Die gevaar van die enkele narratief

  • 4

Die audi alteram partem-reël is ’n gevestigde beginsel in ons reg. In kriminele litigasie kan dit die verskil tussen tronk en vryheid beteken. Hoor die ander kant. Gee die beskuldigde en die klaer geleentheid om hul saak te stel. Kry getuies, want partykeer bring die getuies ’n ander perspektief.

’n Wors het twee ente, het die oumense altyd gesê. “Until the lion has his own storyteller, the hunter will always have the best part of the story” – Ewe-Mina- spreekwoord.

Verskillende gedagtes uit verskillende kulture en verskillende wêrelddele, met almal dieselfde waarskuwing: Wees versigtig vir die enkele narratief. In 2006 het die skrywer Chimamanda Ngozi Adichie dieselfde waarskuwing ten opsigte van literatuur gerig, in haar nou beroemde Ted-praatjie. Dertien jaar later, en haar waarskuwing is nou meer relevant as ooit tevore. Die hele praatjie behoort verpligte leesstof te wees vir elke voornemende skrywer. Hoedat sy die magsverhoudinge en magswanbalanse rondom die skep van ’n enkele narratief bespreek, bly my veral by.

“Power is the ability not just to tell the story of another person, but to make it the definitive story of that person ... The single story create stereotypes, and the problem with stereotypes is not that they are untrue, but that they are incomplete. They make one story become the only story ... [T]he consequence of the single story is this: it robs people of dignity. It makes our recognition of our equal humanity difficult ... Stories matter. Stories have been used to disposses and to malign, but stories can also be used to empower and to humanize.”

Sien naamsveranderinge in hierdie lig. Lughawens, strate, dorpe, voorstede. Kan dit wees dat dit gedoen word nie net om belastingbetalergeld te vermors nie, maar in ’n poging om die enkele narratief te verander?

Dink hoe anders sou geskiedenisboeke uit my skooljare daar uitgesien het as die Slag van Bloedrivier vertel was uit die oogpunt van die Zoeloe-stryders. Of die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap uit die perspektief van die Khoikhoi. Dink hoe anders sou ons literêre geskiedenis lyk as die plaasroman deur die plaaswerker geskryf was.

Die enkele narratief kan geskiedenis verwring en gebruik word om groepe te onderdruk. As swart vroue in jou kombuis werk, moet jy oppas, hulle steel suiker. Bruin mense is almal dronklappe.

Dis ook nie net ten opsigte van ras nie. Ook gendernarratiewe dien om te onderdruk. Niemand dink twee keer daaroor wanneer ’n vrou ’n broek, of selfs ’n volle broekpak aantrek nie. Sy word waarskynlik selfs gekomplimenteer vir haar goeie smaak. Maar moenie dat ’n arme Westerse man dit waag om in ’n rok of romp te verskyn nie. Dis nou buiten die Skotte. Maar in die meeste Oosterse en Afrika-kulture word die rok (of wat dit ook al in die toepaslike kultuur genoem word) nie net met vrouedrag vereenselwig nie.

Maar Achibie se fokus, en myne ook, is literatuur. Dit maak saak hoe groepe, of persone as verteenwoordigend van groepe, uitgebeeld word. Dis als goed en wel om mens te beroep op vryheid van spraak, en op die kunstenaar se vryheid om te skep, maar kunstenaars lewe nie los van samelewings nie. In ’n onlangse artikel in ’n Britse dagblad word skrywers beskryf as die “canaries that go down into the dark” as voorlopers wat waarsku van gevaar. Maar wat gebeur as die skrywers deur stereotipering die gevaar is waarteen die samelewing behoort te waak? Is hul vryheid van spraak steeds onaanvegbaar? Wat van die vryheid van spraak van diegene wat kritiek uitspreek en soos wagters op die mure die waarskuwing uitroep?

Nou verwys ek nie na kriminele vervolging en onderdrukking deur staatsorgane nie – dis iets algeheel anders. Maar daar is hierdie persepsie dat daar geen kritiek uitgespreek kan word teen kunstenaars se kuns nie. Dis louter bog. Net soos wat politici nie verhewe bo kritiek is nie, kan kunstenaars hulle ook nie op kunsvryheid beroep om kritiek te ontkom nie. Ons taak as kunstenaars is juis om die status quo te bevraagteken, nie om dit te bevorder nie.

Alte dikwels in Afrikaanse literatuur word bruin mense as arm, agterlik en deel van disfunksionele families uitgebeeld. En daardie skryfwerk word geprys, wat die enkele narratief aanmoedig. My eerste boek, Troos vir die gebrokenes, het oor so ’n arm, disfunksionele familie gegaan. Met my volgende boeke het ek doelbewus weggebreek van daai stereotipe. Ons is nie almal so nie. Daar is ander narratiewe, en ek het besef as ek dit nie vertel nie, gaan die ou stereotipes voortduur.

En wie weet, dalk is daar iewers ’n jong kind wat nog nooit van helde wat soos hy lyk, gelees het nie, wie se idees nou verander. Die sukses van die fliek Black Panther het die narratief dat ’n storie met swart hoofkarakters nie ’n lokettreffer kan wees nie, op sy kop geswaai.

Dalk is daar iewers ’n jong meisie wat besef dat die stereotipe van ’n jong, ongetroude tiener-ma nie haar vanselfsprekende voorland is nie. Dalk sien sy dit nie voor haar nie, maar sy kan dit tussen die blaaie van ’n boek lees. Of op die skerm voor haar sien.

Storiemaak is magic. Boeke maak is magic. Ek kon nie vind wie die volgende gesê het nie, maar dis so waar: “Ever realized how surreal reading a book is? You stare at slivers of tree for hours on end hallucinating vividly.”

En as magic ons nie ’n kykie op ’n beter wêreld gee nie, waarvoor is dit dan daar?

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek dink dat as elke etniese groep in SA selfbeskikking begin doen, ons minder beskuldigings oor die kleurlyn sal kry. Wie weet ...

  • Bettina se persepsie van wat fiksie is, klink so effe van spoor af.
    "Alte dikwels in Afrikaanse literatuur word bruin mense as arm, agterlik en deel van disfunksionele families uitgebeeld. En daardie skryfwerk word geprys ..."
    Die maatstaf vir beoordeling is literatuur. Jy kan nie 'n boek afskiet omdat dit nie 'n werklikheid uitbeeld waarvan jy meer hou nie. Miskien het jy 'n probleem om fiksie en nie-fiksie te onderskei.

  • Dit verstom my steeds dat daar persone en groepe is wat blykbaar die reg het om bejammer te word. Wie of wat keer enige persoon om enige skryfsel te publiseer vanuit 'n eie perspektief? Wie of wat keer enige persoon om sy of haar omstandighede te verbeter? Elke mens is tog vry om op die uitdagings van die lewe te antwoord op 'n persoonlike wyse.

  • Die vraag ontstaan: voel die "ander party" hoegenaamd nie die behoefte om die narratief deur eie aanbieding tweekantig te maak nie?
    Is die weergawe wat behoue bly, nie juis ook 'n antwoord op die vraag, Was jy/julle geregverdig in julle optrede nie? Want, juis dié weergawe moet regverdiging of veroordeling tot gevolg hê.
    Dus, die geskiedskrywer of letterkunde-skepper, laat altyd die leser/ontvanger met die geleentheid om beoordelaar te wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top