Die ekonomie van kosbaarheid

  • 0

Die ekonomie van kosbaarheid

Hercules Boshoff, Direktoraat Navorsingsontwikkeling, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Noordwes-Universiteit (Vaaldriehoekkampus)

LitNet Akademies Jaargang 18(1)
ISSN 1995-5928

 

Opsomming

Ekonomie is ’n bepalende begrip vir die moderne mens, ofskoon dit mettertyd ’n eendimensionele werklikheidsopvatting geskep het waarvolgens die natuur instrumenteel uitgebeeld word en interaksies tussen mense tot markkragte en klassestryde verskraal word. Gegewe enersyds die onvolhoubaarheid van hierdie opvatting, en andersyds die onteenseglike invloed van die ekonomiese sfeer in die moderne lewe, gaan gepoog word om ekonomie as ’n uitvloeisel van ’n meer diepgaande wesenskenmerk van die mens te beskryf – iets wat reeds in die naam ekonomie opgesluit lê – naamlik om te woon. Die effek hiervan sal wees om ’n breër verstaansveld vir die begrip ekonomie oop te kan dink. Aansluiting sal gevind word by Heidegger se bekende verduideliking van die betekenis van woon, wat hy in verband bring met die begrippe bou en dink. In plaas van die verduideliking van ekonomie as omvattende abstrakte katalisator van ontwikkeling, sal genoemde verband ons in staat stel om ekonomie ontologies te oorweeg as verwikkeld met om te bestaan en om te woon. Verwikkeldheid kan verder tot ’n normatiewe etiese vlak uitgebrei word in terme van kosbaarheid. Kosbaar verwys na volhoubaarheid en bewaring, maar ook na voortdurende beproewing (met verwysing na die Duitse begrip kosten). Ten slotte sal betoog word dat kosbaarheid ook bedink moet word as ’n balans tussen vier onderskeie tydsdimensies, naamlik die sikliese, ewige, tydelike en veranderlike.

Trefwoorde: aarde; bou; ekologie; ekonomisme; kosbaarheid; ontdekking; ontketenheid; verwikkeldheid; wêreld; woon

 

Abstract

The economics of the invaluable

Economics is a key concept for modern life, despite the fact that its modern conception depicts nature instrumentally and human relations as commodities. Given, on the one hand, the unsustainability of these one-dimensional views and, on the other hand, the prominence of economics in modern life, the challenge must be set to recalibrate our understanding of economics so that both issues are addressed. This means that we acknowledge the important role that economic life plays in modern life precisely by broadening the scope of terms that we have become accustomed to associating with it. The notion of economics as being directed towards development can be challenged by an understanding of economics as being fundamentally embedded within our enveloped existence, by which we refer to relationships with other humans, culture as the sphere of our existence and to nature. Embeddedness does not require a new conception of economics altogether, but rather a reconsideration of the meaning of economics in terms of its own roots, namely oikos (house) and nomos (law). In its modern conception, economics is too often considered in terms of loose-endedness, in other words in terms of the sum of the parts of the system of needs of unrelated subjects that seek only personal satisfaction, whereas the reconsideration of economics as house, relating it to the activity of building and dwelling (Heidegger) with the goal of being at-home (tuis) will be important for coming to grips with the meaning of economics as belonging within the subject’s embeddedness. Therefore, house will be considered broadly as the activity of world-making. World (Afrikaans wêreld), stemming from the Indo-Germanic wer (referring to someone, or a who) and alt (age) then literally refers to the age of humanity, a time that the earth is dwelled upon by humans. Equally however, humans are from the earth (as words such as human and adam indicate, both referring to ground), and can subsequently never ascend beyond this aspect of their being, even if some humans in the near or far future will leave the earth for periods of time. From the earth, the human dwells and builds a world. In the narrower sense, house is considered as protection against nature and the elements. However, one can live in a house and not be at home (Afrikaans tuis). Being at home requires a mediation between protection against natural elements on the one hand but also opening oneself to a new relation to nature (an example of this mediated relation is the position of a window in a house that can let the right amount of sun in). Concerning the second aspect of the roots of economics, the law refers to delineation in the sense of drawing a boundary, a boundary that limits but also enables. Living in peace requires a limit to be set that others cannot cross, and within these boundaries of law we can express our freedom. Freedom and peace are shown not only as logically connected, but also as etymologically connected (vrede [peace] and vryheid [freedom] stem from the Germanic freya).

An elaboration of economics as forming part of enveloped existence can be given by means of the notion of the invaluable (kosbaarheid), as the overarching question within which economics operates. Economics considers the question of value, although the question of value always already implicates more than the manner in which two objects are to be exchanged; it raises the question of exchange itself, of the relatedness of things, of Being. Describing something as invaluable means to consider not only the intrinsic value of a thing in itself, but also the simultaneous effect the thing has on a person. Invaluableness retains an element of a thing that keeps it from being fully consumed, thereby holding one at a distance from the object, while at the same time being so strongly affected that one’s being is moved and transformed by the thing. If we are to understand the manner in which we can be transformed by an object and in turn what enables us to transform and work on objects, we can move closer to an enveloped notion of economics. We are affected by objects in terms of the different layers or spheres of our existence, spheres that we do not necessarily impose on reality but that we experience as those things which make all our interpretations of things possible. They are thought and experienced at the same time. We can consider our existence as simultaneously embedded within four spheres – the fourfold, as Heidegger calls them, being the earth, the heavens, the gods and mortal existence. Four dimensions of time, namely immediacy, cyclic patterns (in the sense of eternal return), unchangeable eternity and temporality, can be added to the spheres as equally constituting the frame in which objects obtain meaning (the spheres and dimensions of time are therefore similar to Kant’s transcendental aesthetic, but with the exception that the origin of this experience cannot be clearly proven to originate in the subject alone). In other words, objects relate to us in terms of different spatial and temporal frames. The same object can have different meanings in different contexts while retaining its intrinsic value. We are not passive receptors of objects within these contexts, but participants in meaning through our abilities (vermoëns, etymologically related to mögen, meaning being able to). These abilities are related to the fourfold and to the timeframes so that four abilities are identified as those which envelop all our activity. They are intuitive reaction, mimicry, creation and acceptance. None of them is more fundamental than any of the others, although different societies and epochs favour one dimension of time, one sphere of being and one ability over others. The awareness of these factors and how they relate to one another without one totally dominating others (for example overemphasising eternity or the immediate to the extent that other dimensions of time are repressed) so that all are kept in play enables us to see a fuller picture of our existence and encourages us to find an equilibrium that suits what is necessary in each epoch. Each part remains invaluable. Considering our economic activity as embedded within the spheres and relating to ends outside itself can broaden the scope in which it operates and prepare it for a challenging future.

