Die entiteit

  • 0

Prent: https://pixabay.com/photos/burning-candles-candlestick-night-6768469/

Dit was die tyd toe Eskom se kragopwekkingskapasiteit gedaal het tot 53%. Beurtkrag, wat reeds sedert 2007 ’n ingeburgerde kultuur in Suid-Afrika geword het, het nou daagliks voorgekom. Vir maande reeds is die land lamgelê deur duisternis en ’n ongewone, serene stilte. Die algehele afwesigheid van white noise. Dit is nou afgesien van diegene wat van raserige kragopwekkers gebruik gemaak het. Die alternatiewe gebruik vir krag – sonpanele, UPS’e en omsetters – was nog in hulle kinderskoene, tegnologies primitief.

En dit was die tyd toe daar na bewering ’n aanslag op die lewe van André de Ruyter, hoof- uitvoerende beampte van Eskom, se lewe was deur middel van sianiedvergiftiging. 

*

Die groot spieël aan die oorkantste muur is die getuie van alles wat in die oopplanvertrek gebeur. Voor die spieël staan ’n Joodse kandelaar. Veertien kerse brand in die eetkamer. Die spieël verdubbel die lig, weerkaats die bank waarop die kat, Donna, opgekrul lê en slaap.

Die vrou by die eetkamertafel kyk op van haar skootrekenaar, van die spreiblad met die kolomme van die finansiële staat. 75% batterykrag: Sy sal haar werk kan voltooi voor dagbreek; dan weer die toestel laai wanneer die krag aankom en voor die volgende beurtkragfase aktiwiteit kortknip. Sy het vergeet om ’n herlaaibare lamp of flits te koop. Of dalk het sy net gewoond geraak aan haar goeie nagsig.

............
Die vrou by die eetkamertafel kyk op van haar skootrekenaar, van die spreiblad met die kolomme van die finansiële staat. 75% batterykrag: Sy sal haar werk kan voltooi voor dagbreek; dan weer die toestel laai wanneer die krag aankom en voor die volgende beurtkragfase aktiwiteit kortknip. Sy het vergeet om ’n herlaaibare lamp of flits te koop. Of dalk het sy net gewoond geraak aan haar goeie nagsig.
................

Die afgelope maande kon sy haar sintuie voel verskerp, haar intuïsie waaksaam soos ’n laseralarm. Met die koms van die beurtkrag en spesialisspanne wat al om die uur spook om ’n algehele ineenstorting van die nasionale elektrisiteitsnetwerk teë te werk, was die entiteit weer terug. In haar huis. Die “entiteit” (sy het hom/haar so gedoop by gebrek aan ’n sinvoller naam) het reeds vir jare sporadies sy opwagting gemaak. Die woorde “spook” en “goël” het sy teen elke prys vermy. Afrikaanses se spoke reduseer die astrale wêreld tot iets banaal; tot vrees en bygeloof. Lagwekkend. Sy kon met niemand direk daaroor praat nie. Niemand vertel hoe die televisie snags vanself aan- en afskakel nie. Hoe die skottelgoedwasser uit eie beweging sy maag vol vuil eetware begin was nie. Hoe die tydskakelaar op die wasmasjien ongevraagd aanskuif van 28 minute na 56 minute nie ... Nog minder kon sy sin maak uit die entiteit se aanvoeling. Haar gedagtes. Een somersnag het dit onverwags sag en deurdringend begin reën en die rekenaardiskoteek in die sitkamer het uit die bloute “Singin’ in the rain” begin speel.

Sy het regop gevlie in haar bed, haar geliefde, Miller, nog slapend langs haar, en in die gang afgesluip na die musieksentrum. Sy het die hooflig aangeskakel. Die luidsprekers binne-in die vertoonkas het liggies onder haar vingerpunte vibreer. Sy het verbaas aan die boks gevat; die resonans was nie haar verbeelding nie.

Die lied het klaar gespeel en opeens was dit stil. ’n Helder stilte. Sy kon vaagweg buite ’n geut hoor tik, ritmies soos ’n metronoom.

Daar moet ’n logiese verklaring vir alles wees, het sy geredeneer, ’n rasionele verklaring. Sy het haar broer in Pretoria gebel. Hy was ’n elektroniese ingenieur. En hom versigtig gepols oor die entiteit se teenwoordigeheid; gesê sy skryf ’n storie en soek inligting, en dít is wat sy “opgemaak” het. Oor verbeelding het haar broer nie beskik nie, maar hy was analities. Sy het notas neergekrabbel terwyl hy praat: lang, gekompliseerde relase oor elektrisiteitsvoorsiening waarvan sy nie veel verstaan het nie. Sulke dinge is onwaarskynlik, maar nie onmoontlik nie, het sy afgelei. Onegalige elektriese strominge. ’n Surplus elektrisiteit in die netwerk. Ensovoorts. “Nee, Sus, jou storie is bietjie vergesog,” het hy afgelui en sy het wrang geglimlag.

