“Die ewige lewe is geleefde lewe” en “Aan die einde is die begin”. ’n Persoonlike besinning oor die afsterwe van Jürgen Moltmann

  • 6

Op Maandag 3 Junie 2024 het een van die bekendste teoloë van die 20ste eeu, Jürgen Dankwart Moltmann (1926–2024), die grense van hierdie lewe oorgesteek en die “onbeperkte ruimte” (Job 36:16, 2020 Afrikaanse Vertaling) van God betree. 

Nagenoeg 60 boeke (kyk hier) het uit sy pen verskyn, en hy sluit sy laaste een, wat einde 2023 verskyn het (kyk hier), af met ’n oordenking na aanleiding van Job 36:16 (in die publikasie per ongeluk as vers 26 aangedui!). Hy skryf in die laaste paragraaf dat jy met die dood “uit die kake van benoudheid” weggelok word (vers 16).

Hierdie gedagte sluit natuurlik ook nou aan by sy welbekende boeke soos In the end – the beginning: the life of hope (2004) en veral sy outobiografie, A broad place (2008). Die titels spreek vanself. Kyk ook Psalm 31:9 vir die “ruim plek” waar God ons heen lei en wat Moltmann as titel van sy lewensverhaal gekies het.

Die Universiteit van Pretoria (UP) het op 6 April 2017 ’n eredoktorsgraad in die teologie aan Moltmann toegeken. Dit was sy sewentiende eredoktorsgraad, en verlede jaar het die Universiteit van Wuppertal – waar sy akademiese loopbaan in 1958 begin het – aan hom sy laaste eredoktorsgraad toegeken. 

Moltmann het met UP se gradeplegtigheid destyds ook die hoofrede gelewer en dit het juis oor bogenoemde wysheid gehandel. Hy sê toe in sy slotparagraaf aan die studente die volgende (luister hier na sy toespraak): 

In the end, there is a beginning. Young men and women, let your hope arise. We have so much sick and dying hope around us. There is resignation. There is the arrogance of the powerful and the apathy of the powerless. Drop arrogance and learn to listen to others. Get out of apathy, lift your head, and raise your voice. Break out of indifference and get involved. Life is so beautiful!

Ek het vir etlike jare reeds ’n persoonlike verhouding met Jürgen gehad (hy het daarop aangedring om op die voornaam genoem te word). Ek het hom ook in Junie 2016 aan sy huis in Biesingerstraat 25, Tübingen, Duitsland besoek en die oggend daar saam met hom deurgebring. 28 April 2024 was die laaste keer dat ek ’n e-pos van hom ontvang het (waardering betuig vir verjaarsdagwense aan hom gestuur). 

Moltmann het nooit op ’n rekenaar of woordverwerker gewerk nie, maar die laaste drie jaar tog by wyse van e-pos op ’n iPad gekorrespondeer, en kon ek waardevolle paragrawe van ons korrespondensie bewaar.

Skrywer en Jürgen Moltmann voor sy huis in Tübingen op 27 Junie 2016 (Foto: Johan Buitendag)

Om terug te kom na die betoog van ’n onbeperkte ruimte en die begin wat aan die einde is, wil ek ’n spesifieke paragraaf uit ons persoonlike korrespondensie met die lesers deel. Opvallend is uiteraard sy uitsien na die ewige lewe, maar nie sonder die bewussyn van lyding in hierdie lewe nie. (Kyk sy bostaande aanhaling gerig aan die studente tydens die gradeplegtigheid.) 

Ons het in Duits gekommunikeer, en ek vertaal die volgende paragraaf wat hy op 13 Februarie 2023 aan my geskryf het, so noukeurig as moontlik: 

Ek besin in my aand-uur oor my dood en wederopstanding. Dit kan nie meer ver wees nie. Ek is daarvan oortuig dat ons nie uit ons grafte opgewek sal word nie, maar reeds in ons sterf-uur. So berei ek myself voor op my persoonlike wederopstanding tot die ewige lewe. Die ewige lewe is [vir my] ook geleefde lewe. Ek berei myself daarop voor deur elke oggend die nuwe dag met vreugde en dankbaarheid te verwelkom. 