Keywords: build; discovery; dwelling; earth; ecology; economism; envelopment; invaluableness; loose-endedness; world

 

1. Probleemstelling: die ekonomisme en die ontwikkelingsdrif

Ekonomie is die spilpunt van ons moderne bestaan. In sy moderne vorm verwys ekonomie na die markkragte van vraag en aanbod wat groei en die bevrediging van menslike behoeftes ten doel het, of in terme van die 19de-eeuse ekonoom Jevons die “mechanics of utility and individual interest” (aangehaal in Passet 1984). Polanyi wys daarop dat die impak wat hierdie benadering gehad het, nie gering geskat kan word nie: “The supply-demand-price mechanism whose first appearance produced the prophetic concept of ‘economic law’, grew swiftly into one of the most powerful forces ever to enter the human scene” (Polanyi 1977:9). Sinoniem met groei is die begrip ontwikkeling. Letterlik verstaan, verwys ontwikkel na ’n loswikkel (vgl. die Engels de-velop as teenoorstaande begrip van en-velop), waarmee iets oorgedra word van die strewe na die gefragmenteerde selfbepaling van die moderne mens. Die Engelse develop verwys ook na die ontsluiting, die oopmaak van sake – inderdaad die teenoorgestelde van toemaak van die envelop(e).1

Gegewe die verweefdheid van die moderne lewe met die ekonomie, hou die huidige vorme van ekonomiese aktiwiteit nogtans ’n wesenlike bedreiging vir die volhoubare voortbestaan van die mens en talle ander spesies in. Met inbegrip hiervan word met oorgawe gepoog om die skema waarbinne ons ons bestaan karteer, te wysig om sodoende die ekonomiese as ondergeskik aan die klimaat te stel. Die natuur word volgens dié wysiging nie bloot as ’n middel tot menslike behoefte bedink nie, maar eerstens as iets in sigself, en daarnaas as ’n voorwaarde vir ekonomiese aktiwiteit. Dit gee aanleiding tot ’n antagonistiese ingesteldheid jeens ekonomiese handeling – wat onlosmaaklik verbind is aan ander vorme van menslike handeling – en derhalwe, ironies, nie omvattende oplossings kan bied vir so ’n omvattende probleem nie. Selde word daar verby ’n soort kortstondige romantiese afstand van die beskawing beweeg, alleen genoeg om die gewete te sus. Twee hedendaagse voorbeelde van hierdie kortstondigheid is musiekfeeste wat tydens die hippiebeweging hul beslag kry, en geldelike skenkings aan organisasies wat hulle beywer vir natuurbewaring. In beide gevalle word alleen kortstondig op probleme gefokus sonder om die instellings self te probeer wysig met praktiese maatreëls (dit kan egter bydra tot mense se ingesteldhede). Wat ek hier gaan betoog, is dat ekonomie en ekologie meer met mekaar gemeen het as wat by die eerste oogopslag mag skyn die geval te wees.

’n Meer vrugbare benadering sou wees om ’n wisselwerking tussen ekonomie en ekologie eksplisiet te bedink – wat ’n herdefiniëring en selfs heroriëntering van ekonomie sal vereis. Sodanige wysiging sal neerkom op die verruiming van die betekenis van ekonomie, waarvan die effek sal wees dat ekologie ook die geïntegreerde rol van menslike handeling, ook op ekonomiese terrein, op ’n meer positiewe wyse sal oorweeg. Dit is hierdie weg van verruiming wat vrugbaar en volhoubaar ingeslaan kan word.

Uit die staanspoor wil ek benadruk dat sodanige verruiming nie die doel moet dien dat dit uit geringskatting van die uitdagings bloot die huidige status van ekonomiese aktiwiteit, as alleen op ekonomiese groei ingestel, op onderduimse wyse behou deur die toevoeging van allerlei bemarkbare slagspreuke nie. Die verruiming moet insgelyks nie oorhaastig ’n aanvang neem by pragmatiese oplossings op die uitdagings van die dag nie, aangesien so ’n “praktiese” ingesteldheid dikwels die probleme voorhande aanspreek sonder om die langtermyneffekte te oorweeg.

Die soeke na betekenis lei mens dikwels op onverkende en onverwagse paaie. Wat die onderwerp van ekonomie betref, kan die soektog begin by die bron van die begrip, naamlik die Grieke. Wat ons uit die Griekse begrip oekonomia kan aflei, is dat die oikos/huis as gedifferensieerde eenheid beskou is wat ingerig is volgens eiesoortige nomos/(maat)reëls. Dié eiesoortige maatreëls het enersyds aan die huis ’n bepaalde selfstandigheid verleen en andersyds het die huis as tussenganger opgetree tussen die sfere van die natuur en die staat, oftewel tussen die ongeërgde en noodlottige gang van die natuur en die aanpassende beplanning van menslike organisasie. Die huis het ’n tweeslagtige betekenis of funksie: Dit beskerm die mens teen die uiterstes van die natuur, maar dit laat ook die mens toe om in die natuur ’n voller lewe te lei. Hierdie tweeslagtigheid bly konstant, alhoewel daar selde na ewewig na die twee kante toe gestreef is; ’n stelselmatige oorgang het plaasgevind vanaf die klem op harmonie met die natuur tot beheer oor die natuur.

