In die vyftigerjare van die vorige eeu was die drama Nathan der Weise van Gotthold Ephraim Lessing ’n voorgeskrewe boek vir matriek-Duits. Die drama bevat verskeie lewenslesse, oa oor verdraagsaamheid en empatie, sake wat in die huidige oorlogsituasies baie relevant is.
Interessant genoeg speel die drama juis af in Jerusalem tydens ’n wapenstilstand gedurende die Derde Kruistog (1189–1192). Soos vandag, was daar onmin tussen die Arabiere, die Jode en die Christene. Die hoofkarakters was die Jood, Nathan, die Arabiese sultan, Saladin, en die Tempelier, ’n Christelike ridder van die Kruistogte.
Met sy terugkeer van ’n sakereis verneem Nathan dat sy pleegdogter, Recha, deur die Tempelier uit ’n brandende huis gered is. Die ridder is ’n tyd vantevore krygsgevange geneem, maar is deur Saladin begenadig, glo omdat hy soos Saladin se broer gelyk het.
Saladin se geldsake was benard en op aanbeveling van sy suster besluit hy om die ryk Nathan te nader. Eerder as om met die deur in die huis te val en ’n lening te vra, besluit hy om vir Nathan ’n strikvraag te vra: Watter geloof, dink hy, is die ware een? Sou Nathan sy eie geloof as antwoord gee, kon dit hom die gramskap van die heerser, Saladin, op die hals haal. Kies hy die Moslemse geloof, kon Saladin van hom vereis om hom daartoe te bekeer.
Nathan besef wat Saladin se plan is en besluit om die vraag deur middel van ’n sprokie, “Die gelykenis van die drie ringe”, te beantwoord.
Die gelykenis van die drie ringe
Lank, lank gelede was daar ’n man in die Ooste wat ’n ring van onskatbare waarde besit het. Die steen was ’n opaal waarin honderde mooi kleure rondgespeel het en wat die geheime krag besit het om die draer daarvan voor God en voor die mense geliefd te maak, mits die ring met die regte gesindheid gedra word.
Geen wonder, dus, dat hy die ring nooit van sy vinger wou afhaal nie. Sodat die ring in familiebesit bly, het hy die reël gemaak dat die ring altyd nagelaat word aan die gunstelingseun, nie noodwendig die oudste nie. Dié seun word dan die hoof van die huis, op grond van die krag wat die ring aan hom verleen.
........
Hy het sy drie seuns ewe lief gehad en hulle was al drie ewe voorbeeldig en gehoorsaam.
........
Só is die ring dan geslagte lank van vader na seun oorgedra, totdat, op ’n dag, ’n vader voor ’n yslike dilemma te staan gekom het. Hy het sy drie seuns ewe lief gehad en hulle was al drie ewe voorbeeldig en gehoorsaam. Hy kon nie besluit aan watter een hy die ring sou nalaat nie. Toe die ring tydens ontmoetings met die seuns ter sprake gekom het, het hy uit swakheid uiteindelik die ring aan al drie seuns afsonderlik belowe.
Toe die einde van sy lewe nader kom, het hy besef dat hy ’n plan moet maak. Hy wou nie sy belofte aan enige van sy seuns verbreek nie. Hy ontbied toe die beste juwelier in die land en versoek hom om nóg twee ringe te ontwerp en te vervaardig met die vereiste dat hulle absoluut identies aan die oorspronklike een moet wees.
Die juwelier het hom só goed van sy taak gekwyt dat die vader self nie die oorspronklike een kon onderskei nie. Opgeruimd en vrolik het die vader sy seuns geroep, een op ’n keer, elkeen geseën en vir elkeen ’n ring gegee – en toe gesterf.
Die storie eindig natuurlik nie daar nie, want skaars was die vader dood, of daar breek, soos te verwagte, ’n twis tussen die drie seuns uit. Elkeen kom met sy ring en eis om die hoof van die huis te wees. Die uiteinde was dat die broers hulle tot die gereg gewend het en elkeen voor die regter gesweer het dat hy die ring direk uit sy vader se hand ontvang het – wat natuurlik waar was! Nie een van die broers het vir ’n oomblik daaraan gedink dat die vader sélf die probleem geskep het nie. Hulle pak toe die skuld op mekaar. Die regter was geïrriteerd. Wat verwag hulle van hom? Sonder die vader se getuienis kan hy nie sonder meer uitspraak lewer nie. Dit is nie sy werk om raaisels op te los nie. Dalk moet die regte ring self van hom laat hoor.
