Die Gilgamesj-epos en die Ou Testamentiese sondvloed

  • 2

In Genesis, hoofstukke 6 tot 9, lees ons van die verhaal van die Sondvloed, oftewel Groot Vloed, wat God oor die mensheid indertyd laat kom het om hulle te straf vir hul verderflike ongeregtighede. Hierdie verhaal word ook buite die (Hebreeuse) Ou Testament aangetref, soos in die oud-Griekse mitologie (die verhaal van Deukalion en Purrha), asook van oudsher in ’n breedvoerige geskrif uit Mesopotamië wat geleë was tussen die Tigris- en die Eufraatriviere in die huidige Irak.

Die Latynse skrywer Ovidius vertel ons die oud-Griekse verhaal van die Groot Vloed in sy bekende Metamorphoses (1.318 vervolgens, ook te vergelyk met Apollodoros 1.46 vervolgens).  Dit was Prometheus, wat ook die gawe van vuur aan die mensdom gegee het (nadat hy dit in ’n vinkelstok by die gode op Olumpos gaan steel het), wat sy seun Deukalion aangesê het om ook ’n ark (lárnaks) te bou waarin hy en sy wederhelf Purrha die vloed sou kon oorleef wat Zeus op die punt was om te stuur om die mensheid uit te wis vanweë hulle bose misdrywe. En soos ’n Bybelse Noag het Deukalion en sy vrou op die berg Parnassos in Phokis, sowat 10 kilometer Noord van die Korintiese Golf, gaan land nadat die waters weggesak het. ’n Orakel (wat later dié van Delphi was) het hulle toe aangesê om die “bene van hul moeder” oor hulle skouers te gooi. Hulle het verstaan dat hulle dit met die klippe van moeder aarde moes doen. En dit was ook so. Die klippe wat Deukalion gewerp het, het mans geword, en die klippe wat Purrha gewerp het, het vroue geword. Die oudste seun van Deukalion wat so gebore is, was Hellên, aartsvader van die Helleense (Griekse) volk; en sy drie seuns was weer die legendariese voorvaders onderskeidelik van die Doriërs, Ioniërs en Eoliërs, naamlik Doros, Xouthos en Ailolos. Hierdie oud-Griekse storie in hul oorgelewerde mitologie het egter deur die eeue heen feitlik totaal onbekend gebly as dit kom die eksegese van die Sondvloed in Genesis. Die Mesopotamiese verslag van die Sondvloed het egter eers onlangs bekend geword.

Opspraakwekkend was die ontdekking deur George Smith aan die einde van die 19de eeu van hierdie einste verhaal op Sumeriese kleitafeltjies geskryf in die uitgestorwe spykerskrif van destyds en tans ’n skat wat bewaar word in die Britse Museum. Die verhaal kom hierdie keer uit die Nabye Ooste self en die ooreenkomste is veel-veel groter met dié van Genesis as wat die ou Grieke te vertel gehad het. Om die waarheid te sê, dit gaan so ver terug dat dit as die model en grondteks vir die Bybelverhaal van die Groot Vloed kon dien.

George Smith (gebore op 26 Maart 1840 in Chelsea, Londen) was ’n note-graveerder in diens van die Britse bankwese en het as ’n stokperdjie homself geleer om die Assiriese spykerskrif, toe nog ’n uiters jong wetenskap, te lees en toe die kleitablette daarvan uit Nineve in die Ooste teen 1861 in Londen begin aankom het, kon hy dit ook onmiddellik inspekteer. Vroeër reeds het hy die aandag van die geleerde wêreld begin trek met sy publikasie in verskeie essays rondom hierdie Oosterse spykerskriftekens waarvan die betekenis destyds nog onbekend was. En al te gou het hy ’n assistent in Assiriologie aan die Britse Museum geword.   