Hierdie oorgang kan kortliks in drie fases uiteengesit word. Aanvanklik is die nadruk gelê op die ooreenstemming tussen huis en natuur. Die maatreëls van die huis, soos uiteengesit in Xenophon se Oekonomia, toon ’n ooreenkoms met ’n hiërargiese natuurorde. By die volgende fase vervaag hierdie ooreenstemming met die natuur, wat te wyte is aan toenemende verstedeliking, die Joods-Christelike desakralisering van die natuur2 wat aansluit by die Romeinse beginsel van die huishouding se privaatheid, soos aangedui deur die begrip privatus, wat “afgesonder” beteken. Dit het ’n inversie meegebring van die ooreenkoms tussen die mens en die natuur waarvolgens die natuur daarna ingerig word om te voorsien in die behoeftes van die huishouding, en meer bepaald die individu, in hierdie geval die hoof van die huishouding.

Dit het die derde fase ingelui, wat begin by die Renaissance en by die moderne staat voltrek word, waarvolgens die natuur grootliks onder bedwang gebring word deur die tegniek. Die inrig van die natuur het ook die begrip oor die samestelling en aard van die natuur gewysig. Waar die natuur voorheen doelmatig, geanimeerd en gepersonifieerd voorgestel was, word dit tydens die opbloei van die modernisme meer wetmatig en onpersoonlik uitgebeeld.3

Die moderne wetenskap vervang die hiërargiese natuurbeeld met ’n kousaal-meganistiese atomisme wat die natuur nie as doel nie, maar as middel tot die bevrediging van individuele behoefte hanteer. Die moderne masjientegniek verwesenlik die onderwerping van die natuur aan menslike behoefte. Descartes se skeptiese cogito sou daarvoor sorg dat die natuur selfs tot ’n funksie van die verstand verskraal word. Die verstand word daardeur opgehef tot onbepaalde bepaler. Die besinning van die cogito, wat geen aanraking met die syn vereis nie, is tekenend van die loswikkel van die kop van die liggaam en van die moderne subjektiwiteit wat daarna smag om nie deur iets anders as sy eie impuls bepaal te word nie. Hobbes, met wie Descartes in heftige debat gewikkel was oor die wyse waarop die mens selfbepalend is – Descartes het rasionalisme aangehang en Hobbes empirisme – onderskryf die losgewikkelde beginpunt van Descartes in dié opsig dat hy die individuele behoefte eksplisiet as die spilpunt van politieke denke postuleer in die vorm van die natuurtoestand wat deur die natuurwet getemper moet word (Hobbes 1984). Omdat die behoefte so ’n sentrale rol speel, sou ons kon sê dat Hobbes reeds ekonomie as primêre oorsaak vir politiek postuleer.

Die eiebelang van die mens is bemoontlik en uitgebrei deur die wyse waarop die wetenskap en tegniek bygedra het tot ’n verslapte aangewesenheid op die natuur en ’n groter beheer oor die natuur. Maar terselfdertyd het die moderne wetenskap die verhouding tussen mens en natuur op ’n nuwe manier geopenbaar, naamlik dat daar op grond van universele wette heelwat meer ooreenkomste tussen spesies uitgewys is as wat voorheen besef is. Dié ontdekkings sou nie moontlik gewees het sonder die invloed van die moderne wetenskap nie. Dit beteken egter nie dat die moderne wetenskap kritiekloos tot heilsdissipline verhef moet word nie. Husserl het dit reeds duidelik gestel dat die suksesse van die wetenskap gepaard gaan met die krisis waarin dit besig is om te verval. Die krisis hou juis verband met die wyse waarop ontdekking sy eie nadraai versluier: “[T]he discoverer – or, in order to do justice to his precursors, the consummating discoverer – of physics, or physical nature, is at once a discovering and a concealing genius (entdeckender und verdeckender Genius)” (Husserl 1970:52). Om hierdie krisis die hoof te bied sonder om die wesenlike bydrae wat die wetenskap tot die toekoms kan lewer te kelder of te ontken, is ’n uitdaging wat ek wil aanpak deur te begin met ’n ontleding en evaluering van die ontdekkingsdrif van die moderne wetenskap.

 

2. Ontketendheid

Ontdekking is, soos ons reeds kan aflei uit Husserl se verduideliking hier bo, een van die kernbegrippe van die moderne tyd. Die omvang van die begrip word verder deur Sloterdijk (2013:96) uiteengesit: “[T]he epochal keyword ‘discoveries’ – a plural that actually refers to a singular phenomenon, namely the authentically historical hyper-event of the earth’s circumnavigation – thus denotes the epitome of methods whereby the unknown is transformed into the known, the unimagined into the imagined.” Ontdekking word gelegitimeer deur die ideaal van vryheid as ongehinderde beweging (en meer bepaald: die vrye beweging van die private individu), terwyl vrye beweging op sy beurt verder bemoontlik word deur ontdekking en bepaling van die beginsel van alle beweging – gravitasie, die absolute gegewe. Die ontdekking en bepaling van die natuurwette word oorgeskakel tot beheer deur die moderne tegniek, wat ten doel het om alle beweging daartoe te rig om in pas te wees met menslike vrye beweging. Spengler beskryf hierdie oorskakeling as volg: “[T]he decisive turn in the history of the higher life occurs when the determination of Nature (in order to be guided by it) changes into a fixiation – that is, a purposed alteration of nature” (Spengler 2016, deel 19480). Ekonomie het by uitstek die vakdissipline geword waartoe die moderne tegniek ingerig word. Doelmatig word daarna gestreef om die “wealth of nations” te bewerkstellig. Daar ontstaan dus ’n verband tussen die verwesenliking van die ideaal van menslike vryheid en die beheer en bestuur van die gedetermineerde natuur deurdat die kennis oor die werking van die kosmos in die mens hom in staat stel om middele aan te wend om die natuur te manipuleer om sy behoeftes te bevredig.