Opmerklik is dat Moltmann tot in sy laaste jare hoopvol bly lewe het, maar nie die wandade en selfs gruwels van hierdie lewe geïgnoreer het nie. Op een van die briewe waarin ek my waardering teenoor hom betuig het, antwoord hy op 10 Augustus 2023 soos volg (uit Duits vertaal):

Ek dink nie so baie van myself soos jy in jou brief van my dink nie. Op my ouderdom kom die vergete sondes en die verdronge nederlae snags in herinnering. Dit is wel bemoedigend om te glo dat God “al jou sondes vergewe het en jou lewe van verderf verlos het”.

Ek het reeds verwys na die laaste boek wat Moltmann geskryf het. Die laaste artikel wat hy geskryf het, is in 2023 gepubliseer toe hy tot my LXX Festschrift-bygedra het. In die Acknowledgements (kyk hier vir die geheel) beskryf hy die grond van ons besondere band:

I am delighted to contribute to this Festschrift of my friend Johan Buitendag. [...] During his visit to Tübingen in 2016, he found me in a state of sorrow over my wife, Elisabeth, who had died three weeks ago in my arms. A year before that, his wife Engela had passed as well. These losses created an emotional bond between us. We have been close friends ever since.

Hierdie gemeenskaplike verlies van ons albei se lewensmaats het ’n emosionele band tussen ons gesmee wat nie net in ons vriendskap nie, maar ook in ons teologie tot uitdrukking gekom het. Ek kan onomwonde getuig dat geen gedagtekonstruk my eie teologie so gevorm het, en dat geen persoon my menswees so geraak het, as juis dié van Jürgen Moltmann nie. Daarom was dit ook ’n eer toe een van sy kinders (vier dogters, drie skoonseuns en hulle kinders) die begrafniskennisgewing aan my persoonlik gestuur het en my boonop gevra het om ’n paar gedagtes neer te pen van ons twee se verhouding waarvan, soos ek aflei, uittreksels dalk opgeneem mag word in ’n beoogde herinneringsbundel.

Die lewensverhaal van Moltmann het natuurlik sy eie menswees onteenseglik gevorm. Hy is op 08 April 1926 in Hamburg gebore. As jeugdige was hy verplig om aan die Tweede Wêreldoorlog deel te neem en is weldra deur die Geallieerdes gevange geneem. Hy begin sy teologiese studie as krygsgevangene in Engeland. Met die terugkeer na sy vaderland in 1948 het hy hom aan die Universiteit van Göttingen in die teologie ingegrawe. 

Daar ontmoet hy vir Elisabeth Wendel met wie hy getroud was tot haar afsterwe op 7 Junie 2016. Albei van hulle voltooi hulle doktorsgrade onder die bekende Barth-kenner, Otto Weber. 

Moltmann begin, soos reeds gesê, sy akademiese loopbaan in 1958 as professor in sistematiese teologie in Wuppertal. In 1963 kry hy ’n aanstelling by Bonn-universiteit en van 1967 tot sy aftrede in 1994 is hy by Tübingen-universiteit. Om ’n breë oorsig oor sy teologie te kry, kan uiteraard baie bronne geraadpleeg word. Om selfs net ’n klompie aanhalings uit sy werke te lees, is al klaar baie bevredigend. (Kyk hier vir sekere populêre sitate van Moltmann.)

Moltmann het in die vorige eeu geen goeie indruk van Suid-Afrika gehad nie. In 1974 ontvang hy ’n eerste uitnodiging om Suid-Afrika te besoek, na aanleiding van ’n inisiatief van Desmond Tutu, maar die destydse regering weier sy visumaansoek. ’n Tweede aansoek volg later en hy bekom hierdie keer wel ’n visum en besoek Suid-Afrika in 1978.