Terwyl Smith in Desember 1872 besig was om van die spykerskriftekste vir publikasie voor te berei, het hy heel onverwags op die Sumeriese verhaal van die Sondvloed afgekom. Dit het onmiddellik internasionaal sensasionele nuus geword. Hier het ons nou, so is onmiddellik besluit, die oerbron van die Genesis-verhaal –  inderdaad die heel oudste storie wat die mens ooit op skrif gestel het, sowat 5 000 jaar gelede, en veel ouer as Homerus se eposse, die Ilias en die Odusseia, waarmee die Westerse letterkunde begin het (geskryf in die negende eeu voor Christus, wat handel oor die Trojaanse Oorlog van 1294 - 1283 vC) Daar word vertel dat Smith só opgewonde oor sy ontdekking was dat hy sommer sy klere begin uittrek het en kaal na buite gestorm het. Dit mag apokrief wees, maar dit laat mens dink aan wat Archimedes, die ou Griek, gedoen het toe hy die beginsel van soortelike gewig in sy badwater ontdek het, deur toe ook kaal uit die bad uit gespring het en luidkeels uitgeroep het: heúrêka! (“Ek het gevind!”).  Twee publikasies van Smith het hierna oor die onderwerp gevolg: The Chaldean Account of the Deluge (1872) en The Chaldean Account of Genesis (1876). En dit was blitsverkopers wat die Westerse teologie op hol gehad het, veral as ons dink aan die gevestigde Bybelse leerstelling van die inspiratio verbalis.

’n Belangrike fragment, waar dit juis handel oor die Sondvloed, het egter nog aanvanklik ontbreek. Die Engelse nuusblad The Daily Telegraph het egter as sponsor opgetree om Smith na Nineve terug te stuur om dit te probeer vind. En op pas die vyfde dag van sy nuwe opgrawings by Nineve het Smith dit ook in Mei 1873 gevind. Die gode van ou Babilonië was aan sy kant. Later het nog talle ander fragmente ook bygekom.

Die Gilgamesj Epos wat nou in ou Babilonië teruggevind is, fragmentaries soos dit is, was deel van die eertyds beroemde biblioteek van koning Assurbanipal in Nineve uit die sewende eeu voor Christus. Die vroegste kleitafeltjies daarvan dateer waarskynlik uit 1198 vC. Aanvanklik, soos alle groot eposse van die verlede, was dit mondelings oorgelewer. En die finale skrifvaslegging het gekom uit diverse oorgelewerde sangsiklusse daarvan – net soos by Homerus se oud-Griekse eposse, die Ilias en die Odusseia. Hierdie ou Babiloniese epos van gesamentlik sowat 3 000 reëls, bestaan vandag uit 75 fragmente (sommige ook in Hetities en Hoerrities) wat byeengebring is. Inderdaad ’n erg motgevrete boek uit die verre Oudheid, maar uiters kosbaar vir ons vandag. Ongeveer drie-vyfdes van die oorspronklike teks kan ons vandag rekonstrueer.  Uiteindelik het dit bestaan uit 12 kleitafeltjies, waarvan net een, die 11de tafeltjie, handel oor die Groot Vloed. Hierdie vloed vorm dus ’n gegewe in die mensheid se vroeë geskiedenis, en ons kan dit knoop aan een van die meer as 15 ystydperke in die geologiese geskiedenis van die wêreld wat selfs gesorg het dat daar gefossileerde flora in die Noordpool beland het. Hierdie epos had aanvanklik verskillende skrywers, of sangers, net soos by Homerus. Die priester-skrywer van die Nineve-uitgawe het sy naam geteken as Sinliek-Oenninmi.

Die verhaal van die Sondvloed maak maar net deel uit van die Gilgamesj Epos. Eintlik handel dit oor die mens se soeke na onsterflikheid. Die epos vertel die verhaal van Gilgamesj, koning van Oeroek, ’n stad in Suid-Babilonië. In die Hebreeuse Ou Testament kom die Assiriese Oeroek as Ereg voor in Genesis 10:10. Vandag heet dit Warka in Irak.