Ongehinderde beweging word verwesenlik enersyds in die vrywording van die mens ten opsigte van die natuur, en andersyds deur ontketening as die losbars van iets met onheilspellende gevolge (byvoorbeeld ongeremde verbruik wat natuurlike hulpbronne uitput). Dié twee gestaltes van ontketening is gekoppel, aangesien laasgenoemde die uitwerking van eersgenoemde verteenwoordig. Die ineengeskakelde ontketenings gee aanleiding tot wat ek noem die toestand van algehele ontketendheid, wat dui op die moderne uitdrukking van vryheid van keuse, op ’n ongetemperde drif tot selfbevestiging in die soeke na die erkenning van ander individue. Ontketendheid spruit uit die verkenningstog van die “nuwe” wêreld: die losbreek of afleiding vanaf dit wat geken word (dus ’n miskenning of delegitimering daarvan); en dan deur insluiting van dit wat verken is na dit waarvan losgebreek is, terugkeer; en met hierdie terugkeer vind die moderne gestalte van erkenning neerslag. Negering staan egter per definisie in verhouding tot dit wat negeer word, alhoewel dit hierdie verbintenis ontken en sigself voordoen as ’n oorkoming, soos dikwels blyk uit terme wat met die voorvoegsels post- en de- begin. Die verheffing van negering (skeptisisme) tot die absolute getuig van ’n huiwering om die proses as sodanig te begryp, dit wil sê om die proses in sy volheid te beskryf. Hierdie huiwering is egter nie ’n tekortkoming wat reggestel behoort te word nie, maar is wesenlik tot ontketendheid. Ontketendheid is dus omvattend sonder dat die selfbegrip daarvan omvattend is.

Ontketendheid vind in die elektriese tydsgewrig (“electric age”) neerslag, om die benaming van McLuhan te gebruik, in ’n netwerk van gefragmenteerde selwe wat deur aandagafleidende onderbrekings geprikkel word. Anders gestel: Die netwerk is ineengeskakel by wyse van die fragmenterings wat dit veroorsaak. Prikkeling lei tot verbruik, dit wil sê selfbevestiging, wat die veronderstelling kweek dat verbruik proporsioneel is tot vryheid. In die tyd van die sosiale media word die selfbevestiging verder verdiep deur die goedkeuring van ander, wat ’n indruk van erkenning skep. Hierdie sisteem van fragmentering met die uiteindelike beroep op erkenning verraai nie alleen die inherente weersprekings in die sisteem nie, maar stel iets bloot van die aard van vryheid self. Ofskoon vryheid voorgehou word as iets wat deur konstante bevrediging van behoefte verwesenlik word, bind bevrediging ’n mens in ’n netwerk; dit skakel jou in. Die inskakeling geskied gelyklopend met die bevrediging van die individuele behoefte, dus op die oomblik van fragmentering. Die oomblik van verbruik is egter nie die verorbering deur die individu van die produk nie, dit dien as impuls tot verdere verbruik. Die inskakeling tot jou vryheid vind onmiddellik, sonder tydsame oorweging, plaas. Die selfstandige wil word sodoende gelykgestel aan die behoefte in plaas van die denke.

Die effek van die oorbeklemtoning van die subjek kom ironies genoeg neer op ’n prysgawe van subjektiwiteit. Die prysgawe word geregverdig deur te wys op die onverantwoordelike dinge wat mense kwytraak en die nagevolge van ongeremde verbruik. Hierdie verbruik word gerugsteun deur institusies wat uitsluitlik op wins en verbruik ingestel is en sodoende die waarde wat hulle self toevoeg te ontken: “De ontketening van de markt roept de vraag op of en hoe instituties, onderwijs, zorg, media, banken en ook bedrijven, hun eigen missie, hun eigen betekenis kunnen hervinden en of daar sowieso ruimte voor is” (Verbrugge, Buijs en Van Baardewijk 2018:215). Dit het ’n vorm van onbedagsaamheid tot gevolg ten opsigte van die effekte, oftewel kettingreaksies wat ontketening byvoorbeeld op die omgewing het. Tegniek hou altyd die gevaar in om op hierdie wyse die verhouding tussen die mens en die natuur te belemmer: “[A]t the peak of many a Civilization, in its great cities, there arrives finally the moment when technical critique becomes tired of being life’s servant and makes itself life’s tyrant” (Spengler 2016, deel 19492). ’n Mens moet dus nooit uit die oog verloor dat sy bestaan verwikkeld is nie. Hy is nie verwikkeld eers dié oomblik dat sy behoeftebevrediging deur ander erken word nie, maar reeds voor sy eie bewustheid daarvan. Deeglike besinning oor die algehele ontketendheid impliseer ’n ingesteldheid wat die problematiese aard daarvan erken, maar wat verder oorweeg in watter sin die verwikkeldheid van menslike bestaan opnuut bedink kan word.

 

3. Wêreld

Hoe kan ons die verwikkeldheid, oftewel geketenheid van die menslike bestaan opnuut bedink? Dit is reeds genoem dat die begrip ekonomie, die dryfveer van moderne ontketendheid, ook verband hou met huis, oikos, wat op ’n plek dui, asook, terselfdertyd, op die wyse waarop ons bestaan gevoer word, naamlik dat ons woon. Volgens Heidegger (1987:50) hou wuon en die Gotiese wunian verband met “te-vreden zijn, tot vrede gebracht en in vrede blijven”. Die koppeling wat Heidegger verskaf tussen die etimologiese betekenis van woon en vrede, kan eenvoudig verduidelik word deur daarop te wys dat die inrig van ’n woning ’n mens beskerm teen beide natuurlike elemente en ander bedreigings (byvoorbeeld aanvallers). ’n Ondersoek na die etimologiese betekenis van vrede bring ons by die woord freya, wat ook oorsprong gee aan ons woord vryheid. Die verbande tussen die begrippe is nie alleen toevallig nie, ofskoon daar by die moderniteit geneig word om vryheid meer in die sin van ontketening te interpreteer (Hobbes se natuurtoestand en Descartes se res cogitans is maar twee voorbeelde hiervan). Om in vryheid en vrede te woon vereis derhalwe (indien ons nie so haastig wil wees om afstand te doen van die oorspronklike koppeling daarvan met woon nie) meer as blote aandrang op regte wat aan jou toegestaan word, meer as die aandrang daarop om vermaak te word en te verbruik; dit maak wesenlik deel uit van wat dit beteken om te woon en om te bou. Afgesien van dit wat vooraf toegestaan word in afwagting op die verwesenliking van moontlikhede, het vryheid ook te make met toerekeningsvatbaarheid en verantwoordelikheid vir dit wat gedoen word. Die koppeling van ekonomie aan vryheid, soos die moderniteit maak, is dus nie heeltemal onvanpas nie, maar dit neem nie in ag dat vryheid reeds woon oproep nie. Soos ’n instrument wat vals raak, so het belangrike begrippe wat met mekaar in harmonie behoort te werk, van mekaar vervreem geraak, tot so ’n mate dat ’n kakofonie weerklink sodra hulle naby mekaar gebring word. Dit is ons taak as die bespelers van die instrument van taal om nie hierdie belangrike en wesenlike begrippe te verloor nie, maar om dinamies, toerekeningsvatbaar en volhoubaar daarmee om te gaan. Die begrip vryheid hoef nie gekenmerk te wees aan die interpretasie daarvan as oneindige verstrooiing nie. Vryheid het as voorwaarde woon, terwyl woon vryheid ten doel het. Dit is met ander woorde nie vryheid wat die mens toelaat om te woon nie; vryheid is eerder ’n modus van woon. ’n Vervreemding kan egter plaasvind tussen woon en vryheid, wat daartoe aanleiding gee dat woon nie tot vryheid ingestem word nie, of dat gepoog word om vryheid afsonderlik van bewoning te betrag.

