nooit haar kinders “honger of met ’n af knoop uit die huis sou laat gaan nie – ’n goeie ma”. Maar die familie dra ’n baie donker geheim en toe dit nie meer agter hul vier mure weggesteek kan word nie, word dit ’n maalkolk van leuens wat nog meer lewens verwoes.

Ma maan die dogters aan om hul pa rustig te hou weens sy swak hart, want “wat gaan van ons word as hy ’n hartaanval kry?” Die susters weet wat met een van hulle gebeur, maar praat nie daaroor nie. Dihaan, die slagoffer van haar pa se seksuele misbruik en uiteindelike swangerskappe, verwyt oplaas haar suster omdat sy nie gepraat het nie. “Ek sou gepraat het as dit jy was.” Maar minute later erken sy self dat sy ook nie sou praat nie. Die familie moes stil wees oor wat agter geslote deure gebeur.

Die toneelstuk verken die psigologiese uitwerking van mishandeling: ontkenning, skuld, jaloesie en Stockholm-sindroom. Daar is oomblikke waar die ma verweer dat sy nie die onheil sien kom het nie; dat sy nie daarvoor gevra het nie. En dat haar man altyd bang was vir die donker – wat natuurlik op sy eie ’n hele toneelstuk sou kon regverdig.

Dihaan verdedig aanvanklik haar pa en sê dis nie misbruik nie, dis ’n liefdesverhouding, want sy is sy spesiale een. “Dis lekker saam met hom,” verklaar sy aan haar suster. Later erken sy dat haar pa “die hele prentjie van haar moontlike toekomste as normale jong vrou uitblok, asof hy voor die televisie staan”. Stadig dring die besef tot haar deur dat sy wel ’n slagoffer is. Dat sy haar ma geword het.

Teen die tyd dat sy optree, is die skerwe van soveel gebreekte lewens só wyd versprei, mens kan nie glo dat daar ooit heling sal kan kom nie.

Paul du Toit sê: “Gail Louw se liriese teks onderskat die verbeelding van die gehoor nie vir een sekonde nie en toe dit by die ontwerp van die produksie kom, wou ek die gehoor genoeg ruimte laat om deur hulle eie verbeelding saam met die karakters te verkeer in die verskeie situasies wat hulle gevange hou.”

Soms is jou eie verbeelding die vreesaanjaendste plek in jou lewe.

Ek lees in ander resensies van die oorspronklike Engelse weergawe in die West End en Broadway dat gehore soms sukkel om by te bly met wie wanneer praat, omdat een aktrise al die rolle vertolk en in die plaaslike speelvak die heeltyd in ’n grys sweetpak – sonder addisionele hulpmiddels om karakterwisseling aan te dui – bly. Dit was ook my metgesel se opmerking toe ons ná die vertoning nog ’n paar minute sit om ons galoppende harte tot bedaring te bring én tydens ons bespreking oor ’n glas wyn agterna in die foyer.

Ek het egter glad nie gesukkel om te onderskei wanneer dit Dihaan, Carla of hul ma is wat aan die woord is nie. Die slim gebruik van ’n rooi kombers en die tweeling se uiteenlopende houdings het vir my elke karakter duidelik laat uitstaan.

Dis nie ’n maklike stuk om te kyk nie, maar dis ’n stuk wat gekyk móét word. Daardie euwels is om ons en die voorgee van mense dat dit nie gebeur nie, maak slagoffers se reis nog moeiliker.

Erika Kruger is verbysterend in haar vertolkings. Sy wissel moeiteloos tussen dunlipma, weerlose tiener en aggressiewe tweelingsuster.

Dit was my eerste besoek aan die relatief nuwe teater in Strand en omdat baie stedelinge (my vriende inkluis!) dink Strand is verder van Kaapstad as wat Kaapstad van Strand is, het The Drama Factory akkommodasievennote as jy sou wou oorbly.

Sonkrag sorg dat die ligte aanbly en ’n lekker glas wyn voor, tydens of na die vertoning maak dit ’n gesellige kuier.

Die goeie pa

Met: Erika Marais
Regie en vertaling: Paul du Toit
Skrywer: Gail Louw
Klankontwerp: Jahn Beukes
Beligting: Wicus Louw
The Drama Factory, Strand
Tot 3 Julie 2022
Geen o/16 – volwasse inhoud

Bespreek vir alle vertonings met ’n kredietkaart by www.thedramafactory.co.za of bel 073 215 2290.

  • Foto’s: Jeremeo Le Cordeur
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top