Die sin van die hut deur Gilbert Gibson: ’n resensie

  • 1

Die sin van die hut
Gilbert Gibson
ISBN: 9780798176934
Human & Rousseau

Van ’n bundel soos Die sin van die hut van Gilbert Gibson sou mens verwag dat die digter ’n belese akademikus is wat elke dag met literêre teorieë en taalverskynsels werk.

Belese is die digter wel, maar van beroep ’n internis.

Die sin van die hut is Gibson se sesde bundel en hy is vanaf sy debuut in 2006 die ontvanger van vele pryse. Hy staan bekend as ’n digter wat eksperimenteer met taal, wat taal uitdaag en ondermyn. Die uitgewer stel dit so: dat hy taal selfs benadeel en hierdeur nuwe betekenisse herskep of ontdek.

Met die eerste lees van die bundel weet mens onmiddellik dat jy hier te make het met ’n uitdagende bundel. Betekenis en sin (die “sin” van die titel) kom nie maklik nie. Dit verg toewyding in die lees en herlees om by die kern van die gedigte uit te kom.

Die titel is geneem van die Franse filosoof Gaston Bachelard, wat in sy werk The poetics of space geskryf het: “Die huis. Van kelder tot solder. Die betekenis van die hut.” Simbolies kan die huis gesien word as die sentrum van die wêreld. Dit versinnebeeld die beskerming van die Aardsmoeder en is die kern van die beskawing. Volgens Jung word die hut of huis verteenwoordigend van die self en wat in die hut gebeur, gebeur in onsself. Op Freudiaanse vlak is die hut vroulik en bied dit skuiling en sekuriteit. Dit is juis hierdie simboliese beeld wat Bachelard uitbrei en die huis ondersoek as verteenwoordigend van die komplekse, private ruimte van die self, wat op sy beurt die onderbou van Gibson se bundel word.

In hierdie sin word die titel dubbelsinnig. Die hut bied beskerming, maar terselfdertyd is daar ook die begeerte om om verskeie redes weg te breek uit die hut uit (“Sodat jy soos ’n duif pleit om hierdie ark te verlaat”). As die hut die self voorstel, word dit ’n eksistensiële vraag na die sin van eie bestaan. Die hut is die ruimte van verhoudings – die verhouding tussen man en vrou, die gesin, die gemeenskap, maar ook die verhouding met die self. Alhoewel die hut beskerming bied van die buitewêreld en die elemente, lei dit ook tot ’n mate van afsondering of afsluiting van die buitewêreld, wat weer eens terugkeer na die verhouding met die self.

As gekyk word na die gedig “(drumpel)” kan die hut die onbewuste verteenwoordig, die drumpel wat oorgesteek moet word. Terselfdertyd word die meubels as loopgrawe beskryf wat oor die drumpel “bal en klou om later die res/ van die huis met onrus te vul”. Die hut is dus nie altyd slegs vreedsame beskerming nie, maar ook ’n spasie van konflik en konfrontasie. Dan word die leser weer gedwing om die konflik te bevraagteken, want dan, terwyl die honde buite blaf, “talm (jou hande) oor my hande”.

In sy praatjie op Met vers en klank gesels Bernard Odendaal met Margot Luyt oor die hut of huis wat simbolies is van die poësie en die skryfkuns self. In daardie sin word dit dan ook ’n vraag na die onvolkome pogings om hier op aarde tuis te voel, die sin te vind. Die strewe om deur die woord beheer te kry en om betekenis vas te vat. Telkens word hierdie poging stilisties ondermyn deur punte aan die einde van elke gedig weg te laat, titels tussen hakies, asook etlike gedigte wat net-net ’n sonnet wil wees en dan nie is nie.

Beide die hut en die sin word weerspieël in die titels van elke gedig. Elke titel dui op ’n aspek van die huis (tuin, dreine, bodrumpel, dakraam, mure, gewel ens). Elke titel verskyn egter tussen hakies, wat op ’n byna toevallige invoeging dui. Iets wat dalk selfs weggelaat kan word. Dit word die bouproses of die poging om hierdie hut/huis op te bou. Maar, dan eindig ons paradoksaal met “(bouval)” as die laaste gedig.

Ten einde is die hut nie ’n spasie van die rasionele nie, maar die plek van emosie “(Die raamwerk van verraad)” en drome “(in die skuiling wat drome in jou are/ plaak)”. Telkens word hierdie emosie aangespreek in die verhouding met die aangesproke “jy” in die gedigte. Dit is kennelik ’n gekompliseerde verhouding – aan die een kant is “Jou mond soos ’n grys lyn” “(anneks)” wat dui op ’n onwrikbaarheid of selfs ongelukkigheid, maar aan die ander kant “klop ek in jou bloed” en “stuur jy my in die rigting van die hut” “(skuiling)”.

Van die gedigte is by tye ondeurdringbaar en by tye slaan die absolute skoonheid van die betekenis jou weer weg. Dit is soos om buite ’n pragtige huis te staan wat jy slegs deur ’n venster of hier en daar ’n oop deur kan bekyk. Op ’n tafel sien jy miskien ’n pragtige vaas en dan weer net ’n stukkie van ’n skildery. Maar jy weet dit is ’n kunswerk. Jy weet jy wil nog sien en so rek jy jou nek om net dalk ’n beter blik te kry.

  • 1

Kommentaar

  • Baie dankie vir die resensie, dit was baie behulpsaam, ek gaan hierdie bundel Vrydag kry, yay !!!
    Gibson se "vii" en "Vry-" bundels is ook beskikbaar by die winkels, maar ek sal dit bietjie later kry wanneer die fondse in orde is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top