Die oomblik wanneer ’n mens ingerig is in sy woning, wanneer hy behoort, is hy tuis. In Nederlands en Afrikaans word die woord tuis gebruik, wat afkomstig is van ter huis wees (zu Hause). Die teenoorstaande daarvan is unheimlich, waaroor Freud geskryf het. Om tuis te wees hang nie net daarvan af of die plek met jou voorkeure ooreenstem nie, dit hang ook daarvan af of die omgewing aan jou die moontlikheid van bewoning bied. Aangesien vryheid aan woon gekoppel word, het vryheid, soos hier bo genoem, dus met meer as loutere willekeur te make. Vryheid en vrede is egter nie gegewe nie, so ook nie bestaan as inwonend nie. Woon is op sy eie nog nie vrye bestaan nie – dit moet vrede en vryheid as doel stel – maar verwesenlik sy doel slegs deur beplanning, bewerking en begrensing. Dit is op hierdie punt dat woon in aanraking kom met die nomos. Die etimologiese bron van nomos is ’n weiveld, ’n afgebakende ruimte waarin die mens toegelaat word om sy voorbestaan te probeer bestuur. Woon vereis dus voortdurende onderhandeling tussen mense oor wat hierdie woon mag behels, en hierdie onderhandelinge word vasgelê in wette.

Die aktiwiteit wat met die totstandkoming van ’n woning verband hou, is bou. Heidegger verduidelik dat die woord en begrip bou nie alleen na ’n spesifieke daad verwys nie, maar dat dit tot ons wese as mense behoort.4 Die bewoning wat uit verbouing en produksie spruit, verkeer in verhouding met die omgewing waarin dit staan. ’n Goeie huis beskerm enersyds teen die bedreigende elemente soos weer en indringers, maar word andersyds ook gunstig ten opsigte van sonlig, uitsig, vrugbaarheid en dies meer ingerig.

Die plek waarin woon, bou en vryheid manifesteer, is wêreld. Wêreld kan nie afsonderlik van die mens bedink word nie. Wer stam uit die ou Germaans en het betrekking op die manlike persoon. Vandag beteken wer steeds “wie” in Duits. Alt verwys na ouderdom of tydperk. Wer alt beteken dus letterlik “tyd van die mens”: In daardie tyd was die aarde terselfdertyd wêreld. Wêreld hou verskillende sfere in wat nie noodwendig konkreet is nie. Dit kan verwys na ’n enkele persoon se leefwêreld of begripswêreld, of die “wêreld waarin ons vandag leef” – dus ’n bepaalde tydsgewrig. Dit beteken nie dat die menslike bestaan los van die aarde is sodra wêreld tot stand kom nie. Wêreld kan nie sonder die invloed van die mens bedink word nie; eweneens kan die mens ook nie sonder die aarde bedink word nie. Die woord vir mens in Hebreeus, adam, hou verband met adamah, wat “grond”/“klei” beteken, en God het volgens die Bybel die mens uit klei gevorm.5 Die woord human is afkomstig van ghomon, wat vertaal kan word met “aardling”. Dit wil dus voorkom of die antieke mensdom ’n akute bewussyn getoon het vir dit waaruit die mens tot stand kom, en dat sy eie voortbestaan ten nouste saamhang met die wyse waarop die omgewing vir die mens herbergsaam bly.6 Afgesien van die beplande reise en moontlike verblyf op Mars wat binne die volgende paar dekades deurgevoer gaan word, en die ingrypende implikasies wat dit vir die mens mag inhou, sal die mens altyd wesenlik ’n aardling bly.

Die aarde is onverskillig ten opsigte van die mens, maar die mens kan nie onverskillig ten opsigte van die aarde optree nie. Die aardling skep dus noodwendig ’n wêreld, maar hoe kan die tot wêreld wording van die aarde op ’n verantwoordbare wyse bedink word? Dit kan gedoen word uit begrip vir die feit dat die moontlikhede waaruit die wêreld tot stand kom, nie vanuit die mens self spruit nie en altyd weer gerig word tot die “aard” van dinge buite die mens. Hoe behoort die verhouding te lyk waarbinne die mens tot die dinge ingestel is?

 

4. Kosbaarheid

In die voorgaande deel het ek gewys op die betekenis van ekonomie as dit wat steeds verband hou met die etimologiese oorsprong van oikos, met die inwonende, tuisteskeppende aard van die mens. In hierdie gedeelte gaan daar ingegaan word op die werklikheidsopvatting van die ekonomie. Die ekonomiese werkswyse waarbinne die oorskakeling van dinge tot menslike behoefte deur middel van kwantifisering plaasvind, is een van waardebepaling. Waarde is egter iets wat nie alleen op gekwantifiseerde eenhede betrekking het nie. Hoe sal ons egter ’n meer omvattende begrip van waarde kan ontwikkel waarbinne die ekonomiese bepaling van waarde ook tereg kan kom? Die vraag na waarde kan uitgebrei word na ontologiese vlak, soos in Heidegger (2013:15) se Syn en tyd: “[J]e karakteriseert die ‘dingen’ als dingen die waarde ‘hebben’, als ‘waardevolle’ dingen. Maar wat wil dat ontologisch zeggen: waarde?”

