
Toe ek vroeër die maand in Die Burger van Hennie Rossouw se dood lees, was ek diep hartseer oor die einde van ’n besonderse era. Ek het ’n kers aangesteek en sy boek Die sin van die lewe uit die boekrak gaan haal om weer daarin te lees. Sy foto op die agterblad het my dadelik teruggeneem na 1969, die jaar toe my pad met hierdie fenomenale man en die vak filosofie gekruis het. Prof Hennie was ongeveer so oud soos op dié foto toe ek die voorreg gehad het om by hom te kon klasloop.
..........
My ontmoeting met die vak filosofie en die twee uitnemende filosofiedosente is ’n verhaal van sinkronisiteit, van oënskynlike toevalligheid wat egter so sinvol was dat dit my nou nog met ’n gevoel van verwondering en groot dankbaarheid laat.
............
My ontmoeting met die vak filosofie en die twee uitnemende filosofiedosente is ’n verhaal van sinkronisiteit, van oënskynlike toevalligheid wat egter so sinvol was dat dit my nou nog met ’n gevoel van verwondering en groot dankbaarheid laat. Carl Jung het sinkronisiteit beskryf as “Meaningful coincidences that are unthinkable as pure chance ... (but) have to be thought of as meaningful arrangements.” Toe ek in Stellenbosch aanland, het ek nie eers geweet dat daar ’n vak soos filosofie bestaan nie. Ek was ’n taamlik beskimmelde eerstejaar-Matie in 1969 wat veral in die eerste weke dikwels verdwaal het. Een oggend het ek, onwetend, in die Ou Hoofgebou in die verkeerde lokaal beland, toe ’n ouerige man instap, sy oë toemaak en ’n eenvoudige kort, een-sin-gebed bid. Hy het begin klasgee oor Plato se allegorie van die grot en ek het halfpad deur die lesing byna opgehou asemhaal. Dit was so fassinerend dat ek net geweet het dat ek dié vak móés neem. Na dié eerste ontmoeting met filosofie in “Pappa” Kirsten se klas was ek hopeloos verlief op die vak.
Prof Hennie was ons ander filosofiedosent en ons het nooit een van sy klasse “gebunk” nie, want dit was eenvoudig te interessant. Hy was ’n briljante, vlymskerp, sistematiese denker, sekerlik een van die slimste mense wat ek ken. Sy gedagtes was so dig geweef en hy kon dit in sulke besonder kreatiewe taal verwoord dat jy sy sinne dikwels meer as een keer moes lees. Een van die stories wat die studente oor hom vertel het, is dat prof Berkouwer van die Vrije Universiteit van Amsterdam, onder wie prof Hennie sy doktorsgraad verwerf het, hom gevra het om sy opvolger te wees. Die blywende indrukke wat ek van hom het, is sy uitnemendheid, sy briljante brein en daarmee saam sy integriteit en opreg nederige menswees. Terwyl hy eendag besig was om vir ons derdejaars klas te gee, het daar ’n vreemde student in die klas ingestorm. Sy was duidelik op die verkeerde plek, maar prof Hennie se liggaamstaal en gesigsuitdrukking was vir ’n oomblik byna verskonend, asof hý vir háár verskoning wou vra vir die moontlike verleentheid wat sy dalk in die situasie beleef.
........
Hy het geglo dat universiteite plekke van uitnemendheid is en hy was vir ons die versinnebeelding daarvan: die vriendelike, nederige akademiese reus daar in sy kantoor onder die trap in die Ou Hoofgebou met boeke tot teen die dak.
..........
Hy het geglo dat universiteite plekke van uitnemendheid is en hy was vir ons die versinnebeelding daarvan: die vriendelike, nederige akademiese reus daar in sy kantoor onder die trap in die Ou Hoofgebou met boeke tot teen die dak.
Na die dood van sy eerste vrou het ek hom in ’n winkel raakgeloop. Hy het effe verlore en verward gelyk waar hy met ’n waentjie tussen die rakke besig was om kos te koop en ek het gedink dat hy eintlik te slim is om sulke gewone dinge te doen soos kruideniersware koop en kosmaak. Dit was sulke goeie nuus toe ons later hoor dat hy met sy buurvrou getroud is.
My filosofieaantekeninge van beide prof Kirsten en prof Hennie se lesings het talle trekke oorleef en was van die laaste oorblyfsels uit my studentedae wat ek met ’n swaar hart weggemaak het met die trek na ’n kleiner huis. Dit het gevoel asof ek dislojaal is, byna asof ek ’n ou fotoalbum met foto’s van goeie vriende met wie ek ’n pad gestap het, vernietig.
Prof Hennie was meer teoloog as filosoof, en my kollega Chris Jones onthou nou nog helder dat terwyl Prof in 1978 besig was met Marxisme, neomarxisme en nasionalisme, hy skielik stil geword het, in die verte gekyk het en gesê het: “Verlos ons tog van al die -ismes, o Heer, sodat ons U ’n slag kan eer.”
Prof Hennie Rossouw het ’n geweldige bydrae in sy veld gelewer en is op verskeie maniere vir sy prestasies vereer, maar hy was deeglik bewus van die gevare van ’n prestasiemaatskappy, wat hy in sy boek Die sin van die lewe (Tafelberg, 1981, bl 55) so verwoord het:
Terwyl die prestasiemaatskappy jou aanjaag in die "rat race", lê die grenssituasies van die lewe hulle gatsometers oor die pad. Uit ’n snelstrik kan ’n mens wel loskom, maar nie sonder ’n afkoopboete nie. Die afkoopboete is die waartoe-vraag waarvan jy nie kan loskom nie.
Al het prof Hennie talle geliefdes aan die dood afgegee en al het hy die stryd teen Parkinson se siekte verloor, was sy lewe met sin geklee en kan die slotsom waartoe hy teen die einde van Die sin van die lewe kom, oor sy lewe geskryf word (bl 117):
Wat is die sin van die lewe tog veelsinnig! Dis ’n sonde as ’n mens nie sin daarin kry nie. Dit is sonde as die mens hom nie met die sin van die lewe beklee nie. Die Evangelie is die goeie boodskap dat God ons sonde vir ons ontsien het. Daar is niks wat ons verhinder om die bruilofskleed maar solank om te hang nie.