Dit was vir Moltmann geen goeie ervaring nie. In sy outobiografie (bl 235) beskryf hy sy weersin in die rassediskriminasie wat hy in Suid-Afrika waargeneem het, byvoorbeeld in restaurante, op lughawens, of waar hy hom ook al bevind het. Hy skryf bewoë van die “icy rejection” wat hy in Potchefstroom ervaar het. Tydens sy terugvlug na afloop van die besoek het hy gevolglik ’n besliste onderneming aan homself gemaak om Suid-Afrika nooit weer te besoek alvorens apartheid opgehef en verwyder is nie.

Die doel van my besoek in 2016 aan hom in Tübingen was juis om hierdie perspektief te probeer verander, en ek het ook ’n lywige dokument voorberei oor die destydse status van die Universiteit van Pretoria en transformasie – wat ek hom voor die tyd per koerier laat bekom het. 

Moltmann was tydens die ongeveer tien dae wat hy in Suid-Afrika was, aangenaam verras en het op etlike plekke en in verskeie geskrifte van sy positiewe indrukke getuig. Hy het later dieselfde jaar in Leipzig die hoofrede gehou met die 500-jarige viering van die Hervorming van Martin Luther deur die Wêreldgemeenskap van Hervormde Kerke (WCRC) en pertinent in sy toespraak na die Universiteit van Pretoria verwys en die Eeufeesjaar se tema van die “Oopmaak van die hekke ...” aangeprys. (Kyk hier vir die toespraak.) 

In ’n latere boek van hom, Christliche Erneuerungen in schwierigen Zeiten (2018), herhaal hy hierdie erkenning en skryf hy op bl 44 dat die wêreld kennis behoort te neem van Tukkies se “Oopmaak-teologie”.

Die skrywer en Jürgen Moltmann in ligte luim, Merensky Biblioteek, April 2017 (Foto: EYEscape)

Moltmann se teologie is die eerste keer deur Hervormde teoloë aan UP bekend gestel deur Frans van Zyl toe hy in die sewentigerjare Moltmann se Theology of hope (reeds in 1964 verskyn) aan studente voorgeskryf het. 

Vanaf die vroeë 1990’s, toe ek as deeltydse dosent aan die Fakulteit Teologie (Afdeling A) aangestel is, is Moltmann se teologie met erns gedoseer. Dit is vandag nog steeds die geval. My voormalige kollegas Veldsman en Van Wyk skryf in Beeld van 5 Junie 2024 ook in hulle huldeblyk aan Moltmann dat al meer as 50 studente net aan UP se Fakulteit Teologie en Religie alleen hulle nagraadse studies oor Moltmann se teologie voltooi het. (Kyk hier vir die volledige berig.) 

As inleiding tot Moltmann se teologie, en terselfdertyd ook as ’n breë perspektief vir studente, het ek in die negentigerjare van die vorige eeu Moltmann se The future of creation (1979) voorgeskryf. (Kyk hier vir inligting oor die boek.) 

Met die vestiging van die veelkerklike Fakulteit Teologie aan UP in 2000 is daar stelselmatig ook meer aandag aan van Moltmann se ander werke gegee, byvoorbeeld: Theology of hope (1964), The crucified God (1972), The Church in the power of the Spirit (1979), Trinity and the Kingdom of God (1980), God in creation (1985), The Way of Jesus Christ (1989), The Spirit of Life (1991), The coming of God (1995), Experiences in theology (1999), Science and wisdom (2002), In the end the beginning (2004), A broad place: an autobiography (2009), Sun of righteousness, arise! (2010), Ethics of hope (2012), The Living God and the fullness of life (2015), The Spirit of Hope: theology for a world in peril (2020).

In een van my laaste briewe aan Moltmann het ek afgesluit met ’n gedig getitel “Der Abschied” uit die bundel Das Lied von der Erde (1908) van Hans Bethge, getoonset deur Gustav Mahler, in wie se musiek mens ook sy eie lyding hoor. Die gedig is natuurlik in Duits vir Moltmann gesiteer. (Kyk hier vir die oorspronklike teks met ’n Engelse vertaling daarnaas.) ’n Afrikaanse vertaling van die laaste twee strofes lui soos volg: 

Waar gaan ek heen? Ek loop, onderweg in die berge.
Ek soek rus vir my eensame hart.
Ek skry voort na my tuiste, my rusplek.
Nooit sal ek weer in die vreemde ronddwaal nie.
My hart is stil en wag dat sy uur kom.