Die Germaanse woord kosbaarheid kan hier help om volle uitdrukking aan die vraag na waarde te gee. Watter verband bestaan egter tussen kosbaarheid en waarde?

Waarde is iets wat toegeken word, en daarom sou mens kon sê dat dit vanuit die subjek op die objek toegepas word, maar, waarde het omgekeerd ook betrekking op die wyse waarop die objek die subjek affekteer. Waarde word uitgedruk in velerlei begrippe waarvan geld maar een is. Dit is juis omdat ons as mense op verskillende vlakke vatbaar is vir eksterne invloede dat ons kan sê dat “waarde” op meer as ekonomiese goedere betrekking het. Om te sê iets is waardevol, is om te sê iets besit intrinsieke waarde, sonder dat ons daarmee die besef ignoreer dat ons begripsapparatuur op die uitdrukking en inskatting van waarde invloed uitoefen. Wanneer iets waardevol is, sê ons ook dit is kosbaar. Dit wat as kosbaar beskryf word, is dan dit wat nie alleen (of selfs enigsins) mee handel gedryf of wat geproduseer word nie, maar iets wat ’n mens desnieteenstaande steeds positief daartoe instem. Dié positiewe instemming moet egter nie met suiwer verbruik verwar word waarbinne die interaksie tussen subjek en objek alleen ’n redusering van die objek tot voorafbepaalde behoeftes behels nie.7 Die individu se wil, as node van verorbering en opname in die self, geskied wel deur die beperking van die sintuie en die kategorieë van die verstand, maar dit gee ook daartoe aanleiding dat die self nie meer dié-selfde is na afloop van die proses van verbruik nie.8 Sonder die ervaring van dit wat uniek is, sou daar nie ’n self gewees het nie, maar die self kan terselfdertyd ook nie alleen op grond van verbruik ’n self wees nie.

Iets kosbaars is iets besonders, iets wat nie reproduseerbaar is nie. Dit weerstaan konformering en het ’n aantrekkingskrag van sy eie. Dit ontruk die self uit sy afgesonderde en begrensde eenheid en stel hom bloot aan iets anders, maar dit gebeur vir sover die besondere ook self ’n afsonderlike eenheid is en vir sover die self dit as sodanig erken en eerbiedig. Eers dan kan die waardegewing, die waardering – iets meer as kategorisering – volledig en tereg geskied. Hierdeur word die bepalende rol en invloed van die kategorieë nie ontken nie, maar oorgegee aan verdere uitbreiding.

Die noodwendige aanraking wat tot die ingesteldheid van kosbaarheid aanleiding gee, vereis dat kosten, wat in Duits letterlik “proe” beteken, plaasvind. Om te proe is om geaffekteer te word, maar ewe belangrik is dit om te herken, te waardeer tot die beste van jou vermoë. Slegs deur die aanleer van die vermoë om dit wat kosbaar is te herken en te waardeer kan die mens opgehef word tot sy hoogste wese. Hierdie wese het self ’n duursaamheid wat nie aan eiebelang te danke is nie, maar aan goeie smaak. ’n Persoon wat die hoogste opheffing beleef, stem sy vermoë op so ’n wyse in dat hy in staat is om die besondere in die alledaagse én die algemene in dit wat besonders is te beleef.

 

5. Die vier vermoëns

Wat is uiteindelik die kriteria wat bepaal in welke mate die mens as aardse wese sy wêreld tereg kan laat kom? Alvorens hierdie vraag beantwoord kan word, moet daar eers op die vlakke van die wêreld uitgebrei word. Sy bestaan vind gelyktydig binne vier vlakke plaas, soos deur Heidegger beskryf:

  1. Aarde: Dit word hier beskryf as die dienend-draende, bloeiend-vrug-barende, met water en gesteente, plante en diere. Aarde is iets wat vir die mens gekenmerk word as iets buite sy wêreld, terwyl hy nogtans daarvan deel uitmaak.
  2. Hemel: die sonnebaan, die maan met sy gety, sterre en jaargety, maar ook die wolke en weer.
  3. Goddelike: Vanuit die heerskappy verdwyn en verskyn die Godheid, telkens en opnuut.
  4. Sterwelinge: Hiermee word die mens as eindige wese wat intens van sy eindigheid bewus is, bedoel. Die wyse waarop die mens van sy eindigheid bewus is, veronderstel volgens Heidegger reeds ’n wisselwerking tussen die sfere: “[A]lleen de mens sterf en zelfs voortdurend, zolang hij op de aarde, onder de hemel en ten overstaan van de goddelijken is” (Heidegger 1987:51).

Soos vroeër genoem, het wêreld, wer alt, ook wesenlik met tyd te make. Daarom moet ons, ooreenstemmend met elk van die vier sfere wat Heidegger onderskei, vier dimensies van tyd identifiseer wat elk ’n bepaalde instemming/ritme inhou. Die ritme en die ruimte kweek dan ’n instemming, wat uiteindelik die grond van optrede vorm.

  1. Die onmiddellike (kairos). Ooreenkomstig hiermee is impuls die vermoë waarmee daar binne hierdie sfeer te werk gegaan word. Die mens deel hierdie vermoë met alle lewende wesens wat onmiddellik en instinktief reageer. Dit is permanent aanwesig, selfs, in mindere mate, in ons slaap.
  2. Die sikliese (chronos), wat verband hou met herhaling en waarmee die terugkeer aangetoon word. Die vermoë wat hiermee gepaard gaan, is herinnering of mimesis.
  3. Die ewige (aei), wat dui op die openbarende/versluierende, wat die oorstyging van die onmiddellike inisieer. Die vermoë wat mens hiertoe instem, is die voortbringing, oftewel skeppende.
  4. Laastens, die temporele (ananke), die noodlottige afsterwing van die mens, wat nie hierdie noodlot kan oorkom nie. Die vermoë wat met hierdie tydsdimensie in aanraking kom, is aanvaarding.

