Die estetika van Lyfskap: ’n resensie

  • 1

Titel: Lyfskap
Samestellers: Sophia Kapp  en Leonie van Rensburg
ISBN: 9780639605968
Uitgewer: LAPA

Jare gelede het ek die pragtige film The lover, gebaseer op die semi-outobiografiese roman deur Marguerite Duras, gekyk. Dit is die verhaal van ’n jong Franse meisie in Franse Indo-China wat die aandag trek van ’n ouer, Chinese man en die verhouding wat dan tussen hulle ontwikkel. Seker die mees erotiese toneel in die hele film was toe die man haar ’n geleentheid aanbied en hulle agter in sy motor sit. Hul hande is al twee op die sitplek langs hul bene en dan, baie stadig, raak hul pinkies liggies aanmekaar. Na al die jare, bly daardie toneel my steeds by.

Dit was ’n kombinasie van filmtegniek, musiek, mooi akteurs, my jeugdige sin vir die romantiese en die verbode, en natuurlik die afwagting van wat jy vermoed tussen die twee geliefdes gaan gebeur. Met opgehoue asem het ek verlore geraak en was die seksuele geladenheid tussen die twee karakters so groot dat dit my verbyster het. Ek het daardie toneel as só eroties en prikkelend ervaar, meer nog as die eksplisiete sekstonele wat later volg.

Maar, hoekom het juis daardie toneel my so geraak? Net daar het ek die definisie van die erotiek ervaar sonder dat ek op daardie ouderdom eers geweet het dat daar goed bestaan soos erotiek of pornografie. Dit was die estetika rondom die seksuele wat my geprikkel het. Chopin se Wals in B-mineur, Jane March se skoonheid, die sepia-agtige toon van die film en die versugting na liefde in die hart van ’n dromer – en, natuurlik, ’n pragtige storielyn, wat nog ’n onderskeidende faktor is tussen die erotiese en die pornografiese.

Die kortverhaalbundel Lyfskap, saamgestel deur Sophia Kapp en Leonie van Rensburg, stel homself op die voorblad voor as ’n versameling “erotiese kortverhale”, wat natuurlik ’n spesifieke verwagting by die leser skep. Dit bring ook die vraag na vore wat die eintlike skeidslyn dan is tussen die erotiese en die pornografiese, veral wanneer Sophia Kapp in ’n onderhoud op Boekemakranka sê dat hulle in die keurproses verhale uitgegooi het wat alleenlik pornografies was. Wanneer dit kom by die erotiese, is daar altyd ’n element van kulturele moraliteit betrokke. Wat in een kultuur of era aanvaarbaar is, is onaanvaarbaar in ’n ander, en wat vir een persoon eroties is, is dalk vir ’n ander weersinwekkend.

Die erotiek moet wel seksuele prikkeling tot gevolg hê, en bewerkstellig dikwels ’n gevoel van antisipasie wat nie noodwendig die sogenaamde “happy ending” van pornografie het nie. Verder is daar ’n sterk estetiese element wat presies die element was van The lover wat die erotiese so sterk uitgebou het. Daardie estetika word dan ook op die voorblad van Lyfskap weerspieël. Die swart-en-wit foto kan natuurlik lei tot allerlei negatiewe kommentaar oor die vroulike subjek se posisie en lyftaal, maar ek het gedink die kunsfotoagtige beeld is gepas vir die voorblad van so ’n bundel.

Na my vertaling van die Kamasutra, Afrikamasutra, verskyn het, is ek natuurlik gebombardeer met vrae soos: “Hoe skryf ’n mens seks in Afrikaans? Daar is dan nie ’n woordeskat daarvoor nie.” Hierdie tipe kommentaar het my verbyster, want dit het my nooit eers opgeval dat ’n mens ’n hele taal sal kategoriseer as “onseksueel” nie. Die publikasie van hierdie bundel erotiese kortverhale is dan net nog ’n bewys dat daar wel heerlike en suksesvolle erotiek in Afrikaans geskryf kan word.

Nie al die verhale in die bundel is uitermatig eroties, mooi of suksesvol nie, en van die verhale was vir my effens ontstellend in die sin dat die protagonis óf bedwelmd óf dronk was gedurende sy of haar seksuele ondervindings (byvoorbeeld in die verhale “Dissels” en “Nagblom”). Die ander opvallende tendens was dat die hoofkarakter in etlike stories teologie studeer, gaan studeer (“Die niggie”), of iewers oor die dominee fantaseer (“Huisbesoek”). Sê dit dalk iets van die psige van die Afrikaanse leserspubliek en is dit dan juis waar die kulturele moraliteit na vore tree?