Oral spruit die liewe aarde
Lentebloeisels en word weer groen – 
Opnuut! Oral en ewig
Word die vertes weer blou!
Ewig … ewig …

Die laaste reël van die eerste strofe hier bo aangehaal funksioneer as ’n oorgang na die (ewige) rus en is aangrypend, veral in die oorspronklike vorm: “Still ist mein Herz und harret [wartet] seiner Stunde!” 

Lees nou weer die opskrif van hierdie persoonlike oordenking; albei frases daarin het Moltmann self geformuleer: “Die ewige lewe is geleefde lewe”, en “Aan die einde is die begin.”

Johan Buitendag
Professor Emeritus
Universiteit van Pretoria

  • 6

Kommentaar

  • Annelien Rabie-Boshoff

    Wat 'n wonderlike huldeblyk deur Johan Buitendag geskryf oor Jürgen Moltmann, albei teoloë wie se werke ek geweldig bewonder. Ek was besonder bevoorreg om as een van Johan Buitendag se laaste PhD-studente (voor sy aftrede) my graad in April 2017 by UP te ontvang ... dieselfde gradeplegtigheid waar Jürgen Moltmann die gasspreker was waarvan Johan melding maak, en ek die besondere geleentheid gehad om persoonlik met Molmann kennis te kon maak. Dankie Johan vir hierdie besondere huldeblyk aan 'n besondere teoloog!

  • Dankie, Johan. Ek glo sy afsterwe was vir jou ook ‘n persoonlike verlies. Partykeer het mens vriende wat nader is as ‘n broer. My innge simpatie ook aan jou. As nieteoloog is my kennis oor Moltmann en sy teologie uiteraard baie beperk, maar uit jou skrywe is dit duidelik dat hy inderdaad ‘n besonderse mens en teoloog was en die wêrels is armer met sy afsterwe.

  • Nick Bezuidenhout

    Ek was bevoorreg om met sy besoek aan SA in 1978 'n voordrag van hom by UNISA by te woon. Die tema: Iets soos (uit Engels vertaal) "Die bevryding van die verdrukker." 'n Besonderse perspektief en geleentheid.

  • Naas Ferreira

    Ek was teenwoordig toe Moltmann in 1978 by UNISA gepraat het. Hy het gesê dat daar drie vorme van diskriminasie is: rassisme, seksisme, en kapitalisme. Johan het in hierdie huldeblyk 'n hele aantal temas op die tafel geplaas: Johan se vriendskapsverhouding met Moltmann en hulle gedeelde verlies aan hulle lewensmaats, Johan se teologiese verbintenis met Moltmann en Moltmann se siening van die dood en lewe.
    Ek het "The Crucified God" in die sewentigerjare op RAU gelees wat my beïndruk het. Ek het toe nog nie veel van sy panenteïsme geweet nie en dit eers later ontdek.
    Baie geluk aan Johan met hierdie uitstekende en openhartige nadenke oor iemand bewonderd en ons medelye met die afsterwe van 'n goeie vriend.

  • Verlede Sondag tydens die diens dink ek aan my tienerjare toe ek die gryse omies en tannies so sit en betrag en benoud gewonder het of ek ook eendag so sterk in die geloof sou staan. Nou’s ekself ‘n ‘gryskop omie’. En terwyl ek lees aan die huldeblyk hierbo, kruip daardie ou beklemmingkie weer terug, want hier is vir jou gelòòf - en èk skiet ver tekort.

    En soos hy sê - steek skuld gereeld sy kop uit:
    “Op my ouderdom kom die vergete sondes en die verdronge nederlae snags in herinnering.”
    Oulik is dit dat jy hierdie eers later ná wroeging onthou:
    “Ek, ja, Ek alleen, is die Een
    Wat julle sondes uitwis.
    Ek doen dit terwille van Myself
    En dink nie weer daaraan nie”. ( Jes. 43:25, NLV 2006)

    Dat dit nooit tydens diè herinnering opkom kom nie? Nou ja.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top