Die vermoëns kom uit jouself terwyl dit terselfdertyd ook aan jou gegee word; dit is beide toestand en dit waartoe jy in staat is. Die vermoëns is in sigself nie goed nie; soms is dit nodig om een te onderdruk en ’n ander deur te voer. Die vermoëns spruit nie uit jouself nie – jy ontvang dit, maar jy verwesenlik jouself daardeur as individu, afgesonderd en uniek in jou eie aard. Die getal vier is by die ou getal-mistisisme gereken as die getal van geregtigheid (Boyer 2011:48). Geregtigheid beteken dat die teregkom van die mens in elkeen van hierdie dimensies en in homself ’n balans tussen die dimensies veronderstel. Die mengsel van die vier is belangrik, en elke tydperk en plek vereis ’n ander mengsel. Die regte mengsel tussen die vier skep die kwintessens. Wat onontbeerlik vir die bymekaarkom van die vier is, is die logos (wat later by die Grieke as primêre element bo die vier natuurelemente geag is). Dit is belangrik om die rede te oorweeg as iets wat deur die mens beoefen word, maar die suksesvolle beoefening daarvan hang ook af van die ooreenstemming met dit waaroor daar rede gevoer word. Rede is nie primêr in dieselfde sin as die vier vermoëns nie; dit kan nooit suiwer sonder hulp van die vier vermoëns gestalte kry nie. Mens sou egter ook kon sê dat die vier vermoëns nie sonder die hulp van die rede aansluiting by mekaar kan vind nie. In die tydsgewrig waarin ons leef, word ’n begrip soos ekologie juis belangrik aangesien dit juis die logos nie wil skei van die natuur of laasgenoemde suiwer afhanklik van eersgenoemde wil maak nie. Hiermee wil ons nie sê dat die natuur in sy wese noodwendig rasioneel van aard is nie, maar dat logos in die tussenruimtes ontstaan (Gadamer 2004).

Ekologie en ekonomie word deur sommiges as teenpole beskou, terwyl die betrokke woorde dieselfde stam deel. Om die dissiplines nader aan mekaar te bring is nie alleen noodsaaklik nie, maar sal elkeen ook nader aan sy wesensaard bring. Die nomos van woon, dit wil sê die voorwaardes vir die begrensing wat bewoning en bou moontlik maak, kan nie geskied sonder die woordvoering van die logos met natuur as gespreksgenoot nie. Dit beteken ’n ander modus van beluistering na die natuur waarin die natuur nie alleen in formules uitgedruk word nie, maar in ander modusse, soos die digkuns wat ’n band met die natuur koester.9 Beide vorme – sowel die wetenskap as die kuns – is belangrike middele waarmee ons onsself uitdruk en waardeur ons meer leer oor die natuur, en hulle kan mekaar teenwerk wanneer dit in abstraksie of blote sentimentaliteit verval. Ekonomie fokus meer op handel en handeling (dus bou en die wêreldse), terwyl ekologie meer op die wonende aspek fokus (woon en die aardse).

 

6. Ten slotte

Die prominensie van die ekonomie is sterk beïnvloed deur vernuwings van moderniteit, maar dit staan ook op die punt van ’n lang trajek waarin iets fundamenteels van menswees in verskillende gestaltes beslag gekry het, naamlik die verhaal van die mens se aard as bewoner, as wêreldskepper. Hierdie aard het die mens in verskillende verhoudings jeens die natuurlike omgewing geplaas – vanaf verwonderd en verskrik tot ’n verhouding waarbinne die mens alleen die natuur verbruik vir eie gewin, apaties en afsydig. Hierdie ingesteldheid het ook ’n sin van ontketendheid as deug van die moderniteit meegebring – met katastrofiese gevolge wat die mens voor nuwe uitdagings plaas. In my bydrae is die spoor van hierdie beweging teruggevolg na die moderne ontwikkelingsdrif wat ’n aanvang neem by ontdekkingsreise, wat ’n gevoel van ontheemding tot gevolg gehad het. Die uitvloeisel daarvan is die selfbegrip van die mens as vry, maar vry in die sin van ontketendheid. Ontketendheid stel uitdagings wat deel vorm van die moderniteit, maar wat van so ’n aard is dat asketiese ontvlugting nie sal kan bydra tot die trotsering daarvan nie. Dit sal juis ook die beste van die moderne wetenskap verg om die probleme die hoof te bied, terwyl dit egter ook die spore moet terug volg om te leer en om inspirasie uit die verlede te put. Die etimologiese ondersoek van ekonomie het daartoe bygedra dat die betekenis van huis weer teruggelees is in ekonomie, wat verdere koppeling aan Heidegger se begrip woon bemoontlik. Hieruit word ’n nuwe sin vir verwikkeldheid vir ekonomie ook geskep, asook die moontlikheid om ekonomie juis in te rig vir die hedendaagse uitdagings, anders as wat ’n ontoereikende, tipies modernisties-strukturalistiese binêre opposisie tussen byvoorbeeld tradisie en moderniteit sou kon vermag. ’n Meer integrale begrip van die werklikheid en die tydsgewrigte sal nodig wees om die brûe tussen dissiplines oor te steek.

Met die begrip kosbaarheid is gepoog om iets vas te vang wat ekonomiese drakrag het wat as brugbegrip kan dien om dissiplines, veral ekonomie en ekologie, bymekaar te bring. Kosbaarheid verg ’n besinning oor die besondere en die geheel, die vlietende en die ewige. Om hierdie rede is die vier vlakke van aarde, hemel, gode en sterwelinge geopper, maar aangevul deur vier tydsbegrippe waarbinne die mens se bestaan betekenis verkry, en vier “vermoëns” waaruit die mens sy aktiwiteit as reeds gekoppel aan die vlakke en die tydsbegrippe kan ervaar, en nie as iets wat uit homself kom en bloot vir die bevrediging van sy behoeftes daar is nie. Dit het tot gevolg dat die mens se doenighede beskryf kan word as reeds ingebind, reeds tuisteskeppend, ook in die ekonomiese sfeer. Deur die koppeling van ekonomie aan tuisteskepping gaan verskeie modusse van toenadering tussen mens en natuur oop, waaruit ons besef dat dit waartoe ons in staat is, nie alleen die resultaat van ons eie inspanning is nie, maar ook aan ons geskenk word. Dit gee daartoe aanleiding dat ons die lewe kan beleef as geskenk, nie alleen vir ons verbruik en opgebruik nie, maar uit ’n sin van dankbaarheid vir die verlede en met hoop vir die toekoms.