Gilgamesj was vir 126 jaar lank ’n tiranniese regeerder oor sy volk. Toe die volk vir hul god Anoe vra om hulle te help, het hy die wilde natuurmens Enkidoe, wat van die gras van die veld gelewe het (vgl Nebukadnesar in Daniël 4:32), geskep om die koning te temper. Gou het dan ook ’n woeste stoeistryd plaasgevind waarin nie een van die twee eintlik as ’n oorwinnaar uitgetree het nie. Enkidoe is egter die mens wat die beskawing geleer het en het ’n soort dienskneg-metgesel van Gilgamesj geword. Saam het die twee op hulle wye swerftogte groot heroïese dade verrig en verskriklike monsters om die lewe gebring. Isjtar, die godin van Liefde (en ook die beskermgodin van die stad Oeroek), het op Gilgamesj verlief geraak. Hy het egter nie haar liefde beantwoord nie, waarop sy die Bul van die Hemel gestuur het om die stad Oeroek te verwoes. Gilgamesj en Enkidoe het egter ook dié bul gedood. Hierop het Isjtar, as verdere straf, Enkidoe laat sterf. Dit het Gilgamesj erg ontstel en hy het besluit om die geheim van die ewige lewe en onsterflikheid vir hom hier op aarde te gaan soek, want hy wou nie ook sterf nie. Hy en Enkidoe was spreekwoordelike boesemvriende, op die model van Dawid en Jonathan in die Ou Testament, en Achilles en Patroklos in Homerus se Ilias.

Gilgamesj besluit nou op sy eie op die soektog na onsterflikheid wat hom uiteindelik voer na die rivier wat die lewendes na hul dood moes oorsteek na die Hiernamaals, in dié geval die Eiland van die Geseëndes. Die bootsman Oersjanabi (te vergelyk met die Griekse Charon by die Stuux) neem hom toe oor dié rivier van die dood na Oetnapisti(m), die Wyse, wat die Groot Vloed destyds oorleef het. Oetnapistim is aanvanklik onwillig om hom te help omdat hy die toets vir onsterflikheid, om sewe dae aaneen wakker te bly, nie kon slaag nie. Oetnapistim se vrou beveel hom egter toe  ’n plantaardige kruid aan wat hy uit die dieptes van die see moes gaan uitduik wat vir hom onsterflikheid sou bring as hy daarvan sou eet. Dit is moontlik deur hierdie verjongingskruid dat Oetnapistim sy naam gekry het van “Die Oue is ’n jong man”. Op pad terug na sy vaderstad besluit Gilgamesj om in ’n waterpoel te gaan afkoel. En net daar steel ’n slang toe sy wonderkruid. Dit alles klink weer na die Genesis-verhaal waar die slang gesorg het dat die mens (Adam en Eva) sou sterf. Dié sage gee immers die enigste verklaring vir die dood, want daar kan nie ’n sterfte wees waar daar nie ’n geboorte was nie. En só is die leer van die Bybelse erfsonde ook vasgelê.

Uiteindelik moes Gilgamesj besef dat die mens altyd sterflik sal bly. Dit is net die herinnering aan sy dade en prestasies wat sy naam sal laat voortleef. Die lewe hier vir die mens is bedoel om maar net ’n fees daarvan te maak. Die ewige lewe wat die mens soek, sal hy nooit hier vind nie. Hy moet maar net elke dag sy maag volhou, speel, dans, sy tydelike liggaam versorg en homself mooi aantrek. Al wat die man kan doen is dat hy sy vrou moet toelaat om haar in sy omhelsing met hom te verlustig. Dit is maar al waarvoor die sterflike mens uiteindelik bedoel is – om die aarde deur prokreasie te vul. 

Op die 11de skryftafeltjie kry ons Oetnapistim se verhaal van die Sondvloed oor sowat 200 reëls. Die god Enlil het die vloed gestuur nie om morele redes as straf vir die sondige mens nie, maar omdat die mense te veel op aarde aangeteel het en deur hul lawaai die god uit sy slaap gehou het. In die Hebreeuse Ou Testament was die doel van die Sondvloed, soos  by die oud-Griekse weergawe, dat dit as straf bedoel was vir die mensdom wat in sonde verval het.