Ewe skielik het daar ’n lig vir die regter opgegaan: Die regte ring is veronderstel om die wonderkrag te besit om die draer daarvan geliefd te maak, voor God en voor die mense. Hulle selfsugtige en liefdelose optrede is bewys dat nie een van die broers die egte ring het nie. Die vader het waarskynlik drié nuwe ringe laat maak omdat die egte ring verlore geraak het.
En so het die regter voortgegaan: As julle nie my raad, pleks van my uitspraak, wil aanvaar nie, gaan net weg! My raad is egter: Aanvaar die saak ten volle soos dit is. Elkeen van julle het ’n ring van julle vader, dus glo elkeen dat sy ring die egte een is. Dis moontlik dat julle vader die tirannie van die ring nie verder in sy huis wou duld nie! En seker dat hy julle al drie liefgehad het en boonop ewe veel liefgehad het, omdat hy twee nie wou wegstoot om een te begunstig nie.
Nou ja! Elkeen moet hom beywer vir onkreukbare, onbevooroordeelde en bevryde liefde. Elkeen van julle moet daarna strewe om te wedywer om die krag van die steen in sy ring aan die dag te lê. Hierdie krag moet gepaard gaan met sagmoedigheid, met hartlike verdraagsaamheid, met goeie dade, met innige oorgawe aan God. En as hierdie kragte by julle kinders se kinders se kinders voorkom, dan nooi ek julle om oor duisend jaar weer uit om voor hierdie stoel te verskyn. Daar sal dan ’n wyser man as ek op hierdie stoel sit en spreek. Gaan!
So het die beskeie rigter gesê.
Nadat hy die sprokie vertel het, som Nathan op: “Daar is ondersoek ingestel, gestry en gekla. Tevergeefs – die egte ring was nie te onderskei nie.” Na ’n pouse waarin hy op ’n antwoord van die sultan wag, vervolg hy: “Amper net so onbewysbaar, as nou – die regte geloof.”
Die gesprek verloop verder só:
Saladin: “Is dít die antwoord op my vraag?”
Nathan: Moet ék verskoning vra as ék die ringe nie kan onderskei nie, siende dat die vader die ringe opsetlik so gemaak het dat hulle nie te onderskeie is nie?
Saladin: Die ringe! Moenie speletjies met my speel nie! Ek was van opinie dat die gelowe wat ek vir u genoem het, tog wel te onderskeie was. Tot selfs deur die kleredrag, die spyse en die drank!
Nathan: En net op grond van hul óórsprong nié.
Want is alles nie op verhale gebaseer nie? Geskrewe of oorgelewer? En verhale moet tog slegs te goeder trou aangeneem word? Dan nie?
Nou wie se lojaliteit en geloof trek ’n mens die minste in twyfel? Tog sy eie. Tog dié van hulle wie se bloed ons is, hulle wat ons van kindsbeen af die bewyse van hulle liefde gegee het en ons nooit bedrieg het nie. So asof dit tot ons voordeel was om bedrieg te geword het?
Waarom sal ek dan my vaders minder glo as joune? Of omgekeerd, hoe kan ek van jou verlang dat jy jou voorvaders verloën, net om myne nie te weerspreek nie? Of omgekeerd. Dieselfde geld vir die Christene. Dan nie?
|
Gotthold Ephraim Lessing (1729–1781) Lessing is in 1729 in Kamenz in Sakse as die seun van die pastoor Johann Lessing gebore as een van 12 kinders. Hy is deur sy vader tuis onderrig en het later aan die Vorsteskool in St Affra in Meissen studeer. Die rektor het van hom gesê: “Hy is ‘n perd wat dubbele voer nodig het; lesings wat vir ander te moeilik is, is vir hom kinderspeletjies.” Later studeer hy teologie aan die Universiteit Leipzig, maar slaan oor na medisyne en later na tale, filosofie en die digkuns. Hier het hy gou die beginsels van die dramatiese digkuns aangeleer. Sy eerste drama was Der junge Gelehrte. Sy verdere werke was onder andere Laokoon, Minna von Barnhelm en die tragedie Emilia Galotti, waarin hy die vorstehuise aangevat het. Lessing het hom ook in sy later jare met teologiese, historiese en diep-filosofiese navorsing besig gehou. Van hom is gesê dat hy die soeke na die waarheid hoër aangeslaan het as die waarheid self. In die sterfkamer van sy vrou skryf hy sy laaste en grootste werk: Nathan der Weise. Die drama is geskryf in jambiese pentameter, ’n rymskema wat ook deur Shakespeare in sy dramas en sonnette gebruik is. |
Lees ook:
Power politics in the Middle East: How the global North-South divide capitalises on trauma
Is daar hoop vir ’n vreedsame oplossing in die Israel-Hamas-konflik?


