Die drie varkies ... soos jou kind dit nog nooit gelees het nie

  • 4

LAPA Uitgewers het baanbrekerswerk gedoen met toepassings (“toeps”) wat kinders kan gebruik om hul gunstelingstories te ontdek. Die Drie Varkies is heel eerste op die mark. Naomi Meyer het vir Marike Beyleveld, die ontwikkelaar, hieroor uitgevra.

 

Marike, vertel asseblief eerste prakties vir sommige van ons lesers wat nie weet nie: Wat is ’n toep en wat is hierdie spesifieke toep?

’n Toep is meer bekend in Engels as ’n “app”. Toep is kort vir toepassingsagteware, dit wil sê, ’n program wat gebruik word vir die uitvoer van ’n spesifieke taak. ’n Algemene voorbeeld van ’n toep is WhatsApp, waarmee jy boodskappe stuur en ontvang. 

In hierdie era, waartydens kinders grootword met toeps soos Angry Birds, waarom ’n storieboek/sprokie ook interaktief laat wees? Is hierdie storie nie maar net ’n rekenaarspeletjie nie?

Die Drie Varkies-toep is ’n storieboek vir kinders. Dit is ontwikkel as ’n interaktiewe kinderboek-toep en nie as ’n speletjie nie. Die lees en luister van die storie is die hoofdoel, en die interaksie is ’n lekker ekstra wat bydra tot die genot vir die lesertjie.

Kinders kan uit vier opsies kies wanneer hulle die toep gebruik:

1. ’n Selflees-opsie, waar daar geen steurende elemente soos animasie is wat die ogies laat dwaal en lees bemoeilik nie.
2. ’n Voorlees-opsie, waar die storie hardop deur die kinderboekskrywer Jaco Jacobs voorgelees word, vergesel van animasie.
3. ’n Lees-en-speel-opsie, met allerlei interaktiewe elemente. Die karakters slaan byvoorbeeld bollemakiesie en die haan gee ’n allemintige kraai wanneer die lesertjie daarop druk.
4. By die speletjie-opsie kan die kind sy eie varkie bou wanneer hy moeg gelees is.

Watter aspekte van kinders se ontwikkeling is in ag geneem toe julle die toep ontwerp het? En vir watter ouderdomme kinders is hierdie toep geskik?

Die belangrikste was om kinders se liefde vir stories aan te moedig. Ons moes ook kyk na hoe kinders dink, optree en reageer. Nuwe uitdagings moes in ag geneem word, byvoorbeeld klein ogies wat gou verward raak tussen alles wat op die skerm gebeur en vingertjies wat maar nog lomp is met die interaksie. Die heel kleintjies leer byvoorbeeld dat daar vir elke aksie ’n reaksie is – druk op die haan dan kraai hy!

Hulle herhaal ook graag woorde in die storie, wat met spraakontwikkeling help. Die ouer kind se nuuskierigheid word aangewakker en hy moet ook onthou waar die interaktiwiteite lê. Ons ervaring is dat kinders se onafhanklikheid ook verskerp word deurdat hulle self wil probeer om die toep te gebruik. Ma se hand word voortdurend van die iPad weggehou sodat sy nie iets doen wat hy self wou regkry nie!

Hoe laai mens dit af?

Die toeps is baie eenvoudig, sodat Mamma maklik kan leiding gee, al het sy nie baie ervaring met toeps nie. Daar is ’n inligting-opsie vir die ouers waar daar mooi verduidelik word hoe die toep gebruik kan word. Interaktiewe elemente word byvoorbeeld deur ’n flikkerende blou kol aangedui. Die kol sal vir ’n kort rukkie flikker en dan verdwyn, maar die funksionaliteit bly beskikbaar vir so lank as wat die kind op daardie bladsy is. Indien ’n rooi kol op die skerm flits, moet die kind met sy vinger aan die voorwerp raak en dit ’n entjie oor die skerm trek en dan weer sy vinger lig. By die verkleurmannetjie sal daar byvoorbeeld drie kleurveranderinge plaasvind en by die TV sal daar drie verskillende TV-programme verskyn.

Die toep is geskik vir kinders van twee jaar en ouer. Die heel kleintjies geniet die voorleesgedeelte en kan selfs met Mamma se hulp op ’n karakter druk om te sien wat gebeur. Hoe ouer hulle word, hoe meer kan hulle op hul eie doen. As die kind ouer is en met sy eerste leesboeke begin, is die selflees-opsie ideaal.

Die toep is tans vir die iPad beskikbaar, maar dit sal voor die einde van die jaar ook vir die Android-mark beskikbaar wees, byvoorbeeld vir die Galaxy-tablet.

Beplan julle nog sulke storie-toeps?

Ons is besig met nog drie toeps vir die kindermark en beoog om minstens een van hulle voor Kersfees beskikbaar te stel. Ons is ook voortdurend besig met verbeterings en om ekstras by ons Drie Varkies-toep te sit. As jy dus reeds die toep gekoop het, kan jy maar elke nou en dan gaan kyk of daar nie weer ’n gratis opgradering beskikbaar is nie.

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Amanda de Villiers

    Dit klink vir my ongelooflik opwindend.  Ons oumas sal beslis ons vaardighede nou moet opskerp!  Baie dankie vir die groot en interessante werk.

    Amanda de Villiers
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top