Elsa Winckler en Sophia Kapp se verhale het nie teleurgestel nie en was in ’n tipe romantiese ontspanningsfiksie genre geskryf waarvoor hulle bekend is. Maya Fowler se “Skarlakenroos” was soos ’n surrealistiese sprokiesdroom met ’n vae gedagte aan die seksuele, teenoor MS Burger se interessante verhaal, “’n Vrou soos John”, waar die verlede en ’n droomagtige hede inmekaar vloei. Die bundel bevat heelwat verhale wat verder die heteronormatiewe grense deurbreek en hoogtepunte van die bundel in sy geheel was Joan Hambidge se wonderlike “Vicky en Christina”, Karin Hougaard se “Die bibliofiel” en Celesté Fritze se “Gerugte van drake”.

’n Verhaal wat my egter omgekrap en as onsensitief en ongenuanseerd getref het, was Marion Erskine se “Die goue akker(s)”. Ons begin met ’n geïrriteerde Sandra du Toit, die hoofkarakter, Maggie, se korporatiewe dogter met ’n kort draad. Dadelik word die prentjie geskep van ’n ouer in ’n aftreeoord wat nie meer lekker by haar sinne is nie en beslis nie haar eie lewe kan lei nie; daar word gepraat van “voorskrifmedikasie” en “toestemming om deel te neem aan braaidag”, so asof die ma ’n kind is. Maar dan ontmoet die leser vir Maggie en sy word beskryf as ’n 75-jarige joga-fanatikus. Sy koop haar onderklere by La Senza en dra onmoontlik hoë, sexy hakke wat beslis die indruk skep dat daar net mooi niks met die lyf of kop van hierdie vrou skeel nie. Tog behandel almal om haar (van verkoopsdames en personeel by die aftreeoord tot haar dogter) haar soos ’n imbesiel. Van die ander koddighede in die verhaal is dat sy een, geskeduleerde Viagra-pil oor die apteektoonbank koop, nogal vir iemand anders, en sy kry ’n seksueel-oordraagbare siekte by ’n Uber-bestuurder wat sy dan rojaal deel met al haar seksmaats in die aftreeoord. Teen hierdie tyd in die verhaal het ek amper die boek teen die muur gegooi van walging vir die disrespek teenoor hierdie vrou (na wie almal verwys as Ouma of Oumatjie), al is sy net ’n karakter in ’n storie. Die verhaal kom seksisties, onrealisties en beslis neerhalend teenoor iemand van 75 oor. Daar is die persepsie dat erotika moreel meer aanvaarbaar is as pornografie, maar hierdie storie het my geheel en al omgekrap, byna asof ’n ouer persoon wat seksueel is, laggenswaardig is.

Twee verhale wat my bygebly het en my laat smag het vir nog, was Jean-Pierre de Kock se aangrypende “Die niggie” en die slotverhaal, Riana Scheepers se “Troos”. “Die niggie” is een van die langer verhale, intens en ’n literêre hoogtepunt in die bundel. Ek het gewens dit was die eerste hoofstuk van ’n roman wat ek verder wou verslind. Ook “Troos” was ’n verhaal wat ek gewens het ek net kon aanhou lees.

Daar is soveel sterk verhale in die bundel dat dit beslis die lees werd is. Soos dit die erotiese betaam, is die seksuele ’n integrale deel van elke storie, al is dit in party verhale net deur die ligte aanraking van twee pinkies met die suggestie van wat gaan volg. As pornografie seks beskryf sonder ’n storielyn, dan is Lyfskap beslis erotiek waar die emosionele en seksuele reis van die karakters sterk na vore kom en waar seksuele temas op ’n omsigtige en literêre wyse benader word. Beslis ’n waardige toevoeging tot erotiese kortfiksie in Afrikaans.

Lees ook:

Katelknaap deur Leon van Nierop: ’n resensie

Die sin van die hut deur Gilbert Gibson: ’n resensie

Boekresensie: Suikersoetsonde deur Dina Botha

  • 1

Kommentaar

  • Diana Vermeulen

    Mbt die kommentaar ivm Marion Erskine se verhaal kan ek glád nie saamstem nie. Dit was inteendeel een van die hoogtepunte van die bundel vir my. Bejaardesorg was en is al die jare een van my passies en het ek oor die jare 'n hele paar sulke dames ontmoet en van hulle is tans vriendinne, ongeag die groot ouderdomsverskil. Was en is mál oor hulle. Ek het dit geensins disrespekvol of negatief ervaar nie. Maar, verwysingsraamwerke verskil en elkeen is sekerlik geregtig op hul opinie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top