Bedags was dit haar rekenmeesterswerk. Sy het tuis gewerk; snags ook. Soms het sy bloot geskryf, persoonlike mymeringe en verse, en sy sou oudergewoonte lank en gedagteloos voor haar boekrakke bly talm tot sy haar hand uitsteek en ’n boek nadertrek. Dit is nie logies nie. Die boek sou oopval by ’n onderwerp of beskrywing of vers soortgelyk – of amper identies – aan die een waarmee sy besig was. Dis nie logies nie; nee, dis magies, en dis juis magiese denke wat sy probeer vermy het. Om met geloofsmense oor die entiteit te praat, sou bloot gelei het tot demoonteorieë of vermanings uit Efesiërs 6. En om met New Agers te praat sou magiese denke net verder aanvuur. Source. Light. Universe. Angels. Van alle gelowe en bygelowe het New Agers die grootste harte. Maar retoriek sou haar nie help nie.

3:00, wys die rekenaar se digitale horlosie.

Witching hour, dink sy dofweg en staan op om koffie te maak, onthou dan weer die krag is af.

........
3:00, wys die rekenaar se digitale horlosie.
Witching hour, dink sy dofweg en staan op om koffie te maak, onthou dan weer die krag is af.
...........

Maar die warmwaterkraan bly lank warm. Sy laat dit voluit loop, maak die koffiebeker vol water en roer twee lepels kitskoffie in. Haar hande braille in die donker.

Sy sluk die koffie vinnig, bitter en swart. Dan skuif sy die kort kombuisblinding op. Sy het die verskillende skakerings van duisternis leer ken. Sommige nagte is stroefdonker, afhangend van die stand van die maan.

’n Sekelmaan sweef tussen vlieswolke deur, ’n muwwe, beangste donker.

Laasnag was dit die sepiadonker van ’n skuur.

Maar dit kan altyd nóg donkerder voor die nag wegtint in ’n betowerende blouswart duisternis, die sterre soos sproeivuur, gerusstellend laag. Dan lig die gemoed en haal mens vryer asem.

Toe kom dit, die donker wat sy die meeste vrees, ’n duisternis waarin alle vloeilyne versmelt soos bewegende ink, ’n skrikwekkende Rorschach ...

Sy kyk by die venster uit. In die oorkantste woonstelgebou flikker daar plek-plek ’n lig. ’n Lamp. ’n Lanternlig. Maar haar nagsig is goed – of só het sy gedink.

Sy luister na die onaardse stilte, broos, soos die getik van grotwater. Dalk is daar net niks; net haar eie asemhaling. Sy kan haar hart hoor klop in haar kop.

Sy steek haar hande uit, vat die buitelyne van die suiker- en teeblikke raak. Sy peil die donker met vingerpunte. Vingers word verlengstukke van oë. Sy ken tog die binnelewe van haar donker huis; tas en sig loop saam ...

Vir ’n oomblik maak sy haar oë oop, en weer toe.

Dit is donkerder met haar oë oop. Haar handpalms raak klam. Die maan het agter ’n misbank wolke ingeskuif. Sy vingervat oor die koue marmeroppervlak; skuifel na die spieël vol lig.

Stamp haar toon. Onder die stoof is ’n staalpoot – sy het vergeet.

Sy krink ineen. Pyn is senuwees. Senuwees is lewe; is pyn. Sy wag dat dit bedaar, voel vir ’n pakkie sigarette in haar japon se sak.

Die aansteker is nie daar nie. Haar blinde regterhand trek ’n kombuislaai oop en soek.

Vat raak: ’n USB-aansteker. Sy laat los dit. Dit gaan nie werk nie, dis nie gelaai nie.

’n Ou Bic-lighter. Haar duim flik, maar die skroefkop haak vas.

Dood. Wie gaar al hierdie gemors op, sý of Miller?

Sy krap en tel ’n kersblaker op. Dit het gebuig, onthou sy. ’n Gevaarlike ding van ’n brosdun allooi. Sy het dit by ’n Chinese winkel gekoop. Sy swets en smyt dit terug in die laai.

Haar hand kriewel. Vuurhoutjies. Sy vat die vierkant vas en skud die boksie, luister hoe die inhoud rondval, haal ’n sigaret uit en weet hoe haar hande bewe in die donker.

’n Paar meter verder skyn die kandelaar moeg oor die teëls.

Die vuurhoutjie kners oor die swaelstrook; byt ’n vlam raak.

Vinnig nou. ’n Blou vlam brand laag.

............
Vinnig nou. ’n Blou vlam brand laag.
............