Die verhaal wat Oetnapistim van die Groot Vloed vertel, toon ondanks verskille, ’n geweldige ooreenkoms met die Sondvloed van Genesis 6 tot 9. Die verband is so duidelik soos daglig. Ons het hier ’n gemeenskaplike bron en die Babiloniese tradisie is sekerlik die oudste. Dit was indertyd al die gevolgtrekking van geleerdes soos CFA Dillmann, SR Driver, Hermann Gunkel, en Friedrich Delitzsch. Hier is ook die grondplan van die Ark; die pik waarmee die Ark waterdig gemaak is; die inneem van alle lewende spesies; die uiteindelik landing daarvan op ’n berg; die uitstuur van voëls (hier agtereenvolgens ’n duif, swaweltjie en ’n raaf) om te soek vir ’n holte vir hul voet; die enkeles wat van verdrinking gered is en uiteindelik die welriekende offer om die gode weer gunstig te stem. Dit, ondanks Peter Jensen se omvangryke werk oor die Gilgamesj Epos waarin hy die ooreenkomste wil minimaliseer (vgl sy Das Gilgamesch-Epos in der Weltliteratur, in twee dele, Strassburg, 1906, en Marburg, 1929).

In die 12de tablet van die Gilgamesj Epos, as ’n soort aanhangsel, kry ons die terugkeer na die wêreld van die gees van Enkidoe. Hy bring die poekoe en die mikkoe wat Isjtar vir Gilgamesj gegee het (waarskynlik ’n drom en ’n dromstok) weer terug aarde toe. En dan gee hy ook ’n uiters somber prentjie van die “on-wêreld” (Onderwêreld, Hebreeus sjěôl) van die dodes – die oud-Griekse Hades [< Ha-ídes: “waar niks gesien kan word nie”]. Voor sy dood, toe hy siek geword het, het Enkidoe reeds gedroom van die “huis van stof” (begrafnis van sy kadawer) wat eendag op hom wag.

FM Th De Liagre Böhl (Het Gilgamesj-epos, Amsterdam, 1941, asook daaropvolgende publikasies) wys daarop dat hierdie ’n ongewone “nasionale” epos van die ou Babiloniërs genoem sou kon word, as ons sien hoe die digter(s) daarin eintlik met ’n sekere minagting van hul gode spreek, ondanks die groot poëtiese waarde daarvan en die grootse invloed wat dit moes gehad het. Die naam van hulle oppergod Mardoek word selfs in stilswye verbygegaan.  

Die Gilgamesj Epos is in Engels vertaal deur Reginal Campbell Thompson (in heksameters, Londen, 1928), in Duits deur Albert Schott & W von Soden (Stuttgart, 1958 – ’n hersiening van Schott se vertaling van 1934), in Frans deur Contenau (Parys, 1946), en ook in GB Shaw se “trans-Atlantiese” Engels deur Alexander Heidel (Chicago, 1946). Oor die diverse teorieë-oorsprong van die Gilgamesj Epos vergelyk Samuel N Kramer se ingeligte skrywe in The Journal of of the American Oriental Society, vol. 64, pp 7-23 (New Haven, 1944), en vir die Assiriese spykerskrifteks R Campbell Thompson (Oxford, 1930), asook Paul Haupt, Das babylonische Nimrodepos in twee dele (Leipzig, 1884 – 91). En meer spesifiek: A Heidel, The Gilgamesh Epic and Old Testament Parallels (Chicago, 1946).

Die Gilgamesj Epos transendeer in plek en tyd met sy boodskap net soos die boek van Job in die Ou Testament. Dit dra essensieel ’n boodskap van louter pessimisme. Die lewe is net vir die gode, die dood net vir die mens. Die beste dood wat die mens kan hoop om te sterf is dié as ’n oorlogsheld op die slagveld.

In Mesopotamiese tekste was dit dikwels die gebruik om ’n datering te gee van vóór of ná die Groot Vloed, ’n gebeurtenis wat die bewoonde wêreld, toe dit nog jonk was, so uitwissend getref het.  Daarna het die Skithiese monnik, Dionysius Exiguus, aan die begin van die  sesde eeu nC gekom, en die datering vóór Christus en ná Christus (se vleeswording) weer opgestel toe hy in opdrag van pous Hormisdas ’n nuwe Paasregister moes opstel. Twee van die grootste gebeurtenisse wat die wêreld ooit beleef het, is verskillend herdenk.                                                                                                                                                                                                                                 

  • 2

Kommentaar

  • Francois Malherbe

    Die Tsjeggiese komponis Bohuslav Martinu het 'n aangrypende werk geskryf vir soliste, koor en orkes op die tema van die Gilgamesj Epos.

    Dankie vir die goeie artikel!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top