 

Bibliografie

Arendt, H. 1998. The human condition. Chicago: University of Chicago Press.

Bonhoeffer, D. 1968. Schöpfung und Fall. Versuchung. München: Chr. Kaiser Verlag.

Boshoff, H.J. 2018. ’n Nuwe wekroep tot ’n filosofiese Afrikaans buite die openbare universiteit. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 58(3):586–96.

Boyer, C.B. en U.C. Merzbach. 2011. A history of mathematics. 3de uitgawe. New Jersey: Wiley.

Ellul, J. 1986. The subversion of Christianity. Michigan: Eerdmans.

Etimologie van human. s.j. https://www.etymonline.com/word/human (16 Januarie 2020 geraadpleeg).

Gadamer, H.G. 2004. Truth and method. Londen: Continuum.

Georgescu-Roegen, N. 1976. Energy and economic myths: institutional and analytical economic essays. New York: Pergamon Press Inc.

Hegel, G.W.F. 2013. Fenomenologie van de Geest. Vertaal deur W. Visser. Amsterdam: Boom Uitgevers.

Heidegger, M. 1987. Over bouwen, wonen, denken. Nijmegen: Sun Press.

—. 2013. Zijn en tijd. Nijmegen: Sun Press.

Hobbes, T. 1985. Leviathan. Londen: Penguin Books.

Husserl, E. 1970. The crisis of the European sciences and transcendental phenomenology. Evanston: Northwestern University Press.

McLuhan, M. 1964. Understanding media. https://web.mit.edu/allanmc/www/mcluhan.mediummessage.pdf (16 Februarie 2021 geraadpleeg).

Noble, J.F. 2013. The religion of technology: The divinity of man and the spirit of invention. Kindle-weergawe.

Passet, R. 1984. The paradigms of uncertainty. The Geneva Papers on risk and insurance, 9(3):370–9.

Polanyi, K. 1977. The livelihood of man. New York: Academic Press.

Sloterdijk, P. 2013. In the world interior of capital: For a philosophical theory of globalization. Malden: Polity Press.

Spengler, O. 2016. Decline of the West. Volume 1 & 2. Kindle-weergawe.

Van der Watt, P. 2016. Engaging with the “soil and soul” of a community: Rethinking development, healing and transformation in South Africa. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Verbrugge, A. 2007. Tijd van onbehagen: Filosofische essays over een cultuur op drift. Nijmegen: Sun Press.

Verbrugge, A., G. Buijs en J. van Baardewijk. 2018. Het goede leven & de vrije markt. Amersfoort: Lemniscaat.

Weber, M. 2014. Die protestantische Ethik und der Geist des Kapilalismus. Kindle-weergawe.

Wackwitz, S. 1985. Friedrich Hölderlin. Stuttgart: Metzler.

 

Eindnotas

1 Reeds op die eerste bladsy van haar proefskrif opper Van der Watt (2016) hierdie punt.

2 Hiermee word bedoel dat verskynsels in die natuur by die Christendom nie oor selfstandige goddelikheid beskik, of elkeen daarvan ’n godheid voorstel nie. In Genesis 1 word die hemelliggame, wat deur die Babiloniërs as gode beskou is, deur God in bane geplaas. Ellul (1986:60) wys daarop dat die Christendom, selfs nog meer as die moderne wetenskap, bygedra het tot die desakralisering van die natuur, maar dat dit daardeur beskou kan word as ’n voorganger van die wetenskap.

3 Die begrip wat die oorgang tot ʼn mensgesentreerde werklikheidsopvatting waarskynlik die beste opsom, is Weber (2014) se Entzauberung (onttowering). Hy was egter nie die eerste wat hierdie beweging beskryf het nie. Romantici soos Jacobi, Novalis en Hölderlin, om maar net ʼn paar te noem, het al gereageer op die vervreemding wat sedert die aanvang van die Industriële Revolusie tussen die mens en die natuur plaasgevind het. Fisici soos Oswald het al met die draai van die vorige eeu teen die onvolhoubaarheid van steenkool gewaarsku (so ook die historikus Spengler), terwyl Georgescu-Roegen sedert die 1950’s al meer direkte verbande tussen ekonomie en ekologie begin trek het. Nog ʼn ekonoom wat belangrik is in hierdie verband, is Passet (1984). Die boek van Noble, The religion of technology: The divinity of man and the spirit of invention (2013), bied ʼn goeie oorsig oor die genoemde oorgang.

4 Verskillende begrippe vir bou word met ons “wees” in verband gebring: “Bouwen, buan, bhu, beo, is immers hetzelfde woord als ons ‘ben’ in de zegswijzen: ik ben, jij bent” (Heidegger 1987:48).

5 Dermate dat Bonhoeffer (1968:52) aanvoer dat “sy verbintenis met die aarde behoort tot sy wese”.

6 Hiermee wil ek nie sê dat iets soos die humanisme nie ook winspunte gehad het nie. Waar ons die humanisme gelyk kan gee, is dat dit die skeppende vermoë van die mens ten sterkste beklemtoon en maksimaal wil kultiveer: dat die mens ’n wêreld moet skep en dat hy daarvoor verantwoordelikheid moet neem. Waar dit egter te kort skiet, is dat min ruimte gelaat word vir faktore buite die mens se vermoë, wat, soos in die laaste afdeling verduidelik sal word, neerkom op ’n wanbegrip van die aard van menslike vermoëns.

7 Verbrugge (2007:230) wys daarom op die woord heilig wat dui op “datgene wat ons ontzag inboezemt en ons doen en laten bepaalt”. Die begrip kosbaar kan in ’n groot mate sinoniem hiermee beskou word, alhoewel kosbaarheid nouer verband hou met ekonomie, en daarom vir die doeleindes van hierdie artikel gebruik word.

8 Verbrugge (2007:232) verduidelik dat ’n opgeskerpte ingesteldheid neerkom op ’n erkenning dat die mens “een sfeer binnentreedt waarin hij niet de maat is van de dingen, maar zich naar iets voegen”.

9 Heidegger (in Wackwitz 1985:147) stel dit so: “Dichtung ist worthafte Stiftung des Seins.”

 

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top