Verligting. Sy blaas die rook met ’n lang sug uit en staan net, vasgeval iewers in die donker soos in ’n skag. En sy weet. Die entiteit is daar, baie naby en baie teenwoordig.

Ook haar skootrekenaar het intussen in sy slaapmodus gedoof.

Sy het die teenwoordigheid van die entiteit as vriendelik ervaar – klink dit vreemd? Of eerder: Dit was nie kwaadwillig nie. Nie sover sy kon vasstel nie. Vir amper twee jaar het sy gespeel met teorieë. James van Praagh se werk oor die geesteswêreld bestudeer. Steeds gelees, gesoek: Kyk dieper, kyk altyd wyer, het sy haarself herinner. Daar was dr BJF Laubscher se verklarings oor paranormale aktiwiteite. Dalk was sy sélf die bron wat die entiteit se teenwoordigheid geaktiveer het, het sy geweifel. ’n Brein beskik immers oor ’n elektromagnetiese veld. Of dalk is dit die uitstralingsenergie van oorledenes in haar huis wat hulle invloed op elektriese apparaat uitoefen.

Dalk ...

Sy het gelees. Die werk van mistici en mediums. Selfs wetenskaplikes, soos Kübler-Ross. En hoe meer sy gesoek het, hoe meer het sy besef klinkklare verduidelikings bly buite die kwessie. Maar voorspooksels, bygeloof en drogredes, dít het gebly; en sy het begin geswyg, terdeë bewus van hoe absurd alles vir ’n buitestander moes klink. Bedags het sy die skottelgoedwasser, tuimeldroër en wasmasjien se deure oop gelos wanneer dit nie in gebruik was nie. Sodat die entiteit nie met die funksies peuter nie.

Elektriese strominge, het sy haarself probeer sus.

Nie almal kan in die donker inkyk nie. Maar al is sy ook hoe nokturnaal, nóú is dit te donker. Sy draai haar kop na haar selfoon langs die skootrekenaar op die groot tafel. Dit flikker op geleende tyd; die batterykrag is gedaan. Sy sal nie die foon se flits kan gebruik nie.

Daar is geen ander lig nie, net die kandelaar voor die spieël. Sy gee ’n tree vorentoe.

’n Geluid. Haar ore roer. Dit voel of haar ore na buite stulp van vrees.

Die kat.

Donna spring met een boog van die bank af, staan waarskuwend stil.

As jy wil weet wat aangaan, kyk na die reaksies van diere. Sy gee nog ’n tree, pynlik versigtig. Sy kom agter sy hink. Dis dan hoe ’n blinde moet voel, dink sy weemoedig; gestroop van visie, of selfbeeld, met net die tasbare herinnering van ’n visuele geheue.

Sy moet dringend by die kandelaar kom. Daar’s lig.

Voetjie vir voetjie nader. Sy hou haar oë op die groot spieël gerig; sy weet sy gaan die spieël binnestap, soos altyd, daardie vreemde gevoel wanneer jy jouself ontmoet.

Dan staan sy stil. Die vlamme. Die sewe vlamme begin te roer en die spieël boots die beeld na. Eers argeloos, dan abrup, dán ruk die kersvlamme driftig aan hulle middelpuntvliedende spil asof dit van die pit wil wegskeur.

Maar iets is verkeerd. Sy gee nog ’n paar treë om seker te maak.

Daar is niemand in die spieël nie. Die spieël se oog moet haar tog registreer, dink sy met ’n verlammende angs: Sy het al honderde kere vantevore hier, op presies dieselfde plek, na haarself gestaan en kyk.

Donna sluip nader, sak op haar flanke en rys weer op haar voete.

Daar is geen beeld nie. Die spieël wat al vir jare teen die oorkantste muur hang – spieël van soveel refleksies en defleksies, dieptes en dimensies, geheime en geheue – is leeg.

In die eetkamer kan sy die kat boggelrug in die spieël sien weerkaats. Haar kop ruk. ’n Kraakgeluid.

Die luidsprekers. In stadige aksie volg sy hoe die musieksentrum se rekenaar aanskakel. Die LED-ligte flits rooi en groen, die plasmaskerm sidder vir ’n paar sekondes voor die luidsprekers begin speel. Beeld en klank sinkroniseer; die musieksentrum is in volle swang.

Sy staan net, loodstil, onmagtig om die onmoontlikheid van die situasie te begryp. Op die grootskerm speel ’n orkes, ’n triestige groepie bestaande uit ’n tjellis, ’n pianis en paar strykers. Die klank sleur deur die suiwer nagstilte, ’n nag sonder enige white noise, die musiek droefgeestig mooi.

“Danse macabre” van Preisner, onthou sy. Sy ken dit so goed. Haar lewe lank ken sy dit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top