Die Culludroid-filmfees: Van lewende klankbane tot Nazi's op die maan

  • 0

A scene from the film, Iron Sky

Hierdie jaar se Celludroid-filmfees sluit 'n lewende opvoering in van 'n nuwe klankbaan vir Fritz Lang se legendariese 1927-stilfliek Metropolis deur die Makabra Ensemble. Volgens Paul Blom, een van die organiseerders, kan kykers selfs uitsien na Nazi's op die maan!

Dit is amper tyd vir die derde Celludroid-filmfees. Wat is die konsep daaragter?

Met ons jaarlikse HorrorFest-rolprentfees oor Halloween wat in 2005 begin het, het die inskrywings baie gou wêreldwyd vlam gevat. Baie van die flieks wat mense ingestuur het, was somtyds meer wetenskapfiksie of fantasiegedrewe in plaas van voluit rillers. Ek en mede-organiseerder Sonja Ruppersberg het toe besluit om 'n aparte rolprentfees vir hierdie genres te skep. Ons eerste een, in 2009, het met District 9 se uitreiking op-ge-sync, en ons het van die fliek se akteurs en vervaardigers teenwoordig gehad wat na die vertoning met die gehoor gesels het. Verlede jaar was die Suid-Afrikaans-gebore regisseur Richard Stanley terug in die land uit Frankryk, en as ons feesgas het hy al sy rolprente en dokumentêre aangebied en na die tyd met die gehoor gechat daaroor.

Wat is van die hoogtepunte wat julle hierdie jaar gaan wys?

Daar's 'n hele paar!

Een is die lewende opvoering van 'n nuwe klankbaan vir Fritz Lang se legendariese 1927-stilfliek Metropolis deur die Makabra Ensemble. Ons het hierdie projek begin met die HorrorFest en het al sewe klankbane so geskep (insluitende Nosferatu, wat ook op DVD beskikbaar is, The Cabinet of Dr Caligari, Haxan Phantom Of The Opera, ens). Dit is uitgevoer by onder andere die HorrorFest en OppiKoppi, maar dit is die eerste keer dat ons dit by Celludroid doen. Die Makabra Ensemble bestaan uit myself en Sonja van Terminatryx, Simon van Lark, Sean, ook van Lark, en Mr Sakitumi, en Matthijs Van Dijk. Instrumente sluit alles in van elektriese kitaar, bas en synths tot stem, dromme, samples, fluit, viool ens.

'n Ander hoogtepunt is die Afrika-première van die nuwe Fins/Duitse medevervaardiging Iron Sky. Die sci-fi-komedie handel oor Nazi's wat maan toe gevlug het gedurende die Tweede Wêreldoorlog, maar wat in 2018 weer die aarde wil binneval.

Daar is ook kort flieks, en dokumentêre oor UFO’s, Harry Potter en geheime groepe en heilige stene en klipkonstruksies. Ons wys ook elke jaar Ed Wood se klassieke B-movie Plan 9 From Outer Space, wat almal te siene moet kry.

Ons inkorporeer ook literatuur en graphic novels, met 'n launch van die Kaapse skrywer Nerine Dorman se nuwe boek, Inkarna (by The Book Lounge op 27 Junie), en kunstenaars van die Velocity Graphic-reeks gaan die fees bywoon (op 30 Junie).

Die Makabra Ensemble van L-R: Matthijs Van Dijk, Paul Blom, Sonja Ruppersberg, Simon Ratcliffe en Sean Ou Tim by die klavier (Foto: Ronnie Belcher)

Hoe groot is hierdie kykersmark in Suid-Afrika?

Natuurlik nie so groot soos in die VSA nie, maar daar is definitief mense hier wat hulle verbeelding wil laat wegvlieg. Elke jaar verbeter die kykertal.

Hoe gereeld word hierdie tipe films op die kommersiële kringloop vrygestel?

Dit hang af, ek sou skat so een per maand - met die groot aantal vrystellings elke jaar gaan baie reguit DVD toe.

Die voordeel van Celludroid is dat dit die enigste plek is waar kykers amper 'n dosyn van hierdie spesifieke opwindende onafhanklike flieks in die teater te sien kan kry, en die meeste is op geen formaat beskikbaar in Suid-Afrika nie.

Waar kan mens kaartjies koop en meer inligting oor al die films lees?

Kaartjies is beskikbaar by die Labia Teater (Orangestraat 68, Tuine, Kaapstad). Bespreek by tel 021 424 5927.

Alle feesinligting, rolprente en tye is by www.celludroid.net beskikbaar.

Inligting oor die Makabra Ensemble: www.terminatryx.com/makabra.
Daar kan by die Facebook-groep aangesluit word..
Kliek ook hier vir die Facebook event-blad. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top